Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • su hfst. 3 bl. 21-29
  • Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?
  • Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N SAMEGESTELDE TEKEN
  • „DIE TYE VAN DIE NASIES”
  • IS JOU VERWAGTINGE GEGROND?
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Laaste dae
    Redenering uit die Skrif
  • Wat 1914 vir jou kan beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Is die Bybel werklik deur God geïnspireer?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
Sien nog
Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
su hfst. 3 bl. 21-29

Hoofstuk 3

Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?

1. Wat het baie van ons al aangaande die Bybel se beloftes gevra?

DIT is doodnatuurlik om te wil weet hoe lank dit sal wees voor die gebeure plaasvind wat so duidelik in die Bybel beskryf word en wat in Armageddon sal kulmineer. Wanneer sal hierdie goddelose stelsel vernietig word? Sal ons die tyd beleef wanneer die aarde ’n plek word waar liefhebbers van geregtigheid volkome vrede en veiligheid kan geniet?

2. (a) Watter soortgelyke vraag het Jesus se apostels gevra? (b) Weet ons presies wanneer die huidige goddelose stelsel gaan eindig? (c) Maar watter baie nuttige inligting het Jesus verstrek?

2 Jesus Christus het merkwaardige besonderhede verstrek wat daardie vrae beantwoord. Hy het dit gedoen toe sy apostels gevra het: „Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Aangaande die vernietiging van hierdie goddelose stelsel het Jesus uitdruklik gesê: „Van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader” (Mattheüs 24:3; Markus 13:32). Maar hy het met heelwat besonderhede die geslag beskryf wat „die voleinding [Grieks: syn·teʹlei·a] van die wêreld” sou sien, die tydperk wat „die einde [Grieks: teʹlos]” voorafgaan. Lees dit gerus self in jou Bybel in Mattheüs 24:3–25:46, asook die ooreenstemmende gedeeltes in Markus 13:4-37 en Lukas 21:7-36.

3. Hoe weet ons dat Jesus se antwoord nie bloot eerste-eeuse gebeure beskryf het nie?

3 Wanneer jy hierdie gedeeltes lees, sal jy besef dat Jesus in sekere mate die gebeure beskryf het wat die vernietiging van Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. voorafgegaan en ingesluit het. Dit is duidelik dat hy ook iets verreikenders in gedagte gehad het. Waarom? Omdat hy in Mattheüs 24:21 praat van „groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Dit sou veel meer behels as die vernietiging van een stad en die mense wat daarin vasgekeer is. En in Lukas 21:31 word daar gesê dat die beskrewe gebeure op die koms van die langverwagte „koninkryk van God” sou dui. Wat is die opmerklike „teken” waarna Jesus gesê het dat ons moet oplet?

’N SAMEGESTELDE TEKEN

4. Wat is „die teken” wat Jesus gegee het?

4 Hy het oorloë, voedselskaarstes, wydverspreide pessiektes, groot aardbewings en ’n liefdelose gees gedurende ’n tyd van toenemende ongeregtigheid voorspel, maar nie een van hierdie dinge is op sigself „die teken” nie. Nee, al die voorspelde aspekte moet binne die leeftyd van een geslag vervul word. Daar sal ook „radeloosheid onder die volke wees uit angs . . . [en] mense sal beswyk van vrees” weens die dinge wat in die hemel daarbo en in die see rondom hulle gebeur. (Lukas 21:10, 11, 25-32, vergelyk NAV; Mattheüs 24:12; vergelyk 2 Timotheüs 3:1-5.) In teenstelling met dit alles, maar as ’n deel van die teken, het Jesus ’n wêreldwye verkondiging van die evangelie of goeie nuus van God se Koninkryk ondanks internasionale vervolging van sy volgelinge voorspel (Markus 13:9-13). Klop daardie samegestelde beskrywing spesifiek met die tyd waarin ons lewe?

5. Wat sou hierdie gebeure meer as net ’n herhaling van die geskiedenis maak?

5 Spotters sal miskien lag en sê dat daar herhaaldelik in die geskiedenis dinge soos oorloë, hongersnode en aardbewings was. Maar sulke gebeure neem besondere betekenis aan wanneer hulle almal saam plaasvind, nie net op ’n paar afgesonderde plekke nie, maar wêreldwyd en oor ’n lang tydperk wat begin met ’n jaar wat lank voor die tyd voorspel is.

6, 7. Watter gebeure en toestande van die 20ste eeu klop duidelik met daardie samegestelde teken? (Gebruik jou Bybel wanneer jy antwoord, en dui aan watter dele van Jesus se profesieë jy bespreek.)

6 Beskou hierdie feite: Die oorlog wat in 1914 uitgebreek het, was so groot dat dit bekend geword het as die Eerste Wêreldoorlog, en sedertdien het vrede nog nooit werklik na die aarde teruggekeer nie. Die Eerste Wêreldoorlog is gevolg deur een van die grootste hongersnode wat die mensdom nog ooit beleef het, en selfs vandag nog sterf nagenoeg 40 miljoen mense elke jaar weens voedselskaarste. Die Spaanse griep van 1918 het lewens geëis soos nooit tevore in die geskiedenis van siekte nie, en selfs vandag, ten spyte van wetenskaplike navorsing, word tienmiljoene mense deur kanker, hartkwaal, walglike geslagsiektes, malaria, bilharzia en rivierblindheid geteister. Die voorkomssyfer van groot aardbewings het gestyg tot ongeveer 20 keer wat dit gemiddeld gedurende die tweeduisend jaar voor 1914 was. Vrees en benoudheid op ’n wêreldskaal teister mense van alle ouderdomme. Onder die redes is ekonomiese beroering, gewelddadigheid en die moontlikheid van uitwissing in ’n kernoorlog met wapens wat uit duikbote gelanseer word of uit die hemele neerreën—iets wat nooit voor die 20ste eeu moontlik was nie.

7 Te midde van al hierdie dinge is daar ’n buitengewone, wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk aan die gang, soos Jesus voorspel het. In meer as 200 lande en eilande wy Jehovah se Getuies elke jaar honderdmiljoene ure daaraan om mense van alle lewenstande kosteloos te help om die betekenis van hierdie wêreldgebeure in die lig van God se Woord te verstaan. Die Getuies help mense in alle opregtheid om te sien hoe hulle die „groot verdrukking” as onderdane van die Koninkryk van God kan oorleef. En die Getuies doen dit in weerwil van die feit dat hulle, soos een Kanadese nuusberig gesê het, „waarskynlik meer vervolging vir minder oortreding verduur as enige ander godsdiensgroep ter wêreld”.

8. Watter tydperk was ook by hierdie profesie ingesluit?

8 Ons moet ook in gedagte hou dat Jesus, as deel van sy profesie, op die verstryking van ’n bepaalde tydperk gewys het deur te sê: „Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Het daardie „tye” geëindig?

„DIE TYE VAN DIE NASIES”

9. (a) Wat is die „Jerusalem” wat deur die nasies „vertrap” is? (b) Wanneer het daardie ‚vertrapping’ begin?

9 Om daardie vraag te beantwoord, moet ons die betekenis van Jerusalem self begryp. Die stad met sy koninklike paleis op die berg Sion is „die stad van die groot Koning . . . die stad van [Jehovah]” genoem (Psalm 48:3, 9; Mattheüs 5:34, 35). Die konings van die huis van Dawid het „op die troon van [Jehovah]” gesit. Jerusalem was derhalwe ’n sigbare simbool dat Jehovah heerskappy op die aarde uitgeoefen het (1 Kronieke 29:23). Toe die Babiloniese leërs deur God toegelaat is om Jerusalem te vernietig, sy koning as balling weg te voer en die land woes te laat, het hulle dus God se Koninkryk vertrap soos dit deur ’n koninklike afstammeling van koning Dawid uitgeoefen is. Met daardie gebeurtenis in 607 v.G.J. het „die tye van die [nie-Joodse] nasies” begin. Sedertdien het daar nooit weer ’n afstammeling van Dawid as koning in Jerusalem geheers nie.

10. (a) Wat sou die einde van die ‚vertrapping’ beteken? (b) Vanuit watter „Jerusalem” sal Jesus dan regeer, en waarom?

10 Wat sou die einde van daardie ‚vertrapping van Jerusalem’ dan beteken? Dat Jehovah weer ’n koning van sy eie keuse, ’n afstammeling van Dawid, as koning aangestel het om gesag uit te oefen, nie net oor die Jode nie, maar oor die hele mensdom. Daardie koning is die Here Jesus Christus (Lukas 1:30-33). Maar van waar af sou hy heers? Sou dit van die aardse stad Jerusalem af wees? Jesus het dit duidelik gestel dat voorregte in verband met die Koninkryk van God van vleeslike Israel weggeneem sou word. (Mattheüs 21:43; kyk ook Mt 23:37, 38.) Van toe af het aanbidders van die ware God die „Jerusalem daarbo”, God se hemelse organisasie van lojale geesskepsele, as hulle moeder erken (Galasiërs 4:26). Dit sou in daardie hemelse Jerusalem wees dat Jesus as koning aangestel sou word en waarvandaan hy heerskappy oor die aarde sou uitoefen (Psalm 110:1, 2). Dit sou aan die einde van „die tye van die nasies” plaasvind. En wanneer sou dit wees?

11, en tabel (bladsy 27). (a) Hoe word daar bereken wanneer „die tye van die nasies” geëindig het? (b) Wat het dus begin toe daardie „tye” geëindig het? (c) Hoe beskou geskiedskrywers 1914? (Kyk bladsy 29.)

11 Dit was dekades voor die tyd bekend dat dit in 1914, aan die einde van die groter vervulling van die „sewe tydperke” van Daniël 4:10-17, sou kom.a Maar die volle besef van die betekenis daarvan het geleidelik gedurende die daaropvolgende jare gekom. Bybelstudente het die besonderhede van die samegestelde teken wat Jesus gesê het sy hemelse teenwoordigheid in Koninkryksmag sou aandui voor hulle oë sien ontvou. Dit het duidelik geword dat hulle inderdaad „die voleinding van die wêreld” binnegegaan het, dat Christus in 1914 as Koning begin heers het en dat die einde van hierdie goddelose wêreld sou kom binne die geslag wat die begin van hierdie dinge gesien het.

IS JOU VERWAGTINGE GEGROND?

12. Watter verkeerde verwagtinge maak dit vir party moeilik om hierdie gevolgtrekking te aanvaar? (Mattheüs 24:26, 27; Johannes 14:3, 19).

12 Sommige wat bewus is van hierdie feite rakende die vervulling van Jesus se profesie vind dit moeilik om die gevolgtrekking waarop hulle dui te aanvaar. Waarom? Omdat hulle iets anders verwag. Hulle het geleer dat Christus se tweede koms sigbaar sou wees en tot die massabekering van die mensdom sou lei. In die eerste eeu het die Jode ook verwagtinge gekoester wat nie verwesenlik is nie. Hulle het gehoop dat die Messias se koms met ’n magsvertoon gepaard sou gaan wat hulle van Rome sou bevry. Omdat hulle aan hulle verkeerde verwagtinge vasgeklou het, het hulle God se eie Seun verwerp. Hoe onverstandig sou dit tog wees om daardie fout te herhaal wanneer Christus in Koninkryksmag teenwoordig is! Hoeveel beter sou dit nie wees om te sien wat die Skrif werklik sê nie!

13. Watter gebeure word deur die Bybel self met Christus se teenwoordigheid geassosieer?

13 Die Bybel toon dat Christus te midde van sy vyande sal begin heers (Psalm 110:1, 2). Dit vertel hoe Satan en sy demone uit die hemel na die omgewing van die aarde neergewerp sal word nadat Christus Koninkryksmag ontvang het; daar sal dus ’n tydperk van groter weë vir die aarde wees (Openbaring 12:7-12). Gedurende daardie tyd sal die verkondiging van die Koninkryksboodskap verskerp word om mense die geleentheid te gee om stappe te doen met die oog op oorlewing (Mattheüs 24:14; Openbaring 12:17). Maar sal dit tot wêreldbekering lei? Inteendeel, die Bybel toon dat dit gevolg sal word deur ’n vernietiging sonder gelyke in menseheugenis. Hoewel mense nooit die verheerlikte Jesus Christus met hulle vleeslike oë sal sien nie, sal almal wat nie geredelik die feite aangaande Christus se koninklike teenwoordigheid aanvaar het nie, gedwing word om te „sien” dat dit hy is wat hulle met vernietiging besoek, net soos daar voorspel is.—Openbaring 1:7; Mattheüs 24:30; vergelyk 1 Timotheüs 6:15, 16; Johannes 14:19.

14, 15. Waarom gee die tydsverloop sedert 1914 ons nie rede om te twyfel dat ons werklik in „die laaste dae” lewe nie?

14 Maar toon die verloop van 70 jaar sedert 1914 nie dat dit te betwyfel is dat ons werklik sedert daardie jaar in „die laaste dae” lewe en dat Christus se koms as skerpregter naby is nie? Glad nie! Aangaande diegene wat die vervulling van „die teken” van die begin daarvan in 1914 af sou sien, het Jesus gesê: „Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Markus 13:30). Lede van daardie geslag is nog hier, hoewel hulle getalle vinnig afneem.

15 Alhoewel statistiek toon dat die gemiddelde lewensduur in die wêreld nou net 60 jaar is, lewe miljoene mense langer as dit. Volgens beskikbare statistiek het daar in 1980 ongeveer 250 000 000 mense gelewe wat voor 1914 gebore is. Daardie geslag het nog nie verbygegaan nie. Dit is egter interessant dat syfers wat deur die Verenigde Volke gepubliseer is, toon dat daar in 1980 slegs nagenoeg 35 316 000 mense gelewe het wat in 1900 of vroeër gebore is. Die getal krimp dus vinnig wanneer mense hulle sewentiger- en tagtigerjare bereik. Wanneer dit saam met al die besonderhede van Jesus se profetiese teken beskou word, dui hierdie feite sterk daarop dat die einde naby is.—Lukas 21:28.

16. Wat moet dus ons gesindheid wees?

16 Dit is nie nou die tyd om onverskillig te wees nie. Dit is ’n tyd vir dringende optrede! Soos Jesus sy dissipels gemaan het: „Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens [Jesus Christus] kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”—Mattheüs 24:44.

[Voetnoot]

a Kyk die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, bladsye 138-141, vir besonderhede.

[Venster op bladsy 29]

Hoe geskiedskrywers 1914 beskou

Die oorlog wat in 1914 begin het, word met goeie rede die Groot Oorlog en die Eerste Wêreldoorlog genoem. Nog nooit tevore was daar so ’n verwoestende oorlog nie. Latere oorloë was bloot ’n voortsetting van wat in 1914 begin het. Beskou hierdie kommentare oor die verreikende gevolge van daardie betekenisvolle jaar:

● „Die oorlog het nie alleen die kaart van Europa verander en revolusies aan die gang gesit wat drie ryke tot ’n val gebring het nie, maar het ook, regstreeks en onregstreeks, baie verreikender gevolge op feitlik elke gebied gehad. Na die oorlog het politici en ander probeer om die evolusieproses te vertraag of te stuit en dinge weer ‚normaal’ te kry, om die wêreld weer te maak soos dit voor 1914 was. Maar dit was onmoontlik. Die skudding was so hewig en so langdurig dat die ou wêreld tot op sy fondament afgebreek is. Daar was niemand wat dit kon herbou soos dit was, met sy maatskaplike stelsels, sy ideëwêreld en sy sedes nie.

„ . . . Van groot belang was ook die verandering wat daar in waardes ingetree het en wat ’n heeltemal nuwe stel waardes op so baie terreine tot gevolg gehad het. . . . Dit was nie net die soldate aan die front wat verdierlik het en onverskillig geraak het teenoor hulle naaste se eiendom nie. Nie alleen is baie illusies, baie vooroordeel en baie valse waardes verpletter nie, maar ook baie tradisionele standaarde rakende die lewe en sosiale gedrag. Waardes was aan die verander, alles het onseker gelyk, asof niks meer diep wortels gehad het nie—so het dit gegaan in die geldstelsel sowel as met geslagsedelikheid, met die politieke beginsels sowel as met die kunswette. . . .

„Die grondliggende onsekerheid wat die tyd gekenmerk het, was veral op ekonomiese gebied merkbaar. Hier het die oorlog ’n komplekse, buigsame en goed gebalanseerde stelsel met streng wette en bestendige waardes wreed vernietig. . . . Ook op hierdie gebied was dit onmoontlik om na ‚die normale’ terug te keer.”—Världshistoria—Folkens liv och Kultur (Stockholm; 1958), Deel VII, bladsye 421, 422.

● „’n Halfeeu het verloop, maar die merk wat die tragedie van die Groot Oorlog op die liggaam en siel van die nasies gelaat het, het nie vervaag nie . . . Die fisiese en morele omvang van hierdie beproewing was sodanig dat niks onveranderd gebly het nie. Die samelewing in sy geheel: regeringstelsels, landsgrense, wette, strydkragte, betrekkinge tussen state, maar ook ideologieë, die gesinslewe, fortuine, posisies, persoonlike verhoudinge—alles, van bo tot onder, het verander. . . . Die mensdom het eindelik sy ewewig verloor en het dit tot vandag toe nog nie herwin nie.”—Generaal Charles de Gaulle, in ’n toespraak in 1968 (Le Monde, 12 November 1968).

● „Van 1914 af is almal wat van wêreldtendense bewus is diep bekommerd oor die skynbaar gedoemde en voorbestemde opmars na immer groter onheil. Talle ernstige mense het tot die slotsom gekom dat niks gedoen kan word om die naderende ondergang af te weer nie. Hulle sien hoe die mensdom, soos die held van ’n Griekse tragedie, deur toornige gode aangedryf word en nie meer die beskikker van sy lot is nie.”—Bertrand Russell, New York se Times Magazine, 27 September 1953.

● „As ons vandag terugkyk, sien ons duidelik dat die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog ’n twintigste-eeuse ‚Tyd van moeilikheid’—om die raak uitdrukking van die Britse geskiedskrywer Arnold Toynbee te gebruik—ingelui het, ’n tyd waarvan ons beskawing nog lank nie herstel het nie. Al die beroeringe van die laaste halfeeu kan regstreeks of onregstreeks tot by 1914 teruggespoor word.”—The Fall of the Dynasties: The Collapse of the Old Order (New York; 1963), deur Edmond Taylor, bladsy 16.

Maar wat is vir hierdie rampspoedige wending verantwoordelik?

Slegs die Bybel bied ’n bevredigende verklaring.

[Tabel op bladsy 27]

1914—’n Brandpunt van Bybelchronologie en wêreldgebeure

Chronologie

→ Die Bybel het „sewe tydperke” voorspel,

waarna God wêreldheerskappy aan iemand

van sy keuse sou gee

(Daniël 4:3-17)

→ „Sewe tydperke” = 2 520 jaar

(Vergelyk Openbaring 11:2, 3; 12:6, 14;

Esegiël 4:6.)

→ Begin van „sewe tydperke”: 607 v.G.J.

(Esegiël 21:25-27; Lukas 21:24)

→ Einde van „sewe tydperke”: 1914 G.J.

Jesus Christus het toe in die hemel

koning geword en te midde van

sy vyande begin heers (Psalm 110:1, 2)

Satan is uit die hemel gewerp;

wee die mensdom (Openbaring 12:7-12)

Laaste dae begin (2 Timotheüs 3:1-5)

Gebeure wat laaste dae sou kenmerk

→ Oorlog (Eerste Wêreldoorlog begin in 1914;

vrede is nooit werklik herstel nie)

→ Hongersnood (Eis nou sowat 40 miljoen

lewens per jaar)

→ Siekte-epidemies (Ondanks gevorderde

wetenskaplike navorsing)

→ Aardbewings (Gemiddeld ongeveer 20 keer

soveel ernstige skuddings per jaar sedert 1914)

→ Vrees (Vir misdade, ekonomiese ineenstorting,

kernuitwissing)

God sal huidige bose wêreld vernietig voordat die geslag wat 1914 gesien het, verbygaan (Mattheüs 24:3-34; Lukas 21:7-32)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel