-
Wat sê die Bybel oor seks?Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
-
-
LES 41
Wat sê die Bybel oor seks?
Baie mense voel ongemaklik om oor seks te praat. Maar wanneer die Bybel oor seks praat, is dit op ’n reguit en respekvolle manier. Wat dit sê, help ons. Dit maak sin omdat die Bybel van Jehovah af kom en hy ons Skepper is. So hy weet wat die beste vir ons is. Hy sê vir ons wat ons moet doen om hom gelukkig te maak en wat ons sal help om die lewe vir ewig te geniet.
1. Hoe beskou Jehovah seks?
Seks is ’n geskenk van Jehovah af. Hy wil hê dat dit geniet moet word deur ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is. Hierdie geskenk laat paartjies nie net toe om kinders te hê nie, maar ook om hulle liefde op ’n natuurlike en aangename manier vir mekaar te wys. Daarom sê God se Woord: “Vind vreugde in die vrou van jou jeug” (Spreuke 5:18, 19). Jehovah verwag van getroude Christene om lojaal te wees aan hulle huweliksmaat, en daarom sal hulle nooit egbreuk pleeg nie. – Lees Hebreërs 13:4.
2. Wat is seksuele onsedelikheid?
Die Bybel sê vir ons dat “mense wat seksueel onsedelik is . . . God se Koninkryk nie [sal] erf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Bybelskrywers wat in Grieks geskryf het, het die woord por·neiʹa gebruik om seksuele onsedelikheid te beskryf. Daardie woord sluit die volgende in: (1) seksuele omganga tussen mense wat nie met mekaar getroud is nie, (2) homoseksualiteit en (3) seks tussen mense en diere. Dit is goed vir ons wanneer ons “van seksuele onsedelikheid [af] wegbly”, en dit maak Jehovah gelukkig. – 1 Tessalonisense 4:3.
SOEK DIEPER
Kyk hoe jy van seksuele onsedelikheid af kan wegbly en hoe dit jou sal help wanneer jy sedelik rein bly.
3. Vlug vir seksuele onsedelikheid
’n Lojale man met die naam Josef het nee gesê vir ’n vrou wat seks met hom wou hê. Lees Genesis 39:1-12, en bespreek dan hierdie vrae:
Wat het Josef gemotiveer om te vlug? – Sien vers 9.
Dink jy dat Josef die regte besluit gemaak het? Hoekom?
Hoe kan jongmense Josef vandag navolg en vir seksuele onsedelikheid vlug? Speel die VIDEO.
Jehovah wil hê dat almal van ons seksuele onsedelikheid moet verwerp. Lees 1 Korintiërs 6:18, en bespreek dan hierdie vrae:
Watter situasies kan veroorsaak dat ’n persoon seksuele onsedelikheid pleeg?
Hoe kan jy vir seksuele onsedelikheid vlug?
4. Jy kan versoeking weerstaan
Wat kan dit moeilik maak om die versoeking om seksueel onsedelik te wees, te weerstaan? Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.
Wat het die broer in die video gedoen toe hy besef het dat hy dalk ontrou aan sy vrou kan wees as gevolg van die dinge wat hy dink en doen?
Selfs lojale Christene sukkel soms om hulle gedagtes skoon te hou. Hoe kan jy onsedelike gedagtes onmiddellik verwerp? Lees Filippense 4:8, en bespreek dan hierdie vrae:
Aan watter soort dinge moet ons dink?
Hoe kan dit ons help om die versoeking te weerstaan om te sondig as ons die Bybel lees en onsself besig hou in Jehovah se diens?
5. Jehovah se standaarde is goed vir ons
Jehovah weet wat die beste vir ons is. Hy sê vir ons hoe om sedelik rein te bly en watter seëninge ons sal kry as ons dit doen. Lees Spreuke 7:7-27 of speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.
Hoe het die jong man in ’n situasie beland wat tot versoeking kon lei? – Sien Spreuke 7:8, 9.
Volgens Spreuke 7:23, 26 kan seksuele onsedelikheid ernstige gevolge hê. Watter probleme kan ons vermy as ons sedelik rein bly?
Hoe kan sedelike reinheid ons help om die lewe vir ewig te geniet?
Party mense dink dat die dinge wat die Bybel oor homoseksualiteit sê, nie liefdevol is nie. Maar Jehovah, die God van liefde, wil hê dat almal die lewe vir ewig moet geniet. Om te kwalifiseer, moet ons gehoorsaam wees aan sy standaarde. Lees 1 Korintiërs 6:9-11, en bespreek dan hierdie vraag:
Is homoseksuele begeertes volgens God die enigste verkeerde begeertes?
As ons God tevrede wil stel, moet almal van ons veranderinge maak. Is dit die moeite werd? Lees Psalm 19:8, 11, en bespreek dan hierdie vrae:
Dink jy dat Jehovah se standaarde in die Bybel redelik is? Hoekom, of hoekom nie?
Jehovah het baie mense gehelp om gehoorsaam te wees aan sy standaarde in die Bybel. Hy kan jou ook help
PARTY MENSE SÊ: “Enige twee mense kan met mekaar seks hê, solank hulle lief is vir mekaar.”
Wat sal jy sê?
WAT ONS GELEER HET
Seks is ’n geskenk van Jehovah af wat deur ’n man en sy vrou geniet moet word.
Hersiening
Wat sluit seksuele onsedelikheid in?
Wat sal ons help om van seksuele onsedelikheid af weg te bly?
Hoe help dit ons wanneer ons gehoorsaam is aan Jehovah se standaarde in die Bybel?
LEER MEER
Kyk hoekom dit vir God saak maak of paartjies getroud is of nie.
“Wat sê die Bybel oor saambly sonder om te trou?” (Web-artikel)
Leer hoekom die Bybel se standaard oor homoseksualiteit nie beteken dat ons homoseksuele mense moet haat nie.
Vind uit hoe God se wette oor alle seksuele dade ons beskerm.
In die ondervinding “Hulle het my met waardigheid behandel”, kyk wat ’n homoseksuele persoon gemotiveer het om sy lewe te verander om God gelukkig te maak.
a Hierdie verkeerde seksuele dade sluit verskillende dinge in, soos seksuele omgang, orale seks, anale seks en om iemand anders se geslagsdele op ’n seksuele manier te streel.
-
-
Wat sê die Bybel oor die ongetroude lewe en die getroude lewe?Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
-
-
LES 42
Wat sê die Bybel oor die ongetroude lewe en die getroude lewe?
In party kulture glo mense dat ’n persoon nie gelukkig kan wees tensy hy of sy trou nie. Maar nie alle getroude mense is gelukkig nie, en nie alle ongetroude mense is ongelukkig nie. Om die waarheid te sê, die Bybel sê dat die ongetroude lewe en die getroude lewe geskenke van Jehovah af is.
1. Wat is party voordele van die ongetroude lewe?
Die Bybel sê: “Die een wat trou, doen . . . goed, maar die een wat nie trou nie, doen beter.” (Lees 1 Korintiërs 7:32, 33, 38.) Op watter maniere kan ’n ongetroude persoon ‘beter doen’? Ongetroude Christene hoef nie vir die behoeftes van ’n huweliksmaat te sorg nie. Daarom het hulle oor die algemeen meer vryheid. Byvoorbeeld, party kan op interessante maniere meer vir Jehovah doen, soos om na ’n ander land te reis om mense van die goeie nuus te vertel. Maar die belangrikste van alles is dat hulle meer tyd het om nader aan Jehovah te kom.
2. Wat is party voordele daarvan om wettig getroud te wees?
Net soos die ongetroude lewe het die getroude lewe unieke voordele. Die Bybel sê: “Twee is beter as een” (Prediker 4:9). Dit is veral waar wanneer Christene Bybelbeginsels in hulle huwelik toepas. Paartjies wat wettig getroud is, maak ’n belofte dat hulle mekaar altyd sal liefhê, respekteer en waardeer. As gevolg daarvan voel hulle baie keer veiliger in hulle verhouding as paartjies wat maar net saambly. En getroude paartjies se kinders sal ook veiliger voel in die gesin.
3. Hoe beskou Jehovah die getroude lewe?
Toe Jehovah die eerste mensepaartjie in die huwelik saamgebring het, het hy gesê: “’n Man [sal] sy pa en sy ma verlaat, en hy sal sy vrou aankleef” (Genesis 2:24). Jehovah wil hê dat ’n man en vrou mekaar moet liefhê en bymekaar moet bly solank as wat hulle lewe. Hy laat net toe dat ’n getroude paartjie skei as een van hulle egbreuk gepleeg het. In so ’n geval gee Jehovah die onskuldige huweliksmaat die reg om te besluit of hy of sy wil skeia (Matteus 19:9). Jehovah laat nie Christene toe om meer as een huweliksmaat te hê nie. – 1 Timoteus 3:2.
SOEK DIEPER
Leer hoe jy gelukkig kan wees – en Jehovah gelukkig kan maak – of jy nou getroud of ongetroud is.
4. Jy kan die geskenk van die ongetroude lewe goed gebruik
Jesus het die ongetroude lewe as ’n geskenk gesien (Matteus 19:11, 12). Lees Matteus 4:23, en bespreek dan hierdie vraag:
Hoe het Jesus die geskenk van die ongetroude lewe gebruik om sy Vader te dien en om ander te help?
Christene kan dit geniet om hulle ongetroude lewe te gebruik, net soos Jesus gedoen het. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.
Op watter maniere kan Christene hulle ongetroude lewe gebruik wat vir hulle baie seëninge sal bring?
Het jy geweet?
Die Bybel sê nie hoe oud ’n persoon moet wees om te trou nie. Maar dit moedig ’n persoon aan om te wag totdat hy “verby die bloei van die jeug is,” ’n tyd wanneer sterk seksuele gevoelens dit vir ’n jong persoon moeilik kan maak om goeie besluite te neem. – 1 Korintiërs 7:36.
5. Maak ’n goeie besluit wanneer jy jou huweliksmaat kies
Om jou huweliksmaat te kies, is een van die belangrikste besluite wat jy ooit sal maak. Lees Matteus 19:4-6, 9, en bespreek dan hierdie vraag:
Hoekom moet ’n Christen nie te vinnig besluit om met iemand te trou nie?
Die Bybel kan jou help om te weet na watter eienskappe om in ’n huweliksmaat te soek. Die belangrikste is: Soek ’n huweliksmaat wat lief is vir Jehovah.b Lees 1 Korintiërs 7:39 en 2 Korintiërs 6:14. Bespreek dan hierdie vrae:
Hoekom moet ons net met ’n mede-Christen trou?
Hoe dink jy sal Jehovah voel as ons met iemand trou wat nie vir Hom lief is nie?
As twee diere wat baie anders is, saam onder een juk gesit is, sal hulle ly. Net so sal ’n Christen baie probleme hê as hy of sy met iemand trou wat nie vir Jehovah lief is nie
6. Beskou die huwelik soos Jehovah dit beskou
In eertydse Israel het party mans vir selfsugtige redes van hulle vrouens geskei. Lees Maleagi 2:13, 14, 16, en bespreek dan hierdie vraag:
Hoekom haat Jehovah dit wanneer mense vir redes skei wat nie deur die Bybel ondersteun word nie?
Egbreuk en egskeiding maak die onskuldige maat en die kinders baie seer
Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vraag.
As jy met iemand getroud is wat nie vir Jehovah lief is nie, wat kan jy doen om ’n suksesvolle huwelik te hê?
7. Pas Jehovah se standaarde vir die huwelik toe
’n Persoon moet dalk baie moeite doen en hard werk om Jehovah se standaarde vir die huwelik toe te pas.c Maar Jehovah seën dié wat dit doen. Speel die VIDEO.
Lees Hebreërs 13:4, en bespreek dan hierdie vrae:
Dink jy dat Jehovah se standaarde vir die huwelik redelik is? Hoekom, of hoekom nie?
Jehovah verwag dat Christene hulle huwelike en egskeidings moet registreer, want in die meeste lande vereis die regering dat mense dit moet doen. Lees Titus 3:1, en bespreek dan hierdie vraag:
As jy getroud is, is jy seker dat jou huwelik wettig geregistreer is by die regering?
IEMAND VRA DALK: “Hoekom moet ’n mens trou? Kan ’n paartjie nie net saambly nie?”
Hoe sal jy antwoord?
WAT ONS GELEER HET
Die ongetroude lewe en die getroude lewe is geskenke van Jehovah af. Ongetroude mense en getroude mense kan gelukkig en tevrede wees wanneer hulle volgens Jehovah se wil lewe.
Hersiening
Hoe kan ’n persoon sy of haar ongetroude lewe goed gebruik?
Hoekom sê die Bybel dat ons net met ’n mede-Christen moet trou?
Wat sê die Bybel is die enigste rede om te skei?
LEER MEER
Wat beteken dit om “net in die Here” te trou?
Kyk twee kort video’s wat jou kan help om goeie besluite te maak oor verhoudings en die huwelik.
Kyk hoekom een broer voel dat die dinge wat Jehovah hom gegee het, baie waardevoller is as enige iets wat hy opgegee het.
Wat is party dinge waaraan ’n persoon moet dink voordat hy dit oorweeg of hy en sy huweliksmaat moet skei of uitmekaar uit moet gaan?
“Respekteer ‘wat God . . . onder een juk saamgevoeg het’” (Die Wagtoring, Desember 2018)
a Gaan na Eindnota 4 om te sien wanneer ’n paartjie dalk uitmekaar uit sal gaan, al het een van hulle nie egbreuk gepleeg nie.
b In party kulture kies ouers ’n huweliksmaat vir hulle seun of dogter. Wanneer dit die geval is, kyk liefdevolle ouers eers of die potensiële maat lief is vir Jehovah en nie na hoeveel geld die persoon het of wat sy of haar sosiale status is nie.
c As jy saam met iemand bly met wie jy nie getroud is nie, moet jy self besluit of jy die persoon sal los of met die persoon sal trou.
-