-
Vergewe uit jou hartDie Wagtoring – 1999 | Oktober 15
-
-
hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.” Meer as ’n jaar later het hy die inhoud daarvan herhaal en sy dissipels leer bid: “Vergewe ons ons sondes, want ons vergewe self ook elkeen wat by ons in die skuld is” (Matteus 6:12, 14; Lukas 11:4). Toe, net ’n paar dae voor sy dood, het Jesus bygevoeg: “Wanneer julle staan en bid, vergewe wat julle ook al teen enigeen het; sodat julle Vader wat in die hemele is julle ook julle oortredings kan vergewe.”—Markus 11:25.
22, 23. Hoe kan ons gewilligheid om te vergewe ons toekoms beïnvloed?
22 Ja, of God ons sal aanhou vergewe of nie, hang in groot mate af van ons gewilligheid om ons broers te vergewe. Wanneer ’n persoonlike probleem tussen Christene ontstaan, vra jou af: ‘Is dit nie veel belangriker om God se vergifnis te kry as om te bewys dat ’n broer of ’n suster verkeerd gehandel het deur iemand te na te kom, ’n klein oortreding te begaan of deur blyk te gee van sy of haar menslike onvolmaaktheid nie?’ Jy ken die antwoord.
23 Maar sê nou dit is iets ernstiger as ’n geringe persoonlike oortreding of probleem? En wanneer is Jesus se raad in Matteus 18:15-18 van toepassing? Ons sal in die volgende artikel hierdie sake bespreek.
-
-
Jy kan jou broer wenDie Wagtoring – 1999 | Oktober 15
-
-
Jy kan jou broer wen
“Gaan lê sy fout tussen jou en hom alleen bloot. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen.”—MATTEUS 18:15.
1, 2. Watter praktiese raad het Jesus gegee oor die manier waarop foute hanteer moet word?
MET minder as ’n jaar van Jesus se bediening oor het hy baie belangrike lesse gehad wat hy sy dissipels wou leer. Jy kan dit in Matteus hoofstuk 18 lees. Een daarvan was hoe belangrik dit vir ons is om nederig te wees soos kinders. Hy het daarna beklemtoon dat ons nie “een van hierdie kleintjies” moet laat struikel nie en dat ons die “kleintjies” wat afgedwaal het, moet probeer terugbring sodat hulle nie sal vergaan nie. Toe het Jesus waardevolle, praktiese raad gegee oor hoe verskille tussen Christene uit die weg geruim kan word.
2 Jy onthou dalk sy woorde: “As jou broer ’n sonde pleeg, gaan lê sy fout tussen jou en hom alleen bloot. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee saam met jou, sodat elke saak uit die mond van twee of drie getuies bevestig kan word. As hy na hulle nie luister nie, praat met die gemeente. As hy selfs na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees” (Matteus 18:15-17). Wanneer moet ons hierdie raad toepas, en wat moet ons gesindheid wees wanneer ons dit doen?
3. Watter algemene beskouing moet ons hê oor ander se foute?
3 Die vorige artikel het beklemtoon dat ons daaraan moet werk om vergewensgesind te wees, aangesien ons almal onvolmaak is en geneig is om foute te maak. Dit is veral so as iemand gekwetste gevoelens het oor wat ’n mede-Christen gesê of gedoen het (1 Petrus 4:8). Dit is dikwels die beste om eenvoudig die oortreding oor te sien—om te vergewe en te vergeet. Ons kan dit beskou as ’n bydrae tot die vrede in die Christengemeente (Psalm 133:1; Spreuke 19:11, NW). Maar daar is dalk ’n keer wanneer jy dink dat jy die saak moet uitpraat met jou broer of suster wat jou seergemaak het. In so ’n geval voorsien Jesus se woorde hierbo leiding.
4. Hoe kan ons Matteus 18:15 in beginsel toepas op ander se foute?
4 Jesus het gesê dat jy ‘sy fout tussen jou en hom alleen bloot moet lê’. Dit is verstandig. Party Duitse vertalings gebruik die frase om sy fout “onder vier oë”, dit wil sê joune en syne, te bring. Wanneer jy jou probleem op ’n liefdevolle wyse privaat bespreek, is dit gewoonlik makliker om dit op te los. ’n Broer wat iets gesê of gedoen het wat jou aanstoot gegee het of wat nie liefdevol was nie, sal dalk meer geredelik die fout aan jou alleen erken. As ander luister, sal sy onvolmaakte menslike natuur hom moontlik die fout laat ontken of veroorsaak dat hy sy dade probeer regverdig. Maar wanneer jy die geskil “onder vier oë” bring, sal jy dalk vind dat dit ’n misverstand was en nie ’n sonde of doelbewuste oortreding nie. Sodra julle albei besef dat dit ’n misverstand is, kan julle dit uit die weg ruim, en nie toelaat dat ’n nietigheid iets groots word en julle verhouding vergiftig nie. Die beginsel in Matteus 18:15 kan dus selfs op geringe oortredings in die daaglikse lewe van toepassing wees.
Wat het hy bedoel?
5, 6. Na watter soort sondes het Matteus 18:15 volgens die konteks verwys, en hoe word dit aangedui?
5 Jesus se raad hou streng gesproke verband met ernstiger sake. Jesus het gesê: “As jou broer ’n sonde pleeg.” In die breër betekenis van die woord kan “’n sonde” enige fout of tekortkoming wees (Job 2:10; Spreuke 21:4; Jakobus 4:17). Maar die konteks dui aan dat die sonde wat Jesus in gedagte gehad het iets ernstigs moes gewees het. Dit was ernstig genoeg om daartoe te lei dat die oortreder “soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder” beskou kon word. Wat impliseer daardie frase?
6 Jesus se dissipels wat na daardie woorde geluister het, het geweet dat hulle landgenote nie met heidene sou assosieer nie (Johannes 4:9; 18:28; Handelinge 10:28). En hulle het beslis belastinggaarders vermy, manne wat Jode van geboorte was maar later die volk begin uitbuit het. Matteus 18:15-17 het dus streng gesproke na ernstige sondes verwys, nie na gevalle waar iemand aanstoot gegee is of na gekwetste gevoelens wat ’n mens net kan vergewe en vergeet nie.—Matteus 18:21, 22.a
7, 8. (a) Watter soort sondes moet deur ouer manne hanteer word? (b) Watter soort sondes kan tussen twee Christene opgelos word, in ooreenstemming met Matteus 18:15-17?
7 Onder die Wet het sekere sondes meer vereis as net vergifnis van die persoon vir wie aanstoot gegee is. Laster, afvalligheid, afgodediens en seksuele sondes soos hoerery, egbreuk en homoseksualiteit moes by die oudstes (of priesters) gerapporteer word en hulle moes die saak hanteer. Dit is ook waar in die Christengemeente (Levitikus 5:1; 20:10-13; Numeri 5:30; 35:12; Deuteronomium 17:9; 19:16-19; Spreuke 29:24). Let egter daarop dat die soort sondes waarvan Jesus hier gepraat het tussen twee persone opgelos kon word. Byvoorbeeld: As gevolg van woede of jaloesie laster iemand teen sy medemens. ’n Christen sluit ’n kontrak om ’n werk met sekere boumateriaal te doen en teen ’n sekere datum te voltooi. Iemand sê dat hy geld oor ’n sekere tydperk of op ’n vasgestelde datum sal terugbetaal. Iemand beloof plegtig dat hy, as sy werkgewer hom oplei, vir ’n vasgestelde tydperk of in ’n bepaalde gebied nie sal meeding of probeer om sy werkgewer se klante oor te neem nie (al sou hy van werk verander).b As ’n broer nie sy woord hou nie en onberouvol oor sulke oortredings is, sou dit beslis ernstig wees (Openbaring 21:8). Maar sulke oortredings kan tussen die twee betrokkenes opgelos word.
8 Hoe sou jy egter te werk gaan om die saak op te los? Jesus se woorde is al dikwels as drie stappe beskou. Kom ons bespreek elkeen. In plaas van dit as ’n vaste, wetlike prosedure te beskou, probeer eerder die sin daarvan begryp, en moet nooit vergeet wat jou liefdevolle doelwit is nie.
Probeer jou broer wen
9. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons Matteus 18:15 toepas?
9 Jesus het begin: “As jou broer ’n sonde pleeg, gaan lê sy fout tussen jou en hom alleen bloot. As hy na jou luister, het jy jou broer gewen.” Dit is ongetwyfeld nie ’n stap wat uit blote agterdog geneem word nie. Jy moet bewyse of spesifieke inligting hê wat jy kan gebruik om jou broer te help besef dat hy iets verkeerds gedoen het en die saak moet regstel. Dit is goed om gou op te tree en nie toe te laat dat die saak ernstiger word of dat sy gesindheid verhard nie. En moenie vergeet dat dit ook ’n skadelike uitwerking op jou kan hê as jy daaroor tob nie. Aangesien die bespreking tussen jou en hom alleen moet wees, moet jy nie vooraf met ander daaroor praat om simpatie te verkry of jou selfbeeld te verbeter nie (Spreuke 12:25; 17:9). Waarom nie? Weens jou doelwit.
10. Wat sal ons help om ons broer te wen?
10 Jou doelwit moet wees om jou broer te wen, nie om hom te bestraf, te verneder of te verpletter nie. As hy werklik iets verkeerds gedoen het, is sy verhouding met Jehovah op die spel. Jy wil beslis hê dat hy jou Christenbroer moet bly. Die kanse op sukses sal groter wees as jy in julle private bespreking kalm bly en ongevoelige woorde of ’n beskuldigende stemtoon vermy. In hierdie liefdevolle konfrontasie moet jy onthou dat julle albei onvolmaakte, sondige mense is (Romeine 3:23, 24). Wanneer hy besef dat jy nie oor hom geskinder het nie en hom opreg wil help, sal julle dalk gou tot ’n vergelyk kom. Hierdie vriendelike, duidelike benadering sal veral verstandig wees as dit blyk dat julle albei ’n mate van skuld dra of dat ’n misverstand eintlik die oorsaak van die probleem was.—Spreuke 25:9, 10; 26:20; Jakobus 3:5, 6.
11. Wat kan ons doen al luister ’n oortreder nie na ons nie?
11 As jy hom help om te besef dat daar ’n oortreding was en dat dit ernstig is, sal dit hom dalk beweeg om berou te toon. Maar trots kan realisties gesproke ’n struikelblok wees (Spreuke 16:18; 17:19). Al sou hy dus nie aanvanklik die oortreding erken en berou toon nie, kan jy wag voordat jy die saak verder voer. Jesus het nie gesê dat jy ‘net een keer moet gaan en sy fout moet blootlê’ nie. Aangesien dit ’n sonde is wat jy kan oplos, kan jy dit oorweeg om hom weer in die gees van Galasiërs 6:1 te nader en “onder vier oë” te spreek. Jy slaag dalk. (Vergelyk Judas 22, 23.) Maar sê nou jy is daarvan oortuig dat ’n sonde gepleeg is en dat hy dit nie wil erken nie?
Kry hulp van ervare persone
12, 13. (a) Watter tweede stap het Jesus uiteengesit wanneer dit kom by die hantering van foute? (b) Watter gepaste riglyne moet ons in gedagte hou wanneer ons hierdie stap toepas?
12 Sou jy wou hê dat ander gou hoop moet opgee met jou as jy skuldig is aan ’n ernstige oortreding? Beslis nie. Daarom het Jesus getoon dat jy nie ná die eerste stap moet tou opgooi om jou broer te wen en om hom met jou en ander verenig te laat bly om God op aanneemlike wyse te aanbid nie. Jesus het ’n tweede stap uiteengesit: “As hy nie luister nie, neem nog een of twee saam met jou, sodat elke saak uit die mond van twee of drie getuies bevestig kan word.”
13 Hy het gesê dat jy “nog een of twee” moet saamneem. Hy het nie gesê dat jy ná die eerste stap die probleem openlik met baie ander persone kan bespreek, ’n reisende opsiener kan raadpleeg of aan broers kan skryf oor die probleem nie. Al is jy ook hoe seker van die oortreding, is dit in werklikheid nog nie ten volle bevestig nie. Jy sal nie negatiewe inligting wil versprei wat op die ou end as laster beskou kan word nie (Spreuke 16:28, NW; 18:8, NW). Maar Jesus het wel gesê dat jy een of twee ander persone kan saamneem. Waarom? En wie kan jy saamneem?
14. Wie kan ons saamneem vir die tweede stap?
14 Jy probeer jou broer wen deur hom daarvan te oortuig dat ’n sonde gepleeg is en hom te beweeg om berou te toon sodat hy vrede met jou en met God kan geniet. Daarom sal dit ideaal wees as die “een of twee” wat jy saamneem getuies van die oortreding was. Dalk was hulle by toe dit plaasgevind het, of hulle het juiste inligting van wat in ’n sakeaangeleentheid gedoen is (of nie gedoen is nie). As sulke getuies nie beskikbaar is nie, kan jy mense neem wat ondervinding in hierdie soort sake het en gevolglik kan vasstel of wat gebeur het werklik ’n oortreding was. Daarbenewens kan hulle, as dit dalk later nodig is, as getuies dien van wat gesê is en die feite wat gemeld is en die pogings wat aangewend is, bevestig (Numeri 35:30; Deuteronomium 17:6). Hulle is dus nie net neutrale partye of skeidsregters nie, maar hulle is teenwoordig om jou broer en hulle broer te help wen.
15. Waarom sal Christen- ouer manne dalk van hulp wees as ons die tweede stap moet neem?
15 Jy hoef nie te dink dat diegene wat jy saamneem ouer manne in die gemeente moet wees nie. Maar ryp manne wat ouer manne is, kan weens hulle geestelike kwalifikasies van hulp wees. Sulke ouer manne is “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:1, 2). Hulle het die ervaring om met broers en susters te redeneer en hulle reg te help. En die oortreder kan tereg vertroue in sulke “gawes in die vorm van mense” hê (Efesiërs 4:8, 11, 12).c Deur die saak in die teenwoordigheid van sulke geestelike ryp manne te bespreek en saam met hulle te bid, kan dit ’n vars atmosfeer skep en wat onoplosbaar gelyk het, oplos.—Vergelyk Jakobus 5:14, 15.
’n Laaste poging om hom te wen
16. Wat is die derde stap wat Jesus uiteengesit het?
16 As die tweede stap nie die saak oplos nie, is die gemeentelike opsieners beslis betrokke by die derde stap. “As hy na [die een of twee] nie luister nie, praat met die gemeente. As hy selfs na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees.” Wat behels dit?
17, 18. (a) Watter voorbeeld help ons om die betekenis te verstaan van die woorde om ‘met die gemeente te praat’? (b) Hoe pas ons hierdie stap vandag toe?
17 Ons beskou dit nie as ’n opdrag om die sonde of oortreding tydens ’n gewone of spesiale vergadering van die hele gemeente te bespreek nie. Ons kan uit God se Woord aflei wat die regte prosedure is. Let op wat in eertydse Israel gedoen moes word in die geval van opstand, vraatsug en dronkenskap: “As iemand ’n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ’n deurbringer en dronkaard. Dan moet al die manne van sy stad hom stenig.”—Deuteronomium 21:18-21, ons kursiveer.
18 Die man se sondes is nie deur die hele nasie of deur sy hele stam aangehoor en geoordeel nie. Maar die erkende “oudstes” het as verteenwoordigers van die gemeente die saak hanteer. (Vergelyk Deuteronomium 19:16, 17 wat handel oor ’n saak wat hanteer is deur ‘die priesters en die regters wat daar in dié dae was’.) Net so ook vandag, wanneer dit nodig is om die derde stap te neem, sal die ouer manne, wat die gemeente verteenwoordig, die saak hanteer. Hulle doelwit is dieselfde, om die Christenbroer te wen as dit enigsins moontlik is. Hulle toon dit deur regverdig te wees en nie die saak vooruit te beoordeel of partydig te wees nie.
19. Wat sal die ouer manne wat gevra is om die saak aan te hoor, probeer doen?
19 Hulle sal daarna streef om die feite sorgvuldig te beoordeel en die getuienis aan te hoor wat nodig is om te bepaal of ’n sonde waarlik gepleeg is (of nog gepleeg word). Hulle wil die gemeente teen verdorwenheid beskerm en die gees van die wêreld daaruit hou (1 Korintiërs 2:12; 5:7). In ooreenstemming met hulle skriftuurlike kwalifikasies sal hulle probeer “om deur die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers tereg te wys” (Titus 1:9). Die oortreder sal hopelik nie soos die Israeliete wees van wie Jehovah se profeet geskryf het nie: ‘Ek het geroep maar julle het nie geantwoord nie, Ek het gespreek maar julle het nie geluister nie, maar gedoen wat verkeerd is in my oë en verkies wat My nie behaag nie.’—Jesaja 65:12.
20. Wat het Jesus gesê moet gedoen word as die sondaar weier om te luister en berou te toon?
20 Daar is egter redelik min gevalle waar die sondaar daardie selfde gesindheid openbaar. Indien wel, is Jesus se voorskrif duidelik: “Laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees.” Die Here het nie gesê dat ons onmenslik moet optree of die persoon doelbewus moet seermaak nie. Daar is egter geen dubbelsinnigheid omtrent die apostel Paulus se voorskrif om onberouvolle sondaars uit die gemeente uit te sit nie (1 Korintiërs 5:11-13). Selfs dít kan uiteindelik help om die sondaar te wen.
21. Watter moontlikheid bestaan daar nog vir iemand wat uit die gemeente gesit is?
21 Ons kan daardie moontlikheid sien in Jesus se gelykenis van die verlore seun. Soos geïllustreer word, het daardie sondaar “tot besinning gekom” nadat hy ’n tyd lank weg van die liefdevolle assosiasie in sy vader se huis was (Lukas 15:11-18). Paulus het vir Timoteus gesê dat party oortreders na verloop van tyd berou sou toon en “weer tot besinning [sou] kom, uit die strik van die Duiwel” (2 Timoteus 2:24-26). Ons hoop beslis dat enigeen wat onberouvol sondig en uit die gemeente uitgesit moet word, sal besef wat hulle verloor het—God se goedkeuring sowel as die hartlike assosiasie en sosiale verkeer met lojale Christene—en dan tot besinning sal kom.
22. Hoe kan ons nog ons broer wen?
22 Jesus het nie mense van die nasies en belastinggaarders as heeltemal verlore beskou nie. Een van die belastinggaarders, Matteus Levi, het berou getoon, uit opregtheid ‘Jesus gevolg’ en is selfs gekies om ’n apostel te wees (Markus 2:15; Lukas 15:1). As ’n sondaar dus vandag “selfs na die gemeente nie luister nie” en uit die gemeente gesit word, kan ons wag en kyk of hy na verloop van tyd berou sal toon en reguit paaie vir sy voete sal maak. Wanneer hy dit doen en weer ’n lid van die gemeente is, sal ons bly wees dat ons broer teruggewen is in die kudde van ware aanbidders.
[Voetnote]
a McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Die belastinggaarders van die Nuwe Test[ament] is beskou as verraaiers en afvalliges, verontreinig deur hulle gereelde omgang met die heidene en gewillige werktuie van die onderdrukker. Hulle is as sondaars geklassifiseer . . . Afgesonder omdat ordentlike mense niks met hulle te doen wou hê nie, kon hulle slegs vriende of metgeselle vind onder diegene wat, soos hulle, uitgeworpenes was.”
b Sake- of geldelike aangeleenthede waarby ’n mate van bedrog of kullery betrokke is, kan onder die sondes val wat Jesus in gedagte gehad het. ’n Aanduiding hiervan is die feit dat Jesus, nadat hy die raad in Matteus 18:15-17 gegee het, ’n illustrasie vertel het van slawe (werknemers) wat geld geskuld het en dit nie terugbetaal het nie.
c ’n Bybelgeleerde het gesê: “Dit gebeur soms dat ’n oortreder meer ag sal slaan op twee of drie persone (veral as hulle mense is wat eerbiedwaardig is) as op een, veral as dit iemand is met wie hy ’n meningsverskil gehad het.”
Onthou jy?
◻ Op watter soort sonde is Matteus 18:15-17 hoofsaaklik van toepassing?
◻ Wat moet ons onthou as ons die eerste stap moet neem?
◻ Wie kan ons help as ons die tweede stap moet neem?
◻ Wie is betrokke by die derde stap, en hoe kan ons nog ons broer wen?
[Prent op bladsy 18]
Die Jode het die belastinggaarders vermy. Matteus het sy weë verander en Jesus gevolg
[Prent op bladsy 20]
Ons kan dikwels ’n saak “onder vier oë” skik
-