Wat ons by Jesus leer
Oor hoop vir die dooies
Jesus het ten minste drie mense opgewek en sodoende getoon dat daar hoop vir die dooies is (Lukas 7:11-17; 8:49-56; Johannes 11:1-45). Om die hoop vir die dooies te verstaan, moet ons eers verstaan wat die oorsaak en oorsprong van die dood is.
Waarom word ons siek en sterf ons?
Wanneer Jesus mense se sondes vergewe het, is hulle genees. Toe ’n verlamde man byvoorbeeld na Jesus gebring is, het Jesus gesê: “‘Wat is . . . makliker—om te sê: Jou sondes is vergewe, of om te sê: Staan op en loop? Sodat julle egter kan weet dat die Seun van die mens gesag het op aarde om sondes te vergewe—’ toe het hy vir die verlamde gesê: ‘Staan op, tel jou bed op en gaan na jou huis toe’” (Matteus 9:2-6). Sonde is dus die oorsaak van siekte en die dood. Ons oorgeërfde sondige toestand het sy oorsprong by die eerste man, Adam.—Lukas 3:38; Romeine 5:12.
Waarom het Jesus gesterf?
Jesus het nooit gesondig nie. Gevolglik het hy nie verdien om te sterf nie. Deur in ons plek te sterf, het Jesus die prys vir ons sondes betaal. Hy het gesê dat sy bloed “vir baie uitgestort [sou] word tot vergifnis van sondes”.—Matteus 26:28.
Jesus het ook gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Jesus het die prys wat hy betaal het, “’n losprys” genoem omdat dit ander van die dood vrygekoop het. Jesus het ook gesê: “Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). Om die hoop vir die dooies ten volle te verstaan, moet ons ook weet wat hulle huidige toestand is.
Wat gebeur by die dood?
Toe Jesus se vriend Lasarus gesterf het, het Jesus beskryf wat gebeur wanneer iemand sterf. Hy het vir sy dissipels gesê: “‘Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis [na Betanië] om hom uit die slaap wakker te maak.’ . . . Hulle het gedink dat hy van die rus van die slaap praat. Toe het Jesus dus reguit vir hulle gesê: ‘Lasarus het gesterf.’” Jesus het dit derhalwe duidelik gemaak dat die dooies slaap en van niks bewus is nie.—Johannes 11:1-14.
Toe Jesus hom opgewek het, was sy vriend Lasarus reeds vier dae dood. Maar die Bybel bevat geen kommentaar deur Lasarus oor sy ondervinding gedurende daardie tyd nie. Terwyl hy dood was, was Lasarus van niks bewus nie en het hy niks geweet nie.—Prediker 9:5, 10; Johannes 11:17-44.
Wat is die hoop vir die dooies?
Die dooies sal weer lewend word met die vooruitsig om vir ewig te lewe. Jesus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.
Hierdie hoop is ’n blyk van God se liefde. Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16; Openbaring 21:4, 5.
Vir meer inligting, sien hoofstuk 6 van die boek Wat leer die Bybel werklik?a
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.