Leer by die voëls en blomme
WAAROOR is mense vandag dikwels die meeste bekommerd? Vir die meerderheid is dit of hulle genoeg geld sal hê om vir hulle gesin te sorg of om hulle lewenstandaard te kan verbeter.
Toe Jesus Christus op die aarde was, was mense ook baie bekommerd oor hoe hulle die pot aan die kook gaan hou. Maar hy het gewaarsku dat hierdie geldige rede tot kommer ’n oorheersende besorgdheid kan word wat geestelike dinge verdring. Om sy punt toe te lig, het Jesus vir sy dissipels gesê om die voëls en die blomme noukeurig dop te hou.
Voëls moet elke dag eet—proporsioneel baie meer as ons vanweë hulle hoë metabolismetempo. Maar hulle kan nie saad saai, maai of kos vir die toekoms bêre nie. Tog “voed [ons] hemelse Vader hulle” soos Jesus gesê het (Matteus 6:26). God klee eweneens die pragtige “lelies van die veld”.—Matteus 6:28-30.
Jesus gee ons die versekering dat God sal sorg dat ons ook die nodige kos en klere het indien ons die regte perspektief van materiële behoeftes behou en aan geestelike dinge voorkeur gee. As Jehovah God vir die voëls en die blomme sorg, sal hy gewis vir dié sorg wat hom liefhet en ‘aanhou om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek’ (Matteus 6:33). Stel jy die belange van God se Koninkryk eerste in jou lewe?