Kommunikasie in die gesin en in die gemeente
“Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel.”—KOLOSSENSE 4:6.
1. Wat het Adam gesê toe God Eva aan hom bekend gestel het?
“GEEN mens is ’n eiland nie . . . Elke mens is ’n deel van die vasteland.” Dit was die woorde van ’n insigryke geleerde van ’n paar eeue gelede. Toe hy dit gesê het, het hy net bevestig wat die Skepper oor Adam gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” Adam het die gawe van spraak en taal gehad, want hy het al die diere name gegee. Maar Adam het geen ander menseskepsel gehad met wie hy kon kommunikeer nie. Dit is dus te begrype dat, toe God die pragtige Eva as sy vrou aan hom bekend gestel het, hy uitgeroep het: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees”! So het Adam, by die ontstaan van die eerste mensegesin met ’n medemens begin kommunikeer.—Genesis 2:18, 23.
2. Watter skade kan onbeheerste televisiekykery doen?
2 Die gesinskring is ’n ideale plek vir kommunikasie. Die sukses van die gesinslewe hang inderdaad daarvan af. Maar dit verg tyd en inspanning om te kommunikeer. Vandag is die televisie een van die grootste tydrowers. Dit kan op ten minste twee maniere skade doen. Aan die een kant kan dit so aanloklik wees dat gesinslede daaraan verslaaf raak, wat tot ’n gebrek aan kommunikasie kan lei. Aan die ander kant kan dit as ’n ontvlugtingsmiddel dien wanneer daar misverstande of gekwetste gevoelens is. Pleks van probleme op te los het party huweliksmaats dit verkies om nie met mekaar te praat nie en net televisie te kyk. Sodoende kan die TV-stel beslis bydra tot ’n gebrek aan kommunikasie, wat glo die vernaamste huweliksvernietiger is. Diegene wat sukkel om televisiekykery in ’n ondergeskikte plek te hou kan dit gerus oorweeg om dit heeltemal uit te skakel.—Mattheüs 5:29; 18:9.
3. Hoe het party baat gevind deur hulle TV-kykery te beperk?
3 Trouens, daar is al geesdriftige verslae ontvang oor die voordele wat daaruit voortgespruit het wanneer mense minder TV kyk of dit glad nie meer doen nie. Een gesin het geskryf: “Ons praat meer met mekaar . . . , doen meer Bybelnavorsing . . . Ons speel saam . . . Alle aspekte van ons velddiens het verbeter.” ’n Ander gesin het ná hulle van hulle TV ontslae geraak het, gesê: “Ons spaar nie net geld nie [hulle was kabel-TV-intekenaars], maar ons het ’n hegter gesin geword en het baie ander lonende dinge gevind om met ons tyd te doen. Ons is nooit verveeld nie.”
Kyk, praat en luister
4. Hoe kan ’n egpaar hulle waardering vir mekaar aan mekaar oordra?
4 Daar is verskillende vorme van kommunikasie in die gesin. Party soorte is nie mondeling nie. Wanneer twee mense net na mekaar kyk, is dit ’n vorm van kommunikasie. Net om bymekaar te wees, kan ’n gevoel van besorgdheid oordra. Huweliksmaats moet dit vermy om lank weg van mekaar te wees tensy daar dwingende rede voor is. ’n Egpaar kan hulle geluk vergroot deur die hegte band wat hulle in die huwelik het te geniet. Deur hulle liefdevolle en tog eerbiedige gedrag teenoor mekaar, hetsy in die openbaar of privaat, en deur behoorlike waardigheid in hulle kleredrag en maniere te toon, kan hulle sonder ’n woord hulle diep waardering vir mekaar oordra. Die wyse koning Salomo het dit in hierdie woorde uitgedruk: “Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug.”—Spreuke 5:18.
5, 6. Waarom moet mans bewus wees van die belangrikheid om met hulle vrouens te kommunikeer?
5 Kommunikasie vereis ook gesprekvoering, dialoog—dat julle met mekaar praat met inagneming van die ander se reaksie. Hoewel party vrouens hulle gevoelens beter in woorde kan uitdruk as hulle mans, is dit geen verskoning vir die mans om stille vennote te wees nie. Christenmans moet bewus wees van die feit dat ’n gebrek aan kommunikasie ’n groot probleem in baie huwelike is, en daarom moet hulle hard werk om die kommunikasiekanale oop te hou. Hulle sal dit beslis doen as hulle, sowel as hulle vrouens, ag slaan op die goeie raad van die apostel Paulus in Efesiërs 5:25-33. As ’n man sy vrou soos sy eie liggaam liefhet, moet hy besorg wees oor haar welstand en geluk, nie net oor sy eie nie. Hiervoor is kommunikasie onontbeerlik.
6 ’n Man moet nie die gesindheid hê dat sy vrou maar moet aanvaar of raai dat hy haar waardeer nie. Sy moet verseker word dat hy haar liefhet. Hy kan sy waardering op baie maniere toon—deur liefdebetuigings of onverwagte geskenke, sowel as om haar ten volle ingelig te hou oor sake wat haar raak. Hy het ook die uitdaging om waardering uit te spreek vir sy vrou se pogings, of dit nou in verband met haar persoonsversorging, haar harde werk ten behoewe van die gesin of haar heelhartige ondersteuning van geestelike bedrywighede is. As ’n man op die raad van die apostel Petrus in 1 Petrus 3:7 ag slaan, moet hy ook nog empatie hê sodat hy ‘verstandig met sy vrou kan saamlewe’, en dit word betoon deur met haar te kommunikeer oor alle sake van gemeenskaplike belang en aan haar eer te bewys as die swakkere.—Spreuke 31:28, 29.
7. Watter plig het ’n vrou om met haar man te kommunikeer?
7 As ’n vrou ag slaan op die raad oor onderdanigheid in Efesiërs 5:22-24 sal sy eweneens probeer om die kommunikasiekanale met haar man oop te hou. Sy moet haar man “eerbiedig” deur haar woorde en haar dade. Sy moet nooit onafhanklik optree of sy wense ignoreer nie (Efesiërs 5:33). Daar moet te alle tye beraadslaging tussen haar en haar man wees.—Vergelyk Spreuke 15:22.
8. Wat moet vrouens bereid wees om te doen as hulle die kommunikasiekanale wil oophou?
8 Daarbenewens moet ’n vrou daarteen waak om nie uit selfbejammering stilswyend te ly nie. As daar ’n misverstand is, moet sy die regte tyd afwag om die saak aan te roer. Ja, leer ’n les by koningin Ester. Sy het ’n saak van lewe en dood gehad om onder haar man se aandag te bring. Dit het vir die Jode redding beteken omdat sy dadelik, verstandig en taktvol opgetree het. Ons is dit aan ons huweliksmaat en onsself verskuldig om te kommunikeer as ons seergemaak is of seergemaak word. Takt en ’n godvrugtige humorsin kan dit makliker maak om te kommunikeer.—Ester 4:15–5:8.
9. Watter rol speel luister in kommunikasie?
9 Om die kommunikasiekanale deur gesprekvoering oop te hou, sluit die verpligting in wat elkeen het om te luister na wat die ander persoon sê—en om noukeurig te let op die dinge wat nie gesê word nie. Dit vereis dat ’n mens aandagtig luister na die een wat praat. ’n Mens moet nie net aandag skenk aan die gedagtes wat uitgespreek word nie, maar jy moet ook let op die emosionele inhoud, die manier waarop iets gesê word. Dikwels skiet mans in hierdie opsig te kort. Vrouens kry dalk swaar omdat hulle mans nie luister nie. En op hulle beurt moet vrouens goed luister sodat hulle oorhaastige gevolgtrekkings sal vermy. “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder.”—Spreuke 1:5.
Kommunikasie tussen ouers en kinders
10. Wat moet ouers bereid wees om te doen om reg te laat geskied aan hulle kommunikasie met hulle kinders?
10 Daar is ook die geval waar ouers en hulle kinders sukkel om te kommunikeer. Om ‘’n seun volgens die eis van sy weg te oefen’, moet jy kommunikasiekanale tot stand bring. Dit sal help om te verseker dat hy “ook as hy oud word, daar nie van [sal] afwyk nie” (Spreuke 22:6). Die feit dat party kinders die waarheid die rug toekeer, hou soms verband met ’n kommunikasiegaping wat gedurende adolessensie ontstaan het. Ouers se plig om voortdurend met hulle kinders te kommunikeer word in Deuteronomium 6:6, 7 beklemtoon: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Ja, ouers moet tyd saam met hulle kinders deurbring! Hulle moet gewillig wees om opofferinge te maak ter wille van hulle kinders.
11. Wat is ’n paar dinge wat ouers hulle kinders moet help om te besef?
11 Ouers, help julle kinders om te besef dat Jehovah vir hulle lief is en dat julle hulle ook liefhet (Spreuke 4:1-4). Laat hulle sien dat julle bereid is om geriewe en genietinge op te offer ter wille van hulle verstandelike, emosionele, fisiese en geestelike groei. In hierdie verband is empatie belangrik, dit wil sê, die ouers se vermoë om dinge deur hulle kinders se oë te sien. Deur onselfsugtige liefde te betoon, kan julle as ouers ’n sterk band van eenheid met julle kinders smee en hulle aanmoedig om julle in hulle vertroue te neem en nie vertrouelinge onder hulle portuurs te soek nie.—Kolossense 3:14.
12. Waarom moet jongmense vryelik met hulle ouers kommunikeer?
12 Jongmense, aan die ander kant het julle die verantwoordelikheid om met julle ouers te kommunikeer. Waardering vir alles wat hulle vir julle gedoen het, sal julle help om julle ouers in jul vertroue te neem. Julle het hulle hulp en ondersteuning nodig, en dit sal vir hulle makliker wees om dit te gee as julle vryelik met hulle kommunikeer. Ja, waarom sou julle jul portuurs julle vernaamste bron van raad maak? Hulle het waarskynlik, vergeleke met julle ouers, nog maar min vir julle gedoen. Hulle het niks meer lewenservaring as julle nie, en as hulle nie ’n deel van die gemeente is nie, stel hulle nie werklik in julle blywende welsyn belang nie.
Kommunikasie in die gemeente
13, 14. Watter Bybelbeginsels vereis kommunikasie tussen Christene?
13 Nog ’n uitdaging is om die kommunikasiekanale met jou broers in die gemeente oop te hou. Ons word streng vermaan om “ons onderlinge byeenkoms nie [te] versuim” nie. Waarom kom ons bymekaar? “Om tot liefde en goeie werke aan te spoor.” Dit verg kommunikasie (Hebreërs 10:24, 25). As iemand jou te na kom, is dit absoluut geen rede om van vergaderinge af weg te bly nie. Hou die kommunikasiekanale oop deur die beginsel toe te pas van Jesus se raad wat in Mattheüs 18:15-17 opgeteken is. Praat met die persoon wat jou ongelukkig maak.
14 Wanneer jy probleme met een van jou broers het, moet jy ag slaan op skriftuurlike raad soos dié wat in Kolossense 3:13 opgeteken is: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.” Dit impliseer dat jy moet kommunikeer, nie dat jy moet weier om met iemand te praat nie. En as jy merk dat iemand koel is teenoor jou moet jy die raad volg wat in Mattheüs 5:23, 24 opgeteken is. Kommunikeer en probeer om die vrede met jou broer te herstel. Dit verg liefde en nederigheid van jou, maar jy is dit aan jouself en aan jou broer verskuldig om Jesus se raad te volg.
Raad en bemoediging
15. Waarom moet Christene nie nalaat om mekaar raad te gee wanneer hulle dit kan doen nie?
15 Jy moet ook kommunikeer as jy op Paulus se raad in Galasiërs 6:1 wil ag slaan: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Beskeidenheid behoort ons dit te laat verwelkom as iemand ons op ’n fout wys wat ons in woord of daad begaan het. Ons moet in werklikheid almal die gesindheid van die psalmis Dawid hê toe hy geskryf het: “As die regverdige my slaan, sou dit ’n daad van liefderyke goedhartigheid wees; en as hy my teregwys, sou dit olie op die hoof wees, wat my hoof nie sou wou weier nie” (Psalm 141:5, NW). Veral ouere manne moet besondere voorbeelde van nederigheid wees, en nie op hulle persoonlike mening aandring nie, maar bereid wees om geredelik raad te aanvaar, gedagtig daaraan dat ‘die wonde deur een wat liefhet opreg bedoel word’.—Spreuke 27:6.
16. Watter soort kommunikasie moet jong sprekers verwelkom?
16 Dit is die verstandige en beskeie weg vir jongmense om raad en leiding by ryp Christene te soek, wat waarskynlik iets opbouends sal hê om hulle te gee. Selfs ouere manne kan hierby baat vind. Een ouere man het byvoorbeeld in ’n toespraak gesê dat die seëninge wat in Openbaring 7:16, 17 genoem word, naamlik dat ons nie meer honger en dors sal hê nie, dinge is waarna die ander skape in die nuwe wêreld sal kan uitsien. Maar daar is aangetoon dat hierdie teks hoofsaaklik op die hedendaagse tyd van toepassing is. (Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 126-8.) ’n Ouere man in die gehoor het gedink dat hy die saak met hom moes bespreek, maar voor hy die geleentheid daarvoor kon kry, het die spreker self gebel en wenke gevra om sy toespraak te verbeter. Ja, laat ons dit vir diegene wat ons wil help makliker maak deur vir hulle te wys dat ons graag raad wil ontvang. Ons moenie liggeraak of te fyngevoelig wees nie.
17. Hoe kan kommunikasie ons broers aanmoedig?
17 Koning Salomo het ’n beginsel genoem wat goed op ons bespreking toegepas kan word. Hy het gesê: “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie” (Spreuke 3:27). Ons is liefde aan ons broers verskuldig. Paulus het gesê: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ’n ander liefhet, het die wet vervul” (Romeine 13:8). Wees dus vrygewig met jou woorde van aanmoediging. Hou ’n jong bedieningskneg sy eerste openbare toespraak? Prys hom. Het ’n suster hard probeer of besonder goed gevaar met haar toewysing op die Teokratiese Bedieningskool? Sê vir haar hoeveel jy haar toespraak geniet het. Ons broers en susters doen oor die algemeen hulle bes en sal aangemoedig word deur ’n liefdevolle woord van waardering.
18. Wanneer iemand te veel selfvertroue het, wat sal die liefdevolle ding wees om te doen?
18 Daarteenoor is ’n jong spreker dalk baie bekwaam, maar weens sy jeug het hy dalk te veel selfvertroue. Watter soort kommunikasie is hier nodig? Sou dit nie liefdevol wees as ’n ryp ouere man hom prys vir die goeie punte in sy aanbieding, maar terselfdertyd taktvol vir hom wys hoe hy in die toekoms beskeidenheid kan aankweek nie? Sulke kommunikasie sal broederliefde betoon en jonger broers help om vroegtydig van slegte gesindhede ontslae te raak, voor dit te diep gewortel raak.
19. Waarom moet ouere manne en gesinshoofde kommunikeerders wees?
19 Ouere manne kommunikeer met mekaar en met die gemeente oor dinge wat nuttig is—terwyl hulle natuurlik nie vertroulike sake, soos dinge wat met regterlike sake te doen het, bekend maak nie. Maar as hulle te geheimsinnig is, lei dit tot wantroue en ontmoediging en kan dit die hartlike gees in ’n gemeente—of in ’n gesin—benadeel. Almal geniet dit byvoorbeeld om iets te hoor wat opbouend is. Net soos die apostel Paulus geestelike gawes wou meedeel, moet ouere manne gretig wees om aanmoedigende inligting aan ander mee te deel.—Spreuke 15:30; 25:25; Romeine 1:11, 12.
20. Watter aspek van kommunikasie gaan in die volgende artikel behandel word?
20 Ja, kommunikasie is noodsaaklik in die Christengemeente sowel as in die Christengesin. Maar dit is ook op ’n ander gebied onontbeerlik. Waar? In die Christelike bediening. In die volgende artikel gaan ons maniere bespreek waarop ons ons kommunikasievermoë in hierdie uiters belangrike bedrywigheid kan verbeter.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe kan ’n algemene hindernis in die weg van gesinskommunikasie oorkom word?
◻ Hoe kan mans en vrouens die uitdaging van kommunikasie die hoof bied?
◻ Hoe kan ouers en kinders die generasiegaping vermy?
◻ Hoe kan kommunikasie in gemeentes en in gesinne bemoedigend wees?
[Prent op bladsy 23]
Goeie kommunikasie bevorder gesinseenheid en -geluk