Engeleboodskappe vir ons dag
“God . . . het sy engel uitgestuur en dit . . . in tekens . . . meegedeel.”—OPENBARING 1:1, NW.
1. Watter misverstand is daar aangaande die naam Apokalips, en wat onthul Openbaring omtrent die toekoms?
APOKALIPS. Hoe dikwels is daardie naam tog nie al in hierdie 20ste eeu gehoor nie—maar hoe jammerlik misverstaan! In die Bybelse sin het dit nie betrekking op die uitwissing van die hele mensdom in ’n kernslagting nie. Hierdie Griekse woord beteken eerder “ontsluiering”. Deur profetiese beelde ontsluier die Bybelboek Apokalips, of Openbaring, ontwikkelinge wat ’n klimaks bereik wanneer ’n tydperk van ewige geluk vir die mensdom aanbreek. Jesus se apostel Johannes lei Openbaring dus met hierdie woorde in: “[Gelukkig] is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die [bestemde] tyd is naby.”—Openbaring 1:3, vgl. NW.
2, 3. Waarom is hierdie wêreld so ongelukkig, en wat is Jehovah voornemens om te doen?
2 Die hedendaagse wêreld is nie gelukkig nie. Die rede vir sy ongelukkigheid word gemeld in ’n lied wat Moses sowat 3 460 jaar gelede gekomponeer het: “Hulle het van hulle kant verderflik gehandel; hulle is nie [God se] kinders nie, die gebrek lê by hulleself. ’n Krom en verdraaide geslag!” (Deuteronomium 32:5, NW). Hoe gepas beskryf daardie woorde tog nie die hedendaagse geslag, met hulle hoogs verdraaide en verwronge waardes nie! Die voorwoord van World Military and Social Expenditures 1987-88 sê byvoorbeeld ronduit: “Die lewe van alle nasies word deur die wapenwedloop verwring. Die Verenigde State en die Sowjet-Unie bestee saam ongeveer [R3,75-miljard] per dag aan militêre verdediging. Tog is die Verenigde State, wat kindersterfte betref, agttiende onder alle nasies, die USSR ses-en-veertigste. Die ontwikkelingslande bestee byna vier keer meer aan wapens as aan gesondheidsorg vir hulle mense. En tog is honderdmiljoene in daardie lande honger; 20 persent van hulle kinders sterf voor hulle vyfde verjaardag.”
3 Ander faktore vererger hierdie verderflike weg—die sedebederf en die gesinsverbrokkeling, die misdadigheid en terreur wat hoogty vier op die aarde, die liefdeloosheid en wetteloosheid van die huidige geslag. Hoe bly kan ons tog nie wees dat Jehovah voornemens is “om die verderwers van die aarde te verderf” nie! (Openbaring 11:18). Die Bybelboek Openbaring beskryf in ’n reeks van 16 visioene in aangrypende besonderhede hoe hy dit sal uitvoer.
“Engele” en “tekens”
4. Watter rol speel engele in Openbaring, en hoe beeld die visioene die prominentste engel uit?
4 Openbaring werp lig op die Bybel se eerste profesie, in Genesis 3:15, en toon hoe vyandskap tussen Satan en God se gemalin-organisasie, en tussen hulle twee ‘sade’, beëindig word. Dit onthul Jehovah se oordeel oor sy vyande en oor diegene wat hom liefhet en sy soewereiniteit ondersteun. Openbaring word deur ’n engel “in tekens” aan Johannes oorgedra. Ander engele, of boodskappers, het ’n aandeel in die bekendmaking en uitbeelding van daardie tekens. Die prominentste engel word in Openbaring 1:5 bekendgestel as “Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde”. Die “tekens”, of visioene, beeld hom ook uit as ’n “leeu”, as ’n “lam”, as “Migael” en etlike kere as ’n magtige engel.—Openbaring 5:5, 13; 9:1, 11; 10:1; 12:7; 18:1.
5. Wat bevat die eerste visioen van Openbaring, en hoe is ons daarby betrokke?
5 Die eerste visioen, in Openbaring 1:10–3:22, bevat besielende boodskappe wat die verheerlikte Jesus oordra aan die “engele”, of opsieners, van sewe Asiatiese gemeentes wat die hele, wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies in “die dag van die Here” afbeeld. Die boodskappe is dus vir ons vandag! Ons moet ywerig wees om te “hoor wat die Gees aan die gemeentes sê”, want hierdie waarskuwings en vermanings is vir ons bemoediging, sodat ons getrou kan wees—goedgekeur vanweë ons dade en ons “liefde en diens en geloof en . . . lydsaamheid”.—Openbaring 1:10; 2:7, 10, 19.
6. Hoe kan ons baat vind by elk van die boodskappe wat aan die sewe Asiatiese gemeentes gestuur is?
6 Soos die gemeente in Efese het ons ons dalk lojaal ingespan en die dade van sektariese afvalliges gehaat, maar as ons eie liefde enigsins verflou het, moet ons berouvol ons eerste liefde, en die vurige geesdrif daarvan, weer laat ontvlam! Laat ons, soos die geestelik ryk Christene in Smirna, onbevrees na die beloning strewe en indien nodig ‘tot die dood toe getrou wees’. Soos diegene wat in Pergamus deur Satan beproef is, moet ons berou toon oor enige vorige afgodediens, onsedelikheid of sektevorming. Diegene in Thiatire is vermaan om op hulle hoede te wees teen soortgelyke verlokkings, veral invloede soos dié van Isebel. Ons moet ook op ons hoede wees! Almal wat, soos die Christene in Sardis, geestelik dood geword het, moet ontwaak voordat dit te laat is. ’n Geopende deur van diens word voor ons gestel, soos dit voor die Filadelfiërs gestel is; mag ons krag hê om in die uur van beproewing te oorwin, soos hulle oorwin het! As enige van ons soos die Laodicense lou geword het, moet ons bewus word van ons geestelike naaktheid en berou toon. Jesus staan by die deur en klop. Mag ons almal hom verwelkom en in ons 55 000 gemeentes oor die hele wêreld ’n voortgesette geestelike maaltyd saam met hom nuttig!—Openbaring 1:11; 2:7, 10, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22.
God se troon, ’n boekrol en ’n vraag
7. Watter lofliedere word in die tweede visioen gesing, en hoe reageer jy daarop?
7 In die tweede visioen sien Johannes Jehovah se glorieryke hemelse troon. Ons luisterryke God verskyn te midde van oortreffende prag en word deur vier gerubs, skares engele en die verrese Christenoorwinnaars bedien. Hoe besielend is hulle lofiied tog nie: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape”! Jehovah gee ’n boekrol aan Hom wat waardig is om dit oop te maak—die Leeu uit die stam van Juda, die geslagte Lam wat ons Verlosser word. Die ganse skepping loof Jehovah en die Lam.—Openbaring 4:11; 5:2-5, 11-14.
8. Wat sien ons in Openbaring se derde visioen, en hoe het dit betrekking op ons dag?
8 Nou volg die derde visioen! Die Lam begin die boekrol se sewe seëls oopmaak. Wat sien ons? Eers ry die pasgekroonde Jesus in die hemel op ’n wit perd, wat regverdige oorlogvoering afbeeld. Vervolgens verswelg die ruiter van ’n vuurrooi perd die aarde in algehele oorlogvoering. Dan kom die swart perd van hongersnood, en daarna die vaal perd van pessiekte met sy ruiter wat die Dood genoem word! Hades volg hulle, om miljoene slagoffers in te sluk. Dit alles begin met die “smarte” wat die mensdom in 1914-1918 getref het en wat oorlewende bejaardes van daardie geslag goed onthou (Mattheüs 24:3-8). Daardie perderuiters galop steeds! En wanneer die vyfde en sesde seëls oopgemaak word, kom gebeure ’n stap nader aan ‘die groot dag van die toorn van Jehovah en van die Lam’. Die vraag word gestel: “Wie kan [staan]?”—Openbaring 6:1-17, vgl. NW.
Diegene wat ‘kan staan’
9. Watter boeiende onthulling word in die vierde visioen gedoen?
9 Die vierde visioen ontvou hom en toon wie die dag van God se toorn sal oorleef, en waarom. Engele hou vier winde van vernietiging van die aarde af terug sodat die verseëling van geestelike Israel—die 144 000—voltooi kan word. “Ná hierdie dinge” ontwikkel die visioen hom tot ’n ontsagwekkende panorama: “Kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon (van God] en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openbaring 7:1-10). Sien jy jouself in hierdie toneel?
10. (a) Wat toon ’n vergelyking van die Gedenkmaalrapport vir 1935 en 1987 met betrekking tot die vervulling van die vierde visioen? (b) Watter vraag raak ons almal nou, en waarom?
10 In 1935 het 32 795 mense oor die hele wêreld die Herdenking van Jesus se dood bygewoon. Van hierdie getal het 27 006 die embleme gebruik as die oorblywende lede op aarde van die 144 000, wat ’n hemelse hoop koester. Later in daardie selfde jaar het die identiteit van die groot menigte duidelik geword. Hierdie sagmoediges, wat uitsien na die ewige lewe op ’n paradysaarde, beoefen ook geloof in Jesus se vergote bloed; hulle nader Jehovah deur toewyding, word gedoop en dien God ywerig met die vreugdevolle vooruitsig om deur “die groot verdrukking” behoue te bly. Die Gedenkmaal van 1987 is deur 8 965 221 mense bygewoon, maar net 8 808 het die embleme gebruik. Dit dui aan dat miljoene vandag òf lede van die groot menigte is òf graag lede daarvan wil word. Sal jy gedurende ‘die groot dag van die toorn van Jehovah en van die Lam’ as een van hulle ‘kan staan’? Dit sal jou oorlewing beteken as jy stappe doen met daardie doel voor oë.—Openbaring 6:15-17, vgl. NW; 7:14-17.
God se oordele word uitgebasuin
11. Watter oordele word in die vyfde visioen uitgebasuin, en hoe hou dit met ons dag verband?
11 Die sewende seël word oopgemaak! Die vyfde visioen van Openbaring word sigbaar. Sewe engele staan voor God. Sewe basuine word aan hulle gegee, en hiermee doen hulle aankondigings wat sedert 1922 oor die hele wêreld deur Jehovah se volk herhaal is. Die eerste vier basuinstote kondig oordele aan oor “’n derde” van die mensdom, blykbaar diegene wat in die Christendom woon. Hierdie “basuine” toon dat die Christendom se deel van “die aarde” (Satan se oënskynlik blywende stelsel van dinge) en van “die see” (die rustelose mensemassa), sowel as haar ‘riviere en waterfonteine’ (die leerstellings en filosofieë van die Christendom) en haar verdonkerde ligbronne (die geestelikes, sonder geestelike lig), almal teikens van God se toorn is. ’n Vlieënde “arend”, wat ’n engel afbeeld, verskyn vervolgens in die middel van die hemel en kondig aan dat die drie basuinstote wat nog moet kom “wee, wee, wee” sal beteken vir “hulle wat op die aarde woon”.—Openbaring 8:1-13, vgl. NAV.
12. Wie maak die put van die afgrond oop, en hoe het ’n swerm “sprinkane” in ons tyd die geestelikes gesteek?
12 Die vyfde engel blaas nou sy basuin. Kyk! “’n Ster”—die Here Jesus—maak die rokende put van die afgrond oop, en ’n swerm sprinkane kom uit. Dit is ’n treffende afbeelding van hoe Jesus God se gesalfde getuies in 1919 uit onbedrywigheid verlos het. Met goddelike gesag rig hulle verwoesting in die geestelikes se weivelde aan en onthul hulle hul valse leerstellings en geveinsdheid “vyf maande” lank—die normale lewensduur van ’n sprinkaan. Dit bevestig dat die geslag hedendaagse sprinkane ‘sekerlik nie sal verbygaan’ totdat Jehovah en Christus die oordeel oor die nasies voltooi het nie. Die sprinkaanswerm het reeds duisendmiljoene Bybelse publikasies met vurige oordeelsboodskappe wat soos skerpioensterte steek by die mense gelaat. Johannes sê: “Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.”—Openbaring 9:1-12; Mattheüs 24:34; 25:31-33.
13. (a) Wie word afgebeeld deur die vier engele wat uit die omgewing van die Eufraatrivier losgelaat word, en watter werk het hulle? (b) Wie is die tienduisende perderuiters, en hoe is hulle gesag “in hulle bek en in hulle sterte”?
13 Die sesde basuin weerklink en lui die tweede “wee” in. Vier engele word uit die omgewing van die Eufraatrivier losgelaat, wat gepas voorstel hoe God se gesalfde getuies in 1919 uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat is. Hulle is voorberei om “’n derde van die mense dood te maak”, deur bekend te maak dat die Christendom se geestelikes uit Jehovah se oogpunt dood is. Maar hulp is nodig om hierdie getuieniswerk uit te brei, en Jehovah voorsien dit deur ’n groot menigte medewerkers in te bring. Die gesalfde getuies en hierdie helpers val saam aan as die ontelbare perderuiters, “twee maal tienduisend maal tienduisend”. Hulle gesag is “in hulle bek” in die sin dat hulle Jehovah se oordeelsboodskappe in die mense se huise spreek, en dit is “in hulle sterte” in die sin dat hulle Bybellektuur wat sy vinnig naderende dag van wraak aankondig by mense laat.—Openbaring 9:13-21; Handelinge 20:20, 21, vgl. NW.
14. (a) Wie is die “sterk engel” in die sesde visioen, en wat doen en sê hy? (b) Wat beteken die feit dat die klein boekrol ‘soet soos heuning’ smaak en tog “bitter” in die maag is?
14 Nou ontvou die sesde visioen hom. Ons sien ’n “sterk engel”, klaarblyklik die Here Jesus in ’n spesiale rol. Hy het ’n klein boekrol in sy hand. Stemme en donderslae word gehoor, en dan sweer die engel by ons Groot Skepper: “Daar sal geen uitstel meer wees nie; maar in die dae waarin die sewende engel van hom laat hoor, wanneer hy op die punt staan om sy basuin te blaas, word die heilige geheim van God . . . inderdaad volbring.” Johannes word beveel om die klein boekrol te neem en dit te eet. Dit is ‘soet soos heuning’ in sy mond, net soos die Koninkryksboodskap, met die beloofde seëninge van “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde”, vandag vir die gesalfde Johannesklas en hul metgeselle baie aangenaam is. Maar die opdrag om God se dag van wraak “oor baie volke en nasies en tale en konings” te verkondig, is daarenteen vir sommige moeilik om te sluk. Maar skep moed! Behou sterk geloof dat Jehovah die nodige krag sal voorsien terwyl jy sy dag van wraak verkondig.—Openbaring 10:1-11, vgl. NW; 21:1, 4; 1 Johannes 5:4; Jesaja 40:29-31; 61:1, 2.
Die sewende basuin en die derde wee
15. (a) Wat gebeur wanneer die derde wee aangekondig word en die sewende engel sy basuin blaas? (b) In watter opsig is die Koninkryksboodskap’n wee?
15 Nadat Johannes voorspel het dat die vyand in 1918 sal probeer om God se getuies ‘dood te maak’, en nadat hy beskryf het op watter merkwaardige wyse “gees van die lewe uit God” hulle in 1919 verlewendig het om ’n wêreldwye getuienis te gee, skryf hy: “Die tweede wee het verbygegaan; kyk, die derde kom gou.” Hoe? Die verslag sê voorts: “En die sewende engel het geblaas.” Die derde wee hou dus verband met daardie laaste basuinstoot. En luister! “Daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die [koninkryk] van onse Here [Jehovah] geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Dit is God se Koninkryk deur Christus Jesus, wat saam met sy 144 000 mede-erfgename God se heilige geheim volbring en sodoende die ewige soewereiniteit van Jehovah God, die Almagtige, regverdig. Is hierdie Koninkryksboodskap ’n wee? Ja, vir die goddeloses! Want dit toon hoe God “die verderwers van die aarde [sal] verderf’.—Openbaring 11:1-19, vgl. NW.
16. Watter dramatiese onthullings word in die sewende visioen gedoen?
16 Die sewende visioen word nou sigbaar! Kyk, daar is God se onderdanige hemelse organisasie, sy “vrou”. Sy is swanger en verkeer in barensnood om ’n langverwagte kind in die wêreld te bring. Vir die eerste keer in Openbaring—maar nie die laaste keer nie—verskyn ’n vuurrooi draak, “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” en gereed is om die kind by geboorte te verslind. Die voorspelde ‘vyandskap tussen die slang en die vrou’ stuur op ’n beslissende botsing af’! Die vrou baar ’n seun, “’n manlike kind”, wat onmiddellik na God se troon weggeruk word.—Openbaring 12:1-6, 9; Genesis 3:15; Daniël 2:44; 7:13, 14.
17. (a) Wie is Migael, en hoe het hy sy naam sedert 1914 gestand gedoen? (b) Onderskei tussen die ‘drie weë’ en die wee vir “die aarde” in Openbaring 12:12.
17 Dit is die Koninkryk van die manlike kind wat in die geskiedkundige jaar 1914 in die hemele opgerig is. Die Koning daarvan, Christus Jesus, word ook Migael genoem, wat beteken “Wie is soos God?” Hy beantwoord daardie vraag sonder versuim deur teen Satan oorlog te voer en daardie ou draak en sy demone na die aarde neer te werp. Sedert 1914 was daar wee vir “die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het”. Hierdie wee, wat in die jammerlike toestand van die hedendaagse mensdom weerspieël word, moet derhalwe nie verwar word met die ‘drie weë’ wat Jehovah oor die goddeloses bring wanneer hy hulle oordeel nie.—Openbaring 12:7-12.
18. (a) Watter wee het Satan die Duiwel voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog vir Jehovah se lojale slawe probeer veroorsaak? (b) Wat is die Duiwel steeds vasbeslote om te doen, en wat sal die oorblywende visioene openbaar?
18 Die Duiwel het probeer om ook vir Jehovah se lojale slawe op aarde wee te veroorsaak. Voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy ’n stortvloed vervolging uitgespuug in ’n poging om die werk van “die oorblywendes” van God se gemalin-organisasie—die lede van die 144 000 wat nog onder die mensdom dien—te smoor. Jehovah het gesorg dat die aarde, Satan se eie stelsel van dinge, daardie vloed insluk. Maar ’n toornige Satan is steeds daarop uit om teen Jehovah se Getuies oorlog te voer (Openbaring 12:13-17, NW). Wat sal die uiteinde wees? Nege visioene moet nog kom, en hulle sal ons inlig!—Habakuk 2:3.
VRAE TER HERSIENING
◻ Hoe het Jehovah engele in verband met die boek Openbaring gebruik?
◻ Watter uitwerking behoort Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes op ons te hê?
◻ Wat was die gevolg van die sewe basuinstote?
◻ Wat word deur die swerm sprinkane en die ontelbare perderuiters afgebeeld?
◻ Waarom word die geboorte van God se Koninkryk met “die derde wee” in verband gebring?
[Venster op bladsy 14]
HOOFSTUKKE EN VERSE VAN ELKE VISIOEN:
▫ 1STE VISIOEN 1:10–3:22
▫ 2DE VISIOEN 4:1–5:14
▫ 3DE VISIOEN 6:1-17
▫ 4DE VISIOEN 7:1-17
▫ 5DE VISIOEN 8:1–9:21
▫ 6DE VISIOEN 10:1–11:19
▫ 7DE VISIOEN 12:1-17
▫ 8STE VISIOEN 13:1-18
▫ 9DE VISIOEN 14:1-20
▫ 10DE VISIOEN 15:1–16:21
▫ 11DE VISIOEN 17:1-18
▫ 12DE VISIOEN 18:1–19:10
▫ 13DE VISIOEN 19:11-21
▫ 14DE VISIOEN 20:1-10
▫ 15DE VISIOEN 20:11–21:8
▫ 16DE VISIOEN 21:9–22:5
[Venster op bladsy 15-18]
DIE 16 APOKALIPTIESE VISIOENE—ETLIKE HOOGTEPUNTE
1 Jesus, tussen sewe gemeentelike kandelaars, stuur liefdevolle boodskappe deur sewe sterre, die gesalfde opsieners
2 Die seëvierende Lam ontvang ’n boekrol met oordeelsboodskappe voor Jehovah se hemelse troon
3 Christus Jesus gaan uit om te oorwin, terwyl ander perderuiters die mensdom teister en God se dag van toorn nader
4 Terwyl engele die groot verdrukking terughou, word die insameling van die 144 000 en van die groot menigte voltooi
5 Engele basuin oordeelsboodskappe uit, en Jehovah se Getuies verskyn soos sprinkane om valse godsdiens aan die kaak te stel
6 Wanneer die sewende basuin geblaas word, word God se “getuies” verlewendig om die inkomende Koninkryk van Jehovah en sy Christus aan te kondig
7 Ná die geboorte van die Koninkryk in 1914 werp Christus Satan en sy demone na die aarde neer
8 Twee wilde diere verskyn, en die tweede politieke dier blaas lewe in ’n beeld van die eerste dier, die VV
9 Die mense wat ‘God vrees en Hom heerlikheid gee’, word geoes vir die ewige lewe, ander vir vernietiging
10 Die uitgieting van sewe skale van God se grimmigheid bereik ’n hoogtepunt met die teregstelling van almal wat deur Satan se besoedelde “lug” beweeg word
11 Die groot hoer, valse godsdiens, word deur die politieke “dier” afgegooi en dan verwoes
12 Na die vernietiging van Babilon die Grote word voorbereidings vir die huwelik van die Lam en sy bruid, die 144 000, afgehandel
13 Na die heengaan van die groot hoer voer Jesus die hemelse leërs aan om die res van Satan se aardse stelsel te vernietig
14 Die opsluiting van Satan in die afgrond baan die weg vir die Duisendjarige Heerskappy van Christus en sy bruid, die 144 000
15 Onder die “nuwe hemel” van Christus Jesus en sy bruid sal die “nuwe aarde”-gemeenskap van die mensdom tallose seëninge van Jehovah geniet
16 God se voorsienings van genesing en lewe vir die mensdom vloei deur die glorieryke Nuwe Jerusalem