-
Geregtigheid nie deur mondelinge oorleweringe nieDie Wagtoring – 1990 | Oktober 1
-
-
Geregtigheid nie deur mondelinge oorleweringe nie
“As julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, [sal] julle nooit in die koninkryk van die hemele . . . ingaan nie.”—MATTHEÜS 5:20.
1, 2. Wat het plaasgevind net voor Jesus sy Bergpredikasie gegee het?
JESUS het die nag op ’n berg deurgebring. Die sterrehemel was uitgestrek daarbo. Klein nagdiertjies het in die bosse geskarrel. Aan die oostekant het die waters van die See van Galilea saggies aan die oewer geklots. Maar Jesus kon net vaagweg bewus gewees het van die vreedsame, strelende skoonheid waardeur hy omring was. Hy het die nag in gebed tot sy hemelse Vader, Jehovah, deurgebring. Hy het sy Vader se leiding nodig gehad. ’n Kritieke dag het voorgelê.
2 In die ooste het die dag gebreek. Voëls het begin rondvlieg en saggies getjirp. Die veldblomme het liggies in die briesie gewieg. Toe die son se eerste strale oor die horison breek, het Jesus sy dissipels na hom geroep en 12 onder hulle uitgekies om sy apostels te wees. Daarna het hy saam met hulle die berg begin afklim. Die skare wat van Galilea, Tirus en Sidon, Judea en Jerusalem ingestroom het, kon reeds gesien word. Hulle het gekom om van hulle siektes genees te word. Krag van Jehovah het van Jesus uitgegaan terwyl talle hom aangeraak het en genees is. Hulle het ook gekom om sy woorde te hoor wat soos ’n genesende balsem vir hulle gekwelde siele was.—Mattheüs 4:25; Lukas 6:12-19, vgl. NW.
3. Waarom was die dissipels en die skare vol afwagting toe Jesus begin praat het?
3 In hulle formeler onderrigsessies het die rabbi’s gewoonlik gesit, en dit is wat Jesus op hierdie spesifieke lenteoggend van 31 G.J. gedoen het, blykbaar op ’n gelykte hoër op teen die heuwel. Toe sy dissipels en die skare dit sien, het hulle besef dat iets spesiaals gaan volg, en hulle het dus vol afwagting om hom vergader. Toe hy begin praat, het hulle uitgesien na sy woorde; toe hy heelwat later afsluit, was hulle verstom oor wat hulle gehoor het. Kom ons sien waarom.—Mattheüs 7:28.
Twee soorte geregtighede
4. (a) Watter twee soorte geregtighede was ter sprake? (b) Wat was die doel van die mondelinge oorleweringe, en is dit bereik?
4 In sy Bergpredikasie, wat in Mattheüs 5:1–7:29 sowel as in Lukas 6:17-49 opgeteken is, het Jesus twee klasse skerp met mekaar gekontrasteer: die skrifgeleerdes en Fariseërs en die gewone mense wat deur hulle onderdruk is. Hy het van twee soorte geregtighede gepraat, die skynheilige geregtigheid van die Fariseërs en die ware geregtigheid van God (Mattheüs 5:6, 20). Fariseïese eiegeregtigheid was op mondelinge oorleweringe gegrond. Hulle is in die tweede eeu v.G.J. ingestel as “’n muur rondom die Wet” om dit teen die invloede van Hellenisme (Griekse kultuur) te beskerm. Hulle is mettertyd as ’n deel van die Wet beskou. Trouens, die skrifgeleerdes het die mondelinge oorleweringe selfs hoër as die geskrewe Wet geag. Die Misjna sê: “Die onderhouding van die woorde van die Skrifgeleerdes [hulle mondelinge oorleweringe] het groter bindende krag as die onderhouding van die woorde van die geskrewe Wet.” In plaas van “’n muur rondom die Wet” te wees om dit te beskerm, het hulle oorleweringe dus die Wet verwater en dit nutteloos gemaak, net soos Jesus gesê het: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.”—Markus 7:5-9; Mattheüs 15:1-9.
5. (a) Wat was die toestand van die gewone mense wat na Jesus kom luister het, en hoe het die skrifgeleerdes en Fariseërs hulle beskou? (b) Waarom was die mondelinge oorleweringe soos ’n swaar pak op die skouers van die gewone mense?
5 Die gewone mense wat saamgedrom het om Jesus te hoor, was geestelik verarm, omdat hulle “moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Mattheüs 9:36). Die skrifgeleerdes en Fariseërs het hulle met aanmatigende hoogmoed benede hulle geag, hulle ʽam ha·ʼaʹrets (mense van die land) genoem en hulle verag as onkundige, vervloekte sondaars wat nie ’n opstanding waardig was nie omdat hulle die mondelinge oorleweringe nie gehou het nie. In Jesus se tyd het daardie oorleweringe so omvangryk en so ’n verdrukkende moeras van wettiese haarklowery geword—so belas met tydrowende seremoniële ritusse—dat geen gewone mens dit moontlik kon hou nie. Dit is geen wonder nie dat Jesus die oorleweringe veroordeel het as ‘swaar pakke op die skouers van die mense’.—Mattheüs 23:4; Johannes 7:45-49.
6. Wat was so verbasend omtrent Jesus se openingswoorde, en op watter verandering het dit gedui wat sy dissipels en die skrifgeleerdes en Fariseërs betref het?
6 Toe Jesus dus op die heuwel gaan sit het, het sy dissipels en die geestelik honger skare nader gekom om te luister. Sy openingswoorde moes hulle verbaas het. ‘Gelukkig is die armes, gelukkig is dié wat honger ly, gelukkig is dié wat ween, gelukkig is dié wat gehaat word.’ Maar wie kan gelukkig wees as hulle arm is, honger is, ween en gehaat word? En weë is uitgespreek oor diegene wat ryk was, versadig was, wat gelag het en van wie goed gepraat is! (Lukas 6:20-26, vgl. NW). Met net ’n paar woorde het Jesus al die gebruiklike maatstawe en die erkende mensestandaarde nietig verklaar. Dit was ’n dramatiese ommeswaai van posisies, in ooreenstemming met Jesus se latere woorde: “Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.”—Lukas 18:9-14.
7. Watter uitwerking moes Jesus se openingswoorde op die geestelik honger skare gehad het wat na hom geluister het?
7 In teenstelling met die selfvoldane skrifgeleerdes en Fariseërs was diegene wat op hierdie spesifieke oggend na Jesus gekom het bewus van hulle treurige geestelike toestand. Sy openingswoorde moes hulle met hoop vervul het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” En hoe moes dit hulle tog aangemoedig het toe hy bygevoeg het: “[Gelukkig] is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word”! (Mattheüs 5:3, 6, vgl. NW; Johannes 6:35; Openbaring 7:16, 17). Met geregtigheid versadig, ja, maar nie met die Fariseïese geregtigheid nie.
Nie voldoende om “regverdig voor die mense” te wees nie
8. Waarom sou sommige wonder hoe hulle geregtigheid oorvloediger as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs kon wees, maar waarom moes dit wel so wees?
8 “As julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie,” het Jesus gesê, “[sal] julle nooit in die koninkryk van die hemele . . . ingaan nie.” (Mattheüs 5:17-20; sien Markus 2:23-28; 3:1-6; 7:1-13.) Sommige moes gedink het: ‘Oorvloediger in geregtigheid as die Fariseërs? Hulle vas en bid en hef tiendes en gee aalmoese en bestudeer hulle hele lewe deur die Wet. Hoe kan ons geregtigheid ooit hulle geregtigheid oortref?’ Maar dit móés oorvloediger wees. Die Fariseërs is dalk deur mense hoog geskat, maar nie deur God nie. By ’n ander geleentheid het Jesus aan hierdie Fariseërs gesê: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God.”—Lukas 16:15.
9-11. (a) Op watter een manier kon die skrifgeleerdes en Fariseërs volgens hulle mening ’n regverdige posisie voor God verkry? (b) Wat was ’n tweede manier waarvolgens hulle verwag het om geregtigheid te verkry? (c) Wat was die derde manier waarop hulle gereken het, en wat het die apostel Paulus gesê wat dit tot mislukking gedoem het?
9 Die rabbi’s het hulle eie reëls gemaak om geregtigheid te verkry. Een daarvan was verdienstelikheid op grond van afstamming van Abraham: “Die dissipels van Abraham ons vader geniet hierdie wêreld en beërwe die toekomstige wêreld” (Misjna). Dit was waarskynlik om hierdie oorlewering die nek in te slaan dat Johannes die Doper die Fariseërs wat na hom gekom het, gewaarsku het: “Dra dan vrugte wat by die bekering pas. En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie [asof dit voldoende was].”—Mattheüs 3:7-9; sien ook Johannes 8:33, 39.
10 ’n Tweede manier waarop geregtigheid volgens hulle verkry kon word, was om aalmoese te gee. Twee Apokriewe boeke wat gedurende die tweede eeu v.G.J. deur vroom Jode geskryf is, gee die tradisionele beskouing weer. Een verklaring verskyn in Tobias: “Die gee van aalmoese red ’n mens van die dood en versoen sonde” (12:9, The New American Bible). Die boek van Sirag (Ekklesiastikus) is dit hiermee eens: “Water blus ’n verterende vuur, en aalmoese versoen sondes.”—3:29, NAB.
11 Die derde manier waarop hulle geregtigheid probeer verkry het, was deur middel van werke van die Wet. Hulle mondelinge oorleweringe het geleer dat as ’n mens se dade hoofsaaklik goed was hy gered sou word. ’n Mens word geoordeel “volgens die oormaat van werke, hetsy dit goed of sleg is” (Misjna). Om ’n gunstige oordeel te ontvang, moes hulle hul daarop toelê “om deugde te bekom wat vir sondes sou vergoed”. As ’n mens se goeie werke sy slegte werke met een oortref het, sou hy gered word—asof God oordeel voltrek het deur telling te hou van hulle beuselagtighede! (Mattheüs 23:23, 24). Paulus het ’n regte beskouing gegee deur te skryf: “Uit die werke van die wet [sal] geen vlees voor Hom [God] geregverdig . . . word nie” (Romeine 3:20). Christelike geregtigheid moet beslis oorvloediger wees as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs!
“Julle het gehoor dat daar gesê is”
12. (a) Hoe het Jesus in sy Bergpredikasie afgewyk van sy gebruiklike manier om verwysings na die Hebreeuse Geskrifte in te lei, en waarom? (b) Wat leer ons uit die sesde gebruik van die uitdrukking ‘Daar is gesê’?
12 Toe Jesus voorheen uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het, het hy gesê: “Daar is geskrywe” (Mattheüs 4:4, 7, 10). Maar in die Bergpredikasie het hy ses keer verklarings, wat geklink het asof dit uit die Hebreeuse Geskrifte gekom het, met dié woorde ingelei: ‘Daar is gesê’ (Mattheüs 5:21, 27, 31, 33, 38, 43). Waarom? Omdat hy na die Skrif verwys het soos dit uitgelê is in die lig van die Fariseïese oorleweringe wat God se gebooie weerspreek het (Deuteronomium 4:2; Mattheüs 15:3). Dit blyk duidelik uit Jesus se sesde en laaste verwysing in hierdie reeks: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.” Maar geen Mosaïese wet het gesê ‘Haat jou vyand’ nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het dit gesê. Dit was hulle vertolking van die Wet om jou naaste—jou Joodse naaste, geen ander nie—lief te hê.
13. Hoe waarsku Jesus teen selfs die begin van gedrag wat tot moord kan lei?
13 Beskou nou die eerste van hierdie reeks van ses verklarings. Jesus het gesê: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg” (Mattheüs 5:21, 22). Woede in die hart kan tot laster lei en dan tot veroordelende menings en dit kan uiteindelik tot die daad van moord self lei. Woede wat in die hart gekoester word, kan dodelik wees: “Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar.”—1 Johannes 3:15.
14. Hoe maan Jesus ons om nie eers te begin om die weg in te slaan wat tot egbreuk lei nie?
14 Daarna het Jesus gesê: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheüs 5:27, 28). Jy gaan nie egbreuk pleeg nie? Moet dan nie eers begin om daardie weg in te slaan deur gedagtes daaroor te koester nie. Bewaak jou hart, waaruit sulke dinge voortspruit (Spreuke 4:23; Mattheüs 15:18, 19). Jakobus 1:14, 15 waarsku: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.” Mense sê soms: ‘Moenie iets begin as jy dit nie kan klaarmaak nie.’ Maar in hierdie geval moet ons sê: ‘Moenie iets begin waarmee jy nie kan ophou nie.’ Sommige wat getrou was selfs toe hulle gedreig is met die dood voor ’n vuurpeloton het later geswig voor die verraderlike strik van geslagsonsedelikheid.
15. Hoe het Jesus se standpunt ten opsigte van egskeiding hemelsbreed verskil van dié wat in die mondelinge oorleweringe van die Jode voorgekom het?
15 Ons kom nou by Jesus se derde verklaring. Hy het gesê: “Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ’n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou [dit wil sê, iemand wat om ander redes as geslagsonsedelikheid geskei is] trou, pleeg egbreuk” (Mattheüs 5:31, 32). Party Jode was ontrou aan hulle vrouens en het om die flouste redes van hulle geskei (Maleagi 2:13-16; Mattheüs 19:3-9). Volgens mondelinge tradisies kon ’n man van sy vrou skei “selfs as sy ’n maaltyd vir hom bederf het” of “as hy iemand gevind het wat mooier as sy was”.—Misjna.
16. Watter Joodse gebruik het eedsweringe sinloos gemaak, en watter standpunt het Jesus ingeneem?
16 Jesus het voorts in dieselfde trant gesê: “Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie vals sweer [“sonder om jou eed gestand te doen”, NW] nie . . . Maar Ek sê vir julle: Sweer hoegenaamd nie.” Teen hierdie tyd het die Jode eedswering misbruik en het hulle baie ede gesweer oor nietige dinge sonder om hul ede gestand te doen. Maar Jesus het gesê: “Sweer hoegenaamd nie . . . Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee.” Sy reël was eenvoudig: Spreek te alle tye die waarheid sodat dit nie nodig is om jou woord deur middel van ’n eed te laat waarborg nie. Beperk eedswerings tot noodsaaklike aangeleenthede.—Mattheüs 5:33-37; vergelyk 23:16-22.
17. Watter beter manier as “oog vir oog en tand vir tand” het Jesus geleer?
17 Jesus het vervolgens gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Mattheüs 5:38-42). Jesus praat nie hier van ’n hou wat daarop gemik is om iemand leed aan te doen nie, maar van ’n beledigende klap met die handrug. Moenie jouself verlaag deur beledigings rond te slinger nie. Weier om kwaad met kwaad te vergeld. Doen eerder goed en oorwin daardeur “die kwaad deur die goeie”.—Romeine 12:17-21.
18. (a) Hoe het die Jode die wet oor liefde vir jou naaste gewysig, maar wat was Jesus se antwoord daarop? (b) Hoe het Jesus ’n sekere wetgeleerde geantwoord wat die toepassing van “naaste” wou beperk?
18 In die sesde en laaste voorbeeld het Jesus duidelik getoon hoe die Mosaïese Wet deur rabbynse oorlewering verwater is: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Mattheüs 5:43, 44). Die geskrewe Mosaïese Wet stel geen beperkinge op liefde nie: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Dit was die Fariseërs wat teen hierdie gebod beswaar gemaak het, en om dit te ontduik het hulle die term “naaste” tot diegene beperk wat die oorleweringe gehou het. Daarom het ’n sekere wetgeleerde, toe hy later deur Jesus herinner is aan die gebod om ‘jou naaste lief te hê soos jouself’, geredekawel: “En wie is my naaste?” Jesus het dit beantwoord met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan—wees ’n naaste vir die persoon wat jou nodig het.—Lukas 10:25-37.
19. Watter optrede van Jehovah teenoor die goddelose het Jesus ons aangeraai om te volg?
19 Jesus het sy predikasie voortgesit en verklaar dat ‘God aan die goddelose liefde betoon het. Hy het die son oor hulle laat skyn en reën op hulle laat val. Daar is niks buitengewoons daaraan om diegene wat jou liefhet lief te hê nie. Die goddelose doen dit. Daar is geen rede om daarvoor beloon te word nie. Bewys dan dat julle seuns van God is. Volg hom na. Wees ’n naaste vir almal en wees lief vir jou naaste. En wees sodoende “volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is”’ (Mattheüs 5:45-48). Wat ’n uitdagende standaard om na te leef! En dit toon hoe ver die geregtigheid van die skrifgeleerdes en Fariseërs tekortskiet!
20. Hoe het Jesus die Mosaïese Wet nie tersyde gestel nie, maar eerder die trefkrag daarvan uitgebrei en versterk en dit op ’n selfs hoër vlak geplaas?
20 Toe Jesus dus na dele van die Wet verwys en bygevoeg het: “Maar Ek sê vir julle”, het hy die Mosaïese Wet nie tersyde gestel en dit met iets anders vervang nie. Nee, maar hy het die krag daarvan versterk en uitgebrei deur die gees daaragter te toon. ’n Hoër wet van broederskap veroordeel voortgesette kwaadwilligheid as moord. ’n Hoër wet van reinheid veroordeel voortgesette wellustige gedagtes as egbreuk. ’n Hoër wet oor die huwelik verwerp egskeiding op grond van beuselagtighede as ’n weg wat tot owerspelige hertroues lei. ’n Hoër wet van waarheid toon dat herhalende eedswerings onnodig is. ’n Hoër wet van sagmoedigheid verwerp vergelding. ’n Hoër wet van liefde vereis ’n godvrugtige liefde wat geen perke ken nie.
21. Wat het Jesus se vermaninge ten opsigte van rabbynse eiegeregtigheid geopenbaar, en wat sou die skare nog leer?
21 Wat ’n diep indruk moes sulke ongehoorde vermanings tog gemaak het by diegene wat dit vir die eerste keer gehoor het! Hoe uiters waardeloos het dit die skynheilige eiegeregtigheid gemaak wat die gevolg was van ’n najaging van rabbynse oorleweringe! Maar terwyl Jesus sy Bergpredikasie voortgesit het, sou die skare wat na die geregtigheid van God honger en dors spesifiek leer hoe om dit te verkry, soos die volgende artikel toon.
-
-
Hou aan om die Koninkryk en God se geregtigheid te soekDie Wagtoring – 1990 | Oktober 1
-
-
1, 2. Waarin het die skrifgeleerdes en Fariseërs dade verander wat op sigself goed was, en watter waarskuwing het Jesus aan sy volgelinge gegee?
DIE skrifgeleerdes en Fariseërs het geregtigheid op hulle manier gesoek, wat nie God se manier was nie. Dit is nie al nie. Wanneer hulle wel dinge gedoen het wat op sigself goed was, het hulle dit in skynheilige vertonings verander om deur mense gesien te word. Hulle het, nie God nie, maar hulle eie ydelheid gedien. Jesus het sy dissipels teen sulke toneelspelery gewaarsku: “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie.”—Mattheüs 6:1.
2 Jehovah waardeer diegene wat aan die armes gee—maar nie diegene wat gee soos die Fariseërs gegee het nie. Jesus het sy dissipels gewaarsku om hulle nie na te boots nie: “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ’n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon [ten volle] weg.”—Mattheüs 6:2, vgl. NW.
3. (a) In watter sin is die skrifgeleerdes en Fariseërs ten volle betaal vir hulle gawes? (b) Hoe het Jesus se beskouing ten opsigte van gawes verskil?
3 Die Griekse woord vir ‘hulle het ten volle’ (a·peʹkho) was ’n term wat dikwels in sakekwitansies verskyn het. Die gebruik daarvan in die Bergpredikasie toon dat “hulle hul loon ontvang het”, dit wil sê, “hulle het die kwitansie van hulle loon onderteken: hulle reg om hulle loon te ontvang is verwesenlik, presies asof hulle reeds ’n kwitansie daarvoor gegee het” (An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine). Gawes vir die armes is plegtig in die openbaar in die strate beloof. Die name van skenkers is in die sinagoges aangekondig. Diegene wat groot hoeveelhede gegee het, is spesiaal vereer deur tydens aanbidding sitplekke langs die rabbi’s te kry. Hulle het gegee om deur mense gesien te word; hulle is deur mense gesien en verheerlik; daarom kon hulle die woorde “Ten volle betaal” op die kwitansie vir die loon wat hulle vir hulle gawes ontvang het, stempel. Hoe het Jesus se beskouing tog nie verskil nie! Gee “in die verborgene. . . ; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”—Mattheüs 6:3, 4; Spreuke 19:17.
Gebede wat God behaag
4. Waarom het die Fariseërs se gebede daartoe gelei dat Jesus hulle geveinsdes genoem het?
4 Jehovah waardeer gebede wat tot hom gerig word—maar nie soos die Fariseërs gebid het nie. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het” (Mattheüs 6:5). Die Fariseërs moes daagliks op spesifieke tye baie gebede opsê, ongeag waar hulle was. Teoreties moes hulle privaat bid. Hulle het egter met opset “op die hoeke van die strate” gaan staan wanneer die uur van die gebed aangebreek het sodat hulle sigbaar was vir mense wat uit vier rigtings verbygeloop het.
5. (a) Watter ander gebruike het tot gevolg gehad dat die Fariseërs se gebede nie deur God verhoor is nie? (b) Watter dinge het Jesus eerste gestel in sy modelgebed, en pas mense dit vandag toe?
5 In ’n vertoon van valse heiligheid het hulle ‘vir die skyn lang gebede gedoen’ (Lukas 20:47). Een mondelinge oorlewering het gelui: “Vanmelewe se vroom manne het ’n uur lank gewag voordat hulle die Tefillah [gebed] opgesê het” (Misjna). Teen daardie tyd sou almal beslis hulle vroomheid sien en hulle daaroor verwonder! Sulke gebede het nie hoër as hulle eie koppe gegaan nie. Jesus het gesê hulle moet privaat bid, sonder ydele herhaling, en hy het hulle ’n eenvoudige model gegee (Mattheüs 6:6-8; Johannes 14:6, 14; 1 Petrus 3:12). Jesus se modelgebed het die belangrike dinge eerste gestel: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied” (Mattheüs 6:9-13). Min mense ken vandag God se naam; nog minder wil hulle hê dat dit verheerlik word. Hulle maak hom sodoende ’n naamlose god. Laat God se Koninkryk kom? Baie mense dink dat dit reeds hier is, binne-in hulle. Hulle bid dalk dat sy wil moet geskied, maar die meeste doen wat húlle wil.—Spreuke 14:12.
6. Waarom het Jesus die Joodse vaste as sinloos veroordeel?
6 ’n Vas is vir Jehovah aanvaarbaar—maar nie soos die Fariseërs gevas het nie. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs se vaste net soos hulle aalmoesgeëry en gebede as sinloos verwerp: “Wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg” (Mattheüs 6:16). Die Fariseërs se mondelinge oorleweringe het aangedui dat hulle hul gedurende vastye nie moes was of salf nie maar as op hulle hoofde moes smeer. Wanneer hulle nie gevas het nie, het die Jode hul gereeld gewas en hulle liggame met olie gesmeer.
7. (a) Hoe moes Jesus se volgelinge optree wanneer hulle gevas het? (b) Wat het Jehovah in Jesaja se dag vereis ten opsigte van vaste?
7 Wat vas betref, het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader” (Mattheüs 6:17, 18). In Jesaja se dag het afvallige Jode behae geskep in hul vaste deur hulle siele te kwel, hulle hoofde te buig en in sak en as te sit. Maar Jehovah wou hê dat hulle die onderdruktes bevry, die hongerlyers voed, huisvesting aan die haweloses gee en die naaktes klee.—Jesaja 58:3-7.
Maak hemelse skatte bymekaar
8. Wat het daartoe gelei dat die skrifgeleerdes en Fariseërs uit die oog verloor het hoe om God se guns te verkry, en watter beginsel, wat later deur Paulus geuiter is, het hulle veronagsaam?
8 In hulle strewe na geregtigheid het die skrifgeleerdes en Fariseërs uit die oog verloor hoe hulle God se guns moet verkry en het hulle hul daarop toegelê om die bewondering van mense te kry. Hulle het so behep geraak met die oorleweringe van mense dat hulle die geskrewe Woord van God veronagsaam het. Hulle het hul hart op aardse posisie gesit in plaas van op hemelse skatte. Hulle het ’n eenvoudige waarheid veronagsaam wat jare later opgeteken is deur ’n Christen wat voorheen ’n Fariseër was: “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang” (Kolossense 3:23, 24).
-