Die Bybelse beskouing
Het drie konings Jesus in Betlehem besoek?
NÁ JESUS se geboorte het hooggeplaastes uit die Ooste in Betlehem aangekom om aan hom hulde te bewys as die koning van die Jode. Tot vandag toe word daardie besoek regoor die wêreld herdenk deur baie mense wat Kersfees vier.
Op sommige plekke bou mense Kerstonele waarin die Oosterse besoekers uitgebeeld word as drie konings wat met geskenke na die pasgebore Jesus toe gaan. In ander lande loop kinders in hulle buurt rond in die kostuums van “die Heilige Konings”. Selfs ná 20 eeue onthou mense op alle plekke nog steeds daardie buitengewone besoekers. Presies wie was hulle?
Was hulle konings?
Die geskiedenisverslag van hierdie gebeurtenis word in die Bybelboek Matteus gevind. Daar lees ons: “Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: ‘Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys’” (Matteus 2:1, 2, NAV). Waarom noem hierdie Bybelvertaling die besoekers uit die ooste sterrekykers en nie konings nie?
Die Skrifgedeelte gebruik hier die meervoudsvorm van die Griekse woord maʹgos. Verskeie Bybelvertalings vertaal dit as “wyse manne”, “sterrewiggelaars” of “sterrekykers”, of hulle translitereer dit eenvoudig as “Magi”. Hierdie woord verwys na mense wat raad gee en voorspellings maak wat op die stand van die sterre en die planete gebaseer is. Die Bybel identifiseer dus die besoekers aan Betlehem as waarsêers, beoefenaars van die okkulte wat deur God afgekeur word.—Deuteronomium 18:10-12.
Was hulle ook konings? As hulle was, is dit redelik om te verwag dat die Bybel hulle as sodanig sou geïdentifiseer het. Die woord “koning” kom vier keer in Matteus 2:1-12 voor, waar dit een keer na Jesus en drie keer na Herodes verwys. Maar nie een keer word die Magi konings genoem nie. The Catholic Encyclopedia sê hieroor: “Geen Kerkvader meen dat die Magi konings was nie.” Die Bybel sê ook nie so nie.
Was daar drie?
Die Bybelverslag sê nie hoeveel Magi daar was nie. Maar Kerstonele en -liedere bevorder die algemene tradisie dat daar drie van hulle was. Dit het klaarblyklik voortgespruit uit die feit dat daar drie soorte geskenke was. Die Bybel sê van hierdie geskenke: “Hulle het ook hulle skatte oopgemaak en vir [Jesus] geskenke gegee: goud en wierook en mirre.”—Matteus 2:11.
Is dit logies om tot die gevolgtrekking te kom dat daar drie Magi moes gewees het omdat hulle drie verskillende geskenke gegee het? Kom ons kyk na die verslag van ’n ander hooggeplaaste besoeker aan Israel. Die koningin van Skeba het koning Salomo eenkeer besoek en “balsemolie en ’n baie groot hoeveelheid goud en kosbare stene” vir hom gebring (1 Konings 10:2, NW). Alhoewel daar van drie verskillende soorte geskenke gepraat word, word net die koningin van Skeba gemeld as die persoon wat dit gegee het. Die aantal geskenke wat sy gegee het, dui nie daarop dat drie mense by daardie geleentheid na Salomo toe gegaan het nie. Die drie geskenke wat aan Jesus gegee is, het eweneens nie juis iets te doen met hoeveel mense dit gebring het nie.
The Catholic Encyclopedia sê: “Die Evangelieverslag sê nie hoeveel Magi daar was nie, en daar is geen spesifieke tradisie hieroor nie. Sommige Vaders praat van drie Magi; hulle word heel waarskynlik deur die aantal geskenke beïnvloed.” Dit sê verder dat verskeie kunswerke toon hoe twee, drie, vier en selfs agt persone Jesus besoek. Volgens party tradisies was daar tot 12. Daar is eenvoudig geen manier om te bevestig hoeveel Magi daar was nie.
’n Gewilde maar onjuiste verhaal
In teenstelling met die algemene opvatting het die Magi ná Jesus se geboorte eers in Jerusalem aangekom en nie in Betlehem nie. Hulle was nie teenwoordig toe Jesus gebore is nie. Later, toe hulle na Betlehem toe gegaan het, sê die Bybel dat ‘hulle die jong kindjie gesien het toe hulle in die huis ingaan’ (Matteus 2:1, 11). Dit is dus duidelik dat Jesus se gesin al in ’n gewone huis gewoon het teen die tyd wat die Magi hom besoek het. Hulle het hom nie in ’n krip gevind nie.
In die lig van die Skrif is die gewilde verhaal van drie konings wat Jesus met sy geboorte vereer onjuis. Soos hierbo genoem is, leer die Bybel dat die Magi wat Jesus besoek het nie konings was nie, maar sterrewiggelaars wat die okkulte beoefen het. Die skriftuurlike verslag sê nie hoeveel hulle was nie. Ook het hulle Jesus nie met sy geboorte besoek toe hy in ’n krip neergelê is nie, maar eerder op ’n later stadium toe sy gesin in ’n huis gewoon het.
Die gewilde verhaal van die drie konings en ander tradisionele Kersverhale word oor die algemeen as onskadelike feesverhale beskou, al is hulle skriftuurlik onjuis. Christene heg egter groot waarde aan ’n vorm van aanbidding wat vry van valshede is. Dit is hoe Jesus self gevoel het. In gebed tot sy Vader het hy eenkeer gesê: “U woord is waarheid” (Johannes 17:17). Hy het gesê dat “ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid”.—Johannes 4:23.
[Prent op bladsy 15]
“Die Magi bring hulde”