Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode
    Die Wagtoring – 2005 | Oktober 15
    • Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode

      ’N BELANGRIKE vergadering is omstreeks 49 G.J. in Jerusalem gehou. “Dié wat blykbaar pilare was” van die eerste-eeuse Christengemeente—Johannes, Petrus en Jesus se halfbroer Jakobus—was teenwoordig. Die ander twee wat volgens die verslag die vergadering bygewoon het, was die apostel Paulus en sy metgesel Barnabas. Op die agenda was hoe om die uitgestrekte gebied vir die predikingswerk te verdeel. Paulus het verduidelik: “[Hulle het] my en Barnabas die regterhand van deelgenootskap gegee, sodat ons na die nasies sou gaan, maar hulle na die besnedenes.”—Galasiërs 2:1, 9.a

      Hoe moet ons hierdie ooreenkoms verstaan? Is die gebied waarin die goeie nuus verkondig moes word, verdeel in Jode en proseliete aan die een kant en nie-Jode aan die ander kant? Of was die ooreenkoms eerder ’n geografiese verdeling van die gebied? Om ’n moontlike antwoord te vind, het ons geskiedkundige inligting nodig oor die Diaspora, Jode wat buite Palestina gewoon het.

      Die Joodse wêreld in die eerste eeu

      Hoeveel Jode was in die eerste eeu in die Diaspora? Baie geleerdes stem blykbaar saam met die publikasie Atlas of the Jewish World: “Dit is moeilik om spesifieke getalle te gee, maar ’n redelike skatting is dat daar kort voor 70 [G.J.] twee en ’n half miljoen Jode in Judea en ver oor die viermiljoen in die Romeinse diaspora was. . . . Waarskynlik het die Jode naastenby ’n tiende van die hele bevolking van die ryk uitgemaak, en in die plekke waar die meeste van hulle gewoon het, in die stede van die oostelike provinsies, het hulle moontlik ’n kwart of meer van die inwoners uitgemaak.”

      Die vernaamste sentrums was in Sirië, Klein-Asië, Babilon en Egipte, in die Ooste, met kleiner gemeenskappe in Europa. Party van die bekende vroeë Joodse Christene het ’n Diaspora-agtergrond gehad, soos Barnabas van Siprus, Prisca en Aquila van Pontus en toe Rome, Apollos van Aleksandrië en Paulus van Tarsus.—Handelinge 4:36; 18:2, 24; 22:3.

      Daar was baie dinge wat die Diaspora-gemeenskappe met hulle vaderland verbind het. Een daarvan was die jaarlikse belasting wat aan die tempel in Jerusalem gestuur is, ’n manier om ’n aandeel te hê aan die tempellewe en aanbidding daar. Die geleerde John Barclay sê hieroor: “Daar is genoegsame bewyse dat hierdie geld, wat aangevul is deur bykomende skenkings van die rykes, nougeset deur die Diaspora-gemeenskappe ingevorder is.”

      Nog iets wat hulle met die vaderland verbind het, was die tienduisende pelgrims wat elke jaar vir die feeste na Jerusalem gegaan het. Die verslag in Handelinge 2:9-11 oor Pinkster 33 G.J. lig dit toe. Die Joodse pelgrims wat daar teenwoordig was, het van Partië, Medië, Elam, Mesopotamië, Kappadosië, Pontus, Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte, Libië, Rome, Kreta en Arabië gekom.

      Die tempelbestuur in Jerusalem het skriftelik met die Jode in die Diaspora gekommunikeer. Dit is bekend dat Gamaliël, die leermeester van die Wet wat in Handelinge 5:34 genoem word, briewe na Babilon en ander wêrelddele gestuur het. Toe die apostel Paulus omstreeks 59 G.J. as ’n gevangene in Rome aangekom het, het “die vernaamste manne van die Jode” vir hom gesê: “Ons het nie briewe oor jou uit Judea ontvang nie, en ook het niemand van die broers wat hier aangekom het, enigiets kwaads van jou vertel of gesê nie.” Dit toon dat briewe en verslae dikwels van die vaderland na Rome gestuur is.—Handelinge 28:17, 21.

      Die Bybel van die Diaspora-Jode was ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte wat as die Septuagint bekend staan. ’n Naslaanwerk sê: “Dit is redelik om tot die slotsom te kom dat die LXX [Septuagint] regdeur die diaspora gelees is en aanvaar is as die Joodse Bybel of ‘heilige skrif’ van die diaspora.” Dieselfde vertaling is algemeen deur die vroeë Christene in hulle onderrigting gebruik.

      Die lede van die Christenbestuursliggaam in Jerusalem was bekend met hierdie omstandighede. Die goeie nuus het reeds die Diaspora-Jode in Sirië en selfs verder bereik, insluitende Damaskus en Antiogië (Handelinge 9:19, 20; 11:19; 15:23, 41; Galasiërs 1:21). By die vergadering in 49 G.J. het diegene wat teenwoordig was, klaarblyklik reëlings vir toekomstige werk getref. Kom ons beskou die Bybelse verwysings na die uitbreiding onder die Jode en die proseliete.

      Paulus se reise en Jode in die Diaspora

      Die apostel Paulus se oorspronklike toewysing was “om [Jesus Christus se] naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra” (Handelinge 9:15).b Ná die vergadering in Jerusalem het Paulus voortgegaan om die Diaspora-Jode te probeer bereik waar hy ook al gereis het. (Sien die venster op bladsy 14.) Dit dui aan dat die ooreenkoms in verband met die gebied waarskynlik ’n geografiese ooreenkoms geword het. Paulus en Barnabas het hulle sendingwerk na die weste uitgebrei, en die ander het die Joodse vaderland en die groot Joodse gemeenskappe in die Oosterse wêreld bedien.

  • Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode
    Die Wagtoring – 2005 | Oktober 15
    • Babilon, met uitbreidings in Partië, Medië en Elam, was nog ’n hoofsentrum. Een geskiedkundige sê dat “daar Joodse bevolkings was in elke gebied in die laagvlakte van die Tigris en die Eufraat, van Armenië tot die Persiese Golf, sowel as noordooswaarts tot by die Kaspiese See en ooswaarts tot by Medië”. Die Encyclopaedia Judaica skat hulle getalle op 800 000 of meer. Die eerste-eeuse Joodse geskiedkundige Josefus sê vir ons dat tienduisende Babiloniese Jode vir die jaarlikse feeste na Jerusalem gereis het.

      Is party van die Babiloniese pelgrims op Pinkster 33 G.J. gedoop? Ons weet nie, maar onder diegene wat die apostel Petrus op daardie dag gehoor het, was mense van Mesopotamië (Handelinge 2:9). Ons weet wel dat die apostel Petrus omstreeks 62-64 G.J. in Babilon was. Terwyl hy daar was, het hy sy eerste brief en moontlik ook die tweede een geskryf (1 Petrus 5:13). Babilon, met sy groot Joodse bevolking, is klaarblyklik beskou as deel van die gebied wat aan Petrus, Johannes en Jakobus toegeken is by die vergadering wat in die brief aan die Galasiërs genoem word.

  • Die Christelike godsdiens versprei onder eerste-eeuse Jode
    Die Wagtoring – 2005 | Oktober 15
    • a Hierdie vergadering het moontlik saamgeval of verband gehou met die eerste-eeuse bestuursliggaam se bespreking oor die besnydenis.—Handelinge 15:6-29.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel