-
Henog het met God gewandel in ’n goddelose wêreldDie Wagtoring – 2001 | September 15
-
-
Profesie teen die goddeloses
Dit is moeilik genoeg om hoë standaarde te handhaaf wanneer jy deur goddelose mense omring word. Maar Henog het boonop ’n onverbiddelike oordeelsboodskap teen die goddeloses oorgedra. Henog het onder leiding van God se gees profeties verklaar: “Kyk! Jehovah het met sy heilige miriades gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het.”—Judas 14, 15.
Watter uitwerking sou daardie boodskap op verdorwe ongelowiges hê? Dit is redelik om te veronderstel dat sulke skerp woorde Henog ongewild gemaak het en moontlik spot, smaad en dreigemente uitgelok het. Sommige wou hom seker eens en vir altyd stilmaak. Henog is egter nie afgeskrik nie. Hy het geweet wat met die regverdige Abel gebeur het, en soos hy was Henog vasbeslote om God te dien, wat ook al gebeur.
-
-
Henog het met God gewandel in ’n goddelose wêreldDie Wagtoring – 2001 | September 15
-
-
[Venster op bladsy 30]
Haal die Bybel uit die boek Henog aan?
Die boek Henog is ’n apokriewe en pseudepigrafiese geskrif. Dit word valslik aan Henog toegeskryf. Dit is waarskynlik êrens gedurende die tweede en eerste eeu v.G.J. geskryf en is ’n versameling vergesogte en onhistoriese Joodse mites, klaarblyklik die resultaat van verklarende uitweidings oor die vlugtige verwysing na Henog in Genesis. Dit alleen is genoeg rede vir liefhebbers van God se geïnspireerde Woord om dit te verwerp.
In die Bybel bevat slegs die boek Judas Henog se profetiese woorde: “Kyk! Jehovah het met sy heilige miriades gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het” (Judas 14, 15). Talle geleerdes voer aan dat Henog se profesie teen sy goddelose tydgenote regstreeks uit die boek Henog aangehaal is. Is dit moontlik dat Judas ’n onbetroubare apokriewe boek as sy bron gebruik het?
Hoe Judas van Henog se profesie geweet het, word nie in die Skrif geopenbaar nie. Dalk het hy bloot ’n algemene bron aangehaal, ’n betroubare oorlewering uit die gryse verlede. Paulus het blykbaar iets soortgelyks gedoen toe hy Jannes en Jambres by name genoem het as die andersins anonieme towenaars aan Farao se hof wat Moses teëgestaan het. As die skrywer van die boek Henog toegang tot so ’n eertydse bron gehad het, waarom dan nie ook Judas nie?a—Exodus 7:11, 22; 2 Timoteus 3:8.
Hoe Judas die inligting oor Henog se boodskap aan die goddeloses gekry het, is nie werklik van belang nie. Die feit dat Judas onder Goddelike inspirasie geskryf het, getuig van die betroubaarheid daarvan (2 Timoteus 3:16). God se heilige gees het gekeer dat hy enigiets sê wat nie waar is nie.
[Voetnoot]
a Die dissipel Stefanus het ook inligting verskaf wat nêrens in die Hebreeuse Geskrifte voorkom nie. Dit het betrekking gehad op Moses se Egiptiese opvoeding, asook die feit dat hy 40 jaar oud was toe hy uit Egipte gevlug het, dat hy 40 jaar lank in Midian gebly het en dat ’n engel ’n rol daarin gespeel het om die Mosaïese Wet oor te dra.—Handelinge 7:22, 23, 30, 38.
-