Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Wat is God se Koninkryk?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
    • Les 31. Jesus Christus as Koning in die hemel voor die heerlikheid van Jehovah.

      LES 31

      Wat is God se Koninkryk?

      Die belangrikste boodskap in die Bybel gaan oor God se Koninkryk. Jehovah sal daardie Koninkryk gebruik om die aarde ’n paradys te maak, net soos hy van die begin af wou hê. Wat is die Koninkryk? Hoe weet ons dat dit nou regeer? Wat het dit alreeds gedoen? En wat sal dit in die toekoms doen? Hierdie les en die volgende twee lesse sal daardie vrae beantwoord.

      1. Wat is God se Koninkryk, en wie is die Koning daarvan?

      Die Koninkryk is ’n regering wat deur Jehovah God gevorm is. Die Koning van die Koninkryk, Jesus Christus, regeer vanuit die hemel (Matteus 4:17; Johannes 18:36). Die Bybel sê die volgende oor Jesus: “Hy sal vir ewig as Koning . . . regeer” (Lukas 1:32, 33). As Koning van God se Koninkryk, sal Jesus oor almal op die aarde regeer.

      2. Wie regeer saam met Jesus?

      Jesus regeer nie alleen nie. Mense uit “elke stam en taal en volk en nasie . . . sal as konings oor die aarde regeer” (Openbaring 5:9, 10). Hoeveel sal saam met Christus regeer? Vandat Jesus aarde toe gekom het, het miljoene Christene sy volgelinge geword. Maar net 144 000 van hulle gaan hemel toe om saam met Jesus te regeer. (Lees Openbaring 14:1-4.) Alle ander Christene op die aarde sal burgers van die Koninkryk word. – Psalm 37:29.

      3. Hoekom is God se Koninkryk beter as menseregerings?

      Selfs wanneer heersers goeie dinge probeer doen, het hulle nie die mag om alles te doen wat hulle wil doen nie. Hulle word uiteindelik vervang deur ander heersers wat dalk selfsugtig is en dalk nie die mense oor wie hulle regeer, wil help nie. Maar die Heerser van God se Koninkryk, Jesus, sal nooit deur enige iemand anders vervang word nie. God het “’n koninkryk [opgerig, of gevorm,] wat nooit vernietig sal word nie” (Daniël 2:44). Jesus sal oor die hele aarde regeer, en hy sal nie party mense beter as ander behandel nie. Hy is liefdevol, goed en regverdig, en hy sal mense leer om mekaar op dieselfde manier te behandel – met liefde, goedheid en regverdigheid. – Lees Jesaja 11:9.

      SOEK DIEPER

      Kyk hoekom God se Koninkryk beter is as enige menseregering.

      Jesus Christus regeer oor die aarde vanuit sy hemelse troon. Dié wat saam met hom regeer, sit agter hom. Jehovah skyn helder agter hulle.

      4. ’n Magtige regering sal oor die hele aarde regeer

      Jesus Christus het meer mag om te regeer as enige heerser in die geskiedenis. Lees Matteus 28:18, en bespreek dan hierdie vraag:

      • Hoe is Jesus se gesag beter as dié van enige ander heerser?

      Menseregerings verander baie, en elkeen regeer oor net ’n deel van die aarde. Wat van God se Koninkryk? Lees Daniël 7:14, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Hoekom is dit goed dat God se Koninkryk “nie vernietig [sal] word nie”?

      • Hoekom is dit goed dat dit oor die hele aarde sal regeer?

      5. Menseregerings moet vervang word

      Hoekom moet God se Koninkryk menseregerings vervang? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.

      VIDEO: Wat is God se Koninkryk? – Uittreksel (1:41)

      • Wat was die resultaat van menseregerings?

      Lees Prediker 8:9, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Dink jy dat God se Koninkryk menseregerings moet vervang? Hoekom?

      6. God se Koninkryk het heersers wat ons verstaan

      Omdat ons Koning, Jesus, as ’n mens op die aarde gelewe het, kan hy met “ons swakhede . . . simpatiseer” (Hebreërs 4:15). Die 144 000 lojale mans en vrouens wat saam met Jesus sal regeer, is deur Jehovah gekies “uit elke stam en taal en volk en nasie”. – Openbaring 5:9.

      • Vertroos dit jou om te weet dat Jesus en almal wat saam met hom sal regeer, weet hoe dit is om as mense op die aarde te lewe? Hoekom?

      Gesalfde mans en vrouens uit verskillende tydperke en agtergronde.

      Jehovah het mans en vrouens uit alle agtergronde gekies om saam met Jesus te regeer

      7. God se Koninkryk het baie beter wette as dié van enige menseregering

      Regerings maak wette wat hulle dink hulle burgers sal help en beskerm. God se Koninkryk het ook wette, en die burgers van die Koninkryk moet gehoorsaam wees daaraan. Lees 1 Korintiërs 6:9-11, en bespreek dan hierdie vrae:

      • Hoe dink jy sal die wêreld wees as almal gehoorsaam is aan God se wette?a

      • Dink jy dat Jehovah die reg het om te verwag dat die burgers van die Koninkryk hierdie wette moet gehoorsaam? Hoekom?

      • Wat wys dat mense wat nie gehoorsaam is aan hierdie wette nie, kan verander? – Sien vers 11.

      ’n Polisieman keer die verkeer by ’n besige pad. Mense van verskillende ouderdomme loop oor die pad.

      Regerings maak wette om hulle burgers te beskerm en te help. God se Koninkryk het baie beter wette om die burgers daarvan te beskerm en te help

      IEMAND VRA DALK: “Wat is God se Koninkryk?”

      • Wat sal jy sê?

      WAT ONS GELEER HET

      God se Koninkryk is ’n regte regering in die hemel wat oor die hele aarde sal regeer.

      Hersiening

      • Wie is die heersers van God se Koninkryk?

      • Hoe is God se Koninkryk beter as enige menseregering?

      • Wat is ’n paar dinge wat Jehovah van burgers van die Koninkryk verwag?

      Doelwit

      LEER MEER

      Kyk wat Jesus gesê het oor waar die Koninkryk is.

      “Is die Koninkryk van God in jou hart?” (Web-artikel)

      Hoekom kies Jehovah se Getuies om lojaal te wees aan God se Koninkryk eerder as aan menseregerings?

      Getrou aan God se Koninkryk (1:43)

      Kyk wat die Bybel sê oor die 144 000 wat Jehovah gekies het om saam met Jesus te regeer.

      “Wie gaan hemel toe?” (Web-artikel)

      Wat het ’n vrou in die tronk oortuig dat net God ’n regverdige wêreld kan bring?

      “Die antwoord op my vrae oor ongeregtigheid” (Ontwaak!, November 2011)

      a Party van hierdie wette sal in Deel 3 bespreek word.

  • Wat dit beteken om neutraal te wees
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
    • Les 45. ’n Jong suster staan respekvol tydens die eed van getrouheid maar sy sê dit nie op nie en sy sit ook nie haar hand op haar hart soos die ander leerlinge nie.

      LES 45

      Wat dit beteken om neutraal te wees

      Jesus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” moet wees nie (Johannes 15:19). Dit sluit in dat hulle neutraal moet wees – dit beteken dat hulle nie kant kies in die wêreld se politiek en oorloë nie. Maar dit is natuurlik nie altyd maklik om neutraal te wees nie. Ons word dalk gespot as gevolg hiervan. Hoe kan ons neutraal bly en altyd lojaal wees aan Jehovah God?

      1. Hoe beskou ware Christene menseregerings?

      Christene respekteer die regering. Ons doen wat Jesus gesê het en “betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort” – dit wil sê ons is gehoorsaam aan die wette van die land, soos die wette wat sê dat ons belasting moet betaal (Markus 12:17). Die Bybel leer dat menseregerings net regeer omdat Jehovah hulle toelaat om te regeer (Romeine 13:1). So ons besef dat menseregerings minder gesag as God het. Ons vertrou op ons God en sy hemelse Koninkryk om mense se probleme op te los.

      2. Hoe kan ons wys dat ons neutraal is?

      Soos Jesus raak ons nie betrokke by die politiek nie. Toe die mense een van Jesus se wonderwerke gesien het en hom hulle koning op die aarde probeer maak het, het hy nie toegelaat dat hulle dit doen nie (Johannes 6:15). Hoekom nie? Want, soos hy later gesê het: “My Koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Net soos Jesus se dissipels wys ons op verskillende maniere dat ons neutraal is. Byvoorbeeld, ons neem nie deel aan oorloë nie. (Lees Miga 4:3.) Ons respekteer nasionale simbole – soos die vlag – maar ons aanbid dit nie (1 Johannes 5:21). En ons kies nie kant vir of teen enige politieke party of kandidaat nie. Op hierdie en ander maniere wys ons dat ons heeltemal lojaal is aan God se regering – sy Koninkryk.

      SOEK DIEPER

      Kyk na situasies waarin dit dalk vir ons moeilik kan wees om neutraal te bly, en kyk hoe jy besluite kan maak waarmee Jehovah tevrede sal wees.

      ’n Man bly neutraal. Hy luister nie na die politieke kandidate wat met groepe mense praat nie.

      3. Ware Christene is neutraal

      Jesus en sy volgelinge het vir ons die voorbeeld gestel. Lees Romeine 13:1, 5-7 en 1 Petrus 2:13, 14. Speel dan die VIDEO, en bespreek die volgende vrae.

      VIDEO: Ware Christene is neutraal – Deel 1 (4:28)

      • Hoekom moet ons menseregerings respekteer?

      • Wat is ’n paar maniere hoe ons wys dat ons gehoorsaam is aan hulle?

      Gedurende oorloë sê party nasies dalk dat hulle neutraal is, maar hulle ondersteun al twee kante in die oorlog. Wat beteken dit regtig om neutraal te wees? Lees Johannes 17:16. Speel dan die VIDEO, en bespreek die volgende vraag.

      VIDEO: Ware Christene is neutraal – Deel 2 (3:11)

      • Wat beteken dit om neutraal te wees?

      Wat as ’n regering wil hê dat jy iets moet doen wat teen God se wet is? Lees Handelinge 5:28, 29. Speel dan die VIDEO, en bespreek die volgende vrae.

      VIDEO: Ware Christene is neutraal – Deel 3 (1:18)

      • As die wet van mense nie ooreenstem met God se wet nie, aan wie se wet moet ons gehoorsaam wees?

      • Kan jy aan enige situasies dink waarin Christene nie gehoorsaam sal wees aan menseregerings nie?

      4. Wees neutraal in wat jy dink en doen

      Lees 1 Johannes 5:21. Speel dan die VIDEO, en bespreek die volgende vrae.

      VIDEO: Ware Christene het moed nodig – Om neutraal te bly (2:49)

      • Hoekom het Ayenge nie by die politieke party aangesluit nie of deelgeneem aan nasionalistiese seremonies, soos om die vlag te salueer nie?

      • Dink jy dat hy ’n goeie besluit gemaak het?

      Watter ander situasies kan ons neutraliteit toets? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

      VIDEO: Lesse uit Die Wagtoring – Bly neutraal in ’n verdeelde wêreld (5:16)

      • Hoe kan ons neutraal bly wanneer dit kom by internasionale sportgeleenthede?

      • Hoe kan ons neutraal bly selfs wanneer die besluite van politieke leiers ons persoonlik affekteer?

      • Hoe kan dinge wat ons hoor in die nuus of by mense met wie ons assosieer, ons neutraliteit affekteer?

      Collage: 1. ’n Groep mense wat kwaad is, hou plakkate vas en betoog. 2. ’n Man skree opgewonde en hou ’n vlag op by ’n sportgeleentheid. 3. ’n Leerder sê ’n eed van getrouheid op. 4. ’n Soldaat hou ’n masjiengeweer vas. 5. Twee politieke kandidate debatteer. 6. ’n Vrou sit haar stem in ’n stembus.

      In watter situasies moet ’n Christen neutraal bly in wat hy dink en doen?

      IEMAND VRA DALK: “Hoekom salueer jy nie die vlag nie of sing jy nie die volkslied nie?”

      • Hoe sal jy antwoord?

      WAT ONS GELEER HET

      Christene werk hard om neutraal te bly wanneer dit kom by wat hulle dink, sê en doen.

      Hersiening

      • Wat skuld ons menseregerings?

      • Hoekom kies ons nie kant in die politiek nie?

      • Watter situasies kan ons neutraliteit toets?

      Doelwit

      LEER MEER

      Watter opofferinge moet ons dalk maak om neutraal te bly?

      Jehovah het ons nog nooit in die steek gelaat nie 3:14

      Wat kan gesinne voor die tyd doen om voor te berei vir toetse van hulle neutraliteit?

      Bly neutraal by openbare geleenthede 4:25

      Hoekom is die verdediging van ’n persoon se land nie die grootste eer wat hy kan hê nie?

      “Vir God is alles moontlik” 5:19

      Kyk hoe om geen deel van die wêreld te wees wanneer jy besluite oor werk moet maak nie.

      “Elkeen sal sy eie vrag dra” (Die Wagtoring, 15 Maart 2006)

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel