-
Die uitdaging om in sy voetspore te volgDie Wagtoring – 1988 | Mei 1
-
-
Die uitdaging om in sy voetspore te volg
“Omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.”—1 PETRUS 2:21, NAV.
1, 2. (a) Wat kan ’n groot uitdaging wees, en waarom is dit vir Christene van belang? (b) Watter vrae word hier geopper?
HET jy al ooit op ’n sandstrand of deur ’n besneeude veld geloop en gevind dat die patroon van iemand se voetspore wat voor jou daar geloop het jou fassineer? Het jy miskien selfs ’n stel voetspore gekies en dit probeer volg deur jou eie treë so goed moontlik daarby aan te pas? Dan het jy uitgevind dat dit nie maklik was nie. Trouens, dit is ’n groot uitdaging om noukeurig in iemand anders se voetspore te volg—hetsy letterlik of figuurlik. En tog het ons, deur onsself Christene te noem, aangedui dat ons ’n begeerte het om juis dit te doen, om noukeurig in die voetspore van Christus te volg.
2 Is jy bereid om die nodige moeite te doen om hierdie uitdaging met welslae die hoof te bied? Is jy boonop vasbeslote om dit te doen, kom wat wil? Dan sal ’n duidelike begrip van die probleme wat daarby betrokke is om in letterlike voetspore te volg jou help om met groter welslae in Christus se figuurlike voetspore te volg.
Leer om jou aan te pas
3. Waarom lyk dit aanvanklik onnatuurlik om in iemand anders se voetspore te volg?
3 Elkeen het ’n kenmerkende manier van loop. Die treelengte verskil byvoorbeeld van persoon tot persoon, asook die hoek waarteen ’n persoon sy voete neersit. Sy tone kan reguit vorentoe wys, of hulle kan skuinsna binne of na buite wys, en moontlik word die een voet skuinser as die ander neergesit. Sien jy wat ’n uitdaging dit is? As jy noukeurig in iemand anders se voetspore wil volg, moet jy jou treelengte en voetposisie by syne aanpas. Dit sal aanvanklik onnatuurlik lyk, maar dit moet gedoen word. Daar is geen ander manier nie.
4. Waarom is dit ’n besondere uitdaging om in Jesus se voetspore te volg?
4 Christus se manier van loop was, figuurlik gesproke, uniek, want onder sy tydgenote was hy alleen ’n volmaakte man, iemand “wat geen sonde geken het nie” (2 Korinthiërs 5:21). Aangesien mense van nature onvolmaakte sondaars is, is dit nie hulle normale manier van loop om in Jesus se voetspore te wandel nie. Paulus het Christene in Korinthe hieraan herinner en gesê: “Julle [is] nog vleeslik . . . ; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” Neigings tot jaloersheid en tweedrag, “werke van die vlees”, is normaal vir onvolmaakte mense, maar Jesus het in die weg van die liefde gewandel, en “die liefde is nie jaloers nie; . . . word nie verbitterd nie”. Om in Christus se voetspore te wandel, bied dus ’n groter uitdaging as wanneer ons gevra sou word om bloot in die voetspore van ’n onvolmaakte mens te wandel.—1 Korinthiërs 3:3; 13:4, 5; Galasiërs 5:19, 20; kyk ook Efesiërs 5:2, 8.
5, 6. (a) Waarom het talle mense nie daarin geslaag om in Christus se voetspore te volg nie, en watter raad het dit Paulus laat gee? (b) Hoe word mense aangespoor om vandag in Christus se voetspore te wandel, en hoe strek dit hulle tot voordeel?
5 Benewens onvolmaaktheid kan onkunde aangaande God se wil ook voorkom dat ’n persoon in Christus se voetspore wandel. Paulus het die Christene in Efese dus gemaan om nie te “bly wandel soos ook die nasies wandel in die vrugteloosheid van hulle denke nie, terwyl hulle verduisterd is in hulle verstand en vervreemd is van die lewe wat aan God toebehoort, weens die onkunde wat in hulle is, weens die ongevoeligheid van hulle hart”.—Efesiërs 4:17, 18, NW.
6 Mense word vandag deur middel van die Koninkrykspredikingswerk aangespoor om op te hou om op hulle normale wyse te wandel, naamlik in onkunde aangaande God se voornemens, verstandelik verduisterd, beweeg deur ongevoelige harte wat vrugtelose doelwitte nastreef. Hulle word aangemoedig om hulle aan te pas by die volmaakte voorbeeld van Christus, “in eendrag met hom te wandel” en so “elke gedagte gevange [te neem] om dit aan Christus gehoorsaam te maak” (Kolossense 2:6, 7, NW; 2 Korinthiërs 10:5, NAV). Mense wat bereid is om hierdie uitdaging te aanvaar, word in hulle geloof bestendig. Namate hulle gewoond raak om soos Christus te wandel, raak dit gaandeweg vir hulle makliker.
7. Watter versekering het ons dat dit, hoewel dit dikwels ’n uitdaging is, moontlik is om in Jesus se voetsore te volg?
7 Dit is dikwels egter ’n uitdaging. Daar is ’n groot verskil tussen ’n volmaakte en ’n onvolmaakte wese. Onvolmaakte wesens moet derhalwe groot veranderinge aanbring ten einde ’n volmaakte voorbeeld te probeer volg. Party mense vind dit, moontlik weens oorerflikheid of hulle milieu, moeiliker as ander om hulle by ’n Christelike lewenswyse aan te pas. Maar Jehovah verseker ons dat elkeen wat bereid is om hom in te span dit kan doen. “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”, het die apostel Paulus gesê. (Filippense 4:13, NAV; kyk ook 2 Korinthiërs 4:7; 12:9.) Dieselfde geld vir alle Christene.
Gee ag
8, 9. (a) Waarom is onverdeelde aandag en stipte konsentrasie nodig wanneer ’n mens in iemand se voetspore volg? (b) Gehoorsaamheid aan watter Bybelse raad sal voorkom dat ons van Jesus se voetspore wegdwaal?
8 Ons kan nie letterlike voetspore volg as ons nie noukeurig oplet waar ons trap nie. As ons oë dwaal—na dinge kyk wat om ons aangaan of na ander dinge—sal ons ongetwyfeld vroeër of later mistrap. Tensy ons onverdeelde aandag skenk en stip konsentreer, sal ons afdwaal van die voetspore wat ons moet volg. Dit is derhalwe altyd nodig om waaksaam te wees, veral wanneer skielike geluide of ander onverwagte dinge ons gedagtes kan aflei van die taak waarmee ons besig is.—Vergelyk Job 18:10, 11.
9 Dit geld ook in ’n figuurlike sin vir diegene wat in Jesus se voetspore volg. Jesus het sy volgelinge gewaarsku om noukeurige aandag aan hulleself te skenk sodat hulle harte nie “beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie” (Lukas 21:34). Satan gebruik hierdie daaglikse dinge wat ons aandag in beslag neem om ons ons oë van Jesus se voetspore te laat afwend. Hy laat nie op hom wag om ons onverhoeds te vang deur onverwagte omstandighede, soos teenstand, siekte of finansiële terugslae, te gebruik nie. Om te verseker dat “ons nie miskien wegdrywe nie”, moet ons “des te meer ag gee op wat ons gehoor het”, met ander woorde, ons oë stipter as tevore op Christus se voetspore vestig.—Hebreërs 2:1; kyk ook 1 Johannes 2:15-17.
Moenie afdwaal nie
10. (a) Watter gevaar bestaan wanneer verskeie stelle voetspore mekaar kruis? (b) Waarom is die gevolge ernstig wanneer die verkeerde voetspore in ’n geestelike sin gevolg word?
10 Daar kan verskeie stelle voetspore in die klam sand op ’n vol strand wees, en party voetspore kruis dalk dié wat ons volg. Talle stelle voetspore kan, ten minste op die oog af, eenders lyk. Dit is inderdaad noodsaaklik om seker te wees dat ons die regte voetspore volg! Anders kan ons mislei word om die verkeerde rigting in te slaan. In ’n geestelike sin kan dit ernstige gevolge hê. Die gevaar daarvan om voetspore te volg wat reg lyk, maar in werklikheid nie reg is nie, word getoon in die spreuk wat waarsku: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”—Spreuke 16:25.
11. Watter waarskuwing het Paulus die vroeë Christene gegee, en vir wie stel dit vandag ’n voorbeeld?
11 Weens hierdie uiters wesenlike gevaar het Paulus hom gedronge gevoel om sy broers in die vroeë Christengemeente te waarsku: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe . . . Daar [is] sommige mense . . . wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. . . . As iemand julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ’n vervloeking wees!” (Galasiërs 1:6-9). In ooreenstemming met Paulus se voorbeeld waarsku die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ons vandag teen afvalliges en valse broers wat as ’t ware valse voetspore neerlê. Ware Christene wil nie afwyk van die pad wat Christus onder God se leiding vir hulle vasgestel het nie.—Psalm 44:19.
12. (a) Hoe kan 2 Timotheüs 1:13 ons help om nie mislei te word om valse voetspore te volg nie? (b) Wat kenmerk ander evangelievorme?
12 As ons noukeurig aandag skenk aan die kenmerke van Christus se voetspore voorkom ons dat ons mislei word. Juiste kennis van Jesus, van sy leerstellings en van die manier waarop die Christengemeente funksioneer, help ons om “die patroon van gesonde woorde” te identifiseer wat ons beskerm teen diegene wat “die evangelie van Christus . . . verdraai” (2 Timotheüs 1:13, NW). Ander sogenaamde evangelievorme—in werklikheid valse voetspore—pas nie in daardie patroon van die waarheid nie. Hulle verdraai dit en werp die prent uit fokus. In plaas van fundamentele Bybelwaarhede en -beginsels op te helder, weerspreek hulle dit. Pleks van ons tot groter bedrywigheid in Jehovah se diens aan te spoor, staan hulle ’n stadiger pas voor. Hulle boodskap is nie positief nie en verheerlik nie Jehovah se naam en organisasie nie; dit is negatief, vitterig en krities. Dit is beslis nie die voetspore wat ons wil volg nie.
Behou die regte pas
13. Watter rol speel ons pas wanneer ons in iemand se voetspore volg?
13 Wanneer ons loop, word die lengte van ons treë onder andere bepaal deur die snelheid waarteen ons loop. Hoe vinniger ons loop, hoe langer is ons treë gewoonlik; hoe stadiger ons loop, hoe korter is hulle. Dit sal dus vir ons makliker wees om in iemand se letterlike voetspore te volg as ons ons pas by syne aanpas. As ons met welslae in die figuurlike voetspore van ons Leier, Jesus Christus, wil wandel, moet ons eweneens sy pas handhaaf.
14. (a) In watter opsigte handhaaf ons dalk nie Jesus se pas nie? (b) Waarom is dit dwaas om vinniger as “die getroue en verstandige dienskneg” te probeer beweeg?
14 As ons nie Christus se pas handhaaf nie, kan dit een van twee dinge beteken. Ons probeer òf vinniger beweeg en loop “die getroue en verstandige dienskneg” wat deur Jesus gebruik word om Jehovah se voorneme uit te voer vooruit of ons sloer om daardie “dienskneg” se leiding te volg (Mattheüs 24:45-47). ’n Voorbeeld van eersgenoemde situasie is sommige Christene wat in die verlede ongeduldig geraak het oor leerstellige of organisatoriese veranderinge of verfyning wat volgens hulle nodig was en lankal aangebring moes geword het. Hulle het ontevrede geraak omdat hulle gemeen het dinge nie vinnig genoeg gebeur nie en het hulle aan Jehovah se volk onttrek. Hoe dwaas en hoe kortsigtig tog! Dikwels is die einste ding wat hulle ontstel het later verander—op Jehovah se bestemde tyd.—Spreuke 19:2; Prediker 7:8, 9.
15. Hoe was koning Dawid en Jesus goeie voorbeelde van persone wat die regte pas gehandhaaf het?
15 Die verstandige weg is om te wag dat Jehovah optree eerder as om te probeer voorskryf teen watter tempo dinge behoort te gebeur. Koning Dawid van die ou tyd het_ ’n goeie voorbeeld gestel. Hy het geweier om teen koning Saul saam te span in ’n poging om die koningskap oor te neem voor dit Jehovah se vasgestelde tyd was om dit vir hom te gee (1 Samuel 24:1-15). “Die Seun van Dawid”, Jesus, het eweneens besef dat hy sou moes wag voor hy sy hemelse koningskap ten volle kon ontvang. Hy was vertroud met die profetiese woorde wat op hom van toepassing was: “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” Toe ’n groep Jode hom dus “met geweld [wou] neem om Hom koning te maak”, het Jesus gou weggegaan (Mattheüs 21:9; Psalm 110:1; Johannes 6:15). Volgens Hebreërs 10:12, 13, het Jesus sowat 30 jaar later nog vir sy koningskap gewag. Trouens, by het feitlik 19 eeue gewag voor hy as regmatige Koning van God se Koninkryk by die oprigting daarvan in 1914 gekroon is.
16. (a) Lig toe hoe ons dalk stadiger beweeg as wat ons moet. (b) Wat is die doel van Jehovah se geduld, en hoe moet ons nie daardie geduld misbruik nie?
16 Versuim om die regte pas te handhaaf, kan egter ook beteken dat ons stadiger beweeg, agterraak. Tree ons gevolglik onverwyld op wanneer God se Woord toon dat ons veranderinge in ons lewe moet aanbring? Of redeneer ons dat, aangesien God geduldig is, ons sulke veranderinge tot later kan uitstel in die hoop dat dit dan makliker sal wees? Jehovah is wel geduldig. Maar dit is nie sodat ons laks kan wees om die nodige veranderinge aan te bring nie. Hy is eerder “geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9, 15, NAV). Hoeveel beter sal dit tog wees om die psalmis na te volg wat gesê het: “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.”—Psalm 119:60.
17. Hoe hou die handhawing van die regte pas met die Koninkrykspredikingswerk verband, en watter vraag moet ons ons dus afvra?
17 As ons agterraak, kan dit ook die Koninkrykspredikingswerk raak. Volgens Mattheüs 25 is Jesus tans besig om die mensdom te oordeel en “die skape” van “die bokke” te skei. Dit word hoofsaaklik deur middel van die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” gedoen (Mattheüs 24:14; 25:31-33; Openbaring 14:6, 7). Die tyd wat afgesonder is om hierdie skeidingswerk te volbring, is noodwendig beperk (Mattheüs 24:34). Namate die beskikbare tyd verstryk, kan ons verwag dat Jesus die werk sal bespoedig. Sodoende tree hy op as ’n werktuig van God wat belowe wanneer hy van die insamelingswerk praat: “Ekself, Jehovah, sal dit op sy tyd bespoedig” (Jesaja 60:22, NW). Bespoedig ons, as God se medewerkers wat noukeurig in die voetspore van sy Seun volg, ons pas van Koninkryksverkondiging in die mate wat ons fisiese situasie en Skriftuurlike verantwoordelikhede toelaat? Velddiensrapporte toon dat miljoene van Jehovah se Getuies dit doen!
Vermy oormoedigheid, bestry mismoedigheid
18. Waarom kan iemand oormoedig word, en hoe waarsku die Bybel teen hierdie gevaar?
18 Hoe langer ons daarin volhard om in iemand anders se voetspore te volg, des te meer sal sy manier van loop vir ons ’n gewoonte word. As ons egter oorgerus raak, sal ons vroeër of later mistrap. Wanneer ons in Jesus se figuurlike voetspore volg, moet ons derhalwe besef dat die gevaar bestaan dat ons oormoedig kan raak en op onverskillige wyse op ons eie krag en vermoëns kan staatmaak omdat ons meen dat ons sy volmaakte manier van loop bemeester het. Petrus se ondervinding wat in Lukas 22:54-62 opgeteken is, dien as ’n tydige waarskuwing. Dit beklemtoon ook die juistheid van 1 Korinthiërs 10:12 wat sê: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
19. (a) Wat gebeur van tyd tot tyd met elke Christen? (Jakobus 3:2). (b) Hoe moet ons Paulus se woorde in Romeine 7:19, 24 beskou?
19 As gevolg van onvolmaaktheid sal elke Christen van tyd tot tyd mistrap. Die afwyking kan klein, skaars waarneembaar vir ander wees. Of hy kan so duidelik te kort skiet dat almal dit sal sien. In albei gevalle is dit inderdaad vertroostend om Paulus se eerlike erkentenis te onthou: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Ek, ellendige mens!” (Romeine 7:19, 24). Hierdie woorde moet natuurlik nie beskou word as ’n verskoning om verkeerd te doen nie. Dit is eerder ’n aanmoediging vir toegewyde Christene wat met onvolmaakthede stry om hulle te help volhard in hulle poging om die uitdaging om in Jesus se volmaakte voetspore te wandel die hoof te bied.
20. (a) Hoe help Spreuke 24:16 ons in ons wedloop om die lewe? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
20 “Sewe maal val die regverdige en staan weer op”, sê Spreuke 24:16. In ons wedloop om die lewe moet niemand voel asof hy móét tou opgooi nie. Hierdie wedloop is soos ’n marathon, ’n uithouwedloop, nie ’n 100-meter-naelloop nie. Die geringste misstap sal ’n naelloper waarskynlik die wedloop kos. Maar die marathonloper het tyd om op te staan en die wedloop te voltooi selfs al struikel hy. Wanneer ’n persoonlike misstap jou dus laat uitroep: “Ek, ellendige mens!”, moet jy onthou dat jy steeds tyd het om op te staan. Jy het steeds ’n kans om weer met jou Leier, Jesus Christus, in die pas te kom. Daar is geen rede om te wanhoop nie! Geen rede om tou op te gooi nie! Wees vasbeslote om, met goddelike hulp, die uitdaging om ‘noukeurig in Jesus se voetspore te volg’ met welslae die hoof te bied.—1 Petrus 2:21.
-
-
’n Volk wat in Jesus se voetspore wandelDie Wagtoring – 1988 | Mei 1
-
-
’n Volk wat in Jesus se voetspore wandel
“Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde spore gewandel nie?”—2 KORINTHIËRS 12:18.
1. Waarom is dit dikwels nie moeilik om een van Jehovah se Getuies uit te ken nie?
“AS ’N groep is hulle hoflik, verantwoordelik en doen hulle goed op skool. Dit kan nie van ander groepe gesê word nie.” Dit is wat die hoof van ’n laerskool in die Verenigde State gesê het. Van wie het by gepraat? Die kinders van Jehovah se Getuies wat leerlinge in sy skool was. Talle het inderdaad opgemerk dat Jehovah se Getuies, hulle kinders inkluis, dikwels in sekere opsigte met ander Getuies ooreenkom. Deur die jare heen het dit al hoe duideliker geword dat hulle buitengewoon verenig is wat opvattinge en gedrag betref. Dit is dus nie moeilik om die Getuies uit te ken nie.
2. Wat was ’n kenmerk van die vroeë Christengemeente, en wat het Paulus hieroor gesê?
2 Die eenheid van Jehovah se Getuies is iets buitengewoons in hierdie verdeelde wêreld. Maar dit is nie moeilik om te verstaan as ons onthou dat hulle almal in Jesus se voetspore probeer wandel nie (1 Petrus 2:21). Sulke eenheid was ook ’n kenmerk van eerste-eeuse Christene. By een geleentheid het Paulus die gemeente in Korinthe gemaan: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Korinthiërs 1:10). Paulus het ook geïnspireerde raad gegee oor hoe om persone te behandel wat nie bereid is om Christelike eenheid te handhaaf nie.—Kyk Romeine 16:17; 2 Thessalonicense 3:6.
3, 4. Hoe het Paulus die eenheid tussen hom en Titus beskryf, en waarop het hierdie eenheid berus?
3 Omstreeks die jaar 55 G.J. het Paulus Titus na Korinthe gestuur om te help met ’n insameling vir behoeftige broers in Judea en moontlik om te sien hoe die gemeente op Paulus se raad reageer. Toe Paulus later aan die Korinthiërs geskryf het, het hy Titus se onlangse besoek gemeld en gevra: “Het Titus hom dan ten koste van julle bevoordeel? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde spore gewandel nie?” (2 Korinthiërs 12:18). Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat hulle “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” gewandel het?
4 Hy het gepraat van die eenheid wat tussen hom en Titus bestaan het. Titus was af en toe Paulus se reisgenoot en hy het ongetwyfeld op hierdie manier baie van Paulus geleer. Maar die eenheid wat tussen die twee bestaan het, het op iets sterkers as dit berus. Dit het berus op hulle goeie verhouding met Jehovah en op die feit dat hulle albei navolgers van Christus was. Titus het Paulus nagevolg net soos Paulus Christus nagevolg het (Lukas 6:40; 1 Korinthiërs 11:1). Dit was derhalwe in Jesus se gees en in sy voetspore wat hulle gewandel het.
5. Wat kan van persone verwag word wat Paulus en Titus vandag navolg terwyl hulle “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” wandel?
5 Dit is gevolglik nie vreemd dat Christene van hierdie 20ste eeu, wat “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” as Paulus en Titus wandel, ongeëwenaarde eenheid geniet nie. Trouens, die verdeeldheid onder naamchristene toon dat hulle skynchristene is, wat nie in die voetspore wandel van die Leier wat hulle beweer hulle volg nie (Lukas 11:17). Hierdie treffende verskil tussen ware en naamchristene kan in verskeie opsigte toegelig word. Kom ons meld vier.
Die heiligheid van bloed
6, 7. (a) Watter regte beskouing van bloed is nodig om in Jesus se voetspore te wandel? (b) Wat is die verskil tussen Jehovah se Getuies en ander wat vandag bloedoortappings weier?
6 Omstreeks die jaar 49 G.J. het die bestuursliggaam van die eerste-eeuse gemeente ’n brief uitgestuur wat die vraag beantwoord het: Moet nie-Joodse Christene die Wet van Moses hou? Die brief het die volgende gesê: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:28, 29). Let daarop dat die onthouding van bloed onder die “noodsaaklike dinge” getel het. Om in Jesus se voetspore te wandel, sou beteken dat bloed nie mondeliks of op enige ander manier in die liggaam ingeneem word nie.
7 Hierdie beginsel is in die Christendom op flagrante wyse geskend deur die gebruik om bloedoortappings toe te dien. In onlangse jare het ’n aantal mense weliswaar bewus geword van die gesondheidsgevare van bloedoortappings en dit om mediese redes geweier. Dit is veral die geval sedert talle Vigs as gevolg van bloedoortappings opgedoen het. Maar wie respekteer die heiligheid van bloed uit respek vir God se wet en doen dit as ’n groep? Wie dink die dokter outomaties is ’n pasiënt as hy ’n oortapping weier? Sê die dokter nie gewoonlik: ‘Jy is seker een van Jehovah se Getuies’ nie?
8. Hoe is ’n Getuie in Italie geseën vir haar vasbeslotenheid om God se wet in hierdie opsig te hou?
8 Antonietta woon in Italië. Sowat agt jaar gelede was sy baie siek, en haar bloedtelling was so laag dat dokters daarop aangedring het dat oortappings nodig was om haar lewe te red. Sy het geweier en is deur dokters sowel as familielede teëgestaan. Selfs haar twee seuntjies het gepleit: “Mamma, as Mamma ons regtig liefhet, sal Mamma die bloed aanvaar.” Maar Antonietta was vasbeslote om getrou te bly, en gelukkig het sy nie gesterf nie. Haar toestand was nietemin so ernstig dat ’n dokter gesê het: “Ons weet nie waarom sy nog lewe nie.” Maar toe sy behandeling begin ontvang het waarteen sy geen beswaar gehad het nie, het sy so vinnig beter geword dat ’n ander dokter gesê het: “Ek kan dit nie glo nie—jy kon eenvoudig nie so gou herstel het nie, selfs al het ons die hele dag bloed in jou ingepomp.” Sy is tans ’n gewone pionier, en haar twee seuns, wat nou 12 en 14 is, maak goeie vooruitgang in die waarheid. Antonietta het moedig daardie ‘noodsaaklike ding’, die heiligheid van bloed, onderhou. Al Jehovah se Getuies huldig dieselfde beskouing terwyl hulle in Jesus se voetspore wandel.
Goeie sedes
9. Wat is nog ’n ‘noodsaaklike ding’ as iemand in Jesus se voetspore wil volg, en wat gebeur met diegene wat versuim om daarby te hou?
9 Nog ’n ‘noodsaaklike ding’ wat in daardie brief vanaf die eerste-eeuse bestuursliggaam beklemtoon is, was dat ons ons “onthou . . . van hoerery”. In sy eerste brief aan die Korinthiërs het Paulus hieroor uitgewei en gesê: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:10). Christene help mense wat Jehovah wil dien om hulle van hierdie onrein gebruike vry te maak. Selfs lede van die gemeente wat daardeur verstrik raak, word gehelp om hulleself te reinig as hulle omdraai en hulle bekeer (Jakobus 5:13-15). Maar as enige Christen in sulke smerige gebruike verval en weier om hom te bekeer, is ’n eenvoudige Bybelreël van toepassing. Paulus het onder goddelike inspirasie gesê: “Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan by as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is . . . nie. . . . Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”—1 Korinthiërs 5:11, 13.
10, 11. (a) Wie is verantwoordelik vir die lae sedelike standaarde in die Christendom, en waarom? (b) Hoe toon die ondervinding van ’n man in die Filippyne dat Jehovah se Getuies as ’n groep hoë sedelike standaarde handhaaf?
10 Ondanks hierdie duidelike leerstelling is die Christendom deurtrek van onsedelikheid. Geestelikes wat die goddelike standaarde verwater asook diegene wat lippehulde aan Bybelstandaarde bring, maar versuim om dit moedig in hulle gemeentes toe te pas, is verantwoordelik vir hierdie situasie. Maar ook hierin wandel Jehovah se Getuies as ’n volk in Jesus se voetspore.
11 Beskou Jose van die Filippyne. Op 17 was by reeds bekend as ’n skoorsoeker en ’n dobbelaar. Hy was dikwels dronk, het ’n onsedelike lewe gelei en het herhaaldelik in die tronk beland vir diefstal. Toe het hy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. “Die studie van die Bybel het my lewe heeltemal verander”, sê hy. “Ek drink en rook nie meer nie, en ek het geleer om my humeur te beteuel. Ek het nou ’n skoon gewete, aangesien ek net een vrou het. Ek het ook die respek van my bure gewin, wat my voorheen ‘Jose, die berugte’ en ‘Jose, die spook’ genoem het. Nou noem hulle my ‘Jose, die Jehovahsgetuie’. My seun en my nefie is bedieningsknegte in die gemeente waar ek tans as ouere man en gewone pionier dien.” Jose en miljoene ander Christengetuies van Jehovah wandel as sedelik rein Christene in Jesus se voetspore.
Neutraliteit
12. Watter gesindheid van ware Christene het Jesus beklemtoon in sy gebed wat in Johannes hoofstuk 17 opgeteken is?
12 In die lang gebed wat Jesus gedoen het die laaste aand wat hy saam met sy dissipels was, het hy nog ’n manier gemeld waarop sy volgelinge ‘in sy voetspore sou wandel’. Hy het van sy dissipels gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Dit beteken dat Christene neutraal is. In plaas van aan die politiek of nasionale botsings deel te neem, vertel hulle ander van God se Koninkryk, wat die enigste oplossing vir hierdie wêreld se probleme is.—Mattheüs 6:9, 10; Johannes 18:36.
13, 14. (a) Hoe verskil die Christendom van Jehovah se Getuies wat die neutraliteitskwessie betref? (b) Hoe het die politieke neutraliteit van ’n Getuie in Japan die hele broederskap tot voordeel gestrek?
13 Die meeste lidmate van die Christendom, vir wie volksherkoms gewoonlik belangriker as kerkverband is, het hierdie beginsel ten opsigte van neutraliteit vergeet. Sindikaatrubriekskrywer Mike Royko wys daarop dat dit “Christene” nog nooit “teen die bors gestuit [het] om oorloë teen ander Christene te voer nie”, en by voeg by: “As dit die geval was, sou die meeste van die hewigste oorloë in Europa nooit plaasgevind het nie.” Dit is ’n welbekende feit dat Jehovah se Getuies streng Christelike neutraliteit ten tyde van oorlog handhaaf. Maar as navolgers van Jesus is hulle ook neutraal ten opsigte van maatskaplike en politieke geskille. Niks versteur derhalwe hulle merkwaardige wêreldwye eenheid nie.—1 Petrus 2:17.
14 Hulle neutraliteit lewer soms onverwagte resultate. In die Tsoegaroe-distrik van Noord-Japan word verkiesings byvoorbeeld baie ernstig opgeneem. Maar Tosjio, onderbestuurder in die finansiële afdeling van ’n plaaslike regeringskantoor, het om gewetensredes geweier om by die burgemeester se herverkiesingsveldtog betrokke te raak. Dit het daartoe gelei dat by van sy amp onthef is en in ’n lae posisie in die rioolafdeling aangestel is. ’n Jaar later is die burgemeester egter weens wanpraktyke in hegtenis geneem en was hy verplig om te bedank. ’n Nuwe burgemeester is gekies. Toe hy van Tosjio se demosie hoor, het by hom weer in ’n hoe administratiewe amp aangestel, en dit het Tosjio se Christenbroers tot seën gestrek. Hoe? Tosjio verduidelik dat dit baie moeilik is om toestemming te verkry om sportsale vir byeenkomste te gebruik wat nie sportbyeenkomste is nie. Maar in sy huidige posisie “kon Jehovah my gebruik”—om Tosjio se eie woorde aan te haal—“om die gebruik van sulke sportsale vir drie streekbyeenkomste en vier kringbyeenkomste te bewerkstellig”. Hy sluit af: “Mits ons getrou bly, sal Jehovah ondenkbare maniere oopstel om ons te gebruik.”
In die huis
15. Hoe het Jesus ’n model vir sy navolgers gelaat wat gesinsbetrekkinge betref?
15 Nog ’n gebied waarop Christene ‘in Jesus se voetspore volg’, is in die huis. Die Bybel bevestig Jesus se voorbeeld as die model vir gesinsbetrekkinge wanneer dit sê: “[Wees] aan mekaar onderdanig . . . in die vrees van [Christus]. Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente . . . Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hulle eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.”—Efesiërs 5:21-25, vgl. NW.
16, 17. (a) Watter slegte situasie bestaan in die Christendom met betrekking tot gesinsbetrekkinge? (b) Alleenlik hoe kan gesinsbetrekkinge verbeter word, soos die ondervinding van ’n egpaar in Brasilië toon?
16 Die Christendom ignoreer vandag oor die algemeen hierdie raad en is dus vol verbroke gesinne. Verbroke huise is algemeen en botsings tussen ouer en kind gaan dikwels baie diep. “Die gesin is besig om inmekaar te stort”, het ’n professor in die sielkunde ’n paar jaar gelede gesê. Kindersielkundiges, huweliksraadgewers en psigiaters slaag net in ’n mate daarin om bedreigde gesinne bymekaar te hou. Maar Jehovah se Getuies probeer hard om Bybelbeginsels toe te pas en is bekend vir bogemiddeld goeie gesinsbetrekkinge.
17 Aldemar was byvoorbeeld ’n luitenant in Brasilië se militêre polisie en het gesinsprobleme ondervind. Sy vrou het hom verlaat en wou ’n geregtelike skeiding hê. Hy het straf begin drink en selfs selfmoord probeer pleeg. Later het sy familielede, wat Jehovah se Getuies is, met hom oor die Bybel gepraat. Hy het gehou van wat hy hoor en het begin studeer. Omdat hy sy lewe in ooreenstemming wou bring met die neutrale standpunt waarvoor Jehovah se Getuies bekend is, het hy om ontslag uit die leër gevra. Aldemar en sy vrou het hulle huweliksprobleme opgelos deur die Bybelbeginsels toe te pas waarvan Aldemar geleer het. Vandag volg hulle in die voetspore van Jesus en dien hulle Jehovah saam as gewone pioniers.
Gehoorsaam as gevolg van liefde
18. (a) Waarom ontvang Jehovah se Getuies vandag geestelike seëninge? (b) Hoe word Jesaja 2:2-4 nou vervul?
18 Dit is duidelik dat Jehovah se Getuies eensgesind in die gees en in die voetspore van Christus Jesus wandel. As individue en as ’n groep ontvang hulle geestelike seëninge daarvoor (Psalm 133:1-3). Die ooglopende bewyse van goddelike seën op hulle het ’n menigte opregte mense beweeg om in ooreenstemming met die profesie in Jesaja 2:2-4 op te tree. In net die afgelope vyf jaar het 987 828 die nodige stappe vir toewyding gedoen en hulle toe in water laat doop. Jehovah het liefdevol geen arbitrêre beperking gestel op die aantal mense wat dit kan doen voor “die groot verdrukking” uitbreek nie!—Openbaring 7:9, 14.
19. (a) Watter tasbare voordele kan uit diens aan Jehovah spruit, en hoe moet dit beskou word? (b) Wat is die vernaamste rede waarom ons Jehovah se gebooie gehoorsaam?
19 Soos die bogenoemde ondervindinge toon, gaan die geestelike seëninge wat God se volk geniet dikwels met tasbare voordele gepaard. Omdat hulle nie rook nie, sedelike lewens lei en die heiligheid van bloed respekteer, kan hulle byvoorbeeld voorkom dat hulle sekere kwale opdoen. Of omdat hulle in ooreenstemming met die waarheid lewe, kan hulle finansiële of maatskaplike situasie of hulle gesinslewe verbeter. Enige sodanige tasbare voordele word as ’n seën van Jehovah beskou, en dit bewys dat Jehovah se wette prakties is. Maar die moontlikheid dat sulke praktiese voordele geniet kan word, is nie op sigself die vernaamste rede waarom hulle God se wette gehoorsaam nie. Ware Christene gehoorsaam Jehovah omdat hulle hom liefhet, omdat hy hulle aanbidding verdien en omdat die uitvoering van sy wil die enigste regte weg is (1 Johannes 5:2, 3; Openbaring 4:11). Dit is Satan wat beweer dat mense God bloot om selfsugtige voordele dien.—Kyk Job 1:9-11; 2:4, 5.
20. Hoe wandel Jehovah se Getuies vandag in dieselfde gees as drie getroue Hebreeuse Getuies van die ou tyd?
20 Hedendaagse getuies van Jehovah wandel in dieselfde gees as die drie getroue, jong Hebreeuse getuies van Daniël se dag. Toe hulle gedreig is dat hulle in ’n vuuroond gegooi sou word, het hulle gesê: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie [dit wil sê, al laat hy ons sterf], moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie” (Daniël 3:17, 18, NAV). Afgesien van onmiddellike, tasbare voordele of gevolge, sal Jehovah se Getuies voortgaan om noukeurig in Jesus se voetspore te volg, in die wete dat die ewige lewe in God se nuwe wêreld verseker is! As ’n verenigde volk sal hulle voortgaan om “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” te wandel, kom wat wil!
-