Hoofstuk 8
Waarom laat God lyding toe?
1, 2. Hoe reageer mense dikwels op menselyding?
WANNEER rampe voorkom en dit besittings vernietig en lewens eis, kan baie nie verstaan waarom sulke verskriklike dinge gebeur nie. Ander is verontrus oor die grootskaalse, wrede en teuellose misdaad en geweld. Jy het dalk ook al gewonder: ‘Waarom laat God lyding toe?’
2 Baie het geloof in God verloor omdat hulle nie ’n bevredigende antwoord op hierdie vraag gevind het nie. Hulle meen dat hy nie in die mensdom belangstel nie. Ander wat lyding as ’n lewensfeit aanvaar, raak verbitterd en blameer God vir al die boosheid in die mensegemeenskap. As jy al sulke gevoelens ervaar het, sal jy ongetwyfeld baie belangstel in wat die Bybel oor hierdie aangeleenthede sê.
LYDING KOM NIE VAN GOD NIE
3, 4. Waarom kan ons daarvan seker wees dat boosheid en lyding nie van Jehovah kom nie?
3 Die Bybel verseker ons dat die lyding wat ons vandag om ons sien nie deur Jehovah God veroorsaak word nie. Die Christendissipel Jakobus het byvoorbeeld geskryf: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie en beproef hy self ook niemand nie” (Jakobus 1:13). Aangesien dit die geval is, kon God nie al die swaarkry veroorsaak het wat die mensdom teister nie. Hy bring nie beproewinge oor mense om hulle geskik te maak vir lewe in die hemel nie, en hy laat mense ook nie ly as gevolg van bose dade wat hulle kwansuis in ’n vorige lewe gepleeg het nie.—Romeine 6:7.
4 En al is talle verskriklike dinge in die naam van God of van Christus gedoen, is daar niks in die Bybel wat te kenne gee dat een van hulle ooit sulke dade goedgekeur het nie. God en Christus het niks te doen met dié wat beweer dat hulle hulle dien, maar wat lieg en bedrieg, doodmaak en roof en baie ander dinge doen wat menselyding veroorsaak nie. Trouens, “die wandel van die goddelose is vir die HERE ’n gruwel”. God “is ver van die goddelose”.—Spreuke 15:9, 29.
5. Wat is party van Jehovah se eienskappe, en hoe voel hy oor sy skepsele?
5 Die Bybel beskryf Jehovah as “baie teer in geneentheid en barmhartig” (Jakobus 5:11). Dit sê: “Die HERE het die reg lief” (Psalm 37:28; Jesaja 61:8). Hy is nie wraaksugtig nie. Uit medelye sorg hy vir sy skepsele en gee hy vir hulle almal wat vir hulle die beste is (Handelinge 14:16, 17). Jehovah doen dit al sedert die begin van lewe op die aarde.
’N VOLMAAKTE BEGIN
6. Hoe verwys party legendes na die mensdom se vroeë geskiedenis?
6 Ons is almal daaraan gewoond om pyn en lyding te sien en te ervaar. Daarom is dit dalk moeilik om jou ’n tyd sonder lyding voor te stel, maar dit is hoe dit aan die begin van die mensegeskiedenis was. Selfs die legendes van party nasies verwys na so ’n gelukkige begin. In die Griekse mitologie is die eerste van die “Vyf Eeue van die Mens” die “Goue Eeu” genoem. Daarin het mense gelukkige lewens gelei, sonder moeite, pyn en die agteruitgang wat met die ouderdom gepaardgaan. Die Chinese sê dat mense gedurende die bewind van die mitologiese Geel Keiser (Hoeang-ti) in vrede gelewe het en selfs harmonie met die elemente en wilde diere geniet het. Die Perse, Egiptenaars, Tibettane, Peruane en Mexikane het almal legendes oor ’n tyd van geluk en volmaaktheid aan die begin van die mensdom se geskiedenis.
7. Waarom het God die aarde en die mens geskep?
7 Die mites van die nasies herhaal maar net wat die oudste geskrewe verslag van die mensegeskiedenis, die Bybel, sê. Dit vertel ons dat God die eerste mensepaar, Adam en Eva, in ’n paradys geplaas het wat die tuin van Eden genoem is en hulle beveel het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). Ons eerste ouers het volmaaktheid geniet en het die vooruitsig gehad om te sien hoe die hele aarde ’n paradys word wat deur ’n volmaakte mensefamilie bewoon word wat in blywende vrede en geluk lewe. Dít was God se voorneme toe hy die aarde en die mens geskep het.—Jesaja 45:18.
’N KWAADWILLIGE UITDAGING
8. Watter bevel moes Adam en Eva gehoorsaam, maar wat het gebeur?
8 As Adam en Eva in God se guns wou bly, moes hulle nie van “die boom van die kennis van goed en kwaad” eet nie (Genesis 2:16, 17). As hulle Jehovah se wet gehoorsaam het, sou daar geen lyding gewees het om die mens se lewe te bederf nie. Deur God se bevel te gehoorsaam, sou hulle hulle liefde vir Jehovah en hulle lojaliteit aan hom getoon het (1 Johannes 5:3). Maar soos ons in Hoofstuk 6 geleer het, is dit nie wat gebeur het nie. Eva het op aansporing van Satan van daardie boom se vrugte geëet. Later het Adam ook van die verbode vrugte geëet.
9. Watter geskil het Satan met betrekking tot Jehovah geopper?
9 Besef jy die erns van wat gebeur het? Satan het Jehovah se posisie as die Allerhoogste aangeval. Deur te sê: “Julle sal gewis nie sterwe nie”, het die Duiwel God se woorde: ‘Jy sal sekerlik sterwe’, weerspreek. Satan se verdere woorde het te kenne gegee dat Jehovah Adam en Eva in onkunde gehou het omtrent die moontlikheid om soos God te word, wat sou beteken dat hulle Hom dan nie nodig sou hê om te besluit wat goed en kwaad is nie. Satan se uitdaging het dus die regmatigheid en geldigheid van Jehovah se posisie as die Universele Soewerein betwis.—Genesis 2:17; 3:1-6.
10. Watter insinuasies het Satan oor mense gemaak?
10 Satan die Duiwel het ook geïnsinueer dat mense net aan Jehovah gehoorsaam sou bly solank gehoorsaamheid aan God hulle tot voordeel sou strek. Met ander woorde, die mens se onkreukbaarheid is in twyfel getrek. Satan het die aantyging gemaak dat geen mens vrywillig aan God lojaal sou bly nie. Hierdie kwaadwillige bewering deur Satan blyk duidelik uit die Bybel se verslag oor Job, ’n getroue kneg van Jehovah wat die een of ander tyd voor 1600 v.G.J. ’n groot beproewing ondergaan het. As jy die eerste twee hoofstukke van die boek Job lees, kan dit jou help om te verstaan waarom die mens ly en waarom God dit toelaat.
11. Watter soort man was Job, maar watter aantyging het Satan gemaak?
11 Job, “’n man vroom en opreg”, is deur Satan aangeval. Eerstens het Satan ’n slegte beweegrede aan Job toegeskryf deur te vra: “Is dit verniet dat Job God vrees?” Toe het die Duiwel God sowel as Job met fyn lis belaster deur die aantyging te maak dat Jehovah Job se lojaliteit gekoop het deur hom te beskerm en te seën. “Maar strek net u hand uit”, het Satan Jehovah uitgedaag, “en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig [vervloek, NW]!”—Job 1:8-11.
12. (a) Watter vrae kon slegs beantwoord word as God Satan sou toelaat om Job op die proef te stel? (b) Waartoe het Job se beproewing gelei?
12 Het Job Jehovah net gedien oor al die goeie dinge wat hy van God ontvang het? Kon Job se onkreukbaarheid ’n toets deurstaan? En het Jehovah genoeg vertroue in sy kneg gehad om toe te laat dat hy op die proef gestel word? Hierdie vrae kon beantwoord word as Jehovah Satan sou toelaat om ’n baie swaar beproewing oor Job te bring. Job se getroue handelswyse onder die beproewing wat deur God toegelaat is en wat in die boek Job beskryf word, was ’n algehele regverdiging van Jehovah se regverdigheid en die mens se onkreukbaarheid.—Job 42:1, 2, 12.
13. Hoe raak wat in Eden en met Job gebeur het ons?
13 Wat in die tuin van Eden en met die man Job gebeur het, het egter ’n dieper betekenis. Die geskille wat Satan geopper het, raak die hele mensdom, ook ons vandag. God se naam is beswadder en sy soewereiniteit is betwis. Die opregtheid van God se skepping, die mens, is in twyfel getrek. Hierdie geskille moes besleg word.
HOE OM DIE GESKILLE TE BESLEG
14. Wat kan ’n beskuldigde persoon omtrent ’n kwaadwillige aantyging teen hom doen?
14 Kom ons sê by wyse van illustrasie dat jy ’n liefdevolle ouer is met etlike kinders in ’n gelukkige gesin. Gestel een van jou bure versprei leuens en beskuldig jou daarvan dat jy ’n slegte ouer is. Sê nou die buurman sê dat jou kinders jou nie liefhet nie, dat hulle net by jou bly omdat hulle niks beters ken nie en dat hulle sou weggaan as iemand hulle die geleentheid sou bied. ‘Verregaande!’ sê jy dalk. Ja, maar hoe sou jy dit bewys? Party ouers sal miskien uit woede optree. Behalwe dat dit meer probleme sou skep, sou so ’n gewelddadige reaksie as ’t ware die leuens bevestig. ’n Bevredigende manier om so ’n probleem op te los, sou wees om jou beskuldiger die geleentheid te gee om sy aantyging te staaf en vir jou kinders om te getuig dat hulle jou opreg liefhet.
15. Wat het Jehovah besluit om oor Satan se uitdaging te doen?
15 Jehovah is soos die liefdevolle ouer. Adam en Eva kan vergelyk word met die kinders, en Satan pas in die rol van die buurman wat die leuens versprei. God het Satan, Adam en Eva in Sy wysheid nie onmiddellik vernietig nie, maar het hierdie oortreders toegelaat om nog ’n ruk te lewe. Dit het ons eerste ouers tyd gegee om die mensefamilie te begin, en dit het die Duiwel die kans gegee om te bewys of sy aantyging waar was, sodat die geskille besleg kon word. God het egter van die begin af geweet dat party mense aan hom lojaal sou wees en Satan dus ’n leuenaar sou bewys. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah voortgegaan het om dié wat hom liefhet te seën en te help!—2 Kronieke 16:9; Spreuke 15:3.
WAT IS BEWYS?
16. Hoe is dit dat die wêreld in Satan se mag is?
16 Satan kon gedurende so te sê die hele mensegeskiedenis sy planne vir die oorheersing van die mensdom ongehinderd uitvoer. Hy het onder meer gesag oor die politieke magte uitgeoefen en het godsdienste bevorder wat aanbidding subtiel tot hom in plaas van tot Jehovah rig. So het die Duiwel “die god van hierdie stelsel van dinge” geword, en hy word “die heerser van hierdie wêreld” genoem (2 Korintiërs 4:4; Johannes 12:31). Ja, “die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Beteken dit dat Satan sy bewering bewys het dat hy die hele mensdom van Jehovah God kan wegrokkel? Beslis nie! Terwyl Jehovah Satan toegelaat het om voort te bestaan, het Hy voortgegaan om sy eie voorneme uit te voer. Wat openbaar die Bybel dan oor God se toelating van goddeloosheid?
17. Wat moet ons omtrent die oorsaak van goddeloosheid en lyding in gedagte hou?
17 Goddeloosheid en lyding word nie deur Jehovah veroor–saak nie. Aangesien Satan die heerser van hierdie wêreld en die god van hierdie stelsel van dinge is, is hy en dié wat aan sy kant is verantwoordelik vir die huidige toestand van die mensegemeenskap en al die ellende wat die mensdom verduur het. Niemand kan tereg sê dat God die oorsaak van sulke swaarkry is nie.—Romeine 9:14.
18. Wat het Jehovah se toelating van goddeloosheid en lyding bewys aangaande die kwessie van onafhanklikheid van God?
18 Jehovah se toelating van goddeloosheid en lyding het bewys dat onafhanklikheid van God nie ’n beter wêreld geskep het nie. Die geskiedenis is onteenseglik deur die een ramp na die ander gekenmerk. Dit is omdat mense gekies het om hulle eie onafhanklike weg te volg en hulle nie eintlik aan God se woord en wil gesteur het nie. Toe Jehovah se eertydse volk en hulle leiers ontrou geword het en “die gewilde weg” (NW) gevolg en sy woord verwerp het, was die gevolge rampspoedig. Deur sy profeet Jeremia het God vir hulle gesê: “Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” (Jeremia 8:5, 6, 9). As gevolg van ’n versuim om by Jehovah se standaarde te bly, het die mensdom in die algemeen soos ’n skip sonder ’n roer geword, wat in ’n onstuimige see rondgeslinger word.
19. Watter bewys is daar dat Satan nie alle mense God die rug kan laat toekeer nie?
19 God se toelating van goddeloosheid en lyding het ook bewys dat Satan nie die hele mensdom van Jehovah kon wegrokkel nie. Die geskiedenis toon dat daar altyd mense was wat aan God getrou gebly het ongeag watter versoekings en rampspoed oor hulle gebring is. Deur die eeue heen is Jehovah se krag ten behoewe van sy knegte geopenbaar, en sy naam is in die hele aarde verkondig (Exodus 9:16; 1 Samuel 12:22). Hebreërs hoofstuk 11 vertel ons van ’n lang lyn van getroue mense, met inbegrip van Abel, He–nog, Noag, Abraham en Moses. Hebreërs 12:1 noem hulle “’n groot wolk van getuies”. Hulle was voorbeelde van onwrikbare geloof in Jehovah. Ook in ons tyd het talle hulle lewe gegee in onverbreeklike onkreukbaarheid teenoor God. Deur hulle geloof en liefde lewer sulke mense onweerlegbare bewys dat Satan nie alle mense God die rug kan laat toekeer nie.
20. Wat het die feit dat Jehovah toegelaat het dat goddeloosheid en lyding voortduur in verband met God en die mensdom bewys?
20 Laastens, die feit dat Jehovah toegelaat het dat goddeloosheid en lyding voortduur, het bewys dat slegs Jehovah, die Skepper, die vermoë en die reg het om oor die mensdom te heers tot hulle ewige seën en geluk. Die mensdom het eeue lank verskillende regeringsvorme op die proef gestel. Maar wat was die resultaat? Die ingewikkelde probleme en krisisse waarmee die nasies vandag te kampe het, is oorgenoeg bewys dat die een mens, soos die Bybel dit stel, waarlik ‘oor die ander heers tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9). Slegs Jehovah kan tot ons redding kom en sy oorspronklike voorneme vervul. Hoe gaan hy dit doen, en wanneer?
21. Wat sal met Satan gedoen word, en wie sal gebruik word om dit te doen?
21 Onmiddellik nadat Adam en Eva voor Satan se plan geswig het, het God Sy voorneme aangaande ’n middel tot redding bekend gemaak. Dit is wat Jehovah oor Satan aangekondig het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Daardie aankondiging het gewaarborg dat die Duiwel nie toegelaat sal word om sy bose dade vir ewig te bedryf nie. As die Koning van die Messiaanse Koninkryk sal die beloofde Saad, Jesus Christus, ‘Satan se kop vermorsel’. Ja, Jesus sal die rebel Satan “binnekort” verbrysel!—Romeine 16:20.
WAT GAAN JY DOEN?
22. (a) Oor watter vrae moet jy besluit? (b) Waarvan kan diegene wat aan God getrou is seker wees, al stort Satan sy woede op hulle uit?
22 Aan wie se kant gaan jy jou skaar noudat jy weet wat die geskille is? Sal jy deur jou dade bewys dat jy ’n lojale ondersteuner van Jehovah is? Aangesien Satan weet dat sy tyd kort is, sal hy alles in sy vermoë doen om sy woede uit te stort op diegene wat onkreukbaarheid teenoor God wil handhaaf (Openbaring 12:12). Maar jy kan op God vertrou vir hulp, want ‘Jehovah weet hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos’ (2 Petrus 2:9). Hy sal nie toelaat dat jy versoek word bo wat jy kan verdra nie, en hy sal die uitweg gee sodat jy versoekings kan verduur.—1 Korintiërs 10:13.
23. Waarna kan ons met vertroue uitsien?
23 Laat ons met vertroue uitsien na die tyd wanneer die Koning Jesus Christus sal optree teen Satan en almal wat hom volg (Openbaring 20:1-3). Jesus sal almal uit die weg ruim wat enigsins verantwoordelik is vir die weë en beroering wat die mensdom ervaar het. Tot dan is ’n besonder pynlike vorm van lyding die verlies van ons dierbares in die dood. Lees die volgende hoofstuk om uit te vind wat met hulle gebeur.
TOETS JOU KENNIS
Hoe weet ons dat Jehovah nie menselyding veroorsaak nie?
Watter geskille is deur Satan in Eden geopper en het in Job se dag duidelik na vore gekom?
Wat het God se toelating van lyding bewys?