Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Nederige onderdanigheid aan liefdevolle herders
    Die Wagtoring – 2007 | April 1
    • 7. Watter raad het die apostel Paulus in verband met ons gesindheid teenoor Christenopsieners gegee?

      7 Ons hemelse Herders, Jehovah God en Jesus Christus, verwag dat ons gehoorsaam en onderdanig moet wees aan die onderherders wat deur hulle in posisies van verantwoordelikheid in die gemeente geplaas is (1 Petrus 5:5). Die apostel Paulus het onder inspirasie geskryf: “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, wat die woord van God tot julle gespreek het, en namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg. Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.”—Hebreërs 13:7, 17.

      8. Wat nooi Paulus ons om te “aanskou”, en hoe moet ons ‘gehoorsaam wees’?

      8 Let daarop dat Paulus ons nooi om die uiteinde van die getroue gedrag van die ouer manne te “aanskou”, of noukeurig waar te neem, en om hierdie voorbeelde van geloof na te volg. Verder maan hy ons om gehoorsaam te wees en om onderdanig te wees aan die leiding van hierdie aangestelde manne. Volgens die Bybelgeleerde R. T. France is die woord wat hier met “wees gehoorsaam” vertaal word, in die oorspronklike Grieks nie “die gewone woord vir gehoorsaamheid nie, maar letterlik ‘word oortuig’, wat op ’n gewillige aanvaarding van hulle leierskap dui”. Ons gehoorsaam die ouer manne nie net omdat ons in God se Woord beveel word om dit te doen nie, maar ook omdat ons oortuig is dat hulle Koninkryksbelange en ons belange op die hart dra. Ons sal beslis gelukkig wees as ons hulle leierskap gewillig aanvaar.

      9. Waarom is dit vir ons nodig om nie net gehoorsaam te wees nie, maar ook “onderdanig”?

      9 Maar sê nou ons is nie oortuig dat die ouer manne se riglyne in ’n sekere geval die beste manier is om te werk te gaan nie? Dit is dan wanneer onderdanigheid nodig is. Dit is maklik om gehoorsaam te wees wanneer alles duidelik is en ons daarmee saamstem, maar ons sal toon dat ons werklik onderdanig is as ons ons aan riglyne onderwerp selfs wanneer ons dit nie verstaan nie. Petrus, wat later ’n apostel geword het, het hierdie soort onderdanigheid aan die dag gelê.—Lukas 5:4, 5.

  • Nederige onderdanigheid aan liefdevolle herders
    Die Wagtoring – 2007 | April 1
    • 12. Hoe ‘waak’ opsieners ‘oor ons siel’?

      12 ’n Tweede rede waarom ons met Christenopsieners moet saamwerk, is dat ‘hulle oor ons siel waak’. As hulle enigiets in ons gesindheid of gedrag opmerk wat ons geestelikheid in gevaar kan stel, gee hulle ons gou die nodige raad om ons reg te help (Galasiërs 6:1). Die Griekse woord wat met “waak” vertaal word, beteken letterlik “om jou van slaap te onthou”. Volgens een Bybelgeleerde “dui [dit] op die onvermoeide waaksaamheid van die herder”. Benewens die feit dat hulle geestelik waaksaam bly, verloor ouer manne miskien selfs slaap uit besorgdheid oor ons geestelike welsyn. Moet ons nie gewillig saamwerk met sulke liefdevolle onderherders, wat hulle bes doen om die tere sorg na te volg wat Jesus Christus, “die groot herder van die skape”, getoon het nie?—Hebreërs 13:20.

      13. Teenoor wie en op watter maniere is die opsieners en alle Christene aanspreeklik?

      13 ’n Derde rede waarom ons gewillig met die opsieners moet saamwerk, is dat hulle oor ons waak “as dié wat rekenskap sal gee”. Opsieners hou in gedagte dat hulle onderherders is, wat onder die hemelse Herders, Jehovah God en Jesus Christus, dien (Esegiël 34:22-24). Jehovah is die Eienaar van die skape, “wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het”, en Hy hou die aangestelde opsieners aanspreeklik vir die manier waarop hulle Sy kudde behandel, wat “met teerheid” behoort te wees (Handelinge 20:28, 29). Gevolglik is ons almal aanspreeklik teenoor Jehovah vir die manier waarop ons op sy leiding reageer (Romeine 14:10-12). Ons gehoorsaamheid aan die aangestelde ouer manne lewer ook bewys van ons onderdanigheid aan Christus, die Hoof van die gemeente.—Kolossense 2:19.

      14. Wat kan veroorsaak dat Christenopsieners “met ’n gesug” dien, en watter gevolge kan dit hê?

      14 Paulus het ’n vierde rede gegee waarom ons nederige onderdanigheid aan Christenopsieners moet toon. Hy het geskryf: “Sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees” (Hebreërs 13:17). Weens hulle gewigtige verantwoordelikhede om te onderrig, as herders toesig te hou, die leiding in die predikingswerk te neem, hulle kinders groot te maak en probleme in die gemeente te hanteer, dra Christen- ouer manne ’n swaar vrag (2 Korintiërs 11:28, 29). As ons versuim om met hulle saam te werk, vergroot ons net hulle vrag. Dit sal veroorsaak dat hulle ‘sug’. As ons nie ’n gees van samewerking openbaar nie, mishaag dit Jehovah en kan dit vir ons skadelik wees. Maar wanneer ons gepaste respek toon en met hulle saamwerk, kan die ouer manne hulle pligte met vreugde uitvoer, en dit bevorder eenheid en ’n vreugdevolle deelname aan die Koninkrykspredikingswerk.—Romeine 15:5, 6.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel