Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring – 2003 | September 15
    • Vrae van lesers

      Wat beteken die uitdrukking “lewe in homself”?

      Die Bybel sê dat Jesus Christus “lewe in homself” het en dat sy volgelinge ‘lewe in hulleself’ het (Johannes 5:26; 6:53). Hierdie twee tekste het egter nie dieselfde betekenis nie.

  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring – 2003 | September 15
    • Omtrent ’n jaar later het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle: Tensy julle die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat hom met my vlees voed en my bloed drink, het die ewige lewe, en ek sal hom op die laaste dag opwek” (Johannes 6:53, 54). Hier stel Jesus “lewe in julleself” gelyk daaraan om die “ewige lewe” te verkry. Uitdrukkings met dieselfde grammatikale konstruksie as “lewe in julleself” word ook elders in die Griekse Geskrifte gevind. Twee voorbeelde is: “Julle moet sout in julle hê” en “in hulleself die volle vergelding ontvang” (Markus 9:50; Romeine 1:27). In hierdie gevalle dui die frases nie daarop dat iemand die mag het om aan ander sout te gee of om ’n ander te vergeld nie. Dit dui eerder op innerlike volkomenheid, of volheid. Daarom beteken die uitdrukking “lewe in julleself”, wat in Johannes 6:53 gebruik word, bloot dat iemand die volheid van die lewe betree.

      Dit was met verwysing na die feit dat sy volgelinge lewe in hulleself het, dat Jesus sy vlees en sy bloed gemeld het. Later, toe hy die Here se Aandmaal ingestel het, het Jesus weer oor sy vlees en bloed gepraat, en hy het sy volgelinge wat in die nuwe verbond opgeneem sou word, beveel om die embleme, die ongesuurde brood en wyn, te gebruik. Beteken dit dat slegs gesalfde Christene, wat in die nuwe verbond met Jehovah God is, hierdie volheid van die lewe betree? Nee. Die twee geleenthede was ’n jaar uitmekaar. Diegene wat Jesus se woorde gehoor het, soos opgeteken in Johannes 6:53, 54, het geen kennis gedra van ’n jaarlikse viering met embleme wat Christus se vlees en bloed afbeeld nie.

      Volgens Johannes hoofstuk 6 vergelyk Jesus eers sy vlees met manna, en sê: “Julle voorvaders het die manna in die wildernis geëet en tog gesterf. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat enigeen daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het; as iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe.” Jesus se vlees, tesame met sy bloed, het baie groter waarde gehad as letterlike manna. Hoe so? Wel, sy vlees is gegee vir “die lewe van die wêreld”, wat die ewige lewe moontlik maak.a Die stelling in Johannes 6:53 oor “lewe in julleself” is dus van toepassing op almal wat die ewige lewe ontvang—in die hemel of op die aarde.—Johannes 6:48-51.

      Wanneer ontvang Christus se volgelinge lewe in hulleself, of betree hulle die volheid van die lewe? Vir die gesalfde Koninkrykserfgename gebeur dit wanneer hulle as onsterflike geesskepsele tot hemelse lewe opgewek word (1 Korintiërs 15:52, 53; 1 Johannes 3:2). Jesus se “ander skape” betree die volheid van die lewe ná die einde van sy Duisendjarige Heerskappy. Dan sal hulle beproef, getrou bevind en regverdig verklaar wees vir ewige lewe op die Paradysaarde.—Johannes 10:16; Openbaring 20:5, 7-10.

      [Voetnoot]

      a In die wildernis het die Israeliete sowel as “’n groot gemengde geselskap” manna nodig gehad om aan die lewe te bly (Eksodus 12:37, 38; 16:13-18). Net so moet alle Christene, of hulle gesalf is of nie, van die hemelse manna gebruik as hulle vir ewig wil lewe, deur geloof te beoefen in die loskoopkrag van Jesus se vlees en bloed wat hy opgeoffer het.—Sien Die Wagtoring, 1 Februarie 1988, bladsye 30-1.

      [Prente op bladsy 31]

      Alle ware Christene kan ‘lewe in hulleself’ hê

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel