-
’n Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sienDie Bybel—God se woord of die mens s’n?
-
-
25 Maar die Bybel vestig ons aandag op ’n ander soort wilde dier wat in die laaste jare groot vrees veroorsaak het. Die profeet Esegiël het gewelddadige mense met wilde diere vergelyk toe hy gesê het: “Sy vorste is in hom soos wolwe wat prooi verskeur, om bloed te vergiet en siele om te bring, dat hulle onregverdige wins kan maak” (Esegiël 22:27). Toe Jesus ’n ‘vermeerdering van ongeregtigheid’ voorspel het, het hy in werklikheid gesê dat sulke “wilde diere” gedurende sy teenwoordigheid bedrywig sou wees op die aarde (Mattheüs 24:12). Die Bybelskrywer Paulus het bygevoeg dat mense gedurende “die laaste dae” “geldgieriges . . . bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie” sou wees (2 Timotheüs 3:1-3). Was dit sedert 1914 die geval?
26-28. Watter verslae uit verskillende wêrelddele toon dat misdadige “wilde diere” op die aarde rondsluip?
26 Dit was beslis. As jy in feitlik enige groot stad op aarde woon, weet jy dit reeds. Maar as jy daaraan twyfel, kan jy gerus let op hierdie aanhalings uit onlangse koerante. Uit Colombia: “Verlede jaar het die polisie . . . sowat 10 000 moorde en 25 000 gewapende rooftogte opgeteken.” Uit Victoria, Australië: “Groot toename in ernstige misdadigheid.” Uit die Verenigde State: “Moorde in New York gaan eersdaags ’n nuwe hoogtepunt bereik.” “Detroit het Gary, Indiana, verlede jaar verbygesteek as die groot stad met die hoogste moordsyfer in die nasie—58 per 100 000 inwoners.”
27 Uit Zimbabwe: “Kindermoorde het kritieke afmetings aangeneem.” Uit Brasilië: “Daar is soveel misdadigheid hier, en soveel mense dra wapens dat nuus oor geweld eenvoudig nie meer veel opgewondenheid uitlok nie.” Uit Nieu-Seeland: “Seksuele aanvalle en gewelddadige misdadigheid is steeds vir die polisie ’n groot rede tot kommer.” “Nieu-Seelanders se onderlinge geweld kan net as barbaars bestempel word.” Uit Spanje: “Spanje worstel met ’n groeiende misdaadprobleem.” Uit Italië: “Na ’n terugslag herleef die Siciliaanse Mafia in ’n vlaag van moorde.”
-
-
’n Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sienDie Bybel—God se woord of die mens s’n?
-
-
29, 30. Wat is, ter vervulling van Jesus se profesie, die godsdienstoestand in die Christendom?
29 Hoe sou godsdiens gedurende die veelbewoë tydperk van Jesus se teenwoordigheid vaar? Jesus het enersyds voorspel dat godsdiensaktiwiteit sou toeneem: “Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheüs 24:11). Hy het andersyds voorspel dat daar in die Christendom as geheel min belangstelling in God sou wees. “Die liefde van die meeste [sal] verkoel.”—Mattheüs 24:12.
30 Dit beskryf waarlik wat vandag in die Christendom gebeur. Aan die een kant sluit die groot kerke oral weens ’n gebrek aan ondersteuning. In die lande van noordelike Europa en Engeland, wat vroeër vestings van Protestantisme was, is godsdiens so te sê dood. Terselfdertyd gaan die Katolieke Kerk gebuk onder ’n tekort aan priesters en kwynende ondersteuning. Aan die ander kant was daar ’n oplewing in ander godsdiensgroepe. Kultusse wat op Oosterse godsdienste gebaseer is, groei vinnig, terwyl hebsugtige televisie-evangeliste miljoene rande maak deur die publiek uit te buit.
-