Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Is God se Koninkryk ’n hartstoestand?
    Die Wagtoring — 2011 | Maart 1
    • Is God se Koninkryk ’n hartstoestand?

      “Die Koninkryk van God kom by wyse van ’n luisterende hart”, sê pous Benediktus XVI in sy boek Jesus of Nazareth. Vir party is dit presies wat God se Koninkryk is—’n verandering wat in ’n persoon plaasvind wanneer hy Jesus Christus aanneem en geloof ontwikkel. Is God se Koninkryk bloot ’n persoonlike transformasie, ’n koninkryk wat ‘net in jou hart’ is?

      DIE Koninkryk het Jesus inderdaad na aan die hart gelê. Die Koninkryk was “die middelpunt van Jesus se predikingswerk”, erken pous Benediktus. Gedurende die grootste deel van sy betreklike kort bediening het Jesus die land deurkruis en “die goeie nuus van die koninkryk verkondig” (Matteus 4:23). Deur middel van sy onderrigting en die wonderwerke wat hy verrig het, het Jesus duidelik getoon dat die Koninkryk meer behels as dat ’n persoon God aanvaar en hom gehoorsaam. Dit behels heerskappy, oordeel en ewige seëninge.

      Heerskappy en oordeel

      By een geleentheid gedurende die laaste dae van Jesus se bediening het die moeder van Jesus se geliefde dissipels Jakobus en Johannes na Jesus toe gekom en gesê: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand” (Matteus 20:21). Dit is duidelik dat sy nie van iets in die hart van haar seuns gepraat het nie. Sy het verstaan dat die Koninkryk heerskappy saam met Jesus beteken het, en sy wou hê dat haar seuns ’n deel daaraan moet hê. Trouens, Jesus het sy 11 getroue apostels belowe dat hulle in sy Koninkryk sou wees waar hulle “op trone [sou] sit” en saam met hom sou “oordeel” (Lukas 22:30). Vir sy volgelinge sou Jesus se Koninkryk dus ’n ware heerskappy wees—’n administrasie, ’n regering.

      Wat van mense oor die algemeen in Jesus se dag? Het hulle gedink dat die Koninkryk net ’n persoonlike transformasie is, of het hulle meer verwag? Wel, kort voor die Pasga van 33 HJ, toe Jesus op ’n hingsvul in Jerusalem ingery het, het die skare hom verwelkom en het party uitgeroep: “Red tog die Seun van Dawid!” (Matteus 21:9). Waarom het hulle dit uitgeroep? Hulle het ongetwyfeld besef dat Jesus die beloofde Messias is en dat God hom ’n ewige Koninkryk, “die troon van sy vader Dawid”, sou gee. Hulle het gesmag na die redding, vrede en geregtigheid wat die Koninkryk sou bring.—Lukas 1:32; Sagaria 9:9.

      Ewige seëninge

      Selfs mense wat blykbaar nie baie in Jesus se bediening belanggestel het nie, het kennis gehad oor een van sy leringe. By Jesus se teregstelling het ’n misdadiger wat langs hom aan ’n paal gehang is, by hom gepleit: “Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Wat was Jesus se antwoord? “Jy sal saam met my in die Paradys wees”, het hy die sterwende man verseker.—Lukas 23:42, 43.

      Daardie rower het klaarblyklik geglo dat Jesus, nadat hy opgewek is, in ’n Koninkryk sou ingaan of dit sou ontvang. Jesus sal nie net die gesag hê om die man—tesame met miljoene ander—op te wek en te hervorm nie, maar hy sal ook die begeerte hê om dit te doen. Ja, met die mag as Heerser in die geesteryk sal Jesus deur middel van die Koninkryk ewige seëninge aan die mensdom regoor die aarde bring.—Johannes 5:28, 29.

      ’n Koninkryk in hulle midde

      Het Jesus dan nie gesê: “Die koninkryk van God is in julle midde” nie? Ja, hierdie woorde van Jesus word in Lukas 17:21 gevind. Trouens, party Bybelvertalings sê “die koninkryk van God is binne-in julle”, terwyl ander sê “is onder julle”. (Sien byvoorbeeld die Ou Afrikaanse Bybelvertaling en The New English Bible.) Wat het Jesus hiermee bedoel?

      Die konteks toon dat Jesus hierdie woorde gerig het aan ’n vyandige Joodse godsdiensgroep wat die Fariseërs genoem is. Hulle het hulle eie verwagtinge aangaande die Messias en sy Koninkryk gehad. Volgens hulle sou die Messias “met die wolke van die hemel” as ’n glorieryke Koning kom om die Jode van die Romeine te verlos en om die koninkryk van Israel te herstel (Daniël 7:13, 14). Jesus het hulle egter op hulle fout gewys deur vir hulle te sê: “Die koninkryk van God kom nie met opvallende waarneembaarheid nie.” Toe het hy bygevoeg: “Kyk! die koninkryk van God is in julle midde.”—Lukas 17:20, 21.

      Terwyl Jesus onderrig het en wonderwerke verrig het wat hom duidelik as die beloofde Koning van daardie Koninkryk geïdentifiseer het, het die Fariseërs, weens hulle onrein harte en gebrek aan ware geloof, eenvoudig vyandiger geword. Hulle het getwyfel aan Jesus se kwalifikasies en wat hy oor homself gesê het. Hy het dus die feite aan hulle voorgelê: Die Koninkryk, verteenwoordig deur die aangewese Koning daarvan, was ‘in hulle midde’. Hy het nie gevra dat hulle binne-in hulle kyk nie.a Jesus en sy dissipels het voor hulle gestaan. “Die koninkryk van God is hier by julle”, het hy gesê.—Lukas 17:21, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

  • Is God se Koninkryk ’n hartstoestand?
    Die Wagtoring — 2011 | Maart 1
    • a Die voornaamwoord “julle” in die uitdrukking wat in party Bybelvertalings met “binne-in julle” vertaal word, is in die oorspronklike Grieks in die meervoud en verwys na die Fariseërs, met wie Jesus gepraat het. Jesus het sekerlik nie gepraat van die Fariseërs se persoonlike transformasie of hulle ontvanklike hartstoestand nie.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel