Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • God se oordeelsdag—Die vreugdevolle uitslag!
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • 6. (a) Watter skare sien Johannes, en wat word aangedui deur die woorde “groot en klein”? (b) Hoe sal die miljoene der miljoene in God se geheue ongetwyfeld opgewek word?

      6 Maar Johannes sien ’n skare wat baie talryker is as die oorlewende groot menigte. Dit is ’n skare wat duisendmiljoene sal tel! “En ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en boekrolle is oopgemaak” (Openbaring 20:12a). “Groot en klein” behels die vooraanstaande sowel as die minder vooraanstaande mense wat gedurende die afgelope 6 000 jaar op hierdie aarde gelewe en gesterwe het. In die Evangelie wat die apostel Johannes kort ná Openbaring geskryf het, het Jesus van die Vader gesê: “Hy het hom [Jesus] gesag gegee om te oordeel, omdat hy die Seun van die mens is. Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:27-29). Wat ’n ontsaglike projek—om die sterftes en begrafnisse deur die hele geskiedenis heen ongedaan te maak! Hierdie miljoene der miljoene in God se geheue sal ongetwyfeld met verdrag opgewek word sodat die groot menigte—wat baie min is in vergelyking met hulle—probleme die hoof sal kan bied wat moontlik sal ontstaan omdat verresenes dalk aanvanklik geneig sal wees om hulle ou lewenstyl, met sy vleeslike swakhede en gesindhede, te volg.

      Wie word opgewek en geoordeel?

      7, 8. (a) Watter boekrol word oopgemaak, en wat vind daarna plaas? (b) Vir wie sal daar geen opstanding wees nie?

      7 Johannes voeg by: “Maar ’n ander boekrol is oopgemaak; dit is die boekrol van die lewe. En die dooies is geoordeel na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade. En die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee, en elkeen van hulle is volgens hulle dade geoordeel” (Openbaring 20:12b, 13). Inderdaad ’n asemrowende toneel! ‘Die see, die dood en Hades’ speel elkeen ’n rol, maar let daarop dat hierdie woorde nie onderling uitsluitend is nie.a Toe Jona in die buik van ’n vis en derhalwe in die midde van die see was, het hy gesê dat hy in Sjeool, of Hades, is (Jona 2:2). As iemand in die greep van Adamitiese dood vasgehou word, is hy waarskynlik ook in Hades. Hierdie profetiese woorde gee ’n sterk versekering dat niemand oorgesien sal word nie.

  • God se oordeelsdag—Die vreugdevolle uitslag!
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Die boekrol van die lewe

      11. (a) Wat is “die boekrol van die lewe”, en wie se name is in hierdie boekrol opgeteken? (b) Waarom sal die boekrol van die lewe gedurende die Duisendjarige Heerskappy oopgemaak word?

      11 Johannes praat van “die boekrol van die lewe”. Dit is ’n lys van dié wat in aanmerking kom om die ewige lewe van Jehovah te ontvang. Die name van die gesalfde broers van Jesus, van die groot menigte en van getroue manne van die ou tyd, soos Moses, is in hierdie boekrol opgeteken (Eksodus 32:32, 33; Daniël 12:1; Openbaring 3:5). Op hierdie stadium is nie een van die ‘onregverdige’ verresenes se name al in die boekrol van die lewe nie. Daarom sal die boekrol van die lewe gedurende die Duisendjarige Heerskappy oopgemaak word sodat die name van ander wat aan die vereistes voldoen, daarin geskryf kan word. Diegene wie se name nie in die boekrol, of boek, van die lewe geskryf word nie, word “in die poel van vuur geslinger”.—Openbaring 20:15; vergelyk Hebreërs 3:19.

      12. Wat sal bepaal of ’n persoon se naam in die geopende boekrol van die lewe geskryf word, en hoe het Jehovah se aangestelde Regter die voorbeeld gestel?

      12 Wat sal dan bepaal of ’n persoon se naam gedurende daardie tyd in die geopende boekrol van die lewe geskryf word? Die sleutelfaktor sal dieselfde wees as in die dae van Adam en Eva: gehoorsaamheid aan Jehovah. Soos die apostel Johannes aan geliefde mede-Christene geskryf het: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:4-7, 17). Wat gehoorsaamheid betref, het Jehovah se aangestelde Regter die voorbeeld gestel: “Hoewel [Jesus] ’n Seun was, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het; en nadat hy tot volmaaktheid gebring is, het hy verantwoordelik geword vir die ewige redding van almal wat hom gehoorsaam.”—Hebreërs 5:8, 9.

      Ander boekrolle word oopgemaak

      13. Hoe moet verresenes hulle gehoorsaamheid toon, en watter beginsels moet hulle naleef?

      13 Hoe moet hierdie verresenes hulle gehoorsaamheid toon? Jesus self het op die twee groot gebooie gewys en gesê: “Die eerste is: ‘Hoor, o Israel, Jehovah ons God is een Jehovah, en jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Markus 12:29-31). Daar is ook Jehovah se gevestigde beginsels wat hulle moet naleef, soos om diefstal, leuens, moord en onsedelikheid te verwerp.—1 Timoteus 1:8-11; Openbaring 21:8.

      14. Watter ander boekrolle word oopgemaak, en wat bevat hulle?

      14 Maar Johannes het pas tevore ander boekrolle gemeld wat gedurende die Duisendjarige Heerskappy oopgemaak sal word (Openbaring 20:12). Watter boekrolle sal dit wees? Jehovah het soms spesifieke instruksies vir bepaalde situasies gegee. Byvoorbeeld, in Moses se dag het hy ’n uitvoerige reeks wette voorsien wat vir die Israeliete die lewe beteken het as hulle dit gehoorsaam het (Deuteronomium 4:40; 32:45-47). Gedurende die eerste eeu is nuwe instruksies gegee om getroues te help om Jehovah se beginsels onder die Christelike stelsel van dinge na te leef (Matteus 28:19, 20; Johannes 13:34; 15:9, 10). Nou sê Johannes dat die dooies “geoordeel [sal word] na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade”. Die oopmaak van hierdie boekrolle sal dus blykbaar Jehovah se uitvoerige vereistes vir die mensdom gedurende die duisend jaar bekend maak. Deur die voorskrifte en gebooie van hierdie boekrolle in hulle lewens toe te pas, sal gehoorsame mense hulle dae kan verleng en uiteindelik die ewige lewe kan verkry.

      15. Watter soort onderrigtingsprogram sal gedurende die opstanding nodig wees, en hoe sal die opstanding waarskynlik plaasvind?

      15 Wat ’n omvattende program van teokratiese onderrigting sal tog nodig wees! In 2005 het Jehovah se Getuies wêreldwyd gemiddeld 6 061 534 Bybelstudies op verskillende plekke gehou. Maar gedurende die opstanding sal daar ongetwyfeld miljoene der miljoene studies aan die hand van die Bybel en die nuwe boekrolle gehou word! Al die lede van God se volk sal onderrigters moet word en hulle moet inspan. Namate die verresenes vorder, sal hulle ongetwyfeld aan hierdie ontsaglike onderrigtingsprogram deelneem. Die opstanding sal waarskynlik só plaasvind dat dié wat lewe, die vreugde sal smaak om voormalige gesinslede en kennisse te verwelkom en te onderrig, wat dan op hulle beurt ander sal verwelkom en onderrig. (Vergelyk 1 Korintiërs 15:19-28, 58.) Die meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah wat die waarheid vandag ywerig verkondig, lê ’n goeie grondslag vir die voorregte wat hulle hoop om gedurende die opstanding te ontvang.—Jesaja 50:4; 54:13.

      16. (a) Wie se name sal nie in die boekrol, of boek, van die lewe geskryf word nie? (b) Wie se opstanding sal ’n opstanding “van die lewe” wees?

      16 Met betrekking tot die aardse opstanding het Jesus gesê dat ‘dié wat goeie dinge gedoen het, uitkom tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het, tot ’n opstanding van oordeel’. Hier word “lewe” teenoor “oordeel” gestel, wat toon dat die verresenes wat “veragtelike dinge beoefen het” nadat hulle in die geïnspireerde Skrif en boekrolle onderrig is, as onwaardig vir die lewe beoordeel word. Hulle name sal nie in die boekrol, of boek, van die lewe geskryf word nie (Johannes 5:29). Dit sal ook geld vir enigiemand wat voorheen getrou was, maar wat gedurende die Duisendjarige Heerskappy om die een of ander rede afvallig word. Name kan uitgevee word (Eksodus 32:32, 33). Daarenteen sal dié wat gehoorsaam is aan die dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, hulle name in die geskrewe verslag, die boekrol van die lewe, hou en bly lewe. Vir hulle sal die opstanding ’n opstanding “van die lewe” wees.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel