-
Uit die bek van leeus gered!Gee ag op Daniël se profesie!
-
-
7. Wat het die ministers en landvoogde aan die koning voorgestel, en hoe het hulle dit gedoen?
7 ’n Hele groep ministers en landvoogde het nou vir Darius “bestorm”. Die Aramese uitdrukking wat hier gebruik word, dra die gedagte oor van ’n lawaaierige deurmekaarspul. Hierdie manne het blykbaar die indruk geskep dat hulle ’n uiters dringende saak het om met Darius te bespreek. Hulle het moontlik gedink dat hy minder geneig sou wees om beswaar te maak teen hulle voorstel as hulle dit met groot oortuiging aan hom voorlê as iets wat onmiddellike optrede vereis. Daarom het hulle dadelik met die deur in die huis geval en gesê: “Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning ’n verordening moet uitvaardig en ’n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word.”a—Daniël 6:7, 8.
8. (a) Waarom sou die voorgestelde wet by Darius byval gevind het? (b) Wat was die eintlike beweegrede van die ministers en landvoogde?
8 Geskiedenisverslae bevestig dat dit algemeen was dat Mesopotamiese konings as gode beskou en aanbid is. Darius was dus ongetwyfeld gevlei deur hierdie voorstel. Hy het ook heel moontlik gesien dat dit tot sy voordeel kon wees. Onthou dat Darius vir die bewoners van Babilon ’n uitlander en ’n nuweling was. Hierdie nuwe wet sou hom as koning bevestig, en dit sou die menigtes wat in Babilon gewoon het, aanspoor om hulle lojaliteit en ondersteuning teenoor die nuwe regering openlik te verklaar. Toe die ministers en die landvoogde die wet voorgestel het, was hulle egter allermins besorg oor die koning se welsyn. Hulle eintlike beweegrede was om Daniël in ’n val te lok, want hulle het geweet dat dit sy gewoonte was om drie keer per dag voor die oop vensters van sy bokamer tot God te bid.
9. Waarom sou die nuwe wet vir die meeste nie-Jode geen probleem gewees het nie?
9 Sou hierdie beperking op gebed vir al die godsdiensgroepe in Babilon ’n probleem skep? Nie noodwendig nie, veral omdat die verbod net ’n maand lank geldig sou wees. Daarbenewens was daar min nie-Jode wat dit as ’n skending van hulle geloof sou beskou om hulle aanbidding tydelik tot ’n mens te rig. Een Bybelkenner sê: “Koningsaanbidding het geen vreemde eise gestel aan hierdie nasie wat so diep by afgodsaanbidding betrokke was nie; en gevolglik het die Babiloniër, as dit van hom verwag is, geredelik daartoe ingestem om aan die veroweraar—Darius die Meder—die hulde te betoon wat ’n god toekom. Dit was alleenlik die Jood wat so ’n vereiste as onaanvaarbaar beskou het.”
-
-
Uit die bek van leeus gered!Gee ag op Daniël se profesie!
-
-
a Die bestaan van ’n “leeukuil” in Babilon word gesteun deur die getuienis van destydse inskripsies wat toon dat Oosterse heersers dikwels klein dieretuine met wilde diere gehad het.
-