Lere—Pas jy hierdie veiligheidsmaatreëls toe?
Deur Ontwaak!-medewerker in Ierland
PAUL moes ’n gloeilamp in ’n buitelig by sy huis vervang. Hy moes ook die vensters van die boonste verdieping was—sy vrou het hom al ’n paar keer daaraan herinner. Maar Paul het hierdie werkies bly uitstel. Waarom? Omdat hy ’n leer moes gebruik. Hy was nie verniet bang nie.
Hy het geweet dat ’n mens ernstige, selfs noodlottige, beserings kan opdoen as jy ’n ongeluk met ’n leer het. Sulke ongelukke gebeur gewoonlik omdat die werker nie goed genoeg gedink het oor hoe om ’n leer reg te gebruik nie.
Wat moes Paul in verband met lere in ag geneem het voordat hy hierdie take aangepak het? Hier volg tien wenke wat hom gehelp het om veilig te werk.
Is die leer veilig?
1 Kry die regte leer. Jy sal dalk te ver moet strek as die leer te kort is. Jy sal dit dalk teen ’n gevaarlike hoek moet neersit as dit te lank is. Moenie ’n trapleer gebruik om in jou solder te kom nie. Laat ’n behoorlike leer by jou solder installeer, of gebruik ’n leer wat teen die muur staan.
2 Gaan jou leer sorgvuldig na. Is dit buite gebêre? Houtlere sit uit wanneer dit nat is en krimp in wanneer dit droog is. Die sporte kan mettertyd los raak en die leer wankelrig maak. Is enige van die houtsporte gebars, of is daar tekens van verrotting? Daar is dikwels ’n metaalstut onder elke houtsport. Is dit daar en goed vas? Het die skroewe of klinknaels wat gebruik is om metaalsporte aan die kante vas te maak, gebreek of afgeroes? Groter skuiflere het moontlik katrolle en toue. Loop die katrolle glad? Lyk dit of die tou uitrafel, en is dit nog lank genoeg? Herstel of vervang stukkende dele onmiddellik.
’n Leer se sporte het dikwels groefies wat keer dat ’n mens gly. Maak seker dat jy alle vuiligheid verwyder wat dalk in die groefies opgehoop het. Alle lere moet glyvrye kussinkies onder die pote hê. Kyk dat dit daar is en dat dit nie uitermate verweer is nie.
3 Vervoer lere veilig. Wanneer jy ’n leer op ’n voertuig vervoer, moet dit op ’n behoorlike leerrak vasgemaak word, of wanneer jy dit op ’n sleepwa vervoer, moet dit op ten minste twee plekke vasgemaak word. ’n Lang leer sal moontlik oor die agterkant van die voertuig uitsteek, en daarom moet jy ’n waarskuwingsvlag aan die punt vasmaak sodat motoriste agter jou dit maklik kan raaksien.
Dit is die veiligste as twee mense ’n lang leer dra. Maar as jy ’n leer alleen moet dra en jy verkies om dit horisontaal te dra, moet jy jou een arm deur die sporte steek en dit ferm op jou skouer laat rus terwyl jy jou ander arm gebruik om dit te balanseer. Om te keer dat jy iemand raakstamp, moet jy die voorste punt hoër as kophoogte hou. Onthou egter dat dieselfde lengte van die leer agter jou is as wat jy voor jou het! Komedies laat dit snaaks lyk wanneer mense deur ’n leer raakgestamp word. Maar in die werklike lewe is dit nooit snaaks nie—veral nie as jy die beseerde is nie.
Wanneer jy die leer vertikaal dra, moet jy die gewig teen jou bolyf laat rus en jou een hand gebruik om dit te dra en jou ander hand, hoër as skouerhoogte, om dit te balanseer. Wees op die uitkyk vir drade, ligte en tekens bokant jou kop!
4 Sit die leer reg neer. Die leer moet veiligheidshalwe plat op die grond staan, en dit moet ’n hoek van 75 grade met die vloer vorm.
5 Stut dit bo en onder. Wees versigtig waar jy die bopunt van die leer laat rus. Maak seker dat die oppervlak waarteen die bopunt van die leer rus stewig is en dat die leer nie daarteen sal gly nie. Moet nooit die leer teen glas of plastiek laat rus nie. Waar moontlik moet dit stewig aan ’n vaste voorwerp vasgemaak word, en die bopunt van die leer moet ongeveer een meter verby die punt steek waar jy daarvan wil afklim.
Maak veral seker dat jy die bopunt van die leer vasmaak wanneer jy dit die eerste keer klim. Daardie eerste keer wat jy boontoe klim, en ook die laaste keer wat jy ondertoe klim nadat jy die bopunt losgemaak het, sal die leer nie vas staan nie. Om die eerste en laaste klim veiliger te maak, moet jy ’n helper hê wat onder kan staan en die leer vashou terwyl jy klim. Dít is egter net doeltreffend wanneer die leer nie langer as sowat vyf meter is nie.
As die grond langs die gebou skuins afloop, moet jy iets swaars voor die onderpunt van die leer neersit of een van die laer sporte aan ’n vaste voorwerp vasmaak. As die grond ongelyk maar solied is, moet jy ’n wig gebruik om ’n basis te vorm wat gelyk is. Sit ’n houtplank of iets soortgelyks op die grond neer om ’n stewige basis te hê indien die grond sag of los is.
As jy ’n trapleer gebruik, moet jy seker maak dat al vier pote vas op die grond staan, dat die twee dele heeltemal oop is en dat al die veiligheidsknippe goed vas is.
Is jy veilig?
6 Ondersoek jou skoene. Voordat jy ’n leer klim, moet jy seker maak dat jou skoensole droog is. Verwyder enigiets, soos modder, wat jou kan laat gly.
7 Dra voorwerpe versigtig. Sodat jy albei hande vry sal hê wanneer jy klim, moet jy indien moontlik jou gereedskap in ’n houer dra wat aan ’n gordel vas is. Probeer alternatiewe maniere kry om ongemaklike voorwerpe op te tel, maar as jy ’n leer moet gebruik, moet jy jou vry hand heeltyd op die leer hou deur dit al met die kant van die leer op te skuif terwyl jy klim. Gaan versigtig en stelselmatig te werk, en moenie haastig wees nie.
As jy elektriese gereedskap gebruik, moet jy dit nooit met albei hande vashou wanneer jy daarmee werk nie. ’n Boor kan byvoorbeeld skielik vashaak of glip, wat kan maak dat jy jou balans verloor en val. Moet hulle nooit in die aan-posisie sluit nie; hulle kan val terwyl hulle nog werk.
8 Wees bedagsaam teenoor ander. Indien jy in ’n openbare plek werk, moet jy die leer duidelik sigbaar maak en, indien moontlik, afsper. As jy die leer om ’n hoek moet dra, moet jy onthou dat ander dit nie sal verwag nie. Roep ’n vriendelike waarskuwing uit, en kyk om seker te maak dat dit veilig is.
Wanneer jy gereedskap by jou op ’n leer het, moet jy in gedagte hou dat selfs ’n klein skroewedraaiertjie iemand kan beseer as dit van ’n hoogte af op hom val. As jy om die een of ander rede moet weggaan en jy nie die leer veilig kon vasmaak nie, moet jy iemand kry om by die leer te wag of moet jy dit veilig op die grond laat lê totdat jy terugkom. Moet dit nie onbewaak laat nie.
9 Maak seker dat jy gesond is. Aangesien balans en ritme baie belangrik is wanneer ’n mens klim, moet jy nie klim wanneer jy siek of naar voel of as jy aan hoogtevrees ly nie.
10 Klim veilig. Wees te alle tye veiligheidsbewus. Moet nooit twee of meer mense gelyk op ’n leer toelaat nie. Moet nooit klim wanneer die wind sterk en rukkerig waai nie. Moet nooit op die boonste sport van ’n trapleer of hoër as die vierde sport van bo op ’n lang leer staan nie. Moet nooit ’n skuifleer te lank maak nie; die een deel van die leer moet altyd ten minste oor drie sporte van die ander deel steek. Moet nooit te ver strek nie. As jy te ver oorleun terwyl jy op ’n leer is, kan jy maklik jou balans verloor en val. Skuif eerder die leer as om die risiko van ’n besering te loop, selfs al beteken dit dat dit langer gaan neem om die werk te doen. Wanneer jy klim, moet jy reg voor jou kyk.
Watter voorsorg-maatreëls jy ook al tref, daar sal altyd gevare wees wanneer jy ’n leer gebruik. Jy kan hulle miskien tot die minimum beperk deur hierdie wenke toe te pas. Hulle het vir Paul gehelp. Deur hierdie wenke toe te pas, het hy die nuwe gloeilamp veilig in die buitelig ingesit. En die vensters wat gewas moes word? Wel, hy sal dit op ’n ander dag doen . . . miskien!
[Prente op bladsy 22, 23]
1 Kry die regte leer
2 Gaan jou leer sorgvuldig na
3 Vervoer lere veilig
4 Sit die leer reg neer
5 Stut dit bo en onder
6 Ondersoek jou skoene
7 Dra voorwerpe versigtig
8 Wees bedagsaam teenoor ander
9 Maak seker dat jy gesond is
10 Klim veilig