Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • “Hierdie dinge moet plaasvind”
    Die Wagtoring – 1999 | Mei 1
    • Tydgenote sou dit sien

      11. Wat het Jesus oor “hierdie geslag” gesê?

      11 Baie Jode het gemeen dat hulle stelsel van aanbidding, waarvan die tempel die middelpunt gevorm het, nog lank sou voortbestaan. Maar Jesus het gesê: “Leer dít van die vyeboom . . . : Sodra sy jong tak sag word en hy blare kry, weet julle dat die somer naby is. Net so moet julle, wanneer julle al hierdie dinge sien, ook weet dat hy naby is, voor die deur. Voorwaar, ek sê vir julle dat hierdie geslag hoegenaamd nie sal verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie. Hemel en aarde sal verbygaan, maar my woorde sal hoegenaamd nie verbygaan nie.”—Matteus 24:32-35.

      12, 13. Hoe sou die dissipels Jesus se verwysing na “hierdie geslag” verstaan het?

      12 In die jare voor 66 G.J. het Christene ongetwyfeld gesien hoe baie van die inleidende elemente van die saamgestelde teken vervul word—oorloë, hongersnode, selfs ’n uitgebreide verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk (Handelinge 11:28; Kolossense 1:23). Maar wanneer sou die einde kom? Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: ‘Hierdie geslag [Grieks, ge·ne·aʹ] sal nie verbygaan nie’? Jesus het dikwels die skares vyandige Jode wat in daardie tyd gelewe het, wat die godsdiensleiers ingesluit het, ‘’n goddelose, owerspelige geslag’ genoem (Matteus 11:16; 12:39, 45; 16:4; 17:17; 23:36). Toe hy dus weer van “hierdie geslag” op die Olyfberg gepraat het, het hy klaarblyklik nie na die hele Joodse ras deur die geskiedenis heen verwys nie; hy het ook nie na sy volgelinge verwys nie, selfs al was hulle “’n uitverkore ras” (1 Petrus 2:9). Jesus het ook nie bedoel dat “hierdie geslag” ’n tydperk is nie.

      13 Jesus het eerder die vyandige Jode van daardie tyd in gedagte gehad wat die vervulling sou sien van die teken wat hy gegee het. Professor Joel B. Green sê in verband met die verwysing na “hierdie geslag” in Lukas 21:32: “In die Derde Evangelie het ‘hierdie geslag’ (en verwante uitdrukkings) dikwels op ’n groep mense gedui wat God se voorneme teëstaan. . . . [Dit verwys] na mense wat op hardnekkige wyse God se voorneme verwerp.”b

      14. Wat het daardie “geslag” ondervind, maar hoe was dit anders vir die Christene?

      14 Die goddelose geslag van Joodse teenstanders wat kon sien hoe die teken vervul word, sou ook deur die einde oorval word (Matteus 24:6, 13, 14). En hulle ís ook! In 70 G.J. het die Romeinse leër onder leiding van Titus, die seun van keiser Vespasianus, teruggekeer. Die lyding van die Jode wat weer eens in die stad vasgekeer was, was byna ongelooflik.c Teen die tyd dat die Romeine die stad vernietig het, berig Flavius Josefus, ’n ooggetuie van hierdie gebeure, het ongeveer 1 100 000 Jode gesterf en is sowat 100 000 gevange geneem, waarvan die meeste kort daarna ’n verskriklike dood sou sterf, óf van hongersnood óf in die Romeinse arenas. Die verdrukking van 66-70 G.J. was werklik die grootste verdrukking wat Jerusalem en die Joodse stelsel nog ondervind het of ooit sou ondervind. Hoe het dit tog verskil van wat met Christene gebeur het wat op Jesus se profetiese waarskuwing ag geslaan het en Jerusalem verlaat het ná die Romeinse leërs in 66 G.J. teruggetrek het! Die gesalfde Christene, die “uitverkorenes”, is in 70 G.J. “gered”, of het veilig behoue gebly.—Matteus 24:16, 22.

  • “Hierdie dinge moet plaasvind”
    Die Wagtoring – 1999 | Mei 1
    • b Die Britse geleerde G. R. Beasley-Murray sê: “Die uitdrukking ‘hierdie geslag’ behoort nie vir kommentators enige probleme op te lewer nie. Genea het weliswaar in ouer Grieks geboorte, afstammeling en gevolglik ras beteken, . . . maar dit het in die [Griekse Septuagint] meestal die Hebreeuse woord dôr weergegee, wat era, mense-era of geslag in die sin van mense wat in dieselfde tyd lewe, beteken. . . . In aanhalings wat aan Jesus toegeskryf word, het die woord blykbaar ’n tweeledige konnotasie: aan die een kant verwys dit altyd na sy tydgenote en aan die ander kant impliseer dit altyd kritiek.”

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel