Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jehovah is redelik!
    Die Wagtoring – 1994 | Augustus 1
    • Redelikheid—’n kenmerk van Goddelike wysheid

      6. Wat is die letterlike betekenis van die Griekse woord wat Jakobus gebruik het om Goddelike wysheid te beskryf, en wat impliseer dit?

      6 Die dissipel Jakobus het ’n interessante woord gebruik om die wysheid van hierdie uiters aanpasbare God te beskryf. Hy het geskryf: “Die wysheid van bo is . . . redelik” (Jakobus 3:17, NW). Die Griekse woord wat hy hier gebruik het (e·pi·ei·kesʹ), is moeilik om te vertaal. Vertalers het al woorde soos “vriendelik”, “toegeeflik”, “verdraagsaam” en “bedagsaam” gebruik. Die New World Translation gee dit as “redelik” weer, met ’n voetnoot wat toon dat dit letterlik “toegewend” beteken.a Die woord dra ook die betekenis daarvan oor om nie op die letter van die wet aan te dring nie, om nie uitermate streng of hardvogtig te wees nie. Die geleerde William Barclay sê die volgende in die New Testament Words: “Die basiese en wesenlike feit omtrent epieikeia is dat dit sy oorsprong by God het. Waar sou ons gewees het as God op sy regte gestaan het; as God net die onveranderlike standaarde van die wet op ons toegepas het? God is die allerbeste voorbeeld van iemand wat epieikēs is en wat ander met epieikeia behandel.”

      7. Hoe het Jehovah redelikheid in die tuin van Eden aan die dag gelê?

      7 Neem die tyd toe die mensdom teen Jehovah se soewereiniteit in opstand gekom het. Hoe maklik sou dit tog nie vir God gewees het om daardie drie ondankbare opstandelinge—Adam, Eva en Satan—tereg te stel nie! Hoeveel hartseer sou hy homself nie gespaar het nie! En wie sou kon redeneer dat hy nie die reg gehad het om sulke streng geregtigheid toe te pas nie? Maar Jehovah se hemelse strydwa-agtige organisasie is nooit gebonde deur die een of ander onveranderlike, onaanpasbare standaard van geregtigheid nie. Daardie strydwa het dus nie die mensdom en al hulle vooruitsigte vir ’n gelukkige toekoms meedoënloos verpletter nie. Inteendeel, Jehovah het sy strydwa so vinnig soos ’n weerligstraal van rigting laat verander. Onmiddellik ná die opstand het Jehovah God ’n langtermynvoorneme uiteengesit wat barmhartigheid en hoop aan al Adam se nakomelinge voorsien het.—Genesis 3:15.

      8. (a) Hoe verskil die Christendom se wanbegrip van redelikheid van Jehovah se ware redelikheid? (b) Waarom kan ons sê dat Jehovah se redelikheid nie impliseer dat hy dalk Goddelike beginsels sal prysgee nie?

      8 Maar Jehovah se redelikheid impliseer nie dat hy dalk Goddelike beginsels sal prysgee nie. Die hedendaagse kerke van die Christendom dink moontlik dat hulle redelik is as hulle onsedelikheid deur die vingers sien bloot omdat hulle by hulle eiesinnige kudde witvoetjie soek. (Vergelyk 2 Timotheüs 4:3.) Jehovah verbreek nooit sy wette nie, en hy gee ook nie sy beginsels prys nie. Hy toon eerder dat hy gewillig is om toegewend te wees en hom by die omstandighede aan te pas sodat daardie beginsels in regverdigheid en barmhartigheid toegepas kan word. Hy maak altyd seker dat hy sy geregtigheid en mag uitoefen op ’n wyse wat in balans met sy liefde en redelike wysheid is. Kom ons beskou drie maniere waarop Jehovah redelikheid openbaar.

      Hy is “vergewensgesind”

      9, 10. (a) Hoe hou ‘vergewensgesindheid’ met redelikheid verband? (b) Hoe het Dawid by Jehovah se vergewensgesindheid baat gevind, en waarom?

      9 Dawid het geskryf: “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5). Toe die Hebreeuse Geskrifte in Grieks vertaal is, is die woord vir “vergewensgesind” as e·pi·ei·kesʹ, of “redelik”, weergegee. Om vergewensgesind te wees en barmhartigheid te bewys, is miskien die belangrikste manier om redelikheid te openbaar.

      10 Dawid self was deeglik bewus van hoe redelik Jehovah in hierdie verband is. Toe Dawid met Batseba owerspel gepleeg het en gereël het dat haar man doodgemaak word, het hy en Batseba die doodstraf verdien (Deuteronomium 22:22; 2 Samuel 11:2-27). As onbuigsame menseregters die saak verhoor het, sou albei waarskynlik hulle lewe verloor het. Maar Jehovah het redelikheid (e·pi·ei·kesʹ) geopenbaar wat, soos Vine’s Expository Dictionary of Biblical Words dit stel, “daardie soort bedagsaamheid beskryf wat ‘met menslikheid en redelikheid na die feite van ’n saak’ kyk”. Die feite wat Jehovah se barmhartige besluit beïnvloed het, was waarskynlik die opregte berou van die oortreders sowel as die barmhartigheid wat Dawid self voorheen teenoor ander betoon het (1 Samuel 24:4-6; 25:32-35; 26:7-11; Mattheüs 5:7; Jakobus 2:13). Maar in ooreenstemming met Jehovah se beskrywing van homself in Exodus 34:4-7 was dit redelik dat Jehovah Dawid moes teregwys. Hy het die profeet Natan met ’n kragtige boodskap na Dawid toe gestuur en Dawid die feit op die hart gedruk dat hy die woord van Jehovah verag het. Dawid het berou getoon en derhalwe nie vir sy sonde gesterf nie.—2 Samuel 12:1-14.

  • Jehovah is redelik!
    Die Wagtoring – 1994 | Augustus 1
    • a In 1769 het die leksikograaf John Parkhurst die woord as “toegewend, met ’n toegewende geaardheid, vriendelik, gematig, geduldig” omskryf. Ander geleerdes het ook die woord “toegewend” gebruik om dit te omskryf.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel