-
’n Vader sonder gelykeDie Wagtoring — 2008 | Januarie 1
-
-
Omstreeks Oktober 29 G.J. het Jesus na die Jordaanrivier gegaan om gedoop te word. Die Bybel vertel wat gebeur het: “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom; en kyk! die hemele is geopen, en hy het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom kom. Kyk! Ook was daar ’n stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het’” (Matteus 3:16, 17).a Hierdie tere woorde, wat deur Jehovah self gespreek is, sê vir ons baie oor die soort Vader wat hy is. Let op drie dinge wat Jehovah vir sy Seun gesê het.
Eerstens, met die woorde “dit is my Seun” het Jehovah in werklikheid gesê: ‘Ek is trots om jou Vader te wees.’ ’n Vader met onderskeidingsvermoë gee sy kinders die erkenning en aandag wat hulle nodig het. Kinders moet verseker word dat hulle as unieke lede van die gesin waardeer word. Stel jou voor hoeveel dit vir Jesus—selfs as ’n volwassene—moes beteken het om so deur sy Vader erken te word!
Tweedens, deur sy Seun “die geliefde” te noem, het Jehovah sy liefde vir Jesus openlik uitgespreek. Die Vader het in werklikheid gesê: ‘Ek is lief vir jou.’ ’n Goeie vader sê vir sy kinders dat hy hulle innig liefhet. Sulke woorde—wat met heilsame geneentheid gepaardgaan—help kinders om te floreer. Hoe moes dit Jesus se hart tog geraak het om sy Vader se stem te hoor wat sê dat hy hom liefhet!
Derdens, met die woorde “wat ek goedgekeur het” het Jehovah sy goedkeuring van sy Seun uitgespreek. Dit was asof Jehovah gesê het: ‘Seun, ek is tevrede met wat jy gedoen het.’ ’n Liefdevolle vader soek geleenthede om sy kinders te laat besef dat hy tevrede is met die goeie dinge wat hulle sê of doen. Ouers se goedkeuring versterk en bemoedig hulle kinders. Hoe moes dit Jesus tog bemoedig het om te hoor dat hy sy Vader se goedkeuring het!
-
-
’n Vader sonder gelykeDie Wagtoring — 2008 | Januarie 1
-
-
a Volgens die parallelle verslag in die Evangelie van Lukas het Jehovah die persoonlike voornaamwoord “jy” gebruik en gesê: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur.”—Lukas 3:22.
-