Vrae van lesers
Wie was die Filistyne van wie die Bybel praat?
Die Bybel verwys dikwels na ’n volk wat bekend staan as die Filistyne, wat in die land Kanaän gewoon het toe God se eertydse volk die Beloofde Land in besit geneem het. Hierdie eertydse Filistyne het God se volk lank teëgestaan, soos die verslag van Dawid se geveg met Goliat, die reusagtige Filistynse baasvegter, toon.—1 Samuel 17:1-3, 23-53.
Die Bybel toon dat die eertydse Filistyne van Kaftor na die suidwestelike kus van Kanaän getrek het (Jeremia 47:4). Waar was Kaftor? The International Standard Bible Encyclopedia (1979) sê: “Alhoewel die getuienis nie ’n definitiewe oplossing bied nie, dui hedendaagse kennis op die eiland Kreta (of miskien Kreta plus die Egeïese eilande, wat kultureel saam hoort) as die waarskynlikste ligging.”—Deel 1, bladsy 610.
In ooreenstemming hiermee lui die New World Translation of the Holy Scriptures in Amos 9:7: “‘Is julle nie vir my soos die seuns van die Kussiete nie, o kinders van Israel?’ is die uiting van Jehovah. ‘Het ek Israel self nie uit Egipteland laat optrek nie, en die Filistyne uit Kreta, en Sirië uit Kir gebring nie?’”
Dit is onbekend wanneer hierdie eertydse seevarende volk van Kreta af getrek het na die deel van Kanaän wat toe Filistea geword het, naamlik die suidwestelike kuslyn tussen Joppe en Gasa. Hulle was blykbaar reeds in die dae van Abraham en Isak in hierdie streek van laagliggende kusvlaktes.—Genesis 20:1, 2; 21:32-34; 26:1-18.
Die Filistyne was ’n sterk mag in die gebied lank nadat Israel die land binnegegaan het wat God hulle beloof het (Exodus 13:17; Josua 13:2; Rigters 1:18, 19; 3:3, 4; 15:9, 10; 1 Samuel 4:1-11; 7:7-14; 13:19-23; 1 Konings 16:15). Tot in die heerskappy van die Judese koning Ussia het die Filistyne nog in hulle stede Gat, Jabne en Asdod aangebly (2 Kronieke 26:6). Van hulle ander stede wat prominent in Bybelse verslae verskyn, is Ekron, Askelon en Gasa.
Alexander die Grote het die Filistynse stad Gasa verower, maar mettertyd het die Filistyne blykbaar opgehou om as ’n afsonderlike volk te bestaan. Professor Lawrence E. Stager het in Biblical Archaeology Review (Mei/Junie 1991) geskryf: “Die Filistyne is ook as ballinge na Babilon weggevoer. . . . Daar is egter geen verslag oor wat met die Filistyne in ballingskap gebeur het nie. Diegene wat moontlik ná Nebukadresar se verowering in Askelon oorgebly het, het blykbaar hulle etniese identiteit verloor. Hulle het eenvoudig uit die geskiedenis verdwyn.”
Die hedendaagse naam Palestina word van Latynse en Griekse woorde afgelei, wat verder teruggaan na die Hebreeuse woord vir “Filistea”. Sommige Arabiese Bybelvertalings gebruik ’n woord vir “Filistyne” wat maklik verwar kan word met die woord vir hedendaagse Palestyne. Today’s Arabic Version gebruik egter ’n ander Arabiese woord en tref sodoende ’n onderskeid tussen die eertydse Filistyne en die hedendaagse Palestyne.
[Prent op bladsy 31]
Ruïnes by Askelon
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.