Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 12/15 bl. 14-19
  • Mag ons nooit terugdeins tot vernietiging nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mag ons nooit terugdeins tot vernietiging nie!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat dit beteken om terug te deins tot vernietiging
  • Die druk wat op Christene geplaas is om terug te deins
  • Waarom hulle nooit moet terugdeins tot vernietiging nie
  • Waarom ons nooit moet terugdeins tot vernietiging nie
  • Hou vas aan die hoop wat voorlê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Laat ons die soort wees wat geloof het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ‘Let op Jesus’ terwyl wêreldonheil nader
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bybelboek nommer 58—Hebreërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 12/15 bl. 14-19

Mag ons nooit terugdeins tot vernietiging nie!

“Ons is . . . nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie.”—HEBREËRS 10:39.

1. Watter omstandighede het daartoe aanleiding gegee dat die apostel Petrus voor vrees geswig het?

DIE apostels was seker geskok toe hulle geliefde Heer, Jesus, vir hulle gesê het dat hulle almal verstrooi sou word en hom sou verlaat. Hoe kon so iets gebeur—op hierdie kritieke tydstip wanneer hy hulle die nodigste gehad het? Petrus het nadruklik verklaar: “Selfs al word al die ander tot struikeling gebring, sal ek nogtans nie.” Petrus was in der waarheid ’n dapper, moedige man. Maar toe Jesus verraai en in hegtenis geneem is, is die apostels—wat Petrus ingesluit het—verstrooi. Later, toe Jesus in die huis van die hoëpriester Kajafas ondervra is, het Petrus angstig in die binnehof gewag. Namate die koue nag langsaam verbygegaan het, het Petrus waarskynlik begin vrees dat Jesus en enigeen wat met hom geassosieer is dalk tereggestel sou word. Toe party van die omstanders Petrus as een van Jesus se intieme metgeselle identifiseer, het hy beangs geraak. Hy het drie keer sy verbintenis met Jesus ontken. Petrus het selfs gesê dat hy Jesus nie ken nie!—Markus 14:27-31, 66-72.

2. (a) Waarom het Petrus se vreesbevange optrede op die aand toe Jesus in hegtenis geneem is, nie beteken het dat hy ‘die soort is wat terugdeins nie’? (b) Waaroor moet ons vasbeslote wees?

2 Dit was ’n laagtepunt in Petrus se lewe, ’n oomblik waaroor hy ongetwyfeld die res van sy lewe spyt was. Maar het Petrus se optrede daardie aand beteken dat hy ’n lafaard was? Het dit beteken dat hy van “die soort” was wat die apostel Paulus later beskryf het toe hy geskryf het: “Ons is dan nou nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie”? (Hebreërs 10:39). Die meeste van ons sal waarskynlik saamstem dat Paulus se woorde nie op Petrus van toepassing is nie. Waarom nie? Omdat Petrus se vrees tydelik van aard was, ’n oomblik van swakheid in ’n lewe wat gekenmerk is deur uitsonderlike moed en geloof. Baie van ons kan eweneens aan tye in ons verlede dink waaroor ons ’n bietjie skaam voel, tye toe vrees ons skielik oorweldig het en verhinder het dat ons so moedig standpunt ingeneem het vir die waarheid as wat ons graag sou wou doen. (Vergelyk Romeine 7:21-23.) Ons kan daarvan seker wees dat sulke oomblikke van swakheid nie beteken dat ons die soort is wat terugdeins tot vernietiging nie. Maar ons moet vasbeslote wees om nooit van daardie soort te word nie. Waarom? En hoe kan ons dit voorkom dat ons so word?

Wat dit beteken om terug te deins tot vernietiging

3. Hoe het die profete Elia en Jona voor vrees geswig?

3 Toe Paulus geskryf het van “die soort wat terugdeins”, het hy nie gepraat van diegene wie se moed hulle tydelik begewe nie. Paulus het ongetwyfeld van Petrus se ondervinding en van ander soortgelyke gevalle geweet. Elia, ’n moedige en reguit profeet, het eenkeer voor vrees geswig en vir sy lewe gevlug omdat die goddelose koningin Isebel hom met die dood gedreig het (1 Konings 19:1-4). Die profeet Jona is deur groter vrees oorweldig. Jehovah het hom die opdrag gegee om na Nineve te gaan, ’n stad wat berug was weens sy gewelddadigheid en goddeloosheid. Jona het dadelik op ’n boot geklim op pad na Tarsis—3 500 kilometer in die teenoorgestelde rigting! (Jona 1:1-3). Maar nie een van hierdie getroue profete of die apostel Petrus kon tereg beskryf word as die soort wat terugdeins nie. Waarom nie?

4, 5. (a) Hoe help die konteks ons om te bepaal wat Paulus met die woord “vernietiging” in Hebreërs 10:39 bedoel het? (b) Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: ‘Ons is nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie’?

4 Kyk na die hele frase wat Paulus gebruik het: “Ons is dan nou nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie.” Wat het hy met “vernietiging” bedoel? Die Griekse woord wat hy gebruik het, verwys soms na ewige vernietiging. Hierdie definisie pas by die konteks. Paulus het net ’n paar sinne vroeër gewaarsku: “As ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offerande vir sondes meer oor nie, maar daar is ’n sekere vreeslike verwagting van oordeel en ’n vurige jaloesie wat die teenstanders gaan verteer.”—Hebreërs 10:26, 27.

5 Toe Paulus dus vir sy medegelowiges gesê het: ‘Ons is nie die soort wat terugdeins tot vernietiging nie’, het hy bedoel dat hy en sy getroue Christenlesers vasbeslote was om nooit hulle rug op Jehovah te draai en op te hou om hom te dien nie. Hierdie optrede kan slegs tot ewige vernietiging lei. Judas Iskariot was iemand wat teruggedeins het tot sulke vernietiging, en so ook ander vyande van die waarheid wat opsetlik teen Jehovah se gees gewerk het (Johannes 17:12; 2 Tessalonisense 2:3). Sulke individue is onder “die lafaards” wat ewige vernietiging in die simboliese poel van vuur sal ontvang (Openbaring 21:8). Nee, ons wil nooit van daardie soort wees nie!

6. Watter weg wil Satan die Duiwel hê ons moet volg?

6 Satan die Duiwel wil graag hê dat ons moet terugdeins tot vernietiging. Hy is ’n meester in “listige dade” en hy weet dat so ’n verderflike weg dikwels klein begin (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). As hy nie sy doel bereik met direkte vervolging nie, probeer hy die geloof van ware Christene op subtieler maniere ondermyn. Hy wil sien dat moedige, ywerige Getuies van Jehovah ophou getuig. Kom ons kyk watter metodes hy gebruik het in die geval van die Hebreeuse Christene aan wie Paulus geskryf het.

Die druk wat op Christene geplaas is om terug te deins

7. (a) Wat was die geskiedenis van die gemeente in Jerusalem? (b) Wat was die geestelike situasie van sommige van Paulus se lesers?

7 Die getuienis toon dat Paulus sy brief aan die Hebreërs omstreeks 61 G.J. geskryf het. Die gemeente in Jerusalem het ’n onstuimige geskiedenis gehad. Ná die dood van Jesus het ’n vlaag van hewige vervolging uitgebreek, wat baie Christene uit die stad gedwing en verstrooi het. ’n Tydperk van vrede het egter gevolg waartydens die Christene vermeerder het (Handelinge 8:4; 9:31). Namate die jare verbygegaan het, het hulle van tyd tot tyd ander vervolginge en ontberings verduur. Dit lyk of die gemeente, teen die tyd dat Paulus die brief aan die Hebreërs geskryf het, weer eens ’n tydperk van betreklike vrede ondervind het. Maar daar was nog steeds druk. Bykans drie dekades het verstryk sedert Jesus die vernietiging van Jerusalem voorspel het. Daar was waarskynlik sommige wat gedink het dat die einde veels te lank talm en dalk nie in hulle leeftyd sou kom nie. Ander, veral nuwelinge in die geloof, het nog nie die toets van hewige vervolging ondergaan nie, en hulle het nie werklik geweet wat dit beteken om tydens beproewinge te volhard nie (Hebreërs 12:4). Satan het beslis hierdie situasie probeer uitbuit. Van watter “listige dade” het hy gebruik gemaak?

8. Watter gesindheid het baie Jode teenoor die jong Christengemeente gehad?

8 Die Joodse gemeenskap in Jerusalem en Judea het die jong Christengemeente met minagting bejeën. Ons kan uit die inhoud van Paulus se brief ’n idee kry van die dinge waarmee die hoogmoedige Joodse godsdiensleiers en hulle volgelinge die Christene bespot het. Hulle het dalk as ’t ware gesê: ‘Ons het die groot tempel in Jerusalem wat al eeue lank staan! Ons het ’n eerbiedwaardige hoëpriester wat daar tempeldiens doen, tesame met sy onderpriesters. Offerandes word daagliks gebring. Ons het die Wet, wat deur engele aan Moses oorgedra is en met groot tekens op die berg Sinai bevestig is. Hierdie opkomende sekte, hierdie Christene, wat afvallig geword het van Judaïsme, het nie een van hierdie dinge nie!’ Het hierdie smadende aanmerkings die gewenste uitwerking gehad? Party Hebreeuse Christene is klaarblyklik deur die aanvalle ontstel. Paulus se brief het net op die regte tyd gekom om hulle te help.

Waarom hulle nooit moet terugdeins tot vernietiging nie

9. (a) Watter tema vind ons dwarsdeur die brief aan die Hebreërs? (b) In watter sin het Christene in ’n beter tempel as die een in Jerusalem gedien?

9 Kom ons bespreek twee redes wat Paulus sy broers en susters daar in Judea gegee het waarom hulle nooit moet terugdeins tot vernietiging nie. Die eerste—die verhewenheid van die Christelike stelsel van aanbidding—word deurgaans in die brief aan die Hebreërs gevind. Paulus ontwikkel hierdie tema dwarsdeur sy brief. Die tempel in Jerusalem was bloot ’n kopie van ’n baie groter werklikheid, Jehovah se geestelike tempel, ’n gebou “wat nie met hande gemaak is nie” (Hebreërs 9:11). Daardie Christene het die voorreg gehad om in hierdie geestelike reëling vir rein aanbidding te dien. Hulle het onder ’n beter verbond gedien, die nuwe verbond wat lank tevore beloof is, met ’n Middelaar wat voortrefliker was as Moses, Jesus Christus.—Jeremia 31:31-34.

10, 11. (a) Waarom het Jesus se geslagslyn hom nie ongeskik gemaak om as die Hoëpriester in die geestelike tempel te dien nie? (b) In watter opsigte was Jesus ’n voortrefliker Hoëpriester as die een wat by die tempel in Jerusalem gedien het?

10 Daardie Christene het ook ’n veel beter Hoëpriester, Jesus Christus, gehad. Nee, hy was nie ’n afstammeling van Aäron nie. Hy was eerder ’n Hoëpriester “volgens die wyse van Melgisedek” (Psalm 110:4, NW). Melgisedek, wie se geslagslyn onbekend is, was die koning van eertydse Salem sowel as die hoëpriester daarvan. Hy was dus ’n gepaste profetiese tipe van Jesus, wie se priesterskap nie van ’n onvolmaakte mens se geslagslyn afgehang het nie, maar van iets veel belangrikers—Jehovah God se eie eed. Soos Melgisedek, dien Jesus nie net as Hoëpriester nie, maar ook as Koning, een wat nooit sal sterf nie.—Hebreërs 7:11-21.

11 Daarbenewens was dit nie nodig vir Jesus om, soos die hoëpriester by die tempel in Jerusalem, jaar na jaar offerandes te bring nie. Sy offerande was sy eie volmaakte lewe, wat hy eens en vir altyd opgeoffer het (Hebreërs 7:27). Al daardie offerandes by die tempel was slegs ’n skaduwee, slegs afbeeldings van wat Jesus geoffer het. Sy volmaakte offerande het ware vergifnis van sondes moontlik gemaak vir almal wat geloof beoefen. Wat ook bemoedigend is, is Paulus se kommentare wat toon dat hierdie Hoëpriester dieselfde onveranderlike Jesus is wat die Christene in Jerusalem geken het. Hy was nederig, goedhartig en iemand wat “met ons swakhede kan simpatiseer” (Hebreërs 4:15; 13:8). Daardie gesalfde Christene het die vooruitsig gehad om as Christus se onderpriesters te dien! Hoe sou hulle selfs daaraan kon dink om terug te deins tot “die swak en armsalige” dinge van verdorwe Judaïsme?—Galasiërs 4:9.

12, 13. (a) Watter tweede rede het Paulus gegee om nooit terug te deins nie? (b) Waarom sou die Hebreeuse Christene deur hulle rekord van volharding aangespoor word om nie terug te deins tot vernietiging nie?

12 En asof dit nie reeds genoeg rede was nie, het Paulus die Hebreërs ’n tweede rede gegee waarom hulle nooit moet terugdeins tot vernietiging nie—hulle eie rekord van volharding. Hy het geskryf: “Hou . . . aan om die vroeëre dae te onthou waarin julle, nadat julle verlig is, onder veel lyding ’n groot stryd verduur het.” Paulus het hulle daaraan herinner dat hulle ‘soos in ’n teater blootgestel is’ aan smaad en verdrukkinge. Party is in die gevangenis gesit; ander het simpatie met diegene in die gevangenis betuig en hulle ondersteun. Ja, hulle het navolgenswaardige geloof en volharding getoon (Hebreërs 10:32-34). Maar waarom het Paulus hulle gevra om ‘aan te hou’ om sulke pynlike ondervindinge te “onthou”? Sou dit nie ontmoedigend wees nie?

13 Inteendeel, “om die vroeëre dae te onthou”, sou beteken dat die Hebreërs terugdink aan hoe Jehovah hulle tydens beproewinge onderskraag het. Hulle het reeds met sy hulp baie van Satan se aanvalle weerstaan. Paulus het geskryf: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie” (Hebreërs 6:10). Ja, Jehovah het al hulle getroue werke onthou, dit in sy onbeperkte geheue bewaar. Dit laat ons dink aan Jesus se vermaning om skatte in die hemel op te gaar. Geen dief kan hierdie skatte steel nie; geen mot of roes kan dit verteer nie (Matteus 6:19-21). Trouens, hierdie skatte kan slegs vernietig word as ’n Christen terugdeins tot vernietiging. Dit sou enige skatte wat hy in die hemel opgegaar het verlore laat gaan. Wat ’n kragtige rede het Paulus tog aan die Hebreeuse Christene gegee om nooit so ’n weg in te slaan nie! Waarom toelaat dat al hulle jare van getroue diens tevergeefs sou wees? Dit sou nie net reg wees nie, maar ook veel beter om aan te hou volhard.

Waarom ons nooit moet terugdeins tot vernietiging nie

14. Met watter uitdagings het ons te kampe wat soortgelyk is aan dié waarvoor die eerste-eeuse Christene te staan gekom het?

14 Ware Christene van vandag het net sulke kragtige redes om nie terug te deins nie. Laat ons eerstens onthou watter seën ons het in die rein vorm van aanbidding wat Jehovah ons gegee het. Soos die eerste-eeuse Christene, lewe ons in ’n tyd waarin lede van die gewilder godsdienste op ons neersien en ons bespot, terwyl hulle met trots wys na hulle indrukwekkende geboue vir aanbidding en meld hoe oud hulle tradisies is. Jehovah verseker ons egter dat hy ons vorm van aanbidding goedkeur. Trouens, ons geniet vandag seëninge wat die eerste-eeuse Christene nie gehad het nie. Jy wonder dalk: ‘Hoe so?’ Hulle het immers gelewe toe die geestelike tempel in aansyn gekom het. Christus het met sy doop in 29 G.J. die Hoëpriester daarvan geword. Party van hulle het die Seun van God wat wonderwerke verrig het persoonlik gesien. Selfs ná sy dood was daar nóg wonderwerke. Maar soos voorspel is, het sulke gawes uiteindelik opgehou.—1 Korintiërs 13:8.

15. Gedurende die vervulling van watter profesie lewe ware Christene vandag, en wat beteken dit vir ons?

15 Ons lewe egter gedurende ’n betekenisvolle vervulling van die uitvoerige tempelprofesie van Esegiël hoofstukke 40-48.a Ons het dus die herstelling van God se reëling vir ware aanbidding gesien. Daardie geestelike tempel is van alle vorme van godsdiensverontreiniging en afgodediens gereinig (Esegiël 43:9; Maleagi 3:1-5). Dink aan die voordele wat daardie reiniging vir ons inhou.

16. Met watter ontmoedigende situasie het die eerste-eeuse Christene te kampe gehad?

16 Gedurende die eerste eeu het die toekoms duister gelyk vir die georganiseerde Christengemeente. Jesus het voorspel dat dit sou wees soos ’n stuk land met pas geplante koring waartussen onkruid gesaai is, sodat dit feitlik onmoontlik sou wees om die koring van die onkruid te onderskei (Matteus 13:24-30). En dit is presies wat gebeur het. Teen die einde van die eerste eeu, toe die bejaarde apostel Johannes as finale teëhouer teen verdorwenheid gedien het, was afvalligheid reeds aan die orde van die dag (2 Tessalonisense 2:6; 1 Johannes 2:18). Nie lank ná die dood van die apostels nie het ’n afsonderlike geestelikeklas ontstaan wat die kudde onderdruk het en kenmerkende kleredrag gedra het. Afvalligheid het soos gangreen versprei. Hoe ontmoedigend moes dit tog vir getroue Christene gewees het! Hulle het gesien hoe die pas gevestigde reëling vir rein aanbidding deur ’n verdorwe vorm verdring word. Dít het minder as ’n eeu nadat Christus die gemeente gestig het, plaasgevind.

17. In watter sin bestaan die hedendaagse Christengemeente al langer as wat die eerste-eeuse gemeente bestaan het?

17 Kyk nou na ’n kontras. Vandag bestaan rein aanbidding reeds langer as die tydperk waarin die apostels werksaam was. Sedert die eerste nommer van hierdie tydskrif in 1879 gedruk is, het Jehovah ons geseën met aanbidding wat in toenemende mate gereinig is. Jehovah en Christus Jesus het in 1918 in die geestelike tempel ingegaan met die doel om dit te reinig (Maleagi 3:1-5). Sedert 1919 is die reëling vir die aanbidding van Jehovah God progressief gelouter. Ons het ’n duideliker begrip van Bybelprofesieë en -beginsels verkry (Spreuke 4:18). Wie moet die eer hiervoor kry? Nie blote onvolmaakte mense nie. Slegs Jehovah, met sy Seun as Hoof van die gemeente, kon Sy volk teen verdorwenheid in hierdie verdorwe tye beskerm. Laat ons dus nooit nalaat om Jehovah te dank dat hy ons toegelaat het om vandag rein aanbidding te beoefen nie. En laat ons absoluut vasbeslote wees om nooit terug te deins tot vernietiging nie!

18. Watter rede het ons om nooit terug te deins tot vernietiging nie?

18 Net soos daardie Hebreeuse Christene het ons ’n tweede rede waarom ons nie lafhartig optree en terugdeins nie—ons eie rekord van volharding. Of ons Jehovah in onlangse jare begin dien het en of ons dit nou al dekades lank getrou doen, ons het ’n rekord van Christelike werke opgebou. Baie van ons het vervolging verduur, hetsy dit gevangeneming, verbooie op ons werk, wreedheid of die verlies van eiendom was. Baie ander het gesinsteenstand, smaad, bespotting en onverskilligheid ondervind. Ons almal het volhard en met ons getroue diens aan Jehovah voortgegaan ten spyte van die uitdagings en toetse in die lewe. Sodoende het ons ’n rekord van volharding opgebou wat Jehovah nie sal vergeet nie, ’n skatkamer van skatte in die hemel. Dit is dus beslis nie nou die tyd om terug te deins tot die verdorwe ou stelsel wat ons agtergelaat het nie! Waarom al ons harde werk nutteloos laat wees? Dit is veral waar vandag, noudat net “’n baie klein rukkie” oor is voor die einde.—Hebreërs 10:37.

19. Wat sal in ons volgende artikel bespreek word?

19 Ja, laat ons vasbeslote wees dat ‘ons nie die soort is wat terugdeins tot vernietiging nie’! Laat ons eerder “die soort [wees] wat geloof het” (Hebreërs 10:39). Hoe kan ons seker maak dat ons aan daardie beskrywing beantwoord, en hoe kan ons mede-Christene help om dieselfde te doen? Ons volgende artikel sal hierdie kwessie bespreek.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 Maart 1999, bladsye 8-23.

Onthou jy?

◻ Wat beteken dit om terug te deins tot vernietiging?

◻ Watter druk het die Hebreeuse Christene aan wie Paulus geskryf het, ondervind?

◻ Watter redes het Paulus aan die Hebreërs gegee om nie terug te deins tot vernietiging nie?

◻ Watter redes het ons om vasbeslote te wees om nooit terug te deins tot vernietiging nie?

[Prente op bladsy 15]

Die feit dat Petrus voor vrees geswig het, het nie beteken dat hy ‘die soort was wat terugdeins tot vernietiging nie’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel