-
Die Here se Aandmaal—Hoe dikwels moet dit gevier word?Die Wagtoring – 1994 | Maart 15
-
-
Die één viering
Hierdie viering is deur Jesus ingestel die dag toe hy gesterf het. Hy het die Joodse Pasgafees saam met sy apostels herdenk. Toe het hy van die ongesuurde Pasgabrood omgestuur en gesê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” Daarna het Jesus ’n beker wyn omgestuur en gesê: “Hierdie beker is die nuwe testament [“verbond”, NW] in my bloed wat vir julle uitgestort word.” Hy het ook gesê: “Doen dit tot my gedagtenis” (Lukas 22:19, 20; 1 Korinthiërs 11:24-26). Hierdie viering word die Here se Aandmaal, of die Gedenkmaal, genoem. Dit is die enigste viering wat Jesus sy volgelinge beveel het om te hou.
Baie kerke sê dat hulle hierdie viering sowel as al hulle ander feeste hou, maar die meeste van hulle herdenk dit nie soos Jesus beveel het nie. Die opmerklikste verskil is waarskynlik hoe dikwels hierdie viering plaasvind. Party kerke vier dit maandeliks, weekliks of selfs daagliks. Is dit wat Jesus in gedagte gehad het toe hy vir sy volgelinge gesê het: “Doen dit tot my gedagtenis”? The New English Bible sê: “Doen dit as ’n herdenking aan my” (1 Korinthiërs 11:24, 25). Hoe dikwels word ’n gedenkfees of ’n herdenking gevier? Gewoonlik net een maal per jaar.
Hou ook in gedagte dat Jesus hierdie viering op 14 Nisan, volgens die Joodse kalender, ingestel het en toe op daardie dag gesterf het.a Dit was die dag van die Pasga, ’n fees wat die Jode herinner het aan hulle groot verlossing uit Egipte in die 16de eeu v.G.J. Deur ’n lam te offer, is die redding van die Joodse eersgeborenes destyds bewerkstellig, terwyl Jehovah se engel al die eersgeborenes van Egipte om die lewe gebring het.—Exodus 12:21, 24-27.
Hoe help hierdie feite ons? Wel, die Christenapostel Paulus het geskryf: “Ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7). Jesus se dood was ’n groter Pasga-offer, wat die mensdom die geleentheid op ’n veel groter redding bied. Vir Christene het die herdenking van Christus se dood dus die Joodse Pasga vervang.—Johannes 3:16.
Die Pasga was ’n jaarlikse viering. Die Gedenkmaal is dus logieserwys ook ’n jaarlikse viering. Die Pasga—die dag waarop Jesus gesterf het—het altyd op die 14de dag van die Joodse maand Nisan geval. Christus se dood moet derhalwe een keer per jaar herdenk word op die kalenderdag wat met 14 Nisan ooreenstem. In 1994 val daardie dag op Saterdag, 26 Maart, ná sononder. Maar waarom het die kerke van die Christendom nie hierdie dag vir ’n spesiale viering opsy gesit nie? ’n Vlugtige kykie na die geskiedenis sal hierdie vraag beantwoord.
-
-
Die Here se Aandmaal—Hoe dikwels moet dit gevier word?Die Wagtoring – 1994 | Maart 15
-
-
a Nisan, die eerste maand van die Joodse kalender, het met die eerste verskyning van die nuwemaan begin. Die veertiende Nisan het dus altyd op volmaan geval.
-