-
Hou vas aan Jesus se naamOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
‘Verborge manna en ’n wit klippie’
17. Watter beloning wag op gesalfde Christene wat “oorwin”, en wat moes die Christene in Pergamum weerstaan?
17 Daar wag ’n wonderlike beloning op almal wat ag slaan op Jesus se raad, wat onder leiding van Jehovah se heilige gees gegee word. Luister! “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê: Aan hom wat oorwin, sal ek van die verborge manna gee, en ek sal hom ’n wit klippie gee, en op die klippie staan ’n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe die een wat dit ontvang” (Openbaring 2:17). Die Christene in Pergamum word dus, soos die Christene in Smirna, aangespoor om te “oorwin”. As hulle suksesvol wil wees, moet diegene in Pergamum, waar die troon van Satan is, afgodediens vermy. Hulle moet die onsedelikheid, die sektarisme en die afvalligheid wat met Balak, Bileam en die sekte van Nikolaus verband hou, weerstaan. As hulle dit doen, sal daardie gesalfde Christene genooi word om van “die verborge manna” te eet. Wat beteken dit?
18, 19. (a) Wat was die manna wat Jehovah aan die Israeliete voorsien het? (b) Watter manna was verborge? (c) Wat word deur die eet van die verborge manna afgebeeld?
18 In Moses se dag het Jehovah manna voorsien om die Israeliete gedurende hulle reis deur die wildernis te voed. Daardie manna was nie verborge nie, want dit het elke oggend—behalwe op die Sabbat—wonderdadig verskyn, soos ’n vlokkerige ryp wat die aarde bedek. Dit was ’n goddelike voorsiening om die Israeliete aan die lewe te hou. Jehovah het Moses beveel om “in al [Israel se] geslagte” van hierdie “brood” as aandenking in ’n goue kruik in die heilige verbondsark te hou.—Eksodus 16:14, 15, 23, 26, 33; Hebreërs 9:3, 4.
19 Wat ’n gepaste simbool! Hierdie manna was in die Allerheiligste van die tabernakel verberg, waar die wonderdadige lig wat bokant die Ark se deksel geskyn het, die teenwoordigheid van Jehovah afgebeeld het (Eksodus 26:34). Niemand mag daardie heilige plek binnegegaan het om die verborge manna te eet nie. Maar Jesus het gesê dat sy gesalfde volgelinge wat oorwin, “die verborge manna” sou eet. Soos Christus voor hulle sal hulle ingaan, “nie . . . in ’n heiligdom wat met hande gemaak is, wat ’n kopie van die werklikheid is nie, maar in die hemel self” (Hebreërs 9:12, 24). By hulle opstanding beklee hulle hulle met onverderflikheid en onsterflikheid—’n wonderlike voorsiening van Jehovah, afgebeeld deur die feit dat die onbederfbare “verborge manna” aan hulle gegee word. Hoe bevoorreg is hierdie groepie oorwinnaars tog!—1 Korintiërs 15:53-57.
20, 21. (a) Wat word gesimboliseer deur die feit dat gesalfde Christene ’n wit klippie ontvang? (b) Watter hoop koester die groot menigte, aangesien daar net 144 000 wit klippies is?
20 Hulle ontvang ook “’n wit klippie”. In Romeinse howe is klippies gebruik wanneer ’n oordeel gevel is.b ’n Wit klippie het vryspraak beteken, terwyl ’n swart klippie veroordeling, dikwels tot die dood, beteken het. Die feit dat Jesus “’n wit klippie” aan die Christene in Pergamum gee, sou aandui dat hy hulle onskuldig, suiwer en rein bevind. Maar Jesus se woorde het moontlik ’n verdere betekenis. In Romeinse tye is klippies ook as toegangskaartjies tot belangrike geleenthede gebruik. Die wit klippie kan dus dui op iets baie besonders vir die gesalfde Christen wat oorwin—toegang tot ’n geëerde plek in die hemel tydens die huwelik van die Lam. Net 144 000 sulke klippies word voorsien.—Openbaring 14:1; 19:7-9.
21 Beteken dit dat jy buite rekening gelaat word as jy een van die groot menigte medeaanbidders is? Glad nie! Hoewel jy nie die wit klippie ontvang wat toegang tot die hemel verleen nie, kan jy, as jy volhard, uit die groot verdrukking kom om ’n aandeel te hê aan die vreugdevolle werk om die Paradys op aarde te herstel. Verrese getroues uit voor-Christelike tye en lede van die ander skape wat korter gelede gesterf het, sal hierdie werk saam met jou doen. Uiteindelik sal al die ander vrygekoopte dooies begunstig word met ’n opstanding tot lewe op ’n paradysaarde.—Psalm 45:16; Johannes 10:16; Openbaring 7:9, 14.
22, 23. Wat is die betekenis van die naam wat geskrywe staan op die klippie wat aan gesalfde Christene gegee word, en watter aansporing behoort dit te gee?
22 Wat is die nuwe naam wat op die klippie geskrywe staan? ’n Naam is ’n manier om ’n persoon te identifiseer en hom van ander te onderskei. Hierdie gesalfde Christene ontvang die klippie nadat hulle hulle aardse loopbaan as oorwinnaars voltooi het. Dit is derhalwe duidelik dat die naam op die klippie verband hou met hulle voorreg om in die hemel met Jesus verenig te word—’n uiters intieme posisie van koninklike diens wat slegs deur dié wat die hemelse Koninkryk beërf, ten volle waardeer en geniet sal word. Dit is dus ’n naam, of ’n ampsbetiteling, “wat niemand ken nie, behalwe die een wat dit ontvang”.—Vergelyk Openbaring 3:12.
23 Wat ’n aansporing is dit tog vir die Johannes-klas om te “hoor wat die gees vir die gemeentes sê” en dit toe te pas! En hoe spoor dit tog hulle metgeselle, die groot menigte, aan om getrou saam met hulle te dien terwyl hulle hulle kameraadskap hier op die aarde kan geniet en Jehovah se Koninkryk saam met hulle kan bekend maak!
-
-
Hou vas aan Jesus se naamOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
[Prente op bladsy 45]
’n Hoeveelheid manna is in die verbondsark verberg. Vir gesalfdes wat oorwin, beteken die feit dat simboliese verborge manna aan hulle gegee word, dat hulle onsterflikheid ontvang
[Prent op bladsy 45]
Die wit klippie is vir dié wat toegang tot die huwelik van die Lam verkry
-