-
Die onsterflikheid van die siel—Die oorsprong van die leerstellingWat gebeur met ons wanneer ons sterf?
-
-
Die onsterflikheid van die siel—Die oorsprong van die leerstelling
“Geen onderwerp wat met die mens se psigiese lewe verband hou, het sy verstand al so besig gehou as dié van sy toestand ná die dood nie.”—“ENCYCLOPÆDIA OF RELIGON AND ETHICS.”
1-3. Hoe het Sokrates en Plato die idee bevorder dat die siel onsterflik is?
’N70-JARIGE geleerde en onderrigter word daarvan beskuldig dat hy oneerbiedig is en jong verstande deur sy leer verdorwe maak. Hoewel hy tydens sy verhoor ’n briljante verdediging lewer, bevind ’n partydige jurie hom skuldig en veroordeel hom tot die dood. Net ’n paar uur voor sy teregstelling gee die bejaarde onderrigter vir die studente wat om hom staan ’n klomp argumente om te bevestig dat die siel onsterflik is en dat die dood nie gevrees moet word nie.
2 Die veroordeelde is niemand anders nie as Sokrates, ’n beroemde Griekse filosoof van die vyfde eeu v.G.J.a Sy student Plato het hierdie gebeurtenisse opgeteken in die werkstukke Apology en Phaedo. Sokrates en Plato word beskou as van die eerstes wat die idee bevorder het dat die siel onsterflik is. Maar hierdie leerstelling het nie sy oorsprong by hulle gehad nie.
3 Soos ons sal sien, het die idee van menslike onsterflikheid reeds baie vroeër ontstaan. Sokrates en Plato het die begrip egter verfyn en dit in ’n filosofiese leerstelling verander sodat dit groter byval kon vind by die geleerde klasse van hulle dag en dié daarna.
Van Pitagoras tot die piramides
4. Wat was vóór Sokrates se tyd die Griekse beskouings van die hiernamaals?
4 Die Grieke vóór Sokrates en Plato het ook geglo dat die siel ná die dood voortlewe. Pitagoras, die beroemde Griekse wiskundige van die sesde eeu v.G.J., het geglo dat die siel onsterflik en aan sielsverhuising onderworpe is. Voor hom het Tales van Milete, wat vermoedelik die eerste bekende Griekse filosoof was, gemeen dat daar nie net in mense, diere en plante ’n onsterflike siel bestaan nie, maar ook in voorwerpe soos magnete, aangesien hulle yster kan laat beweeg. Die eertydse Grieke het beweer dat die siele van die dooies deur ’n veerman oor die rivier Styx geroei is na ’n enorme ondergrondse ryk wat die onderwêreld genoem is. Daar het regters die siele gevonnis tot foltering in ’n gevangenis met hoë mure of tot ewige heil in Elisium.
5, 6. Hoe het die Perse die siel beskou?
5 In Iran, oftewel Persië, verder oos, het ’n profeet met die naam Zoroaster in die sewende eeu v.G.J. op die toneel verskyn. Hy het ’n vorm van aanbidding ingelui wat as Zoroastrisme bekend geword het. Dit was die godsdiens van die Persiese Ryk, wat oor die wêreld geheers het voordat Griekeland ’n groot mag geword het. Die Zoroastristiese geskrifte sê: “In Onsterflikheid sal die siel van die Regverdige altyd in Vreugde wees, maar die siel van die Leuenaar sal gewis in foltering wees. En hierdie Wette het Ahoeramazda [wat “’n wyse god” beteken] deur Sy soewereine mag neergelê.”
6 Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel was ook ’n deel van die pre-Zoroastristies-Iraanse godsdiens. Eertydse stamme van Iran het byvoorbeeld vir die siele van die afgestorwenes gesorg deur vir hulle kos en klere te gee wat vir hulle in die onderwêreld nuttig sou wees.
7, 8. Wat het die eertydse Egiptenaars geglo wat die voortbestaan van die siel ná die dood van die liggaam betref?
7 Geloof in lewe ná die dood was die kern van Egiptiese godsdiens. Die Egiptenaars het geglo dat die siel van die dooie persoon deur Osiris, die hoofgod van die onderwêreld, geoordeel sou word. ’n Papirusdokument wat vermoedelik uit die 14de eeu v.G.J. dateer, toon byvoorbeeld hoe Anubis, god van die dooies, die siel van die skrywer Hunefer tot voor Osiris lei. Op ’n weegskaal word die hart van die skrywer, wat sy gewete verteenwoordig, geweeg teen die veer wat die godin van waarheid en geregtigheid op haar hoof dra. Toth, ’n ander god, skryf die uitslag neer. Aangesien Hunefer se hart nie as gevolg van skuld swaar is nie, weeg dit minder as die veer, en Hunefer word toegelaat om in die ryk van Osiris in te gaan en onsterflikheid te ontvang. Die papirus toon ook ’n vroulike monster wat by die weegskaal staan, gereed om die afgestorwene te verslind as die hart nie die toets deurstaan nie. Die Egiptenaars het ook hulle afgestorwenes as mummies bewaar en die liggame van die farao’s in indrukwekkende piramides weggebêre, aangesien hulle gedink het dat die oorlewing van die siel van die bewaring van die liggaam afgehang het.
8 Verskeie antieke beskawings het dus een gemeenskaplike leerstelling gehad—die onsterflikheid van die siel. Het hulle hierdie leerstelling van dieselfde bron gekry?
Die oorsprong
9. Watter godsdiens het die eertydse wêreld van Egipte, Persië en Griekeland beïnvloed?
9 “In die antieke wêreld”, sê die boek The Religion of Babylonia and Assyria, “het Egipte, Persië en Griekeland die invloed van die Babiloniese godsdiens ondervind.” Hierdie boek verduidelik voorts: “In die lig van die vroeë kontak tussen Egipte en Babilon, soos die El-Amarna-tablette toon, was daar beslis baie geleenthede vir Babiloniese beskouings en gebruike om in Egiptiese kultusse ingelyf te word. In Persië weerspieël die Mitra-kultus die onmiskenbare invloed van Babiloniese opvattings . . . Die sterk toevoeging van Semitiese beginsels in vroeë Griekse mitologie sowel as in Griekse kultusse word nou so algemeen deur geleerdes erken dat geen verdere kommentaar meer nodig is nie. Hierdie Semitiese beginsels is grotendeels Babilonies van aard.”b
10, 11. Wat was die Babiloniese beskouing van lewe ná die dood?
10 Maar verskil die Babiloniese beskouing van wat ná die dood gebeur nie heelwat van dié van die Egiptenaars, die Perse en die Grieke nie? Neem byvoorbeeld die Babiloniese Gilgamesj-epos. Die bejaarde held daarin, Gilgamesj, word deur die werklikheid van die dood agtervolg, en hy begin na onsterflikheid soek, maar kan dit nie vind nie. ’n Wynkelnerin wat hy tydens sy reis ontmoet, spoor hom selfs aan om sy huidige lewe ten volle te geniet, want hy sal nie die eindelose lewe vind waarna hy soek nie. Die boodskap van die hele epos is dat die dood onvermydelik en die hoop op onsterflikheid ’n illusie is. Is dit ’n aanduiding dat die Babiloniërs nie aan die hiernamaals geglo het nie?
11 Professor Morris Jastrow jr., van die Universiteit van Pennsilvanië, VSA, het geskryf: “Die gedagte dat dít wat eens in aansyn gekom het moontlik totaal vernietig kan word, het nooit by die mense of die leiers van [Babiloniese] godsdiens opgekom nie. Die dood was [na hulle mening] ’n oorgang na ’n ander soort lewe, en die ontkenning van onsterflikheid het bloot beklemtoon dat dit onmoontlik is om die verandering in bestaan, wat deur die dood veroorsaak word, vry te spring.” Ja, die Babiloniërs het ook geglo dat ’n soort lewe, in die een of ander vorm, ná die dood voortbestaan. Hulle het dit getoon deur voorwerpe saam met die dooies te begrawe wat hulle in die hiernamaals kon gebruik.
12-14. (a) Waar het die leerstelling van die onsterflikheid van die siel sy oorsprong ná die Vloed gehad? (b) Hoe het dié leerstelling oor die aarde versprei?
12 Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel kan dus ongetwyfeld tot eertydse Babilon teruggevoer word. Volgens die Bybel, ’n boek wat die stempel van juiste geskiedenis dra, is die stad Babel, oftewel Babilon, gestig deur Nimrod, ’n agterkleinseun van Noag.c Ná die wêreldvloed in Noag se dag was daar net een taal en een godsdiens. Nimrod het ’n ander godsdiens begin toe hy die stad gestig en ’n toring daar gebou het. Die Bybelverslag toon dat die onsuksesvolle toringbouers ná die verwarring van tale by Babel verstrooi is en ’n nuwe begin moes maak, maar hulle het hulle godsdiens met hulle saamgeneem (Genesis 10:6-10; 11:4-9). Babiloniese godsdiensleringe het derhalwe oor die hele aarde versprei.
13 Volgens tradisie het Nimrod ’n gewelddadige dood gesterf. Ná sy dood sou die Babiloniërs redelikerwys geneig gewees het om groot agting vir hom te hê as die stigter, bouer en eerste koning van hulle stad. Aangesien die god Mardoek (Merodag) as die stigter van Babilon beskou is, beweer party geleerdes dat Mardoek die vergoddelikte Nimrod verteenwoordig. Indien dit die geval is, dan was die idee dat ’n persoon ’n siel het wat ná die dood voortlewe ten minste teen die tyd van Nimrod se dood reeds iets algemeens. Hoe dit ook al sy, geskiedenisverslae toon dat die leerstelling van die onsterflikheid van die siel ná die Vloed sy oorsprong in Babel, oftewel Babilon, gehad het.
14 Maar hoe het dié leerstelling die kern van die meeste godsdienste van ons tyd geword? Die volgende deel sal kyk na hoe dit die Oosterse godsdienste binnegedring het.
-
-
Die idee vat pos in Oosterse godsdiensteWat gebeur met ons wanneer ons sterf?
-
-
Die idee vat pos in Oosterse godsdienste
“Ek het altyd gedink dat die onsterflikheid van die siel ’n universele waarheid is wat almal aanvaar. Ek was dus werklik verbaas toe ek uitvind dat party geleerdes van die Ooste sowel as van die Weste hewig gekant was teen die beskouing. Nou wonder ek hoe die idee van onsterflikheid in Hindoebewustheid posgevat het.”—’N UNIVERSITEITSTUDENT WAT AS ’N HINDOE GROOTGEMAAK IS.
1. Waarom is kennis aangaande die ontwikkeling en verspreiding van die leerstelling van menslike onsterflikheid in verskillende godsdienste vir ons van belang?
HOE het die idee dat die mens ’n siel het wat onsterflik is in Hindoeïsme en ander Oosterse godsdienste posgevat? Die vraag is selfs van belang vir diegene in die Weste wat moontlik nie met hierdie godsdienste vertroud is nie, aangesien die oortuiging almal se beskouing van die toekoms raak. Omdat die leerstelling van menslike onsterflikheid ’n gemeenskaplike kenmerk in die meeste hedendaagse godsdienste is, kan dit inderdaad beter begrip en kommunikasie bevorder as ons weet hoe die idee ontwikkel het.
2. Waarom het Indië so ’n groot invloed op godsdiens in Asië gehad?
2 Ninian Smart, ’n professor in die godsdienswetenskap aan die Universiteit van Lancaster in Brittanje, sê: “Indië was die belangrikste sentrum van godsdiensinvloed in Asië. Dit is nie net omdat Indië self die oorsprong van ’n aantal gelowe—Hindoeïsme, Boeddhisme, Djainisme, Sikhisme, ens.—is nie, maar omdat een van hulle, Boeddhisme, ’n verreikende uitwerking op die kultuur van feitlik die hele Oos-Asië gehad het.” Baie kulture wat só beïnvloed is, “beskou Indië nog steeds as hulle geestelike vaderland”, sê die Hindoegeleerde Nikhilananda. Hoe het hierdie leerstelling van onsterflikheid Indië en ander dele van Asië dus binnegedring?
Hindoeïsme se reïnkarnasieleerstelling
3. Wie het volgens ’n geskiedskrywer die idee van sielsverhuising moontlik na Indië geneem?
3 In die sesde eeu v.G.J., terwyl Pitagoras en sy aanhangers in Griekeland die teorie van sielsverhuising bevorder het, het Hindoewysgere wat langs die oewers van die Indus- en Gangesrivier in Indië gewoon het dieselfde gedagte ontwikkel. Die gelyktydige verskyning van hierdie opvatting “in die Griekse wêreld en in Indië kan nouliks toevallig wees”, sê die geskiedskrywer Arnold Toynbee. “Een moontlike gemeenskaplike bron [van invloed]”, sê Toynbee, “is die Eurasiese nomadegemeenskap wat, in die 8ste en 7de eeu v.C., Indië, suidwestelike Asië, die vlakteland al langs die noordkus van die Swart See, en die Balkan- en Anatoliese skiereiland binnegestroom het.” Die migrerende Eurasiese stamme het blykbaar die idee van sielsverhuising saam met hulle na Indië geneem.
4. Waarom het die konsep van sielsverhuising by die Hindoewysgere ingang gevind?
4 Hindoeïsme het baie vroeër in Indië begin, toe die Ariërs omstreeks 1500 v.G.J. daar aangekom het. Van die begin af het Hindoeïsme die oortuiging gehad dat die siel van die liggaam verskil en dat die siel ná die dood voortleef. Hindoes het dus vooroueraanbidding beoefen en kos neergesit vir die siele van hulle afgestorwenes om te eet. Eeue later toe die idee van sielsverhuising Indië bereik, het dit ongetwyfeld ingang gevind by die Hindoewysgere wat geworstel het met die universele probleem van boosheid en lyding onder mense. Die Hindoewysgere het dít gekombineer met wat genoem word die wet van Karma, die wet van oorsaak en gevolg, en so het hulle die teorie van reïnkarnasie ontwikkel waarvolgens ’n mens vir jou goeie en slegte dade in een lewe beloon of gestraf word in die volgende lewe.
5. Wat is volgens Hindoes die einddoel van die siel?
5 Maar daar was ook ’n ander konsep wat Hindoeïsme se leerstelling oor die siel beïnvloed het. “Dit is blykbaar waar dat, juis die tyd toe die teorie van sielsverhuising en karma gevorm is, of selfs vroeër”, sê die Encyclopædia of Religion and Ethics, “’n ander begrip . . . geleidelik vorm aangeneem het in ’n klein intellektuele kring in N. Indië—die filosofiese konsep van die Brahman-Ātman [die allerhoogste en ewige Brahmaan, die hoogste werklikheid].” Hierdie idee is gekombineer met die teorie van reïnkarnasie om die einddoel van Hindoes te definieer—bevryding van die kringloop van sielsverhuising ten einde een te word met die hoogste werklikheid. Dit, glo Hindoes, word verkry deur na sosiaal aanvaarbare gedrag en spesiale Hindoekennis te streef.
6, 7. Wat is die hedendaagse Hindoeïsme se beskouing oor die hiernamaals?
6 Hindoewysgere het dus die idee van sielsverhuising deel laat vorm van die leerstelling van reïnkarnasie deur dit te kombineer met die wet van Karma en die konsep van Brahmaan. Octavio Paz, ’n Nobelpryswenner, digter en ’n voormalige Mexikaanse ambassadeur in Indië het geskryf: “Namate Hindoeïsme versprei het, het ook ’n idee versprei . . . wat die kern vorm van Brahmanisme, Boeddhisme en ander Oosterse godsdienste: metempsigose, die sielsverhuising deur opeenvolgende lewens.”
7 Die leerstelling van reïnkarnasie is die grondslag van hedendaagse Hindoeïsme. Die Hindoefilosoof Nikhilananda sê: “Elke goeie Hindoe is daarvan oortuig dat die verkryging van onsterflikheid nie die voorreg van ’n paar uitverkorenes is nie, maar die geboortereg van almal.”
Die kringloop van wedergeboorte in Boeddhisme
8-10. (a) Hoe definieer Boeddhisme lewensbestaan? (b) Hoe verduidelik ’n Boeddhistiese geleerde wedergeboorte?
8 Boeddhisme het omstreeks 500 v.G.J. sy ontstaan in Indië gehad. Volgens Boeddhistiese tradisie is Boeddhisme gestig deur ’n Indiese prins met die naam Siddhārtha Gautama, wat as Boeddha bekend geword het nadat hy verligting ontvang het. Aangesien dit uit Hindoeïsme ontstaan het, is die leerstellings daarvan in sekere opsigte soortgelyk aan dié van Hindoeïsme. Volgens Boeddhisme is die lewensbestaan ’n voortdurende kringloop van wedergeboortes en sterftes, en soos in Hindoeïsme word elke individu se status in sy huidige lewe bepaal deur die dade van sy vorige lewe.
9 Maar Boeddhisme verduidelik lewensbestaan nie uit die oogpunt van ’n persoonlike siel wat ná die dood voortleef nie. “[Boeddha] het in die menslike psige net ’n kortstondige reeks onderbroke psigologiese toestande gesien wat slegs deur begeerte saamgebind word”, het Arnold Toynbee gesê. Tog het Boeddha geglo dat iets—’n toestand of krag—van een lewe na die ander oorgedra word. Dr. Walpola Rahoela, ’n Boeddhistiese geleerde, verduidelik:
10 “’n Wese is niks anders nie as ’n kombinasie van fisiese en verstandelike kragte of energieë. Wanneer die fisiese liggaam heeltemal ophou funksioneer, noem ons dit die dood. Hou al hierdie kragte en energieë geheel en al op met werk wanneer die liggaam ophou funksioneer? Boeddhisme sê: ‘Nee.’ Wilskrag, begeerte, ’n vurige verlange om te bestaan, om voort te gaan, om al hoe meer te word, is ’n ontsaglike krag wat mense se hele lewe, se hele lewensbestaan aandryf, wat selfs die hele wêreld aandryf. Dít is die grootste krag, die grootste energie ter wêreld. Volgens Boeddhisme hou hierdie krag nie op met werk wanneer die liggaam ophou funksioneer nie, wat die dood is; maar dit word voortdurend in ’n ander vorm geopenbaar en lei tot herbestaan, wat wedergeboorte genoem word.”
11. Wat is die Boeddhistiese beskouing van die hiernamaals?
11 Die Boeddhistiese beskouing van die hiernamaals is as volg: Lewensbestaan is ewigdurend tensy die individu die einddoel, Nirwana, bereik, wat hom van die kringloop van wedergeboortes bevry. Nirwana is nie ’n toestand van ewige geluk of van eenwording met die hoogste werklikheid nie. Dit is eenvoudig ’n toestand van niebestaan—die “onsterflike plek” aan die ander kant van individuele lewensbestaan. Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer “Nirwana” as “’n plek of toestand waar bekommernis, pyn of eksterne werklikheid vergete is”. Pleks van onsterflikheid na te streef, word Boeddhiste aangespoor om bo dit uit te styg deur Nirwana te bereik.
12-14. Hoe dra verskillende vorme van Boeddhisme die idee van onsterflikheid oor?
12 Terwyl Boeddhisme na verskeie dele van Asië versprei het, het die leerstellings daarvan verander om by plaaslike oortuigings aan te pas. Mahajana-Boeddhisme, die vorm wat oorheersend in China en Japan voorkom, staan byvoorbeeld geloof voor in hemelse bodhisattvas, oftewel toekomstige Boeddhas. Bodhisattvas stel hulle Nirwana vir tallose lewens uit sodat hulle ander kan dien en help om dit te verkry. Sodoende kan iemand besluit om in die kringloop van wedergeboorte voort te gaan selfs ná hy Nirwana bereik het.
13 Nog ’n verandering wat veral ’n invloed in China en Japan uitgeoefen het, is die leerstelling van die Suiwer Land na die Weste, wat deur Boeddha Amitabha, of Amida, ontwikkel is. Diegene wat die naam van Boeddha in geloof aanroep, word in die Suiwer Land, oftewel paradys, weer gebore waar toestande gunstiger is om die finale verligting te verkry. Wat het uit hierdie leerstelling voortgespruit? Professor Smart, wat vroeër genoem is, verduidelik: “Dit is geen wonder nie dat die prag van die paradys, wat aanskoulik beskryf word in sommige Mahajana-tekste, nirwana in die algemene verbeelding as die hoogste doel vervang het.”
14 Tibettaanse Boeddhisme sluit ander plaaslike opvattings in. Die Tibettaanse boek oor die dooies beskryf byvoorbeeld die lot van ’n individu in die oorgangsfase voordat hy weer gebore word. Die dooies word glo aan die skerp lig van die hoogste werklikheid blootgestel, en diegene wat nie die lig kan verdra nie, verkry nie bevryding nie, maar word weer gebore. Boeddhisme in sy verskillende vorme dra gewis die idee van onsterflikheid oor.
Vooroueraanbidding in Japan se Sjinto
15-17. (a) Hoe het die aanbidding van voorouergeeste in Sjinto ontwikkel? (b) Waarom kan daar gesê word dat geloof in die onsterflikheid van die siel ’n grondleerstelling van Sjinto is?
15 Godsdiens het in Japan bestaan voor die ontstaan van Boeddhisme in die sesde eeu G.J. Dit was ’n godsdiens sonder ’n naam, en dit het bestaan uit oortuigings wat verband gehou het met sedelikheid en gebruike van die mense. Maar met die bekendstelling van Boeddhisme het die behoefte ontstaan om die Japannese godsdiens van die vreemde godsdiens te onderskei. En so het die benaming “Sjinto” ontstaan, wat “die weg van die gode” beteken.
16 Watter beskouing het die oorspronklike Sjinto oor die hiernamaals gehad? Toe die verbouing van rys in vleilande begin is, het “landbou in vleilande goed georganiseerde en bestendige gemeenskappe vereis”, verduidelik die Kodansha Encyclopedia of Japan, “en is landbouritusse—wat later so ’n belangrike rol in Sjinto gespeel het—ontwikkel”. Vrees vir siele wat verhuis het, het daartoe gelei dat hierdie eertydse mense ritusse uitgedink het om hulle te paai. Dit het ontwikkel in die aanbidding van voorouergeeste.
17 Volgens Sjinto-oortuiging het ’n siel wat “verhuis” het nog steeds sy persoonlikheid, maar dit is besoedel vanweë die dood. Wanneer die bedroefdes gedenkritusse beoefen, word die siel gereinig totdat alle kwaadwilligheid verwyder is en dit ’n vreedsame en liefdadige karakter aanneem. Mettertyd bereik die voorouergees die posisie van ’n voorouergodheid, of bewaker. Aangesien dit saam met Boeddhisme bestaan het, het Sjinto sekere Boeddhistiese leerstellings oorgeneem, onder andere die leerstelling van die paradys. Ons vind dus dat die geloof in onsterflikheid ’n grondleerstelling van Sjinto is.
Onsterflikheid in Taoïsme, vooroueraanbidding in Confucianisme
18. Wat is die Taoïste se beskouing oor onsterflikheid?
18 Taoïsme is gestig deur Lao-tse, wat na bewering in die sesde eeu v.G.J. in China gewoon het. Volgens Taoïsme is die doel in die lewe om die mens se bedrywighede in ooreenstemming te bring met Tao—die weg van die natuur. Taoïste se beskouing oor onsterflikheid kan so opgesom word: Tao is die vernaamste beginsel van die heelal. Tao het geen begin en geen einde nie. Deur in ooreenstemming met Tao te lewe, neem ’n individu daaraan deel en bereik hy ewigheid.
19-21. Tot watter pogings het Taoïste se spekulasies gelei?
19 In hulle poging om een met die natuur te wees, het Taoïste mettertyd veral in die tydloosheid en die herstellingsvermoë van die natuur begin belangstel. Hulle het gespekuleer dat die mens wat in ooreenstemming met Tao, oftewel die weg van die natuur, lewe miskien op die een of ander manier die geheime van die natuur kan ontrafel en immuun kan word teen fisiese skade, siekte en selfs die dood.
20 Taoïste het begin eksperimenteer met bepeinsing, asemhalingsoefeninge en dieet, wat glo liggaamlike agteruitgang en die dood kon vertraag. Weldra het legendes begin versprei oor onsterflikes wat op wolke kon vlieg en na willekeur kon verskyn en verdwyn en wat tallose jare al op heilige berge of afgeleë eilande woon en van dou of towervrugte lewe. Die Chinese geskiedenis sê dat die keiser Tsj’in Sjih Hoeang Ti in 219 v.G.J. ’n vloot skepe met 3 000 seuns en meisies gestuur het om die legendariese eiland P’eng-lai, die woonplek van die onsterflikes, te vind ten einde die kruie vir onsterflikheid terug te bring. Dit is onnodig om te sê dat hulle nie met die elikser teruggekeer het nie.
21 Die soeke na ewige lewe het daartoe gelei dat Taoïste onsterflikheidspille deur middel van alchemie probeer meng het. Volgens Taoïste ontstaan lewe wanneer die teenoorgestelde jin en jang (vroulike en manlike) kragte saamsmelt. Daarom het die alchemiste die proses van die natuur probeer namaak deur lood (donker, of jin) en kwik (helder, of jang) saam te smelt, en hulle het gedink dat die produk ’n onsterflikheidspil sou wees.
22. Wat was die gevolg van die Boeddhiste se invloed op die Chinese godsdienslewe?
22 Teen die sewende eeu G.J. het Boeddhisme ’n invloed op Chinese godsdienslewe begin uitoefen. Die gevolg was ’n samesmelting wat beginsels van Boeddhisme, spiritisme en vooroueraanbidding ingesluit het. “Boeddhisme sowel as Taoïsme”, sê professor Smart, “het vorm en wese verleen aan beskouings oor ’n lewe hiernamaals wat redelik vaag in eertydse Chinese vooroueraanbidding was.”
23. Wat was Confucius se beskouing oor vooroueraanbidding?
23 Confucius, China se ander vername wysgeer van die sesde eeu v.G.J., wie se filosofie die grondslag vir Confucianisme geword het, het nie breedvoerig oor die hiernamaals kommentaar gelewer nie. Hy het eerder die belangrikheid van sedelike goedheid en sosiaal aanvaarbare gedrag beklemtoon. Maar hy was vooroueraanbidding gunstig gesind en het groot klem gelê op die onderhouding van die ritusse en seremonies wat met die siele van afgestorwe voorouers verband hou.
Ander Oosterse godsdienste
24. Wat leer Djainisme aangaande die siel?
24 Djainisme is in die sesde eeu v.G.J. in Indië gestig. Die stigter daarvan, Mahāvīra, het geleer dat alle lewende dinge ewige siele het en dat redding van die siel uit die gevangenskap van Karma net moontlik is deur uiterste selfverloëning en selfdissipline en ’n streng toepassing van geweldloosheid teenoor alle skepsele. Djainas glo dit tot vandag toe.
25, 26. Watter Hindoe-oortuigings word ook in Sikhisme gevind?
25 Indië is ook die geboorteplek van Sikhisme, ’n godsdiens wat deur 19 miljoen mense beoefen word. Hierdie godsdiens het sy ontstaan gehad in die 16de eeu toe ghoeroe Nānak besluit het om die beste van Hindoeïsme en Islam saam te smelt en ’n verenigde godsdiens te vorm. Sikhisme het die Hindoe-oortuigings van die onsterflikheid van die siel, reïnkarnasie en Karma aangeneem.
26 Die opvatting dat lewe voortbestaan nadat die liggaam gesterf het, maak ongetwyfeld ’n wesenlike deel van die meeste Oosterse godsdienste uit. Maar wat van die Christendom, Judaïsme en Islam?
[Kaart op bladsy 10]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SENTRAAL-ASIË
KASJMIR
TIBET
CHINA
KOREA
JAPAN
Banaras
INDIË
Buddh Gaya
MYANMA
THAILAND
KAMBODJA
SRI LANKA
JAVA
3DE EEU V.G.J.
1STE EEU V.G.J.
1STE EEU G.J.
4DE EEU G.J.
6DE EEU G.J.
7DE EEU G.J.
Boeddhisme het die hele Oos-Asië beïnvloed
[Prent op bladsy 9]
Reïnkarnasie is die grondslag van Hindoeïsme
[Prent op bladsy 11]
’n Taoïs probeer om ewigheid te verkry deur in ooreenstemming met die natuur te lewe
[Prent op bladsy 12]
Confucius was vooroueraanbidding gunstig gesind
-
-
Die idee vat pos in Judaïsme, die Christendom en IslamWat gebeur met ons wanneer ons sterf?
-
-
Die idee vat pos in Judaïsme, die Christendom en Islam
“Godsdiens help mense onder andere om hulle te berus in die feit dat hulle eendag moet sterf, hetsy deur die belofte van ’n beter lewe anderkant die graf, wedergeboorte of albei.”—GERHARD HERM, DUITSE SKRYWER.
1. Op watter basiese opvatting baseer die meeste godsdienste hulle belofte van lewe ná die dood?
WANNEER ’n belofte van ’n lewe hiernamaals gemaak word, maak feitlik alle godsdienste staat op die opvatting dat ’n mens ’n siel het wat onsterflik is en wat ná die dood na ’n ander ryk gaan of na ’n ander wese verhuis. Soos daar in die vorige deel getoon is, het geloof in menslike onsterflikheid reeds ’n wesenlike deel van Oosterse godsdienste van hulle stigting af uitgemaak. Maar wat van Judaïsme, die Christendom en Islam? Hoe het die leerstelling die kern van hierdie gelowe geword?
Judaïsme neem Griekse konsepte aan
2, 3. Het die Hebreeuse geskrifte, volgens die Encyclopaedia Judaica, geleer dat die siel onsterflik is?
2 Judaïsme kan tot ongeveer 4 000 jaar, tot by Abraham, teruggevoer word. In die 16de eeu v.G.J. is daar begin om die heilige Hebreeuse geskrifte te skryf, en dit is voltooi teen die tyd dat Sokrates en Plato die teorie van die onsterflikheid van die siel ontwikkel het. Het hierdie Geskrifte geleer dat die siel onsterflik is?
3 Die Encyclopaedia Judaica antwoord: “Slegs ná die Bybelse tydperk het ’n duidelike en vaste geloof in die onsterflikheid van die siel ontstaan . . . en een van die hoekstene van die Joodse en Christelike geloof geword.” Dit sê ook: “In die Bybelse tydperk was die persoon as ’n geheel beskou. Die siel was derhalwe nie duidelik van die liggaam onderskei nie.” Die vroeë Jode het in die opstanding van die dooies geglo, en dit “moet onderskei word van die geloof in . . . die onsterflikheid van die siel”, sê daardie ensiklopedie.
4-6. Hoe het die leerstelling van die onsterflikheid van die siel “een van die hoekstene” van Judaïsme geword?
4 Hoe het die leerstelling dan “een van die hoekstene” van Judaïsme geword? Die geskiedenis verskaf die antwoord. In 332 v.G.J. het Aleksander die Grote ’n groot deel van die Midde-Ooste blitsvinnig verower. By sy aankoms in Jerusalem het die Jode hom met ope arms ontvang. Volgens die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus het hulle selfs vir hom die profesie in die boek Daniël, wat meer as 200 jaar tevore geskryf is, gewys, wat Aleksander se veroweringe in die rol van “die koning van Griekeland” duidelik beskryf (Daniël 8:5-8, 21). Aleksander se opvolgers het met sy plan van vergrieksing voortgegaan en alle dele van die ryk met die Griekse taal, kultuur en filosofie gevul. ’n Vermenging van die twee kulture—die Griekse en die Joodse—was onvermydelik.
5 Vroeg in die derde eeu v.G.J. is daar begin met die eerste vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks, wat die Septuagint genoem is. Daardeur het baie nie-Jode respek vir die Joodse godsdiens opgebou en daarmee vertroud geraak, en party het selfs bekeerlinge geword. Daarenteen het Jode vertroud geraak met Griekse denke, en party het filosowe geword, iets heeltemal nuuts vir hulle. Filo van Aleksandrië, van die eerste eeu G.J., was een van hierdie Joodse filosowe.
6 Filo het hoë agting vir Plato gehad en Judaïsme uit die oogpunt van Griekse filosofie probeer verduidelik. “Deur ’n unieke samestelling van Platoniese filosofie en Bybelse tradisie te vorm”, sê die boek Heaven—A History, “het Filo die weg gebaan vir latere Christen- [sowel as Joodse] denkers.” En wat was Filo se opvatting van die siel? Die boek sê voorts: “Vir hom herstel die dood die siel tot sy oorspronklike, voorgeboortelike toestand. Aangesien die siel tot die geestewêreld behoort, word lewe in die liggaam niks anders nie as ’n kortstondige, dikwels ongelukkige, episode.” Ander Joodse denkers wat aan die onsterflikheid van die siel geglo het, is Isaac Israeli, die bekende 10de-eeuse Joodse geneesheer, en Moses Mendelssohn, ’n Duits-Joodse filosoof van die 18de eeu.
7, 8. (a) Hoe beeld die Talmoed die siel uit? (b) Wat sê latere Joodse mistieke literatuur oor die siel?
7 ’n Boek wat ook ’n groot invloed op Joodse denke en lewe gehad het, is die Talmoed—die geskrewe opsomming van die so genoemde mondelinge wet, met latere kommentare en verduidelikings van hierdie wet, wat deur rabbi’s saamgestel is in die tydperk van die tweede eeu G.J. tot die Middeleeue. “Die rabbi’s van die Talmoed”, sê die Encyclopaedia Judaica, “het in die voortgesette bestaan van die siel ná die dood geglo.” Die Talmoed praat selfs van die dooies wat met die lewendes in aanraking kom. “Waarskynlik as gevolg van die invloed van Platonisme”, sê die Encyclopædia of Religion and Ethics, “het [rabbi’s] geglo aan die vroeëre bestaan van siele.”
8 Latere Joodse mistieke literatuur, die Kabbala, leer selfs reïnkarnasie. Aangaande hierdie opvatting sê The New Standard Jewish Encyclopedia: “Die idee het blykbaar in Indië ontstaan. . . . In die Kabbala kom dit die eerste keer in die boek Bahir voor, en dan, van die Zohar af aan, was dit algemeen deur die mistici aanvaar en het dit ’n belangrike rol in Gasidiese geloof en literatuur gespeel.” Vandag word reïnkarnasie oor die algemeen as ’n Joodse leerstelling in Israel aanvaar.
9. Wat is die standpunt van die meeste groepe onder hedendaagse Judaïsme wat die onsterflikheid van die siel betref?
9 Die idee van die onsterflikheid van die siel het Judaïsme dus deur die invloed van Griekse filosofie binnegedring, en die konsep word vandag deur die meeste groepe daarvan aanvaar. Wat kan gesê word oor hoe die leerstelling die Christendom binnegedring het?
Die Christendom neem Plato se denke aan
10. Tot watter slotsom het ’n vooraanstaande Spaanse geleerde gekom aangaande Jesus se geloof in die onsterflikheid van die siel?
10 Die ware Christelike godsdiens het by Christus Jesus begin. Aangaande Jesus het Miguel de Unamuno, ’n vooraanstaande 20ste-eeuse Spaanse geleerde, geskryf: “Hy het eerder in die opstanding van die vlees geglo, volgens die Joodse manier, en nie in die onsterflikheid van die siel, volgens die [Grieks-]Platoniese manier nie. . . . Die bewyse hiervan kan gesien word in enige eerlike boek van uitleggings.” Hy het afgesluit: “Die onsterflikheid van die siel . . . is ’n heidense filosofiese dogma.”
11. Wanneer het Griekse filosofie op die Christelike godsdiens begin inwerk?
11 Wanneer en hoe het hierdie “heidense filosofiese dogma” in die Christelike godsdiens ingesypel? Die New Encyclopædia Britannica sê: “Van die middel van die 2de eeu AD het Christene wat in Griekse filosofie onderrig is, gemeen dat hulle hulle geloof daarvolgens moet vertolk, vir hulle eie intellektuele bevrediging sowel as om geleerde heidene te bekeer. Die filosofie wat hulle die beste gepas het, was Platonisme.”
12-14. Watter rolle het Origines en Augustinus daarin gespeel om Platoniese filosofie met die Christelike godsdiens saam te smelt?
12 Twee van hierdie vroeë filosowe het ’n groot invloed op die Christendom se leerstellings uitgeoefen. Die een was Origines van Aleksandrië (c. 185-254 G.J.), en die ander Augustinus van Hippo (354-430 G.J.). Aangaande hulle sê die New Catholic Encyclopedia: “Slegs met Origines in die Ooste en St. Augustinus in die Weste is die siel as ’n geestelike werklikheid bevestig en is ’n filosofiese konsep gevorm wat die natuur daarvan betref.” Op grond waarvan het Origines en Augustinus hulle konsepte van die siel gevorm?
13 Origines was ’n leerling van Klemens van Aleksandrië, wat “die eerste van die Vaders was wat die Griekse tradisie oor die siel oorgeneem het net soos dit was”, sê die New Catholic Encyclopedia. Plato se idees van die siel het ’n groot invloed op Origines gehad. “[Origines] het die hele kosmiese drama van die siel, wat hy van Plato oorgeneem het, in die Christelike leerstelling opgeneem”, het die teoloog Werner Jaeger in The Harvard Theological Review gesê.
14 Augustinus word deur party in die Christendom as die grootste denker van die Oudheid beskou. Voordat hy hom op die ouderdom van 33 tot die “Christelike godsdiens” bekeer het, het Augustinus ’n lewendige belangstelling in filosofie gehad en het hy ’n Neo-Platonis geword.a Ná sy bekering het hy in sy denke Neo-Platonies gebly. “Sy verstand was die smeltkroes waarin die godsdiens van die Nuwe Testament geheel en al met die Platoniese tradisie van Griekse filosofie saamgesmelt het”, sê The New Encyclopædia Britannica. Die New Catholic Encyclopedia erken dat Augustinus se “leerstelling [van die siel], wat tot die laat 12de eeu ’n maatstaf in die Weste geword het, grootliks . . . aan Neo-Platonisme ontleen was”.
15, 16. Het 13de-eeuse belangstelling in Aristoteles se leerstellings die standpunt van die kerk oor die leerstelling van die onsterflikheid van die siel verander?
15 In die 13de eeu het die leerstellings van Aristoteles in Europa gewilder begin word, grotendeels omdat die werke van Arabiese geleerdes, wat breedvoerig oor Aristoteles se werke kommentaar gelewer het, in Latyn beskikbaar was. ’n Katolieke geleerde met die naam Thomas van Aquino was diep beïndruk deur die Aristoteliese denke. Weens Aquino se geskrifte het Aristoteles se beskouings ’n groter invloed op die kerkleerstellings uitgeoefen as Plato s’n. Maar hierdie neiging het nie die leerstelling van die onsterflikheid van die siel beïnvloed nie.
16 Aristoteles het geleer dat die siel onafskeidelik verbonde is aan die liggaam en ná die dood nie op sy eie voortbestaan nie en dat, as daar enigiets ewigs in die mens bestaan het, dit abstrakte, niepersoonlike intellek was. Hierdie beskouing van die siel was nie in ooreenstemming met die kerk se beskouing van persoonlike siele wat ná die dood voortleef nie. Daarom het Aquino Aristoteles se beskouing van die siel gewysig en aangevoer dat die onsterflikheid van die siel deur redenering bewys kan word. Sodoende het die geloof van die kerk in die onsterflikheid van die siel ongeskonde gebly.
17, 18. (a) Het die Hervorming van die 16de eeu ’n hervorming van die leerstelling van die siel laat plaasvind? (b) Wat is die standpunt van die meeste denominasies van die Christendom oor die onsterflikheid van die siel?
17 Gedurende die 14de en 15de eeu, die vroeë deel van die Renaissance, het belangstelling in Plato weer opgelewe. Die beroemde Medici-familie in Italië het selfs ’n akademie in Florence help stig om die bestudering van Plato se filosofie te bevorder. Gedurende die 16de en 17de eeu het belangstelling in Aristoteles gekwyn. En die Hervorming van die 16de eeu het nie ’n hervorming van die leerstelling van die siel laat plaasvind nie. Hoewel Protestantse Hervormers kapsie gemaak het teen die leerstelling van die vaevuur, het hulle die idee van ewige straf of beloning aanvaar.
18 Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel kom dus algemeen voor in die meeste denominasies van die Christendom. ’n Amerikaanse geleerde wat dit opgemerk het, het geskryf: “Vir die grootste deel van ons eie ras beteken godsdiens eintlik onsterflikheid en niks anders nie. God is die bewerker van onsterflikheid.”
Onsterflikheid en Islam
19. Wanneer is Islam gestig, en deur wie?
19 Islam het begin toe Mohammed op ongeveer 40-jarige ouderdom as ’n profeet geroep is. Moslems glo oor die algemeen dat hy openbarings ontvang het gedurende ’n tydperk van ongeveer 20 tot 23 jaar, van omstreeks 610 G.J. tot sy dood in 632 G.J. Hierdie openbarings is opgeteken in die Koran, die Moslems se heilige boek. Toe Islam gestig is, het die Platoniese konsep van die siel reeds in Judaïsme en die Christendom ingesypel.
20, 21. Wat is die Moslems se beskouing oor die hiernamaals?
20 Moslems glo dat hulle geloof die hoogtepunt van die openbarings is wat aan die getroue Hebreërs en die Christene van die ou tyd gegee is. Die Koran haal uit die Hebreeuse sowel as die Griekse Geskrifte aan. Maar oor die leerstelling van die onsterflikheid van die siel, verskil die Koran van hierdie geskrifte. Die Koran leer dat die mens ’n siel het wat ná die dood voortlewe. Dit praat ook van die opstanding van die dooies, ’n oordeelsdag en die uiteindelike bestemming van die siel—hetsy lewe in ’n hemelse paradystuin of straf in ’n brandende hel.
21 Moslems glo ’n oorledene se siel gaan na die Barzak, of “Versperring”, “die plek of toestand waarin mense ná die dood en voor die Oordeel sal wees” (Soera 23:99, 100, The Holy Qur-an, voetnoot). Die siel is in ’n bewuste toestand en ondervind daar wat die “Straf van die graf” genoem word as die persoon goddeloos was of geniet geluk as hy getrou was. Maar die getroues moet ook ’n mate van lyding ondergaan weens die enkele sondes wat hulle gepleeg het terwyl hulle gelewe het. Op die oordeelsdag staan elkeen voor sy ewige bestemming, wat daardie tussenfase beëindig.
22. Met watter verskillende teorieë aangaande die siel se bestemming het party Arabiese filosowe al vorendag gekom?
22 Die idee van die onsterflikheid van die siel het weens Platoniese invloed in Judaïsme en die Christendom ontstaan, maar die konsep was uit die staanspoor ’n deel van Islam. Dit beteken nie dat Arabiese geleerdes nie Islamitiese leerstellings en Griekse filosofie probeer kombineer het nie. Trouens, die Arabiese wêreld is grootliks deur Aristoteles se werk beïnvloed. En beroemde Arabiese geleerdes, soos Avicenna en Averroës, het Aristoteliese denke verklaar en daarop voortgebou. Maar in hulle pogings om Griekse denke met die Moslem-leerstelling van die siel te versoen, het hulle met verskillende teorieë vorendag gekom. Avicenna het byvoorbeeld verkondig dat die persoonlike siel onsterflik is. Averroës het egter teen daardie beskouing kapsie gemaak. Ten spyte van hierdie beskouings het die onsterflikheid van die siel ’n oortuiging van Moslems gebly.
23. Wat is Judaïsme, die Christendom en Islam se standpunt oor die onsterflikheid van die siel?
23 Dit is dus duidelik dat Judaïsme, die Christendom en Islam almal die leerstelling van die onsterflikheid van die siel leer.
-