Waar kry hulle hulle krag vandaan?
AS JY die skoenlapper in hierdie foto van nader bekyk, sal jy sien dat een van sy vier vlerke heeltemal onbruikbaar is. Nogtans gaan die skoenlapper voort om te eet en te vlieg. Dit is nie ’n unieke geval nie. Daar is al gesien hoe skoenlappers hulle daaglikse bedrywighede voortsit al het hulle 70 persent van hulle vlerkoppervlakte verloor.
Baie mense openbaar insgelyks ’n vasberade gees. Ondanks die feit dat hulle onder ernstige fisiese of emosionele probleme gebuk gaan, gee hulle nie moed op nie.—Vergelyk 2 Korintiërs 4:16.
Die apostel Paulus het self swaar ontberinge tydens sy sendingreise verduur. Hy is met die sweep en met stokke geslaan, gestenig en gevange geneem. Daarbenewens het hy die een of ander liggaamsgebrek gehad, miskien ’n probleem met sy oë, wat vir hom ’n voortdurende “doring in die vlees” was.—2 Korintiërs 12:7-9; Galasiërs 4:15.
’n Christen- ouer man met die naam David, wat etlike jare lank swaar aanvalle van depressie verduur het, meen dat Jehovah se krag ’n deurslaggewende rol in sy herstel gespeel het. “Keer op keer het dit gelyk asof die vordering wat ek met soveel inspanning gemaak het eenvoudig verlore gaan”, verduidelik hy. “Wanneer ek voor sulke ontmoediging te staan gekom het, het ek al my sorge op Jehovah gewerp, en hy het my waarlik onderskraag. Daar was tye wanneer ek ure aaneen gebid het. Wanneer ek met Jehovah gepraat het, het my gevoelens van eensaamheid en nutteloosheid verdwyn. Ek het tye deurgegaan wanneer ek baie swak was, maar met Jehovah se hulp het daar krag uit hierdie swakheid gekom—selfs die krag om ander te help.”
Jehovah God het Paulus versterk. Gevolglik kon hy sê: “Wanneer ek swak is, dan is ek kragtig” (2 Korintiërs 12:10). Ja, Paulus se swakhede het hom geleer om op godgegewe krag te vertrou. “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee”, het die apostel gesê (Filippense 4:13). Jehovah gee beslis sy knegte krag.