-
Laat ons die soort wees wat geloof hetDie Wagtoring – 1999 | Desember 15
-
-
Gepaste gebruik van God se Woord
6. Vir wie het Paulus aangehaal toe hy die woorde in Hebreërs 10:38 opgeteken het?
6 Paulus het ook deur sy vaardige gebruik van die Skrif geloof in sy medegelowiges opgebou. Hy het byvoorbeeld geskryf: “‘Maar my regverdige sal weens geloof lewe’, en ‘as hy terugdeins, het my siel geen behae in hom nie’” (Hebreërs 10:38). Paulus het hier die profeet Habakuk aangehaal.a Paulus se lesers, Hebreeuse Christene wat goed vertroud was met die profetiese boeke, het waarskynlik hierdie woorde geken. As ’n mens sy doelwit in gedagte hou—om die geloof van Christene in en om Jerusalem omstreeks 61 G.J. te versterk—was die voorbeeld van Habakuk ’n goeie keuse. Waarom?
7. Wanneer het Habakuk sy profesie opgeteken, en hoe was die toestande in Juda op daardie tydstip?
7 Habakuk het klaarblyklik sy boek net bietjie meer as twee dekades voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. geskryf. Die profeet het in ’n visioen die Galdeërs (of Babiloniërs) gesien, ’n “kwaai en onstuimige nasie”, wat Juda skielik aanval, Jerusalem vernietig en volke en nasies in sy pad uitwis (Habakuk 1:5-11). Maar so ’n rampspoed is al sedert Jesaja se dag voorspel, meer as ’n eeu tevore. In Habakuk se tyd het Jojakim die goeie koning Josia as koning opgevolg, en goddeloosheid het weer eens in Juda gedy. Jojakim het diegene wat in Jehovah se naam gespreek het, vervolg en selfs vermoor (2 Kronieke 36:5; Jeremia 22:17; 26:20-24). Dit is geen wonder nie dat die ontstelde profeet Habakuk uitgeroep het: “Hoe lank, o HERE?”—Habakuk 1:2.
8. Waarom sou Habakuk se voorbeeld nuttig wees vir eerste-eeuse Christene en vir dié wat vandag lewe?
8 Habakuk het nie geweet hoe naby die vernietiging van Jerusalem was nie. Net so ook het die eerste-eeuse Christene nie geweet wanneer die Joodse stelsel van dinge sou eindig nie. En vandag weet ons ook nie op watter “dag en uur” Jehovah se oordeel teen hierdie goddelose stelsel voltrek sal word nie (Matteus 24:36). Kom ons kyk dus wat Jehovah se tweevoudige antwoord aan Habakuk is. Eerstens verseker hy die profeet dat die einde presies op die regte tyd sal kom. “Dit sal nie laat wees nie”, het God gesê, al lyk dit dalk uit ’n menslike oogpunt of dit talm (Habakuk 2:3, NW). Tweedens het Jehovah Habakuk hieraan herinner: “Wat die regverdige betref, deur sy getrouheid sal hy bly lewe” (Habakuk 2:4, NW). Watter pragtige, eenvoudige waarhede! Die hoofsaak is nie wanneer die einde sal kom nie, maar of ons sal aanhou om ’n lewe van geloof te lei.
9. In watter sin het gehoorsame knegte van Jehovah weens hulle getrouheid bly lewe (a) in 607 v.G.J.? (b) ná 66 G.J.? (c) Waarom is dit uiters belangrik dat ons ons geloof versterk?
9 Toe Jerusalem in 607 v.G.J. verwoes is, het Jeremia, sy sekretaris Barug, Ebed-Meleg en die lojale Regabiete gesien dat Jehovah se belofte aan Habakuk waar was. Hulle het “bly lewe” in die sin dat hulle behoue gebly het deur die verskriklike vernietiging van Jerusalem heen. Waarom? Jehovah het hulle getrouheid beloon (Jeremia 35:1-19; 39:15-18; 43:4-7; 45:1-5). Die eerste-eeuse Hebreeuse Christene het seker ook goed gereageer op Paulus se raad, want toe die Romeinse leërs Jerusalem in 66 G.J. aangeval en toe om onverklaarbare redes teruggetrek het, het daardie Christene Jesus se waarskuwing om te vlug getrou gehoorsaam (Lukas 21:20, 21). Hulle het weens hulle getrouheid bly lewe. Ons sal ook bly lewe as ons getrou bevind word wanneer die einde kom. Wat ’n uiters belangrike rede om ons geloof nou te versterk!
-
-
Laat ons die soort wees wat geloof hetDie Wagtoring – 1999 | Desember 15
-
-
a Paulus het die Septuagint-vertaling van Habakuk 2:4 aangehaal, wat die frase insluit “as enigiemand terugdeins, het my siel geen behae in hom nie”. Hierdie stelling verskyn nie in een van die bestaande Hebreeuse manuskripte nie. Party beweer dat die Septuagint gebaseer is op vroeër Hebreeuse manuskripte wat nie meer bestaan nie. Hoe dit ook al sy, Paulus is deur God se heilige gees geïnspireer om dit hier in te sluit. Dit het derhalwe God se goedkeuring.
-