Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Indien wel, sal jy dit interessant vind om die volgende punte te herroep:
◻ Wat is die betekenis van die Griekse woord pa·rou·si’a wat in Matteus 24:3, 27, 37, 39 gebruik word?
Vine se Expository Dictionary of New Testament Words sê: “PAROUSIA . . . beteken ’n aankoms sowel as ’n gevolglike teenwoordigheid saam met.” Dit is derhalwe nie net die oomblik van aankoms nie, maar ’n teenwoordigheid wat van die aankoms af voortduur.—8/15, bladsy 11.
◻ Hoe is ‘daardie dae verkort’ sodat “vlees” in die eerste eeu gered kon word, en hoe sal dit op ’n groter skaal plaasvind? (Matteus 24:22).
In 66 G.J. het die Romeine onverwags hulle beleëring van Jerusalem verkort en Christenvlees toegelaat om te ontsnap. Ons verwag eweneens dat die komende aanval op Babilon die Grote op die een of ander manier verkort sal word. Sodoende sal gesalfde Christene en hulle metgeselle van moontlike vernietiging gered word.—8/15, bladsye 18-20.
◻ Wat moet ons reaksie wees as iemand die Gedenkmaalembleme begin gebruik of ophou om dit te doen?
Dit is nie vir ander Christene nodig om hulle daaroor te kwel nie. Jesus het gesê: “Ek is die voortreflike herder, en ek ken my skape.” Net so seker ken Jehovah dié wat hy werklik as geestelike seuns gekies het (Johannes 10:14; Romeine 8:16, 17).—8/15, bladsy 31.
◻ Wat was die hoofdoel van die Mosaïese Wet?
Dit het die Israeliete hoofsaaklik geleer dat hulle die Messias, wat hulle uit hulle sondige toestand sou loskoop, nodig gehad het (Galasiërs 3:24). Die Wet het ook godvrugtige vrees en gehoorsaamheid geleer, en dit het Israel gehelp om afgeskeie van die verdorwe gebruike van die nasies om hulle te bly (Levitikus 18:24, 25).—9/1, bladsy 9.
◻ Wat is die doel van die nuwe verbond? (Jeremia 31:31-34).
Dit is om ’n nasie van konings en priesters voort te bring om die hele mensdom te seën (Exodus 19:6; 1 Petrus 2:9; Openbaring 5:10).—9/1, bladsye 14, 15.
◻ Waarom moet ons ’n gewoonte daarvan maak om verskoning te vra?
As ons verskoning vra, kan dit die pyn verlig wat deur onvolmaaktheid veroorsaak word, en dit kan gespanne verhoudings uit die weg ruim. Elke keer dat ons verskoning vra, is dit vir ons ’n les in nederigheid en word ons geleer om meer bewus te wees van ander se gevoelens.—9/15, bladsy 24.
◻ Is die aardwye Vloed van Noag se dag ’n geskiedkundige feit?
Ja. Eertydse verhale oor ’n aardwye vloed kan regoor die wêreld gevind word, van die Amerikas tot Australië. Die feit dat hierdie tema so wyd en syd voorkom, lewer bykomende bewys dat ’n aardwye vloed wel plaasgevind het, soos die Bybel vertel (Genesis 7:11-20).—9/15, bladsy 25.
◻ Wat behels dit om gasvry te wees? (Romeine 12:13).
“Gasvryheid” is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat uit twee grondwoorde bestaan wat “liefde” en “vreemdeling” beteken. In wese beteken gasvryheid dus “liefde vir vreemdelinge”. Maar dit behels meer as liefde wat op beginsel gegrond is en weens ’n pligsgevoel betoon word. Dit is gegrond op opregte geneentheid, liefde en vriendskap.—10/1, bladsy 9.
◻ Wat is Paulus se redenasie met betrekking tot die huwelik en die ongetroude lewe in sy eerste brief aan die Korintiërs, hoofstuk 7?
Die huwelik is geoorloof en, in sekere omstandighede, raadsaam vir party. Maar die ongetroude lewe is ongetwyfeld voordelig vir die Christenman of -vrou wat Jehovah met die minste afleiding wil dien.—10/15, bladsy 13.
◻ Hoe sorg ’n ouer man “vir dié wat syne is”? (1 Timoteus 5:8).
’n Ouer man moet materieel, geestelik en emosioneel ‘vir dié sorg wat syne is’, naamlik sy vrou sowel as sy kinders.—10/15, bladsy 22.
◻ Hoe voorsien Jehovah sy knegte van vertroosting?
God se heilige gees tree as ’n “trooster” op (Johannes 14:16, voetnoot in naslaanuitgawe). Nog ’n manier waarop God vertroosting voorsien, is deur die Bybel (Romeine 15:4). God ken ons individuele behoeftes en kan ons gebruik om mekaar te vertroos, net soos Paulus vertroos is deur Titus se verslag oor die Korintiërs (2 Korintiërs 7:11-13).—11/1, bladsye 10, 12.
◻ Wat word geïmpliseer deur Paulus se beskrywing van Jehovah as “die Vader van tere barmhartighede” in 2 Korintiërs 1:3?
Die Griekse selfstandige naamwoord wat met “tere barmhartighede” vertaal word, kom van ’n woord wat gebruik is om droefheid oor die lyding van ander uit te druk. Op dié manier beskryf Paulus God se tere gevoelens vir al Sy getroue knegte wat verdrukking ly.—11/1, bladsy 13.
◻ Wat is bereik deurdat die Israeliete op die jaarlikse Versoendag gevas het? (Levitikus 16:29-31, NW; 23:27, NW).
Deur die vas te hou, is die volk Israel beweeg om meer bewus te wees van hulle sondigheid en hulle behoefte aan verlossing. Hulle het daardeur spyt oor hulle sondes en berou voor God te kenne gegee.—11/15, bladsy 5.
◻ Wat word deur die volgende opdrag aan jongmense geïmpliseer: “En dink aan jou Skepper”? (Prediker 12:1).
Een gesaghebbende sê dat die Hebreeuse woord wat as “dink aan” vertaal word dikwels “die geneentheid van die verstand en die optrede wat met herroeping gepaardgaan”, impliseer. Om op hierdie opdrag ag te slaan, beteken dus meer as om net oor Jehovah te dink. Dit behels optrede, om te doen wat hom behaag.—12/1, bladsy 16.