’n Verborgenheid—Wie is die hoer Babilon die Grote?
‘N VROU, ’n berugte prostituut, wat die lewens van miljarde mense beïnvloed het, word doodgemaak, tereggestel. Maar dit is nie ’n gewone teregstelling nie. Wat maak dit anders? Die beul is ’n dier, ’n wilde dier wat haar naak maak, haar vlees vreet en haar oorskot dan los om deur vuur vernietig te word. Wie is hierdie invloedryke vrou? Waarom val ’n wilde dier haar aan? Wat het sy gedoen om hierdie gewelddadige einde te verdien?a—Openbaring 17:16, 17.
Dit kon die grondslag vir ’n boeiende raaiselverhaal gewees het—behalwe dat dit nie die sinopsis van ’n roman is nie. Dit is ’n geskiedkundige werklikheid wat nou vervul word. En dit raak jou, omdat jou lewe dalk nou deur hierdie berugte prostituut beïnvloed word. Boonop sal of jy by haar bly of wegbreek die verskil tussen die lewe of dood beteken. Wie is sy dus?
Die raaiselagtige vrou se klante
Hierdie femme fatale, hierdie skaamtelose verleidster, word deur Johannes in die profetiese Bybelboek Openbaring beskryf, waar ons lees: “En [die engel] het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe[, ’n verborgenheid: ‘Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglikhede van die aarde’].”—Openbaring 17:3-5, vgl. NW.
Hierdie “Babilon die Grote” moet ’n gedugte vrou wees, want die verslag sê in vers 1 dat sy “op die baie waters sit”. Wat beteken dit? God se engel verduidelik aan Johannes: “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale” (Openbaring 17:15). Dit is ongetwyfeld ’n prostituut met wêreldwye invloed. Maar sy is nie ’n gewone hoer nie. Sy is “die moeder van die hoere”, die madam van die inrigting. Sy gee die bevele wat hoerery betref. Maar sy het ook spesiale klante.
Die engel maak bekend wie hierdie begunstigde klante van die groot hoer is. Hoe identifiseer hy hulle? Hy sê dat Babilon die Grote die een is “met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openbaring 17:2). Dit moet ’n verleidelike hoer met goeie konneksies wees om die politieke heersers van die wêreld, die einste “konings van die aarde”, te kan aanlok! Wie is sy dus?
Die engel sê sy het ’n naam, ’n verborgenheid, “Babilon die Grote”. Hier is nou twee leidrade aangaande haar identiteit—die een is die klante aan wie sy gunste bewys en die ander is haar naam, Babilon die Grote. Tot watter gevolgtrekking lei hierdie leidrade?
[Voetnoot]
a Hierdie is die eerste van vier nommers van Die Wagtoring wat hierdie en verwante vrae aangaande die raaiselagtige vrou sal bespreek.