-
Ons dank Jehovah—Deur voltydse diens!Die Wagtoring – 2000 | Mei 1
-
-
Die stad New York in 1958
In 1957 het ek nog ’n uitnodiging van Bethel ontvang: “Sal jy asseblief na die takkantoor kom en help met die reëlings vir die reis na die komende internasionale byeenkoms wat in 1958 by Yankee-stadion en die Polo-terrein in die stad New York gehou gaan word?” Ek en Joan was weldra besig met die aansoekvorms van die broers vir plekke op die vliegtuie en skepe wat die Genootskap gehuur het. Daardie byeenkoms was toe die bekende Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms, wat deur ’n baie groot gehoor van 253 922 bygewoon is. By hierdie byeenkoms het 7 136 hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer—meer as twee keer die getal wat, volgens die Bybelverslag, by die geskiedkundige geleentheid van Pinkster 33 G.J. gedoop is.—Handelinge 2:41.
Ek en Joan sal nooit die goedhartigheid van broer Knorr vergeet nie toe hy ons persoonlik genooi het om die byeenkoms by te woon om te help omsien na die afgevaardigdes wat uit 123 lande in die stad New York aangekom het. Dit was vir ons albei ’n vreugdevolle en lonende ondervinding.
Seëninge van voltydse diens
Nadat ons teruggekeer het, het ons voortgegaan met die reisende werk totdat ons gesondheidsprobleme begin ondervind het. Joan is in die hospitaal opgeneem, en ek het ’n ligte beroerte gehad. Ons het spesiale pioniers geword, maar later die voorreg gehad om tydelik weer kringwerk te doen. Uiteindelik het ons na Bristol teruggekeer waar ons in die voltydse diens gebly het. My broer, Dick, en sy gesin woon naby ons, en ons praat dikwels oor ons herinneringe.
My sig is in 1971 onherstelbaar beskadig toe my retinas geskeur het. Sedertdien sukkel ek baie om te lees, en daarom is die kassetopnames van Bybellektuur vir my ’n wonderlike voorsiening van Jehovah. Ek en Joan hou nog steeds tuisbybelstudies, en deur die jare heen het ons die voorreg gehad om ongeveer 40 mense te help om kennis van die waarheid op te doen, en dit sluit een gesin van sewe in.
Toe ons ons lewe meer as 60 jaar gelede aan Jehovah toegewy het, was dit ons begeerte om die voltydse diens te betree en daarin te bly. Hoe dankbaar is ons tog dat ons nog die krag het om die Groot Jehovah te dien—die enigste manier waarop ons hom vir sy goedheid teenoor ons en vir ons gelukkige jare saam kan bedank!
-
-
Jehovah is groter as ons hartDie Wagtoring – 2000 | Mei 1
-
-
Jehovah is groter as ons hart
“DIE HERE het ’n welgevalle in die wat Hom vrees”, het die psalmis geskryf. Trouens, die Skepper is verheug om te sien hoe elkeen van sy menseknegte daarna streef om sy regverdige standaarde te handhaaf. God seën sy lojale knegte, bemoedig hulle en vertroos hulle in tye van wanhoop. Hy weet dat sy aanbidders onvolmaak is, en daarom is hy realisties in wat hy van hulle verwag.—Psalm 147:11.
Dit is dalk nie vir ons moeilik om te glo dat Jehovah vir al sy knegte baie lief is nie. Maar party mense word in so ’n mate gekwel deur hulle eie tekortkominge dat hulle vas glo dat Jehovah hulle glad nie kan liefhê nie. Hulle kom dalk tot die gevolgtrekking: “Ek is te onvolmaak dat Jehovah my kan liefhê.” Ons het natuurlik almal van tyd tot tyd negatiewe gevoelens. Maar dit lyk of party voortdurend met gevoelens van waardeloosheid worstel.
Gevoelens van neerslagtigheid
In Bybeltye was daar ’n hele paar getroue mense wat baie neerslagtig gevoel het. Job het die lewe gehaat en gevoel dat God hom verlaat het. Hanna, wat die moeder van Samuel geword het, was ’n tyd lank baie ontsteld omdat sy nie kinders kon hê nie, en sy het bitterlik geween. Dawid het “heeltemal geboë” gevoel, en Epafroditus was ontsteld omdat die nuus oor sy siekte sy broers bedroef gemaak het.—Psalm 38:7; 1 Samuel 1:7, 10; Job 29:2, 4, 5; Filippense 2:25, 26.
Wat van Christene van vandag? Dalk veroorsaak siekte, bejaardheid of ander persoonlike omstandighede dat party nie soveel kan doen as wat hulle graag in heilige diens wil doen nie. Dit laat hulle moontlik tot die gevolgtrekking kom dat hulle Jehovah en hulle medegelowiges teleurstel. Of party blameer hulleself voortdurend vir foute wat hulle in die verlede begaan het en twyfel of Jehovah hulle vergewe het. Ander wat ’n moeilike gesinslewe gehad het, glo miskien vas dat hulle eenvoudig net nie ander se liefde waardig is nie. Hoe is dit moontlik?
Party word groot in gesinne wat nie deur liefde gekenmerk word nie, maar deur selfsug, sarkasme en vrees. Hulle leer dalk nooit ’n vader ken wat hulle innig liefhet, wat na geleenthede soek om hulle te prys en aan te moedig, wat oortredinge oorsien en bereid is om selfs ernstiger foute te vergewe en wie se warmte die hele gesin veilig laat voel nie. Aangesien hulle nooit ’n liefdevolle aardse vader gehad het nie, vind hulle dit dalk moeilik om te verstaan wat dit beteken om ’n liefdevolle hemelse Vader te hê.
Fritza skryf byvoorbeeld: “Die feit dat my pa nie liefde aan my betoon het nie, het ’n groot invloed op my kinderjare en my jeug gehad. Hy het my nooit geprys nie, en ek het nooit na aan hom gevoel nie. Om eerlik te wees, ek was die meeste van die tyd bang vir hom.” Gevolglik voel Fritz, wat nou in sy vyftigerjare is, nog steeds dat hy onwaardig is. En Margarette verduidelik: “My ouers was koud en liefdeloos. Toe ek die Bybel begin studeer het, was dit vir my moeilik om my ’n liefdevolle vader voor te stel.”
Wat ook al die rede vir sulke gevoelens is, dit kan beteken dat die dryfkrag agter ons diens aan God soms nie hoofsaaklik liefde is nie, maar in ’n groot mate skuldgevoelens of vrees is. Ons beste lyk net nooit goed genoeg nie. Die begeerte om Jehovah en ons medegelowiges te behaag, laat ons dalk voel dat ons nie soveel kan doen as wat ons baie graag wil doen nie. Gevolglik sal ons dalk nie ons doelwitte bereik nie, onsself blameer en moedeloos voel.
Wat kan gedoen word? Dalk moet ons ons herinner aan hoe ruimhartig Jehovah is. Iemand wat hierdie liefdevolle aspek van God se persoonlikheid verstaan het, was die apostel Johannes.
“God is groter as ons hart”
Aan die einde van die eerste eeu G.J. het Johannes vir sy medegelowiges geskryf: “Hieraan sal ons weet dat ons ons oorsprong by die waarheid het, en ons sal ons hart voor hom gerusstel met betrekking tot alles waarin ons hart ons veroordeel, want God is groter as ons hart en weet alles.” Waarom het Johannes hierdie woorde geskryf?—1 Johannes 3:19, 20.
Johannes het ongetwyfeld geweet dat ’n kneg van Jehovah in sy hart veroordeel kan voel. Miskien het Johannes self sulke gevoelens ondervind. As ’n jong man met ’n vurige geaardheid is Johannes soms deur Jesus Christus tereggewys omdat hy ander te streng behandel het. Trouens, Jesus het Johannes en sy broer Jakobus “die bynaam Boanerges gegee, wat Seuns van die Donder beteken”.—Markus 3:17; Lukas 9:49-56.
Gedurende die daaropvolgende 60 jaar het Johannes versag en ’n gebalanseerde, liefdevolle en barmhartige Christen geword. Teen die tyd dat hy, as die laaste apostel wat nog gelewe het, sy eerste geïnspireerde brief geskryf het, het hy geweet dat Jehovah nie sy knegte vir elke oortreding straf nie. Hy is eerder ’n hartlike, ruimhartige, vrygewige en medelydende Vader, wat almal wat hom liefhet en hom in waarheid aanbid innig liefhet. Johannes het geskryf: “God is liefde.”—1 Johannes 4:8.
Jehovah is verheug oor ons diens aan hom
God ken ons aangebore swakhede en tekortkominge, en hy neem dit in aanmerking. “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is”, het Dawid geskryf. Jehovah besef watter invloed ons agtergrond het op die soort persoon wat ons is. Trouens, hy ken ons baie beter as wat ons onsself ken.—Psalm 103:14.
Hy weet dat baie van ons anders sou wou wees, maar dat ons nie ons onvolmaakthede kan oorkom nie. Ons situasie kan vergelyk word met dié van die apostel Paulus, wat geskryf het: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek.” Ons almal voer dieselfde stryd. In party gevalle veroorsaak dit dalk dat ons hart ons veroordeel.—Romeine 7:19.
Onthou altyd: Jehovah se beskouing van ons is belangriker as hoe ons onsself beskou. Wanneer hy sien hoe ons probeer om hom te behaag, is hy nie net effens tevrede nie, maar verbly dit sy hart (Spreuke 27:11). Al lyk dít wat ons bereik dalk vir ons maar onbeduidend, is hy verheug oor ons gewilligheid en goeie beweegredes. Hy kyk verder as wat ons bereik; hy onderskei wat ons wil doen; hy is bewus van ons wense en begeertes. Jehovah kan ons hart lees.—Jeremia 12:3; 17:10.
Baie Getuies van Jehovah is byvoorbeeld van nature skaam en teruggetrokke mense wat verkies om op die agtergrond te bly. Vir sulke mense kan dit ’n groot uitdaging wees om die goeie nuus van huis tot huis te verkondig. En tog leer selfs skugter mense, wat beweeg word deur ’n begeerte om God te dien en om hulle naaste te help, om ander te nader en oor die Bybel te praat. Hulle voel moontlik dat hulle min bereik, en dit kan hulle van hulle vreugde beroof. Hulle hart sê dalk vir hulle dat hulle openbare bediening nie die moeite werd is nie. Maar Jehovah is beslis verheug dat hierdie persone hulle so kragtig inspan in sy diens. Daarbenewens weet hulle nie wanneer en waar die saadjies van waarheid wat hulle gesaai het, sal ontkiem, groei en vrug dra nie.—Prediker 11:6; Markus 12:41-44; 2 Korintiërs 8:12.
Ander Getuies het ’n slepende siekte of hulle word ouer. Vir hulle gaan die gereelde bywoning van vergaderinge by die Koninkryksaal gepaard met pyn en moeite. Wanneer hulle na ’n toespraak oor die predikingswerk luister, herinner dit hulle dalk aan wat hulle voorheen gedoen het en wat hulle nog wil doen, hoewel hulle nou nie meer kan nie. Hulle het dalk skuldgevoelens omdat hulle nie die raad kan volg in die mate waarin hulle graag wil nie. Maar hulle lojaliteit en volharding is beslis kosbaar in Jehovah se oë. Solank hulle lojaal bly, vergeet hy nooit hulle getroue rekord nie.—Psalm 18:25, NW; 37:28, NW.
‘Stel ons hart gerus’
Teen die tyd dat Johannes bejaard was, het hy seker al ’n baie goeie begrip van God se ruimhartigheid gehad. Onthou dat hy geskryf het: “God is groter as ons hart en weet alles.” Daarbenewens het Johannes ons aangespoor om ‘ons hart gerus te stel’. Wat het Johannes met hierdie woorde bedoel?
Volgens Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words beteken die Griekse werkwoord wat as “gerusstel” vertaal is “om oorreding te gebruik, om oor te haal of om te haal, om te oortuig”. Met ander woorde, om ons hart gerus te stel, moet ons ons hart oorhaal, dit oortuig dat Jehovah ons liefhet. Hoe?
Fritz, wat vroeër in hierdie artikel gemeld is, dien al meer as 25 jaar lank as ’n ouer man in een van die gemeentes van Jehovah se Getuies, en hy het gevind dat persoonlike studie sy hart van Jehovah se liefde kan verseker. “Ek bestudeer die Bybel en ons publikasies gereeld en deeglik. Dit help my om nie oor die verlede te tob nie, maar om ons wonderlike toekoms duidelik voor oë te hou. Soms haal my verlede my in en voel ek dat God my glad nie kan liefhê nie. Maar ek vind oor die algemeen dat gereelde studie my hart versterk, my geloof opbou en my help om vreugdevol en gebalanseerd te bly.”
Bybellees en bepeinsing sal dalk nie ons situasie self verander nie. Maar dit kan ons beskouing van ons situasie verander. As ons gedagtes uit God se Woord in ons hart inneem, help dit ons om soos hy te dink. Daarbenewens stel studie ons in staat om ’n beter begrip van God se ruimhartigheid te verkry. Ons kan geleidelik begin aanvaar dat Jehovah weet dat ons nie verantwoordelik is vir die omstandighede gedurende ons kinderjare nie, en hy gee ons ook nie die skuld vir ons gebreke nie. Hy weet dat die laste wat baie van ons dra—hetsy emosioneel of fisies—dikwels nie deur ons eie toedoen is nie, en hy neem dit liefdevol in aanmerking.
Wat van Margarette, wat vroeër gemeld is? Toe sy Jehovah leer ken het, het sy ook baie baat gevind by haar studie van die Bybel. Sy moes, soos Fritz, haar beeld van ’n vader verander. Gebed het Margarette gehelp om wat sy deur studie geleer het haar eie te maak. “Aanvanklik het ek Jehovah as ’n goeie vriend beskou, aangesien ek in my lewe liefdevolle vriende geken het, maar nie ’n liefdevolle vader nie. Ek het geleidelik geleer om my gevoelens, twyfelgedagtes, bekommernisse en probleme aan Jehovah uit te stort. Ek het baie met hom in gebed gepraat, en terselfdertyd al die nuwe dinge wat ek aangaande hom geleer het, byna soos ’n mosaïek, stukkie vir stukkie saamgevoeg. Ná ’n ruk het my gevoelens vir Jehovah só verinnig dat ek dit nou selde moeilik vind om hom as my liefdevolle Vader te beskou”, sê Margarette.
Bevryding van alle kommer
Solank hierdie goddelose ou stelsel bestaan, kan niemand verwag om sonder enige bekommernisse te wees nie. Vir party Christene beteken dit dat gevoelens van angs of onsekerheid oor hulleself dalk weer sal kop uitsteek en neerslagtigheid sal veroorsaak. Maar ons kan daarvan verseker wees dat Jehovah bewus is van ons goeie beweegredes en ons harde werk in sy diens. Hy sal nooit die liefde wat ons vir sy naam toon, vergeet nie.—Hebreërs 6:10.
In die komende nuwe aarde onder die Messiaanse Koninkryk kan alle getroue mense verwag om van die laste van Satan se stelsel bevry te word. Wat ’n verligting sal dit tog wees! Dan sal ons selfs nog meer bewyse sien van hoe ruimhartig Jehovah is. Laat ons, tot dan, daarvan verseker wees dat ‘God groter is as ons hart en alles weet’.—1 Johannes 3:20.
[Voetnoot]
a Die name is verander.
[Lokteks op bladsy 30]
Jehovah is nie ’n kwaai despoot nie, maar ’n hartlike, ruimhartige en medelydende Vader
[Prent op bladsy 31]
As ons God se Woord studeer, help dit ons om soos hy te dink
-