Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Wat beteken onderdanigheid in die huwelik?
    Die Wagtoring – 1991 | Desember 15
    • Onderdanigheid is betreklik

      ’n Man se gesag oor sy vrou is nie absoluut nie. In sekere opsigte kan die vrou se onderdanigheid vergelyk word met ’n Christen se onderdanigheid aan ’n wêreldlike heerser. God se bevel is dat ’n Christen hom moet “onderwerp aan die magte [“hoër owerhede”, NW] wat oor hom gestel is” (Romeine 13:1). Hierdie onderdanigheid moet nogtans altyd in ewewig gehou word met dít wat ons aan God verskuldig is. Jesus het gesê: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Markus 12:17). As die keiser (die sekulêre regering) vereis dat ons aan hom iets moet gee wat God toekom, sal ons gedagtig wees aan wat die apostel Petrus gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 5:29.

      Net so moet ’n Christenvrou wat met ’n man getroud is wat nie Christelike beginsels verstaan of eerbiedig nie, nietemin aan hom onderdanig wees. Sy moet nie teen hierdie reëling van God in opstand kom nie. Sy sal beter vaar as sy eerder haar man met liefde en bedagsaamheid behandel en sodoende sy vertroue probeer wen. Sulke goeie gedrag kan daartoe lei dat haar man verander; dit kan hom selfs die waarheid laat aanvaar (1 Petrus 3:1, 2). Maar as haar man haar beveel om iets te doen wat deur God verbied word, moet sy onthou dat God haar hoogste Heerser is. As haar man byvoorbeeld van haar verwag om aan onsedelike gebruike, soos die omruil van vrouens, deel te neem, moet sy weier om haar daaraan te onderwerp (1 Korinthiërs 6:9, 10). Haar gewete en die feit dat sy eerstens aan God onderdanig moet wees, sal bepaal hoe ver sy sal gaan om aan haar man onderdanig te wees.

      In die tyd van koning Dawid was Abigail getroud met Nabal, ’n man wat geen eerbied vir godvrugtige beginsels gehad het nie en wat Dawid en Dawid se manne onbeskof en liefdeloos behandel het. Dawid en sy manne het die duisende skape en bokke wat aan Nabal behoort het, beskerm, maar toe Dawid van Nabal ’n voedselgawe gevra het, het Nabal geweier om vir hulle enigiets te gee.

      Toe Abigail daarvan te hore kom dat haar man se suinigheid onheil oor haar huis gaan bring, het sy besluit om self vir Dawid voedsel te neem. “Toe het Abigail gou tweehonderd brode geneem en twee sakke wyn en vyf toebereide skape en vyf mate gebraaide koring en honderd rosynekoeke en tweehonderd vyekoeke en dit op esels gesit. En sy het aan haar jongmanne gesê: Trek voor my uit; kyk, ek kom dadelik agter julle aan. Maar aan haar man Nabal het sy niks te kenne gegee nie.”—1 Samuel 25:18, 19.

      Het Abigail verkeerd gehandel deur teen haar man se wil op te tree? Nie in hierdie geval nie. Abigail se onderdanigheid het nie beteken dat sy net so liefdeloos soos haar man moes wees nie, veral aangesien Nabal se dwase optrede sy hele huis in gevaar gestel het. Gevolglik het Dawid vir haar gesê: “Geseënd is die HERE, die God van Israel, wat jou vandag my tegemoet gestuur het! En geseënd jou verstandigheid” (1 Samuel 25:32, 33). Christenvrouens moet vandag insgelyks nie teen die hoofskap van hulle mans ’n aksie voer of daarteen in opstand kom nie, maar as hulle mans ’n onchristelike weg inslaan, het die vrouens nie nodig om hulle hierin na te volg nie.

      Paulus sê weliswaar in sy brief aan die Efesiërs: “Soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans onderdanig wees” (Efesiërs 5:24). Die feit dat die apostel die woord “alles” hier gebruik, beteken nie dat die vrou se onderdanigheid onbeperk is nie. Paulus se woorde “soos die gemeente aan Christus onderdanig is”, wys wat hy in gedagte gehad het. Alles wat Christus van sy gemeente verwag, is regverdig, in ooreenstemming met God se wil. Daarom kan die gemeente geredelik en met genoeë in alles aan hom onderdanig wees. ’n Vrou van ’n Christenman wat werklik Jesus se voorbeeld probeer volg, sal eweneens met genoeë in alles aan hom onderdanig wees. Sy weet dat hy haar belange op die hart dra en dat hy nooit willens en wetens van haar sal verwag om iets te doen wat teen God se wil is nie.

      ’n Man sal die liefde en respek van sy vrou behou as hy die godvrugtige hoedanighede weerspieël van sy hoof, Jesus Christus, wat sy volgelinge beveel het om mekaar lief te hê (Johannes 13:34). As ’n man sy gesag in ooreenstemming met die voortreflike hoofskap van die Christus uitoefen, maak hy dit vir sy vrou makliker om hom met genoeë as haar hoof te erken, ondanks die feit dat hy feilbaar en onvolmaak is (1 Korinthiërs 11:3). As ’n vrou die Christelike hoedanighede van beskeidenheid en liefderyke goedheid aankweek, sal dit nie vir haar moeilik wees om aan haar man onderdanig te wees nie.

  • Wat beteken onderdanigheid in die huwelik?
    Die Wagtoring – 1991 | Desember 15
    • Dít is die gesindhede wat in die gemeente aangekweek moet word. En hulle moet veral tussen man en vrou in die Christelike huis aangekweek word. ’n Man kan sy innerlike ontferming en sagmoedigheid toon deur na die voorstelle van sy vrou te luister. Hy moet sy vrou se opinie in ag neem voor hy ’n besluit neem wat die gesin raak. Christenvrouens is nie dom nie. Hulle kan dikwels waardevolle voorstelle aan hulle mans doen, soos Sara aan haar man, Abraham, gedoen het (Genesis 21:12). ’n Christenvrou sal daarenteen nie té veel van haar man verwag nie. Sy sal haar goedhartigheid en nederigheid toon deur sy leiding te volg en sy besluite te ondersteun, al bots dit soms met wat sy graag sou wou hê.

      ’n Redelike man is, net soos ’n redelike ouere man, genaakbaar en goedhartig. ’n Liefdevolle vrou beantwoord dit deur simpatiek en lankmoedig te wees en waardering te toon vir die pogings wat hy aanwend om, ondanks sy onvolmaaktheid en die druk van die lewe, sy verantwoordelikhede na te kom. Wanneer die man sowel as die vrou sulke gesindhede aankweek, sal onderdanigheid in ’n huwelik nie ’n probleem wees nie. Dit sal eerder ’n bron van vreugde, sekuriteit en blywende tevredenheid wees.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel