-
Onluste kan die goeie nuus nie stuit nieDie Wagtoring – 1989 | November 15
-
-
Gelukkig het die onrus opgehou, en landsake kon weer normaal verloop. Maar tydens sulke gespanne situasies is dit gerusstellend om te weet dat daar binnekort ’n nuwe wêreld van kalmte en veiligheid sal wees. God se Woord belowe: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). En solank God dit toelaat, sal Jehovah se Getuies aanhou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.
-
-
Vrae van lesersDie Wagtoring – 1989 | November 15
-
-
Vrae van lesers
◼ Waarom het God se Wet gesê dat ’n Israelitiese man wat geslagsomgang gehad het met ’n maagd wat nie verloof was nie, met haar moes trou en nooit van haar kon skei nie?
Party beweer dat dit wil voorkom of hierdie wet, wat in Exodus 22:16, 17 en Deuteronomium 22:28, 29 opgeteken is, onsimpatiek teenoor vroue is. In werklikheid het dit ’n hoë morele standaard vir mans sowel as vroue aangemoedig.
Verskeie huislike wette is in Deuteronomium hoofstuk 22 gegee. Dit het byvoorbeeld die situasie bespreek van ’n man wat sy vrou nie meer liefgehad het nie, en beweer het dat sy nie ’n maagd was nie. Dit het ook God se wette oor egbreuk en verkragting bespreek. Dan lees ons:
“As ’n man ’n dogter, ’n jongmeisie, kry wat nie verloof is nie, en haar aangryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, dan moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, die vader van die dogter vyftig sikkels silwer gee; en sy moet sy vrou wees, omdat hy haar onteer het; hy mag haar nie verstoot solank as hy lewe nie.”—Deuteronomium 22:28, 29.
Dit was ’n geval van hoerery, moontlik nadat die meisie met dwang verlei is. As ’n gewetenlose man hom dit aangematig het om geslagsomgang met ’n maagd te hê, sou sy die slegste daaraan toe wees. Benewens die moontlikheid dat sy ’n buite-egtelike kind kon hê, het haar waarde as ’n bruid ook afgeneem omdat baie Israeliete nie met haar sou wou trou as sy nie meer ’n maagd is nie. Wat sou ’n man egter ontmoedig om homself vryhede met ’n maagd te veroorloof? God se ‘heilige en regverdige en goeie’ wet sou.—Romeine 7:12.
Die Mosaïese wetboek het voorsiening gemaak dat ’n man om sekere redes van sy vrou kon skei (Deuteronomium 22:13-19; 24:1; Mattheüs 19:7, 8). Maar wat ons in Exodus 22:16, 17 en Deuteronomium 22:28, 29 lees, wys dat die keuse van egskeiding ná voorhuwelikse hoerery weggeval het. Dit kon derhalwe veroorsaak dat ’n man (of ’n maagd) ’n versoeking om te hoereer weerstaan. ’n Man kon nie dink: ‘Sy is mooi en opwindend, dus sal ek my met haar vermaak al is sy nie die tipe met wie ek wil trou nie.’ Hierdie wet sou eerder onsedelikheid keer deur enige voornemende oortreder die langtermyngevolge van hoerery te laat oorweeg—die feit dat hy vir die res van sy lewe by die ander persoon moet bly.
Die wet het ook die probleem van buite-egtelike kinders verminder. God het beveel: “Geen buite-egtelike seun mag in die gemeente van Jehovah kom nie” (Deuteronomium 23:2, NW). As ’n man wat ’n maagd verlei het, dus met haar moes trou, sou hulle hoerery nie tot ’n buite-egtelike kind onder die Israeliete gelei het nie.
Christene lewe weliswaar in ’n maatskaplike milieu wat verskil van dié van die eertydse Israeliete. Ons is nie onder die voorskrifte van die Mosaïese Wet nie, met inbegrip van hierdie wet wat vereis het dat twee persone wat hulle aan sulke hoerery skuldig gemaak het, moes trou. Ons moet nogtans nie dink dat voorhuwelikse hoerery ’n onbeduidende saak is nie. Christene moet ernstig nadink oor die langtermyngevolge, net soos hierdie wet die Israeliete beweeg het om te doen.
Wanneer ’n ongetroude persoon verlei word, ruïneer dit daardie een se reg om ’n Christelike huwelik as ’n rein maagd (manlik of vroulik) aan te gaan. Voorhuwelikse hoerery raak ook die regte van enige persoon wat dalk daardie individu se huweliksmaat sal word, naamlik daardie persoon se reg om met ’n rein Christen te trou. Maar hoerery moet bowenal vermy word omdat God sê dat dit verkeerd is; dit is ’n sonde. Die apostel het gepas geskryf: “Dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery.”—1 Thessalonicense 4:3-6; Hebreërs 13:4.
-