Ons het ons onkreukbaarheid in Nazi-Duitsland gehandhaaf
OP ’N koue dag in April 1939 is ek na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp in Duitsland gestuur. Ek het saam met ander nuwe gevangenes verskyn voor die kampkommandant, ’n boosaardige man wat sy bynaam, Vierkant, aan sy stewige liggaamsbou te danke gehad het. Hy het ons in sy “welkomsrede” uitgeskel en die wrede marteling beskryf wat ons kon verwag.
“Julle kan van my kry net wat julle wil hê”, het hy geskreeu, “’n skoot in die kop, ’n skoot in die bors, ’n skoot in die maag!” En hy het gewaarsku: “My kêrels is goeie skuts. Hulle sal julle reguit hemel toe stuur! Al manier hoe julle hier sal uitkom, is as lyke.”
Later is ek na Eensameopsluiting gestuur, ’n omheinde gedeelte binne-in die kamp. Dit is waar Jehovah se Getuies aangehou is, tesame met ander gevangenes wat as gevaarlik beskou is. Toe ek soontoe gebring is, het ’n jong SS-man (Hitler se Swarthemde/Keurkorps) my herhaaldelik deur die gesig geklap omdat ek geweier het om ’n verklaring te onderteken waarin ek my geloof verloën.
Otto Kamien, van Herne, het met my maats gemaak en my gehelp om my gevangenenommer en die pers driehoek, wat Jehovah se Getuies in die kamp geïdentifiseer het, aan my uniform vas te werk. Hy het my ook gewys hoe om my bed op te maak—gevangenes is geslaan of selfs doodgemaak omdat hulle nie hulle bed behoorlik opgemaak het nie.
Otto het gewaarsku: “Hulle sal van tyd tot tyd vra of jy nog steeds een van Jehovah se Getuies is. Wees onversetlik, wees standvastig en sê hardop en duidelik: ‘Ek is nog steeds een van Jehovah se Getuies.’” Hy het bygevoeg: “As jy onversetlik en standvastig is, sal die Duiwel jou uitlos” (Jakobus 4:7). Otto se aanmoediging het my gehelp om my onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf gedurende die volgende ses jaar wat ek in drie konsentrasiekampe deurgebring het.
Wanneer ek aan daardie moeilike jare terugdink, besef ek, vandag meer as ooit, dat dit net met God se hulp was dat ek my onkreukbaarheid gehandhaaf het. Hoe het dit gebeur dat ek op 20 Januarie 1938 vir die eerste keer gevange geneem is?
My jeugjare
Etlike jare voor my geboorte in 1911 het my ouers, wat in Koningsbergen, Oos-Pruise, gewoon het, Bibelförscher (Bybelstudente) geword, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Ek het drie broers en twee susters gehad, en my ma het ons dikwels na die vergaderinge toe geneem. Dit is jammer dat my pa na ’n ruk nie meer saam met die gesin ware aanbidding beoefen het nie. Hoewel my broers en een van my susters ywerige Koninkryksverkondigers geword het, het ek en my suster Lisbeth mettertyd nie meer veel aandag geskenk aan die Bybelwaarhede wat ons geleer het nie.
Toe ek in my vroeë twintigerjare was, het Hitler in Duitsland aan die bewind gekom, en mense is onder hewige druk geplaas. Ek het by ’n groot herstelaanleg in Koningsbergen as ’n motorwerktuigkundige gewerk. Wanneer die Führer by spesiale geleenthede toesprake gehou het, moes almal wat by die aanleg gewerk het, byeenkom. Dit het ook gebruiklik geword om die begroeting “Heil Hitler!” te gebruik. Ek is uiteindelik beveel om aan voormilitêre opleiding deel te neem, en sodoende het ek voor die vraag te staan gekom: Aan wie se kant is ek?
Ek het uit Handelinge 4:12 geleer dat heil, of redding, nie van Hitler kom nie, maar slegs deur Jesus Christus. Daarom kon ek nie “Heil Hitler” sê nie, en ek het nooit nie. Ek het ook die bevel geïgnoreer om aan voormilitêre opleiding deel te neem.
Gedurende 1936 en 1937 is my ma, my jonger suster Helene en my broers, Hans en Ernst, almal gevange geneem. Ek wou van toe af ook my standpunt vir die ware God inneem. Ek het die Bybel in die aand begin lees, en ek het tot Jehovah gebid om my te help. Lisbeth het ook meer belangstelling begin toon.
Ek neem my standpunt in
Toe die tyd aangebreek het, het ek ’n duidelike standpunt ingeneem vir Jehovah en geweier om by Hitler se leër aan te sluit, al was ek toe nog nie gedoop nie. Ek is gevange geneem en aan die leër oorgelewer. ’n Militêre hof in Rastenburg het my vyf weke later tot ’n jaar tronkstraf gevonnis.
Ek is by die Sentrale Gevangenis in Stuhm, Wes-Pruise, in eensame opsluiting gegooi. Tydens my oefenperiodes in die gevangenis se binneplaas is ek vertroos deur oogkontak te maak met getroue Getuies van Koningsbergen wat ek van kleins af geken het. Toe is my broers—Paul, Hans en Ernst—almal vanweë hulle geloof in God in dieselfde gevangenis gesit. Terwyl ek in eensame opsluiting was, het Hans dit soms reggekry om ’n stuk brood na my te smokkel.
Ná ek my straftyd voltooi het, is ek herhaaldelik deur die Gestapo in Koningsbergen ondervra. Aangesien ek geweier het om van gedagte te verander, is ek na die konsentrasiekamp by Sachsenhausen geneem. Daar moes ek ’n garage help bou en van sesuur soggens tot sesuur saans werk. Party gevangenes het weens die wrede mishandeling probeer ontsnap, hoewel hulle geweet het dat hulle geskiet sou word as hulle gevang word. Ek het eenmaal gesien hoe ’n gevangene selfmoord pleeg deur homself teen die elektriese heining te werp.
Die druk neem toe
Die Tweede Wêreldoorlog het in September 1939 uitgebreek, en die druk op ons in Sachsenhausen het toegeneem. Ons werkslas het vermeerder, en ons warm wolklere is van ons weggeneem. Op 15 September sou die Nazi’s ons Christenbroer, August Dickmann, wat militêre diens geweier het, as voorbeeld laat dien. ’n Spesiale samekoms is dus vir sy teregstelling gereël.
Etlike honderde van ons as mede-Getuies was ooggetuies toe die vuurpeleton geskiet het en August dood neergeval het. Daarna is alle gevangenes behalwe Jehovah se Getuies verdaag. Vierkant het toe gevra wie gereed was om die verklaring te onderteken waardeur jy jou geloof verwerp en wat toon dat jy gewillig is om ’n soldaat te word. Nie een het geteken nie, en Vierkant was briesend.
Die winter van 1939 was straf. Ons was swak geklee en was ondervoed, en die dood het sy tol geëis. Baie van ons ouer broers het omgekom, maar oor die algemeen was die persentasie sterfgevalle onder ons as Getuies klein in vergelyking met die ander gevangenegroepe. Selfs die stewige Vierkant het siek geword en is in Februarie 1940 oorlede.
Na ’n ander kamp toe
’n Paar dae na Vierkant se dood is 70 van ons na die klein kampie van Wewelsburg naby Paderborn verplaas. Ons het gehoop dat die toestande daar beter sou wees, maar dit was presies die teenoorgestelde. Ons het minder kos en harder werk in ’n steengroef gehad. Ons was party dae papnat van die sneeu en reën. Tydens hierdie besonder moeilike tyd het ek saans die kombers oor my kop getrek en my hart huilend voor Jehovah uitgestort. Elke keer wat ek dit gedoen het, het ek ’n innerlike vrede en gemoedsrus gevoel wat toon dat God my “op die regte tyd gehelp” het.—Hebreërs 4:16.
Jehovah het na ons geestelike welsyn omgesien. Getuies is van die Buchenwald-konsentrasiekamp af na Wewelsburg toe gestuur, en hulle het geestelike voedsel in die vorm van Bybellektuur saamgebring. Ons het in klein groepies na die slaapsaal gegaan en daar het ons saam met hulle ’n geheime Wagtoring-studie gehou. Selfs die kos in die kamp het ’n bietjie beter geword.
Ek het Jehovah vir sy goedhartigheid bedank toe ’n mede-Getuie daarvoor gesorg het dat ek saam met hom in ’n smidswinkel gaan werk het. In die werkswinkels, waar hoofsaaklik Getuies gewerk het, het die gevangenes beter voedselrantsoene ontvang. Dit was boonop nie so koud nie, en die werkers is nie so onredelik gedryf nie. Fisies het ek só daarby baat gevind dat ek binne ses maande weer sterk was, hoewel ek vroeër net vel en been was.
Tyding omtrent my broers
Terwyl ek in Wewelsburg was, het ek van my suster Lisbeth die tyding ontvang dat ons broer Ernst sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah tot die dood toe gehandhaaf het. Hy is op 6 Junie 1941, na vier jaar gevangenskap in Berlyn, onthoof. Toe ander Getuies die nuus gehoor het, het hulle na my toe gekom en my gelukgewens. Hulle positiewe gesindheid het my diep geraak. Om getrou te bly, het vir ons meer beteken as oorlewing.
My broer Hans is twee jaar later, op 1 Februarie 1943, in Quednau naby Koningsbergen geskiet. Hans was 34 jaar oud en was al vyf jaar lank opgesluit. ’n Ooggetuie van sy teregstelling het my later vertel dat die offisier Hans gevra het of hy ’n laaste versoek het. Hans het toestemming gevra om ’n gebed te doen, en dit is toegestaan. Die gebed het die soldate so beïndruk dat nie een van hulle die offisier se uiteindelike bevel om te vuur gehoorsaam het nie. Hy het die bevel herhaal, waarna een skoot gevuur is wat Hans in die lyf getref het. Die offisier het toe sy eie pistool uitgetrek en hom persoonlik doodgeskiet.
Nog voorbeelde van onkreukbaarheid
Sewe-en-twintig van die Getuies wat van Buchenwald na Wewelsburg oorgeplaas is, is vir militêre diens gekies en na verskillende eenhede gestuur om daar te dien. Iedereen het geweier om militêre diens te doen; net een het diens in ’n nievegtende eenheid aanvaar. Die 26 is met teregstelling gedreig, maar dit was alles tevergeefs. Nadat hulle na die Wewelsburg-kamp teruggekeer het, het die kampkommandant gedreig: “Julle sal binne vier weke onder die sooie lê.”
Hierdie getroue broers is toe besonder wreed behandel. Die SS het aan allerhande maniere gedink om hulle te onderdruk, uit te put en dood te martel. Tog het al 26 dit oorleef! Later het ’n paar gevangenes wat nie Getuies was nie dieselfde behandeling ontvang, en onder hulle was die sterftesyfer selfs na ’n kort tydjie hoog.
My susters het hulle onkreukbaarheid gehandhaaf
Ek is in April 1943 na die Ravensbrück-kamp oorgeplaas. Dit was hoofsaaklik vir vroue, maar dit het ’n klein afdeling vir mans gehad. Ek het in die motorherstelwerkwinkel, reg voor die vroue se kamp, gewerk. Christensusters wat daar verbygegaan het, het gou my pers driehoek opgemerk. Wat ’n vreugde was dit tog om hulle ongemerk te groet of hartlik vir hulle te glimlag! Dit het gou bekend geword dat ek ouma Rehwald se seun is. Ja, my ma was onder diegene in die vroue se kamp, tesame met my suster Helene en my skoonsuster, my oorlede broer Hans se vrou!
Ons Christensusters kon my van onderklere en soms van ’n stukkie brood voorsien. Hulle het dinge eenmaal so gereël dat ek in die geheim met my liewe moeder kon praat. Indien hulle van ons ontmoeting te wete sou kom, sou ons baie swaar gekry het. Wat ’n vreugdevolle hereniging was dit tog! My ma is ’n paar maande later oorlede, kort voordat diegene in die kamp vrygelaat is. Sy het haar onkreukbaarheid tot die dood toe gehandhaaf.
Uiteindelik bevry!
In April 1945 was die Russe en Amerikaners besig om nader aan Ravensbrück te kom. ’n Trekker en sleepwa is aan my toevertrou om die kamp te help ontruim. Na ’n spanningsvolle rit het die SS-offisier in bevel vir ons gesê dat die Amerikaners naby was en dat ons almal vry was om te doen wat ons wil.
Ons het uiteindelik by Schwerin, Mecklenburg-staat, aangekom waar ons ’n aantal Getuies gekry het wat vroeër in die Sachsenhausen-kamp was, en onder hulle was my broer Paul. Hy het die doodsmarse van Sachsenhausen, sowel as ander ontberings, oorleef. ’n Paar dae later is ons met ’n trein Berlyn toe, en daar het ons ’n Getuie-gesin gevind wat ons gasvry ingeneem het.
Hierdie gesin het baie gedoen om broers en susters te help wat uit die kampe en gevangenisse bevry is. Ek is in 1946 getroud met Elli, ’n dogter van daardie gesin. Uiteindelik is daar reëlings getref sodat ek my kon laat doop, iets wat nie in die konsentrasiekampe moontlik was nie.
Hoe opwindend was dit tog om broers deur die jare heen by byeenkomste teë te kom wat saam met my in die konsentrasiekampe was! Party het hulle lewe vir hulle broers gewaag, en húlle was vir my besonder dierbaar. Die ses lede van ons gesin wat gevange geneem is—my ma, my suster Helene en ek, sowel as my broers, Paul, Hans en Ernst—het altesaam 43 jaar in gevangenskap deurgebring. En my suster Lisbeth het ook tot haar dood in 1945 haar onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf.
Afhanklik van Jehovah se krag
Nadat ek en Elli getroud is, het ons die voorreg gehad om vir ’n aantal jare by die Bethel in Maagdenburg te dien en om aan die pionierdiens deel te neem totdat ons ons twee seuns begin grootmaak het. Ons is baie dankbaar dat een van hulle, Hans-Joachim, as ’n ouere man dien en sy vrou as ’n pionier. Ongelukkig het ons ander seun nie volgehou met die Christelike lewenswyse wat ons hom geleer het nie.
Meer as 45 jaar het al sedert my ervaringe in die konsentrasiekampe verbygevlieg. Maar selfs nou het die God van alle onverdiende goedhartigheid nog nie my opleiding voltooi nie (1 Petrus 5:10, NW). Ek is al dikwels herinner aan die apostel Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 10:12: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
Vandag, op 81-jarige leeftyd, is ek dankbaar dat ek nog aan die getuieniswerk kan deelneem en as ’n gemeentelike ouere man kan dien. En ek is dankbaar dat ek al ’n aantal mense kon help om tot toewyding en doop te vorder. Ek beskou dít ook as ’n uiting van Jehovah se onverdiende goedhartigheid.—Soos vertel deur Josef Rehwald.
[Prent op bladsy 20]
Josef Rehwald in 1945
[Prent op bladsy 21]
Die Rehwald-gesin, omstreeks 1914. Moeder met klein Josef op haar skoot
[Prent op bladsy 23]
Josef en Elli Rehwald by die 1991-streekbyeenkoms in Berlyn, met hulle seun Hans-Joachim en sy vrou, Ursula