Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Wie verkondig die goeie nuus?
    Die Wagtoring — 2011 | Maart 1
    • Wie verkondig die goeie nuus?

      “. . . sal in die hele bewoonde aarde verkondig word.”—MATTEUS 24:14.

      DIE goeie nuus word wêreldwyd deur Jehovah se Getuies verkondig. Hulle doen dit op verskeie maniere. Een manier is deur middel van . . .

      Die gesproke woord. Soos Jesus en sy dissipels, neem Jehovah se Getuies die goeie nuus na mense (Lukas 8:1; 10:1). Hulle verwag nie eenvoudig dat mense na hulle toe kom nie. Om vir mense oor God se Koninkryk te getuig, is iets waaraan alle Getuies deelneem—meer as sewemiljoen van hulle. Hulle preek van huis tot huis, op straat, per telefoon en op ander maniere. Verlede jaar het die Getuies meer as een en ’n half miljard uur aan hierdie bedrywigheid bestee.

      Hulle leer ander nie net oor God se Koninkryk nie, maar ook oor “alles . . . wat [Jesus] beveel het” (Matteus 28:20). Hulle hou gereeld meer as agtmiljoen gratis tuisbybelstudies.

      Die Getuies preek regoor die wêreld—in 236 lande. Hulle preek vir mense uit alle agtergronde. Hulle preek in landelike gebiede en in stede, in die oerwoude van die Amasone en in die Siberiese taiga, in Afrika se woestyne en in die Himalajagebergte. Hulle word nie vir hierdie werk betaal nie; hulle doen dit op eie onkoste en in hulle eie tyd omdat hulle liefde vir God en vir hulle naaste hulle beweeg om dit te doen. Hulle maak die goeie nuus ook bekend deur middel van . . . 

      Gedrukte materiaal. Hierdie tydskrif, waarvan die volledige titel Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan is, word nou in 185 tale uitgegee en het ’n oplaag van meer as 42 miljoen eksemplare per nommer. Die medetydskrif, Ontwaak!, wat ook die Koninkryk bekend maak, word in 83 tale uitgegee en het ’n oplaag van ongeveer 40 miljoen eksemplare per nommer.

      Boeke, brosjures, traktate, CD’s, MP3’s en DVD’s wat Bybelleringe verduidelik, is in sowat 540 tale beskikbaar. Die Getuies het in net die afgelope tien jaar 20 miljard van hierdie items vervaardig en versprei, gemiddeld drie vir elke persoon op aarde!

      Jehovah se Getuies het ook verskeie vertalings van die Bybel gedruk of laat druk. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif—wat deur die Getuies vertaal, gedruk en versprei word—is nou in sy geheel of gedeeltelik in 96 tale beskikbaar. Meer as 166 miljoen eksemplare is al versprei. Die Getuies maak ook die goeie nuus van die Koninkryk bekend . . . 

      By Christelike vergaderinge. Weeklikse vergaderinge wat by plaaslike Koninkryksale gehou word, is nie blote kerkdienste nie; die doel daarvan is om te onderrig. Daar word toesprake oor Bybelonderwerpe gehou, en die Bybel word met behulp van Die Wagtoring en ander publikasies bestudeer. By die vergaderinge leer Getuies ook om bekwamer verkondigers van die goeie nuus te wees.

      Die Getuies studeer dieselfde materiaal in meer as 107 000 gemeentes regoor die aarde, wat tot hulle eenheid bydra. Hierdie vergaderinge is oop vir die publiek. Geen kollektes word ooit geneem nie. Dit alles sou natuurlik nutteloos gewees het as die Getuies nie self toegepas het wat hulle leer nie. Daarom probeer hulle om die goeie nuus aan te beveel deur middel van . . .

      Hulle voorbeeld. Hulle probeer om voorbeeldig te wees wat Christelike gedrag betref en doen hulle bes om ander te behandel soos hulle behandel wil word (Matteus 7:12). Hoewel hulle onvolmaak is en soms te kort skiet, is dit hulle opregte begeerte om liefdevol teenoor almal op te tree deur hulle nie net van die goeie nuus te vertel nie, maar ook ’n helpende hand uit te steek wanneer dit ook al moontlik is.

      Jehovah se Getuies probeer nie om die hele wêreld deur hulle predikingswerk te bekeer nie. Maar wanneer hierdie werk gedoen is na die mate wat Jehovah goeddink, sal die einde kom, soos Jesus voorspel het. Wat sal dit vir die aarde en die mense daarop beteken?

      [Prent op bladsy 7]

      Die goeie nuus word wêreldwyd deur Jehovah se Getuies verkondig

  • Wat is “die einde”?
    Die Wagtoring — 2011 | Maart 1
    • Wat is “die einde”?

      “. . . en dan sal die einde kom.”—MATTEUS 24:14.

      DIE einde van die wêreld is blykbaar ’n baie gewilde onderwerp. Boeke, rolprente en tydskrifte wat van die komiese tot die wetenskaplike wissel, beeld die einde uit as iets wat met ’n rampspoedige gebeurtenis gepaardgaan, soos uitwissing deur middel van ’n kernoorlog, ’n asteroïed wat met die aarde bots, ’n dodelike virus, onkeerbare klimaatsveranderinge of invallers uit die buitenste ruimte.

      Godsdiensbeskouings verskil ook; baie leer dat “die einde” ’n einde sal maak aan alle lewe op aarde. Een teoloog het hierdie sombere woorde in verband met Matteus 24:14 geskryf: “Hierdie vers is een van die belangrikste verse in die hele Woord van God . . . Ons geslag staar die moontlikheid van sulke algehele vernietiging in die gesig dat min van ons ons die aaklige werklikheid daarvan probeer voorstel.”

      Sulke beskouings neem gewoonlik nie die volgende belangrike feit in ag nie: Jehovah God het die aarde “stewig gevestig”; hy het “dit nie verniet geskep . . . nie, [maar het] dit gevorm om bewoon te word” (Jesaja 45:18). Toe Jesus dus na “die einde” verwys het, het hy nie bedoel dat die aarde vernietig sal word nie; hy het ook nie bedoel dat die mensdom uitgewis sal word nie. Hy het bedoel dat die goddeloses—diegene wat hardkoppig weier om in ooreenstemming met Jehovah se liefdevolle riglyne te lewe—vernietig sal word.

      Kyk na ’n illustrasie. Gestel jy besit ’n pragtige huis en laat toe dat mense verniet daarin woon. Party inwoners bly in vrede saam en sien goed na jou huis om. Maar ander veroorsaak net probleme, baklei met mekaar en mishandel die goeie inwoners. Hulle beskadig jou eiendom en weier hardkoppig om gehoor te gee aan jou pogings om hulle te keer.

      Wat sou jy doen om sake reg te stel? Sou jy jou huis laat sloop? Waarskynlik nie. Jy sou waarskynlik die slegte inwoners uitsit en die skade wat hulle aangerig het, herstel.

      Jehovah sal op soortgelyke wyse optree. Hy het die psalmis geïnspireer om te skryf: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit. En nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:9-11.

      Die apostel Petrus het dieselfde onderwerp bespreek. Hy het onder inspirasie geskryf: “Daar [was] van lankal af hemele . . . en ’n aarde wat kompak bo water uit en te midde van water gestaan het deur die woord van God; en deur dié middele is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is” (2 Petrus 3:5, 6). Hier verwys die apostel na die Vloed van Noag se dag. Die wêreld van goddelose mense is vernietig, maar die aarde is nie vernietig nie. Daardie aardwye Vloed dien “vir goddelose mense [as] ’n voorbeeld van toekomstige dinge”.—2 Petrus 2:6.

      Toe het Petrus bygevoeg: “Die hemele en die aarde wat nou is, [is] vir die vuur weggelê.” As ons daar ophou, kan ons die verkeerde idee kry. Maar let op wat die vers verder sê: “En van die vernietiging van die goddelose mense.” Dit is nie die aarde wat vernietig sal word nie, maar die goddeloses. Wat sal hierop volg? Petrus het geskryf: “Daar is nuwe hemele [God se Messiaanse Koninkryk] en ’n nuwe aarde [’n regverdige mensegemeenskap] wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.”—2 Petrus 3:7, 13.

      Bybelprofesieë toon ook dat “die einde” binnekort sal kom. Lees Matteus 24:3-14 en 2 Timoteus 3:1-5 om bewyse hiervan te sien.a

      Is dit nie vir jou vreemd dat daar soveel verwarring is oor Matteus 24:14, ’n vers wat selfs ’n kind kan verstaan nie? Daar is redes hiervoor. Satan het mense verblind vir die kosbare waarhede in God se Woord (2 Korintiërs 4:4). God het sy voornemens ook vir die hoogmoediges verberg en dit aan nederiges geopenbaar. In verband hiermee het Jesus gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Matteus 11:25). Wat ’n voorreg is dit tog om onder die nederiges te wees wat verstaan wat die Koninkryk van God werklik is en wat kan uitsien na die seëninge wat dit sal meebring vir almal wat dit ondersteun!

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel