-
Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloningGee ag op Daniël se profesie!
-
-
Hoofstuk agtien
Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
1, 2. (a) Watter belangrike eienskap het ’n hardloper nodig om sukses te behaal? (b) Hoe het die apostel Paulus ’n lewe van getrouheid in Jehovah se diens met ’n wedloop vergelyk?
’N HARDLOPER beur vorentoe na die eindstreep. Hy is byna uitgeput, maar met sy doel in sig sit hy die laaste greintjie energie wat hy het in daardie laaste paar treë. Met elke spier tot die uiterste ingespan, steek hy uiteindelik die eindstreep oor! ’n Mens kan die verligting en sy vreugde oor sy oorwinning op sy gesig lees. Dit was die moeite werd dat hy tot die einde toe volhard het.
2 Aan die einde van Daniël hoofstuk 12 vind ons die geliefde profeet naby die eindstreep van sy eie “wedloop”—sy lewe van diens aan Jehovah. Nadat die apostel Paulus etlike voorbeelde van geloof onder Jehovah se voor-Christelike knegte genoem het, het hy geskryf: “Daarom dan, omdat ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus. Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit.”—Hebreërs 12:1, 2.
3. (a) Wat het Daniël beweeg om ‘met volharding te hardloop’? (b) Watter drie afsonderlike dinge het Jehovah se engel vir Daniël gesê?
3 Daniël was een van daardie “groot wolk van getuies”. Hy was beslis iemand wat ‘met volharding moes hardloop’, en sy opregte liefde vir God het hom beweeg om dit te doen. Jehovah het baie dinge aan Daniël geopenbaar oor die toekoms van wêreldregerings, maar nou het Hy hom hierdie persoonlike aanmoediging gegee: “En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming [“deel”, NW] aan die einde van die dae” (Daniël 12:13). Jehovah se engel het drie afsonderlike dinge vir Daniël gesê: (1) dat Daniël ‘na die einde moet heengaan’, (2) dat hy sal “rus” en (3) dat hy in die toekoms weer sal “opstaan”. Hoe kan hierdie woorde Christene van vandag aanmoedig om tot by die eindstreep van die wedloop om die lewe te volhard?
“GAAN HEEN NA DIE EINDE”
4. Wat het Jehovah se engel bedoel toe hy gesê het: “Gaan heen na die einde”, en waarom was dit moontlik nie vir Daniël maklik nie?
4 Wat het die engel bedoel toe hy vir Daniël gesê het: “En jy, gaan heen na die einde”? Die einde waarvan? Wel, aangesien Daniël omtrent 100 jaar oud was, was dit waarskynlik ’n verwysing na die einde van sy eie lewe, wat blykbaar redelik naby was.a Die engel het Daniël aangespoor om tot sy dood toe getrou te volhard. Maar dit sou nie noodwendig maklik wees nie. Daniël het nog gelewe toe Babilon geval het en ’n oorblyfsel van die Joodse ballinge na Juda en Jerusalem teruggekeer het. Dit het die bejaarde profeet sekerlik groot vreugde verskaf. Daar is egter geen bewys dat hy saam met hulle teruggegaan het nie. Hy was heel waarskynlik teen daardie tyd al te oud en te swak. Of moontlik was dit Jehovah se wil dat hy in Babilon bly. In elk geval, ’n mens kan maar net wonder of Daniël nie nogal weemoedig gevoel het toe sy landgenote vertrek het om na Juda terug te gaan nie.
5. Watter aanduiding is daar dat Daniël tot die einde toe volhard het?
5 Daniël het ongetwyfeld baie krag geput uit die engel se aanmoedigende woorde: “Gaan heen na die einde.” Dit herinner ons moontlik aan die woorde wat Jesus Christus sowat ses eeue later geuiter het: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Dit is ongetwyfeld wat Daniël gedoen het. Hy het volhard en die wedloop om die lewe getrou tot die einde toe gehardloop. Dit is dalk een rede waarom hy later in God se Woord gunstig vermeld word (Hebreërs 11:32, 33). Wat het Daniël in staat gestel om tot die einde toe te volhard? Sy lewensverhaal help ons om die antwoord op hierdie vraag te kry.
VOLHARDING AS ’N STUDENT VAN GOD SE WOORD
6. Hoe weet ons dat Daniël ’n ywerige student van God se Woord was?
6 Om tot die einde toe te volhard, het in Daniël se geval beteken dat hy moes aanhou om die opwindende beloftes van God te bestudeer en diep daaroor te dink. Ons weet dat Daniël ’n ywerige student van God se Woord was. Hoe anders sou hy geweet het van Jehovah se belofte aan Jeremia dat die ballingskap 70 jaar sou duur? Daniël het geskryf: ‘Ek het uit die boeke die getal jare onderskei’ (Daniël 9:2, NW; Jeremia 25:11, 12). Daniël het die boeke van God se Woord wat destyds bestaan het sonder twyfel graag gelees. Dit was ongetwyfeld vir Daniël genotvol om die geskrifte van Moses, Dawid, Salomo, Jesaja, Jeremia, Esegiël—alles wat vir hom beskikbaar was—te lees en daaroor te peins.
7. Watter voordele geniet ons wanneer ons God se Woord vandag bestudeer in vergelyking met wat Daniël in sy dag gehad het?
7 As ons vandag wil volhard, is dit noodsaaklik dat ons God se Woord bestudeer en dat ons ons daarin moet verdiep (Romeine 15:4-6; 1 Timoteus 4:15). En ons het die hele Bybel, wat die geskrewe verslag insluit van die vervulling van party van Daniël se profesieë wat eeue later plaasgevind het. Verder het ons die voorreg om gedurende “die tyd van die einde”, wat in Daniël 12:4 voorspel is, te lewe. In ons dag is die gesalfdes met geestelike insig geseën en skyn hulle soos ligte van waarheid in hierdie donker wêreld. Gevolglik is baie van die diep profesieë in die boek Daniël, waarvan party hom dronkgeslaan het, vir ons wat vandag lewe uiters betekenisvol. Laat ons dus voortgaan om God se Woord daagliks te bestudeer, en laat ons hierdie dinge nooit ligtelik opneem nie. As ons dit doen, sal dit ons help om te volhard.
DANIËL HET IN GEBED VOLHARD
8. Watter voorbeeld het Daniël met betrekking tot gebed gestel?
8 Gebed het Daniël ook gehelp om tot die einde toe te volhard. Hy het elke dag tot Jehovah God gebid en openhartig met hom gepraat met ’n hart vol geloof en vertroue. Hy het geweet dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is. (Psalm 65:3; vergelyk Hebreërs 11:6.) Toe Daniël se hart swaar was van droefheid oor Israel se opstandige weg het hy sy gevoelens voor Jehovah uitgestort (Daniël 9:4-19). Selfs toe Darius beveel het dat versoeke 30 dae lank net tot hom gerig moes word, het Daniël nie toegelaat dat dit hom keer om tot Jehovah God te bid nie (Daniël 6:11). Roer dit nie ons harte as ons aan daardie getroue, bejaarde man dink wat bereid was om eerder tussen die leeus in die leeukuil te beland as om die kosbare voorreg van gebed prys te gee nie? Daniël het sonder enige twyfel tot die einde toe getrou gebly en elke dag vurig tot Jehovah gebid.
9. Waarom moet ons nooit die voorreg van gebed as vanselfsprekend aanvaar nie?
9 Gebed is ’n eenvoudige daad. Ons kan werklik net wanneer ons wil, net waar ons wil, hardop of stilletjies, bid. Maar ons moet nooit hierdie kosbare voorreg ligtelik opneem nie. Die Bybel assosieer gebed met volharding, deursettingsvermoë en geestelike waaksaamheid (Lukas 18:1; Romeine 12:12; Efesiërs 6:18; Kolossense 4:2). Is dit nie iets merkwaardigs dat ons ’n vrye en oop kommunikasiekanaal met die belangrikste persoon in die heelal het nie? En hy luister! Dink aan die keer toe Daniël gebid het en Jehovah ’n engel gestuur het. Die engel het daar aangekom terwyl Daniël nog gebid het! (Daniël 9:20, 21). Sulke besoeke deur engele vind weliswaar nie meer in ons tyd plaas nie, maar Jehovah het nie verander nie (Maleagi 3:6). Net soos hy Daniël se gebed verhoor het, sal hy ook na ons gebede luister. En wanneer ons bid, kom ons nader aan Jehovah en smee ons ’n band met hom wat ons sal help om net soos Daniël tot die einde toe te volhard.
VOLHARDING AS ’N ONDERRIGTER VAN GOD SE WOORD
10. Waarom was dit vir Daniël belangrik om ander in die waarheid van God se Woord te onderrig?
10 Daniël moes in ’n ander sin ‘na die einde heengaan’. Hy moes volhard as iemand wat ander in die waarheid onderrig het. Hy het altyd onthou dat hy een van die uitverkore volk was van wie die Skrif gesê het: “Júlle is my getuies, spreek die HERE, en my kneg wat Ek uitverkies het” (Jesaja 43:10). Daniël het alles in sy vermoë gedoen om daardie opdrag te vervul. Sy werk het waarskynlik die onderrigting van sy eie volk, wat in Babilon in ballingskap was, ingesluit. Ons weet nie veel omtrent sy omgang met sy mede-Jode nie, buiten sy verbintenis met die drie wat “sy metgeselle” genoem word—Hananja, Misael en Asarja (Daniël 1:7; 2:13, 17, 18). Hulle hegte vriendskap het sekerlik grootliks daartoe bygedra dat hulle almal volhard het (Spreuke 17:17). Daniël, wat deur Jehovah met spesiale kennis geseën is, kon sy vriende baie leer (Daniël 1:17). Maar hy moes nog ander onderrigtingswerk ook doen.
11. (a) Wat was uniek omtrent Daniël se werk? (b) Hoe suksesvol was Daniël in die uitvoering van sy buitengewone opdrag?
11 Daniël het meer as enige ander profeet die geleentheid gehad om voor nie-Joodse hoogwaardigheidsbekleërs te getuig. Al moes hy dikwels ongewilde boodskappe oordra, het hy nie hierdie heersers behandel asof hulle afstootlik of in enige opsig benede hom was nie. Hy het met eerbied en op bekwame wyse met hulle gepraat. Daar was party—soos daardie jaloerse, agterbakse landvoogde—wat Daniël wou doodmaak. Maar ander hoogwaardigheidsbekleërs het hom gerespekteer. Omdat Jehovah Daniël in staat gestel het om geheime te verklaar wat konings en wyse manne nie kon verstaan nie, het die profeet groot aansien verwerf (Daniël 2:47, 48; 5:29). Toe hy ouer geword het, kon hy weliswaar nie meer so bedrywig wees as wat hy in sy jong dae was nie. Maar hy het sekerlik die einde van sy lewe tegemoetgegaan terwyl hy nog steeds getrou gesoek het na maniere waarop hy as ’n getuie vir sy geliefde God kon dien.
12. (a) Watter onderrigtingswerk doen ons vandag as Christene? (b) Hoe kan ons Paulus se raad volg om “in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is”?
12 In die Christengemeente van vandag kan ons getroue metgeselle vind wat ons sal help om te volhard, net soos Daniël en sy drie metgeselle mekaar gehelp het. Ons onderrig mekaar ook en dra by tot “’n uitwisseling van aanmoediging” (Romeine 1:11, 12). Soos Daniël het ons die opdrag om vir ongelowiges te getuig (Matteus 24:14; 28:19, 20). Daarom moet ons ons vermoëns slyp sodat ons ‘die woord van die waarheid reg kan hanteer’ wanneer ons met mense oor Jehovah praat (2 Timoteus 2:15). En dit sal help as ons hierdie raad van die apostel Paulus volg: “Gaan voort om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is” (Kolossense 4:5). Sulke wysheid sluit ’n gebalanseerde beskouing in van diegene wat nie dieselfde godsdiensoortuiging as ons het nie. Ons sien nie op sulke mense neer en dink nie dat ons beter as hulle is nie (1 Petrus 3:15). Ons probeer hulle eerder na die waarheid toe aantrek deur God se Woord op taktvolle en vaardige wyse te gebruik om hulle hart te bereik. Hoeveel vreugde gee dit ons tog wanneer ons dit regkry om iemand te help! Sulke vreugde help ons beslis om soos Daniël tot die einde toe te volhard.
“JY SAL RUS”
13, 14. Waarom het die wete dat hulle sou sterf by baie Babiloniërs vrees ingeboesem, en hoe was Daniël se beskouing daarvan anders?
13 Die engel sê vervolgens vir Daniël: “Jy sal rus” (Daniël 12:13). Wat het hierdie woorde beteken? Wel, Daniël het geweet dat hy sou sterf. Die dood is van Adam se dag af tot in ons tyd die onvermydelike uiteinde van alle mense. Die Bybel noem die dood heel gepas ’n “vyand” (1 Korintiërs 15:26). Maar vir Daniël het die wete dat hy sou sterf iets heeltemal anders beteken as wat dit vir die Babiloniërs om hom beteken het. Vir hulle, wat diep betrokke was by die komplekse aanbidding van sowat 4 000 valse gode, het die dood allerhande verskrikkinge ingehou. Hulle het geglo dat mense wat ’n ongelukkige lewe gehad of deur geweld gesterf het ná die dood wraaksugtige geeste word wat die lewendes teister. Die Babiloniërs het ook in ’n vreeswekkende onderwêreld geglo, waar die afskuwelikste monsters met mense- en diereliggame gewoon het.
14 Vir Daniël het die dood nie een van hierdie dinge beteken nie. Honderde jare voor Daniël se dag het God koning Salomo geïnspireer om te sê: “Die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). En van iemand wat sterf, het die psalmis gesing: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:4). Daniël het dus geweet dat die engel se woorde bewaarheid sou word. Die dood het beteken dat hy sou rus. Geen gedagtes, geen bittere spyt, geen pyniging—en beslis geen monsters nie. Jesus Christus het dit op ’n soortgelyke manier beskryf toe Lasarus gesterf het. Hy het gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus.”—Johannes 11:11.
15. Hoe kan die sterfdag beter wees as die geboortedag?
15 Kyk na nog ’n rede waarom die wete dat hy sou sterf nie by Daniël vrees ingeboesem het nie. God se Woord sê: “’n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag” (Prediker 7:1). Hoe kan die sterfdag, die droewigste tyd wat daar kan wees, beter wees as die vreugdevolle geboortedag? Die sleutel lê in die “naam”. “Goeie olie” kon ontsettend duur wees. Lasarus se suster Maria het Jesus se voete eenmaal met welriekende olie gesalf wat byna ’n jaar se loon gekos het! (Johannes 12:1-7). Hoe kan ’n blote naam so kosbaar wees? Let daarop dat Prediker 7:1 sê “’n goeie naam”. Dit is nie bloot die naam nie, maar dit is waarvoor die naam staan wat so waardevol is. Wanneer ’n mens gebore word, het hy geen reputasie, geen geskiedenis van goeie werke en is daar geen kosbare herinnering aan die persoonlikheid en eienskappe van die draer van daardie naam nie. Maar aan die einde van die lewe, sluit die naam dit alles in. En as dit uit God se oogpunt ’n goeie naam is, is dit baie waardevoller as enige materiële besitting.
16. (a) Hoe het Daniël ’n goeie naam by God probeer opbou? (b) Waarom kon Daniël gaan rus met die volste vertroue dat hy ’n goeie naam by Jehovah opgebou het?
16 Deur sy hele lewe het Daniël alles in sy vermoë gedoen om ’n goeie naam by God op te bou, en Jehovah het niks daarvan oor die hoof gesien nie. Hy het Daniël gesien en sy hart ondersoek. God het dit ook met koning Dawid gedoen, wat gesing het: “HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte” (Psalm 139:1, 2). Daniël was weliswaar nie volmaak nie. Hy was ’n afstammeling van die sondaar Adam en was deel van ’n sondige nasie (Romeine 3:23). Maar Daniël het berou gehad oor sy sondigheid en het aangehou om in opregtheid met sy God te probeer wandel. Die getroue profeet kon dus vertrou dat Jehovah hom sy sondes sou vergewe en dit nooit teen hom sou hou nie (Psalm 103:10-14; Jesaja 1:18). Jehovah wil die goeie dade van sy getroue knegte onthou (Hebreërs 6:10). Daarom het Jehovah se engel Daniël twee maal ’n “geliefde man” genoem (Daniël 10:11, 19). Dit het beteken dat God Daniël baie liefgehad het. Daniël kon met die volste vertroue gaan rus, in die wete dat hy ’n goeie naam by Jehovah opgebou het.
17. Waarom is dit dringend dat ons vandag ’n goeie naam by Jehovah opbou?
17 Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Het ek ’n goeie naam by Jehovah opgebou?’ Ons lewe in moeilike tye. Dit is nie swartgallig nie maar bloot realisties as ons besef dat enigeen van ons te eniger tyd kan sterf (Prediker 9:11). Hoe noodsaaklik is dit dan dat elkeen van ons ons voorneem om nou, sonder versuim, ’n goeie naam by God op te bou. As ons dit doen, hoef ons nie die dood te vrees nie. Dit is bloot rus—soos om te slaap. En soos wanneer ons slaap, sal ons weer wakker word!
‘JY SAL WEER OPSTAAN’
18, 19. (a) Wat het die engel bedoel toe hy voorspel het dat Daniël in die toekoms sou “opstaan”? (b) Waarom was die opstandingshoop vir Daniël niks nuuts nie?
18 Die boek Daniël sluit af met een van die pragtigste beloftes wat God nog ooit teenoor ’n mens uitgespreek het. Jehovah se engel het vir Daniël gesê: “Jy sal . . . weer opstaan tot jou deel aan die einde van die dae.” Wat het die engel bedoel? Wel, aangesien die “rus” waarvan hy so pas gepraat het die dood was, kan die belofte dat Daniël later van tyd sou “opstaan” net een ding beteken—die opstanding!b Trouens, party geleerdes het gesê dat Daniël hoofstuk 12 die eerste direkte verwysing na die opstanding in die Hebreeuse Geskrifte bevat (Daniël 12:2). Hierdie bewering van hulle is egter verkeerd. Die opstandingshoop was vir Daniël niks nuuts nie.
19 Daniël het ongetwyfeld hierdie woorde geken wat Jesaja twee eeue vroeër opgeteken het: “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want . . . die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk” (Jesaja 26:19). Lank voor daardie tyd het Jehovah vir Elia en Elisa die krag gegee om mense op te wek (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37). Nog vroeër het Hanna, die moeder van die profeet Samuel, erken dat Jehovah mense uit die doderyk kan opwek (1 Samuel 2:6). Selfs voor dit het die getroue Job sy eie hoop in hierdie woorde uitgedruk: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang.”—Job 14:14, 15.
20, 21. (a) Aan watter opstanding sal Daniël sekerlik deel hê? (b) Hoe sal die opstanding in die Paradys waarskynlik plaasvind?
20 Soos Job het Daniël ook goeie rede gehad om vaste vertroue te hê dat Jehovah as ’t ware daarna sou smag om hom eendag weer te laat lewe. Maar dit het hom sekerlik baie vertroos om te hoor hoe ’n magtige geesskepsel daardie hoop bevestig. Ja, Daniël sal opstaan in “die opstanding van die regverdiges”, wat gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal plaasvind (Lukas 14:14). Hoe sal dit vir Daniël wees? God se Woord vertel ons baie daarvan.
21 Jehovah is “nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korintiërs 14:33). Die opstanding in die Paradys sal dus beslis ordelik plaasvind. Moontlik sal dit begin ’n ruk ná Armageddon verby is (Openbaring 16:14, 16). Alle spore van die ou stelsel van dinge sal uitgewis wees, en daar sal ongetwyfeld reëlings wees om die dooies terug te verwelkom. Wat die volgorde betref waarin die dooies sal terugkeer, stel die Bybel hierdie beginsel: “Elkeen in sy eie rangorde” (1 Korintiërs 15:23). In ‘die opstanding van die regverdiges en die onregverdiges’ sal die regverdiges waarskynlik eerste opgewek word (Handelinge 24:15). So sal getroue manne van die ou tyd, soos Daniël, met die administrasie van aardse aangeleenthede kan help, wat die onderrigting insluit van miljoene “onregverdiges” wat opgewek gaan word.—Psalm 45:17.
22. Wat is van die vrae waarop Daniël ongetwyfeld graag ’n antwoord sal wil hê?
22 Voor Daniël gereed is om hierdie verantwoordelikhede op hom te neem, sal hy sekerlik ’n paar vrae wil vra. Hy het per slot van rekening oor party van die diep profesieë wat aan hom toevertrou is, gesê: “Ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie” (Daniël 12:8). Hoe verheug sal hy tog wees wanneer hy uiteindelik hierdie heilige geheime verstaan! Hy sal ongetwyfeld alles oor die Messias wil weet. Daniël sal met belangstelling leer oor die opmars van die wêreldmoondhede van sy dag af tot in ons tyd, oor die identiteit van die getroue “heiliges van die Allerhoogste”—wat ondanks vervolging gedurende “die tyd van die einde” volhard het—en oor die finale vernietiging van alle mensekoninkryke deur God se Messiaanse Koninkryk.—Daniël 2:44; 7:22; 12:4.
DANIËL SE DEEL IN DIE PARADYS—JOUNE OOK!
23, 24. (a) Hoe sal die wêreld waarin Daniël hom ná die opstanding bevind, verskil van die een wat hy geken het? (b) Sal Daniël ’n plek in die Paradys hê, en hoe weet ons dit?
23 Daniël sal wil weet van die wêreld waarin hy hom dan bevind—’n wêreld wat so anders is as die wêreld van sy dag. Daar sal geen spoor oorbly van enige van die oorloë en verdrukking wat die wêreld wat hy geken het, bederf het nie. Daar sal geen droefheid, geen siekte en geen dood wees nie (Jesaja 25:8; 33:24). Maar daar sal ’n oorvloed van voedsel, oorgenoeg huisvesting en bevredigende werk vir almal wees (Psalm 72:16, Jesaja 65:21, 22). Die mensdom sal een verenigde, gelukkige gesin wees.
24 Daniël sal definitief ’n plek in daardie wêreld hê. “Jy sal . . . opstaan tot jou deel”, het die engel vir hom gesê. Die Hebreeuse woord wat hier met “deel” vertaal word, is dieselfde as die woord wat vir letterlike stukke grond gebruik word.c Daniël was moontlik bekend met Esegiël se profesie oor die verdeling van die herstelde land van Israel (Esegiël 47:13–48:35). Waarop dui Esegiël se profesie in sy vervulling in die Paradys? Dat God se hele volk ’n plek in die Paradys sal hê, en dat selfs die grond ordelik en regverdig verdeel sal word. Daniël se deel in die Paradys sal natuurlik meer as grond insluit. Dit sal sy plek in God se voorneme daar insluit. Daniël se beloofde beloning is verseker.
25. (a) Wat is party aspekte van die lewe in die Paradys wat vir jou aantreklik klink? (b) Waarom kan daar gesê word dat die mens in die Paradys hoort?
25 Maar wat van jou deel? Dieselfde beloftes kan op jou van toepassing wees. Jehovah wil hê dat gehoorsame mense moet “opstaan” om hulle deel te ontvang, om ’n plek in die Paradys te hê. Dink net daaraan! Dit sal voorwaar wonderlik wees om Daniël persoonlik te ontmoet, asook ander getroue manne en vroue uit Bybeltye. Dan sal daar tallose ander wees wat uit die dood opstaan en geleer sal moet word om Jehovah God te leer ken en lief te kry. Stel jou voor hoe jy vir ons aardse tuiste sorg en help om dit in ’n paradys met ’n oneindige verskeidenheid vreugdes en onverwelklike skoonheid te omskep. Dink daaraan dat jy deur Jehovah onderrig sal word en sal leer om te lewe soos hy wou hê die mensdom moes lewe (Jesaja 11:9; Johannes 6:45). Ja, daar is vir jou ’n plek in die Paradys. So vreemd soos die Paradys vandag vir sommige mense klink, moet jy onthou dat Jehovah die mens oorspronklik gemaak het om in so ’n plek te woon (Genesis 2:7-9). In daardie sin is die Paradys die natuurlike woning vir die miljarde wat op die aarde woon. Dit is waar hulle hoort. As hulle daar kom, sal dit wees soos om tuis te kom.
26. Hoe toon Jehovah dat hy weet dat dit nie vir ons maklik is om vir die einde van hierdie stelsel te wag nie?
26 Brand ons harte nie van waardering as ons aan al hierdie dinge dink nie? Smag jy nie daarna om daar te wees nie? Dit is dan te verstane waarom Jehovah se Getuies gretig is om te weet wanneer die einde van hierdie stelsel van dinge gaan kom! Dit is nie maklik om te wag nie. Jehovah weet dit, want hy spoor ons aan om ‘aan te hou om [die einde] te verwag, al sou dit talm’. Hy bedoel dat dit dalk uit ons oogpunt kan lyk of dit talm, want in dieselfde teks word ons verseker: “Dit sal nie laat wees nie.” (Habakuk 2:3, NW; vergelyk Spreuke 13:12.) Ja, die einde sal op presies die regte tyd kom.
27. Wat moet jy doen om tot in alle ewigheid voor God te staan?
27 Wat moet jy doen terwyl die einde nader kom? Soos Jehovah se geliefde profeet Daniël moet jy getrou volhard. Bestudeer God se Woord pligsgetrou. Bid vurig. Gaan in liefde met medegelowiges om. Onderrig ander ywerig in die waarheid. Aangesien die einde van hierdie goddelose stelsel elke dag nader kom, moet jy vasbeslote bly om ’n lojale kneg van die Allerhoogste en ’n getroue voorstander van sy Woord te wees. Doen alles in jou vermoë om ag te gee op Daniël se profesie! En mag die Soewereine Heer Jehovah jou die voorreg gun om tot in alle ewigheid met vreugde voor hom te staan!
[Voetnote]
a Daniël is in 617 v.G.J., heel moontlik as ’n tiener, in ballingskap na Babilon geneem. Hy het hierdie visioen in die derde jaar van Kores, of in 536 v.G.J., ontvang.—Daniël 10:1.
b Volgens The Brown-Driver-Briggs Hebrew and English Lexicon verwys die Hebreeuse woord vir “staan” wat hier gebruik word na “herlewing ná die dood”.
c Die Hebreeuse woord is verwant aan die woord vir “klippie”, aangesien klippies dikwels gebruik is om die lot te werp. Grond is dikwels so verdeel (Numeri 26:55, 56). A Handbook on the Book of Daniel sê dat die woord hier beteken “wat (deur God) vir iemand opsy gesit is”.
-
-
Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloningGee ag op Daniël se profesie!
-
-
[Volbladillustrasie op bladsy 307]
[Prent op bladsy 318]
Gee jy, soos Daniël, ag op God se profetiese woord?
-