-
Die oordeel oor die berugte hoerOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
1. Wat openbaar een van die sewe engele aan Johannes?
JEHOVAH se regverdige toorn moet geheel en al uitgegooi word, sewe bakke daarvan! Toe die sesde engel sy bak op die ligging van eertydse Babilon uitgegooi het, was dit ’n gepaste simbool van die plae wat Babilon die Grote sou tref namate gebeure vinnig na die finale oorlog van Armageddon beweeg (Openbaring 16:1, 12, 16). Dit is waarskynlik hierdie selfde engel wat nou openbaar waarom en hoe Jehovah sy regverdige oordele voltrek. Johannes is verstom oor wat hy vervolgens hoor en sien: “En een van die sewe engele wat die sewe bakke gehad het, het gekom en met my gepraat en gesê: ‘Kom, ek sal jou die oordeel wys oor die groot hoer wat op baie waters sit, met wie die konings van die aarde hoerery gepleeg het, terwyl dié wat die aarde bewoon, dronk gemaak is met die wyn van haar hoerery.’”—Openbaring 17:1, 2.
2. Watter getuienis is daar dat “die groot hoer” (a) nie eertydse Rome is nie? (b) nie die handel is nie? (c) ’n godsdiensentiteit is?
2 “Die groot hoer”! Waarom so ’n skokkende naam? Wie is sy? Party het hierdie simboliese hoer met eertydse Rome geïdentifiseer. Maar Rome was ’n politieke moondheid. Hierdie hoer pleeg hoerery met die konings van die aarde, en dit sluit blykbaar die konings van Rome in. Bowendien word daar gesê dat “die konings van die aarde” ná haar vernietiging oor haar ondergang treur. Sy kan derhalwe nie ’n politieke moondheid wees nie (Openbaring 18:9, 10). En aangesien die wêreld se handelaars ook oor haar treur, kan sy nie die handel afbeeld nie (Openbaring 18:15, 16). Maar ons lees dat ‘al die nasies deur haar spiritistiese gebruike mislei is’ (Openbaring 18:23). Dít toon duidelik dat die groot hoer ’n wêreldwye godsdiensentiteit moet wees.
3. (a) Waarom moet die groot hoer meer as die Rooms-Katolieke Kerk of selfs die hele Christendom simboliseer? (b) Watter Babiloniese leerstellings kom in die meeste Oosterse godsdienste sowel as in die sektes van die Christendom voor? (c) Wat het die Rooms-Katolieke kardinaal John Henry Newman oor die oorsprong van baie van die Christendom se leerstellings, seremonies en gebruike erken? (Sien voetnoot.)
3 Watter godsdiensentiteit? Is sy die Rooms-Katolieke Kerk, soos party beweer het? Of is sy die hele Christendom? Nee, sy moet selfs groter as dit wees as sy al die nasies mislei. Sy is in werklikheid die hele wêreldryk van valse godsdiens. Haar oorsprong in die verborgenhede van Babilon blyk uit die feit dat baie Babiloniese leerstellings en gebruike in godsdienste regoor die aarde voorkom. Byvoorbeeld, geloof in die inherente onsterflikheid van die mensesiel, ’n hel van pyniging en ’n drie-eenheid van gode kom in die meeste Oosterse godsdienste sowel as in die sektes van die Christendom voor. Valse godsdiens, wat meer as 4 000 jaar gelede in die eertydse stad Babilon voortgebring is, het ontwikkel tot die hedendaagse gedrog wat gepas Babilon die Grote genoem word.a Maar waarom word sy met die afstootlike term “die groot hoer” beskryf?
4. (a) Hoe het eertydse Israel hoerery gepleeg? (b) Hoe het Babilon die Grote by uitstek hoerery gepleeg?
4 Babilon (of Babel, wat “Verwarring” beteken) het in Nebukadnesar se tyd sy bloeityd bereik. Dit was ’n polities-godsdienstige staat met meer as duisend tempels en kapelle. Sy priesterdom het groot mag uitgeoefen. Hoewel Babilon lankal nie meer as ’n wêreldmoondheid bestaan nie, bestaan godsdienstige Babilon die Grote wel, en in navolging van die eertydse patroon probeer sy nog steeds om politieke aangeleenthede te beïnvloed en te vorm. Maar keur God godsdiens in die politiek goed? In die Hebreeuse Geskrifte is daar gesê dat Israel prostitusie gepleeg het toe hulle by valse aanbidding betrokke geraak het en toe hulle, in plaas van op Jehovah te vertrou, bondgenootskappe met die nasies aangegaan het (Jeremia 3:6, 8, 9; Esegiël 16:28-30). Babilon die Grote pleeg ook hoerery. Sy het by uitstek gedoen wat sy ook al raadsaam geag het om invloed en mag oor die heersende konings van die aarde te verkry.—1 Timoteus 4:1.
5. (a) Waarvan hou die geestelikes? (b) Waarom is ’n begeerte na wêreldse vernaamheid reëlreg in stryd met Jesus Christus se woorde?
5 Godsdiensleiers voer vandag dikwels ’n verkiesingsveldtog vir hoë regeringsampte, en in sommige lande het hulle ’n aandeel aan staatsbestuur en beklee hulle selfs kabinetsposte. In 1988 was twee bekende Protestantse geestelikes kandidate vir die presidentskap van die Verenigde State. Leiers in Babilon die Grote hou daarvan om in die kalklig te wees; foto’s van hulle saam met vooraanstaande politici verskyn dikwels in die koerante. In teenstelling hiermee het Jesus van politieke betrokkenheid weggeskram en het hy van sy dissipels gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.”—Johannes 6:15; 17:16; Matteus 4:8-10; sien ook Jakobus 4:4.
Hedendaagse ‘hoerery’
6, 7. (a) Hoe het Hitler se Nazi-party in Duitsland aan die bewind gekom? (b) Hoe het die konkordaat wat die Vatikaan met Nazi-Duitsland gesluit het, Hitler in sy strewe na wêreldoorheersing gehelp?
6 Deur haar inmenging in die politiek het die groot hoer eindelose verdriet vir die mensdom veroorsaak. Beskou byvoorbeeld die feite oor hoe Hitler in Duitsland aan die bewind gekom het—lelike feite wat party graag uit die geskiedenisboeke wil uitwis. In Mei 1924 het die Nazi-party 32 setels in die Duitse Ryksdag gehad. Teen Mei 1928 het dit tot 12 setels verminder. Maar die Groot Depressie het die wêreld in 1930 verswelg; onmiddellik hierna het die Nazi’s merkwaardig herstel en 230 uit die 608 setels in die Duitse verkiesings van Julie 1932 verkry. ’n Kort rukkie later het die voormalige kanselier Franz von Papen, ’n Pouslike Ridder, die Nazi’s te hulp gekom. Volgens geskiedskrywers het Von Papen gedroom van ’n nuwe Heilige Romeinse Ryk. Sy kort ampstermyn as kanselier was ’n mislukking, en hy het derhalwe nou gehoop dat hy deur die Nazi’s mag sou verkry. Teen Januarie 1933 het hy onder die nywerheidsmagnate steun vir Hitler verkry en deur listige intriges verseker dat Hitler op 30 Januarie 1933 Duitsland se kanselier word. Hý is as visekanselier aangestel en deur Hitler gebruik om die steun van die Katolieke dele van Duitsland te wen. Binne twee maande nadat hy aan die bewind gekom het, het Hitler die parlement ontbind, duisende opposisieleiers na konsentrasiekampe gestuur en ’n openlike veldtog geloods om die Jode te onderdruk.
7 Op 20 Julie 1933 het die Vatikaan sy belangstelling in die opkomende mag van Nazisme getoon toe kardinaal Pacelli (wat later pous Pius XII geword het) in Rome ’n konkordaat tussen die Vatikaan en Nazi-Duitsland onderteken het. Von Papen het die dokument as Hitler se verteenwoordiger onderteken, en Pacelli het die hoë pouslike ereteken, die Grootkruis van die Orde van Pius, daar aan Von Papen toegeken.b In sy boek Satan in Top Hat skryf Tibor Koeves die volgende hieroor: “Die Konkordaat was ’n groot oorwinning vir Hitler. Dit was die eerste morele steun wat hy uit die buitewêreld ontvang het, en dít uit die mees verhewe bron.” Die konkordaat het vereis dat die Vatikaan sy steun aan Duitsland se Katolieke Sentrumparty onttrek en sodoende Hitler se eenparty- “totalitêre staat” goedkeur.c Verder het artikel 14 daarvan gesê: “Die aanstelling van aartsbiskoppe, biskoppe en dies meer sal geskied eers nadat die goewerneur, wat deur die Ryk aangestel is, behoorlik vasgestel het dat geen twyfel oor algemene politieke oorwegings bestaan nie.” Teen die einde van 1933 (wat deur pous Pius XI tot ’n “Heilige Jaar” uitgeroep is) het die Vatikaan se steun ’n belangrike faktor in Hitler se strewe na wêreldoorheersing geword.
8, 9. (a) Hoe het die Vatikaan sowel as die Katolieke Kerk en sy geestelikes op die Nazi-tirannie gereageer? (b) Watter verklaring het die Duitse Katolieke biskoppe aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog uitgereik? (c) Waartoe het betrekkinge tussen godsdiens en die politiek gelei?
8 Hoewel ’n handjievol priesters en nonne teen Hitler se gruweldade beswaar gemaak het—en daarvoor moes boet—het die Vatikaan sowel as die Katolieke Kerk en sy leër van geestelikes óf aktiewe óf stilswyende steun aan die Nazi-tirannie gegee, wat na hulle mening ’n skans teen die opmars van wêreldkommunisme was. Pous Pius XII het, vanuit sy gunstige posisie in die Vatikaan, die Slagting van die Jode en die wrede vervolging van Jehovah se Getuies en ander sonder kritiek laat voortgaan. Dit is ironies dat pous Johannes Paulus II, tydens sy besoek aan Duitsland in Mei 1987, een opregte priester se verset teen die Nazi’s geprys het. Wat het die duisende ander Duitse geestelikes tydens Hitler se skrikbewind gedoen? ’n Herderlike brief wat die Duitse Katolieke biskoppe aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 uitgereik het, werp lig hierop. Dit lui ten dele: “In hierdie beslissende uur vermaan ons ons Katolieke soldate om hulle plig in gehoorsaamheid aan die Führer te doen en gereed te wees om hulle hele individualiteit op te offer. Ons doen ’n beroep op die Gelowiges om vurig te bid dat die Goddelike Voorsienigheid hierdie oorlog tot geseënde sukses lei.”
9 Sulke Katolieke diplomasie lig die soort hoerery toe waaraan godsdiens haar oor die afgelope 4 000 jaar skuldig gemaak het terwyl sy die politieke Staat verlei het om mag en voordeel te verkry. Sulke betrekkinge tussen godsdiens en die politiek het oorlog, vervolging en eindelose menslike ellende veroorsaak. Hoe verheug kan die mensdom tog wees dat Jehovah se oordeel oor die groot hoer op hande is. Mag dit spoedig voltrek word!
Sy sit op baie waters
10. Wat is die “baie waters” waarop Babilon die Grote vir beskerming vertrou, en wat gebeur daarmee?
10 Eertydse Babilon het op baie waters gesit—die Eufraatrivier en talryke kanale. Dit was vir die stad ’n beskerming sowel as ’n bron van handel wat rykdom meegebring het, totdat dit in een nag opgedroog het (Jeremia 50:38; 51:9, 12, 13). Babilon die Grote vertrou ook op “baie waters” om haar te beskerm en te verryk. Hierdie simboliese waters is “volke en menigtes en nasies en tale”, dit wil sê al die duisendmiljoene mense wat sy oorheers het en uit wie sy materiële steun geput het. Maar hierdie waters droog ook op, of onttrek hulle steun.—Openbaring 17:15; vergelyk Psalm 18:4; Jesaja 8:7.
11. (a) Hoe het eertydse Babilon “die hele aarde dronk gemaak”? (b) Hoe het Babilon die Grote “die hele aarde dronk gemaak”?
11 Verder is eertydse Babilon beskryf as ‘’n goue beker in die hand van Jehovah, waardeur die hele aarde dronk gemaak is’ (Jeremia 51:7). Eertydse Babilon het omliggende nasies verplig om uitinge van Jehovah se toorn te sluk toe dit hulle met militêre mag oorwin en hulle so swak soos dronk mense gemaak het. In hierdie opsig was dit Jehovah se werktuig. Babilon die Grote het ook soveel oorwinnings behaal dat sy ’n wêreldryk geword het. Maar sy is beslis nie God se werktuig nie. Sy dien eerder “die konings van die aarde” met wie sy godsdienshoerery pleeg. Sy het hierdie konings bevredig deur die mensemassa, “dié wat die aarde bewoon”, deur middel van haar leuenagtige leerstellings en verslawende gebruike so swak soos dronk mense te hou, in passiewe onderdanigheid aan hulle heersers.
12. (a) Hoe was ’n deel van Babilon die Grote in Japan gedurende die Tweede Wêreldoorlog vir baie bloedvergieting verantwoordelik? (b) Hoe het “waters” wat Babilon die Grote gesteun het, in Japan gesak, en met watter gevolg?
12 Sjintoïstiese Japan is ’n treffende voorbeeld hiervan. Die geïndoktrineerde Japannese soldaat het dit as die hoogste eer beskou om sy lewe vir die keiser—die hoogste Sjinto-god—af te lê. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het sowat 1 500 000 Japannese soldate in gevegte gesneuwel; feitlik almal het oorgawe as ’n skande beskou. Maar as gevolg van Japan se nederlaag was keiser Hirohito verplig om afstand te doen van sy aanspraak op goddelikheid. Dit het daartoe gelei dat die “waters” wat die Sjintoïstiese deel van Babilon die Grote gesteun het, opmerklik gesak het—helaas, eers nadat Sjintoïsme die vergieting van emmers bloed aan die oorlogsfront in die Stille Oseaan goedgekeur het! Hierdie verswakking van Sjintoïstiese invloed het ook in onlangse jare die weg gebaan vir meer as 200- 000 Japannese, waarvan die meeste vroeër Sjintoïste en Boeddhiste was, om toegewyde, gedoopte bedienaars van die Soewereine Heer Jehovah te word.
-
-
Die oordeel oor die berugte hoerOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
a As ’n aanduiding van die nie-Christelike oorsprong van baie van die afvallige Christendom se leerstellings, seremonies en gebruike het die 19de-eeuse Rooms-Katolieke kardinaal John Henry Newman in sy Essay on the Development of Christian Doctrine geskryf: “Die gebruik van tempels, wat aan spesifieke heiliges toegewy is en wat by geleentheid met boomtakke versier word; reukwerk, lampe en kerse; dankoffers ná herstel van siekte; heilige water; plekke vir asiel; heilige dae en seisoene, die gebruik van kalenders, optogte, seëninge oor die landerye; die priestergewaad, die tonsuur, die ring in die huwelik, die draai na die Ooste, beelde op ’n latere stadium, moontlik die kerkgesang en die Kyrie Eleison [die lied “Here, ontferm U”], is almal van heidense oorsprong en is geheilig toe dit in die Kerk opgeneem is.”
In plaas van sulke afgodediens te heilig, vermaan “Jehovah die Almagtige” Christene: “Gaan . . . onder hulle uit en sonder julle af, . . . en hou op om wat onrein is, aan te raak.”—2 Korintiërs 6:14-18.
-
-
Die oordeel oor die berugte hoerOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
[Venster op bladsy 237]
Churchill lê “hoerery” bloot
In sy boek The Gathering Storm (1948) sê Winston Churchill dat Hitler Franz von Papen as Duitse minister in Wene aangestel het om “vooraanstaande persone in die Oostenrykse politiek te ondermyn of oor te haal”. Churchill haal die Amerikaanse minister in Wene se woorde oor Von Papen aan: “Op die vermetelste en siniesste wyse . . . het Von Papen vir my gesê dat . . . hy van plan is om sy reputasie as ’n goeie Katoliek te gebruik om invloed by Oostenrykers soos kardinaal Innitzer te verkry.”
Nadat Oostenryk voorwaardelik oorgegee en Hitler se stormtroepe in Wene ingemarsjeer het, het die Katolieke kardinaal Innitzer beveel dat alle Oostenrykse kerke die swastikavlag hys, hulle klokke lui en vir Adolf Hitler bid ter ere van sy verjaarsdag.
[Venster/Prent op bladsy 238]
Onder hierdie opskrif het die volgende artikel in die eerste uitgawe van The New York Times van 7 Desember 1941 verskyn:
‘OORLOGSGEBED’ VIR DIE RYK
“Katolieke biskoppe in Fulda vra seën en oorwinning . . . Die Konferensie van Duitse Katolieke biskoppe wat in Fulda vergader het, het aanbeveel dat ’n spesiale ‘oorlogsgebed’ ingevoer word wat aan die begin en einde van alle kerkdienste gelees moet word. Die gebed smeek die Voorsienigheid om Duitse leërs met oorwinning te seën en die lewe en gesondheid van alle soldate te beskerm. Die biskoppe het Katolieke geestelikes verder gelas om Duitse soldate ‘op land, op see en in die lug’ ten minste een keer per maand in ’n spesiale Sondagpreek in gedagte te hou.”
Die artikel is aan latere uitgawes van die koerant onttrek. Dit was op 7 Desember 1941 dat Nazi-Duitsland se bondgenoot, Japan, die Amerikaanse vloot in Pearl Harbor aangeval het.
FULDA, Germany, Dec. 6
THE NEW YORK TIMES
Catholic Bishops
-