-
“Jy moet Jehovah jou God aanbid”Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
-
-
‘Val neer en aanbid my een keer’
8. Hoe het Satan met die derde versoeking gewys wat hy eintlik wil hê?
8 Lees Matteus 4:8-11. Met die derde versoeking het Satan reguit gesê wat hy wou hê. Satan het (heel moontlik in ’n visioen) vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld en hulle mag” gewys – maar nie die negatiewe kant daarvan nie. Toe het hy vir Jesus gesê: “Ek sal al hierdie dinge vir jou gee as jy neerval en my een keer aanbid.”b Aanbidding – dit is wat Satan eintlik wou hê! Hy wou hê dat Jesus sy rug op sy Vader moes draai en hom moes aanbid. Wat Satan vir Jesus aangebied het, kon dalk soos ’n maklike uitweg gelyk het. Hy het geïmpliseer dat Jesus al die mag en rykdom van die nasies sou hê en dat dit nie vir hom nodig sou wees om te ly nie. Dit sou nie nodig wees dat hy ’n doringkroon moes dra, met ’n gésel geslaan moes word of aan ’n folterpaal gehang moes word nie. Satan kon regtig vir Jesus gee wat hy hom aangebied het. Jesus het geweet dat Satan die heerser van die wêreld se regerings is (Joh. 12:31; 1 Joh. 5:19). Satan sou beslis enigiets vir Jesus gegee het sodat hy sy rug op die rein aanbidding van sy Vader sou draai.
9. (a) Wat wil Satan eintlik van ware aanbidders hê, en hoe probeer hy ons mislei? (b) Wat sluit ons aanbidding in? (Sien die venster “Wat is aanbidding?”)
9 Vandag wil Satan ook hê dat ons hom moet aanbid – of dit nou direk of indirek is. Hy is “die god van hierdie wêreld”. So almal wat deel is van die valse godsdienste van Babilon die Grote, aanbid eintlik vir Satan (2 Kor. 4:4). Maar Satan is nie tevrede met miljoene valse aanbidders nie, en daarom wil hy ware aanbidders ook in die versoeking bring om aan God ongehoorsaam te wees. Hy probeer ons mislei om rykdom en mag in hierdie wêreld te soek eerder as om ’n Christelike lewenswyse te volg wat dalk sal beteken dat ons “ter wille van regverdigheid” sal moet ly (1 Pet. 3:14). As ons ons rug op rein aanbidding draai en deel word van Satan se wêreld, buig ons in werklikheid voor Satan neer en aanbid ons hom – ons maak hom dan ons god. Hoe kan ons hierdie versoeking weerstaan?
10. Hoe het Jesus op die derde versoeking gereageer, en hoekom?
10 Kom ons kyk hoe Jesus op die derde versoeking gereageer het. Hy het gewys dat hy heeltemal lojaal is aan Jehovah deur onmiddellik vir Satan te sê: “Gaan weg, Satan!” Net soos Jesus met die eerste twee versoekings gedoen het, het hy ’n teks uit Deuteronomium aangehaal wat God se naam bevat: “Daar staan geskryf: ‘Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien’” (Matt. 4:10; Deut. 6:13). Jesus het nee gesê vir ’n belangrike maar kort wêreldse loopbaan en ’n maklike lewe sonder pyn en lyding. Hy het geweet dat net sy Vader verdien om aanbid te word en dat hy hom aan Satan sou onderwerp as hy hom selfs net “een keer aanbid”. Jesus het vasbeslote geweier om Satan sy god te maak. Omdat Jesus geweier het om na hom te luister, “het die Duiwel van hom af weggegaan”.c
“GAAN WEG, SATAN!” (Sien paragraaf 10)
11. Hoe kan ons Satan en sy versoekings weerstaan?
11 Ons kan Satan en die versoekings van sy slegte wêreld weerstaan omdat ons, net soos Jesus, ’n keuse het. Jehovah het ons ’n kosbare geskenk gegee – vrye wil. Daarom kan niemand – nie eens Satan wat ’n magtige en goddelose gees is – ons dwing om ons rug op rein aanbidding te draai nie. Wanneer ons lojaal is aan Jehovah deur Satan te weerstaan en “standvastig [te bly] in die geloof,” sê ons in werklikheid: “Gaan weg, Satan!” (1 Pet. 5:9). Onthou dat Satan weggegaan het nadat Jesus sy versoekings ferm verwerp het. En die Bybel verseker ons ook: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.” – Jak. 4:7.
Ons kan kies om die versoekings van Satan se wêreld te weerstaan (Sien paragraaf 11, 19)
Die vyand van rein aanbidding
12. Hoe het Satan in Eden gewys dat hy die vyand van rein aanbidding is?
12 Met die laaste versoeking het Satan bevestig dat hy die oorspronklike vyand van rein aanbidding is. Duisende jare vroeër, in die tuin van Eden, het Satan vir die eerste keer gewys dat hy dit haat wanneer Jehovah aanbid word. Satan het Eva mislei, en sy het Adam oorreed om ongehoorsaam te wees aan Jehovah se bevel. So het Satan hulle onder sy beheer gebring en hulle leier geword. (Lees Genesis 3:1-5; 2 Kor. 11:3; Op. 12:9.) Hy het in werklikheid hulle god geword, en hulle het sy aanbidders geword, al het hulle dalk nie geweet wie hulle mislei nie. En toe Satan die opstand in Eden begin het, het hy nie net Jehovah se soewereiniteit, of reg om te regeer, aangeval nie, maar hy het ook rein aanbidding aangeval. Hoe so?
-
-
“Jy moet Jehovah jou God aanbid”Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
-
-
b Een Bybelnaslaanwerk sê die volgende oor Satan se woorde: “Net soos met die eerste toets, wat Adam en Eva nie geslaag het nie, gaan dit hier oor ’n keuse tussen die wil van Satan of die wil van God, waarby die aanbidding van die een of die ander betrokke is. Satan spog dat hy god is in die plek van die enigste God.”
-