Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Kyk verder as die dinge wat jy kan sien!
    Die Wagtoring – 1996 | Februarie 15
    • Buiten die verdrukking van ander het Jesus ook sy eie gesien (Hebreërs 5:7, 8). Maar met volmaakte geestelike gesigsvermoë het hy daarby verby gekyk en die beloning gesien om tot onsterflike lewe verhef te word weens sy weg van onkreukbaarheid. Dan sou hy as Messiaanse Koning die voorreg hê om die geteisterde mensdom uit hulle verdorwe toestand op te hef tot die volmaaktheid wat Jehovah oorspronklik beoog het. Omdat hy sy oog op hierdie onsigbare toekomsvooruitsigte gerig gehou het, het dit hom gehelp om sy vreugde in godvrugtige diens te behou, ongeag die verdrukking wat hy van dag tot dag gesien het. Paulus het later geskryf: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit.”—Hebreërs 12:2.

  • Kyk verder as die dinge wat jy kan sien!
    Die Wagtoring – 1996 | Februarie 15
    • Toe Paulus gepraat het van dit wat Jesus in staat gestel het om te volhard, het hy ook vir ons die weg gewys toe hy geskryf het: “Laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus” (Hebreërs 12:1, 2). Ja, om die Christelike wedloop met welslae en vreugde te voltooi, vereis dat ons verder moet kyk as die dinge wat ons sien. Maar hoe hou ons ons “blik stip gerig” op Jesus, en wat sal dit vir ons beteken?

      Om maar een ding te noem, Jesus is in 1914 as Koning van God se Koninkryk gekroon, en hy heers vanuit die hemel. Al hierdie dinge is natuurlik vir ons fisiese oë onsigbaar. Maar as ons ons “blik stip gerig hou” op Jesus, sal ons met behulp van ons geestelike gesigsvermoë sien dat hy nou oorgehaal is om op te tree en die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge te bring en Satan en sy demoonhordes tot gevangenskap te verban. As ons nog verder kyk, sal ons geestelike gesigsvermoë die wonderlike nuwe wêreld sigbaar laat word waar ‘die dood nie meer sal wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn nie meer sal wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’—Openbaring 19:11-16; 20:1-3; 21:4.

      Laat ons dus, in plaas van gebuk te gaan onder die tydelike verdrukking wat ons miskien elke dag moet verduur, liewer ons aandag vestig op die dinge wat ewig is. Kom ons kyk met die oë van geloof verder as die siekte en die gierigheid op hierdie besoedelde aarde en sien ’n paradys vol mense wat gesond, gelukkig en liefdevol is. Kom ons kyk verder as ons onvolmaakthede, fisies sowel as geestelik, en sien hoe ons vir ewig daarvan bevry gaan word deur die verdienste van Christus se losprysofferande. Kom ons kyk verder as die slagting wat op oorlog, misdaad en geweld volg en sien diegene wat pas opgewek is en wat in die vrede en regverdigheid van Jehovah onderrig word.

      Die feit dat ons “die blik stip gerig hou” op Jesus, sal ook beteken dat ons ons geestelike gesigsvermoë vestig op wat die Koninkryk, hoewel dit onsigbaar is, reeds onder God se volk op aarde tot stand gebring het: eenheid, vrede, liefde, broederlike geneentheid en geestelike voorspoed. Nadat ’n Christenvrou in Duitsland die video United by Divine Teaching gesien het, het sy geskryf: “Die video sal my help om selfs beter te onthou dat so baie Christenbroers en -susters regoor die wêreld Jehovah op hierdie presiese oomblik getrou dien—en dít ondanks die reaksie van die publiek. Hoe kosbaar is ons broederlike eenheid tog in ’n wêreld van geweld en haat!”

      “Sien” jy ook dat Jehovah, Jesus, die getroue engele en miljoene mede-Christene aan jou sy staan? Indien wel, sal jy jou nie oormatig bekommer oor “die sorge van hierdie stelsel van dinge” wat jou in moedeloosheid kan dompel en daartoe lei dat jy “onvrugbaar” in die Christelike bediening word nie (Matteus 13:22). Hou dus jou “blik stip gerig” op Jesus deur jou geestelike oë te vestig op God se opgerigte Koninkryk en die huidige en toekomstige seëninge daarvan.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel