Behou ’n volkome hart teenoor Jehovah
“My seun . . . , ken die God van jou vader en dien hom met ’n volkome hart.”—1 KRON. 28:9.
SOEK DIE ANTWOORDE OP HIERDIE VRAE:
Wat is die figuurlike hart?
Wat is een manier waarop ons ons hart kan ondersoek?
Hoe kan ons ’n volkome hart teenoor Jehovah behou?
1, 2. (a) Na watter liggaamsdeel verwys God se Woord meer dikwels in figuurlike sin as na enige ander? (b) Waarom is dit belangrik dat ons verstaan wat die figuurlike hart voorstel?
GOD SE WOORD verwys dikwels in figuurlike sin na dele van die menseliggaam. Byvoorbeeld, die aartsvader Job het gesê: “Daar [is] geen geweld in my palms . . . nie.” Koning Salomo het opgemerk: “’n Goeie berig maak die gebeente vet.” Jehovah het Esegiël verseker: “Harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak.” En daar is vir die apostel Paulus gesê: “Jy bring sommige dinge in wat vreemd klink in ons ore.”—Job 16:17; Spr. 15:30; Eseg. 3:9; Hand. 17:20.
2 Daar is egter een deel van die menseliggaam waarna die Bybel meer dikwels in figuurlike sin verwys as na enige ander. Dit is die een wat die getroue Hanna in gebed gemeld het: “My hart jubel in Jehovah” (1 Sam. 2:1). Trouens, Bybelskrywers meld die hart bykans duisend keer, feitlik altyd in figuurlike sin. Dit is van die allergrootste belang dat ons verstaan wat die hart voorstel, want die Bybel sê dat ons dit moet bewaak.—Lees Spreuke 4:23.
DIE FIGUURLIKE HART—WAT IS DIT?
3. Hoe kan ons die betekenis van die woord “hart” in die Bybel onderskei? Lig toe.
3 Hoewel God se Woord nie ’n woordeboekdefinisie van die woord “hart” gee nie, stel dit ons in staat om die betekenis van hierdie woord te onderskei. Hoe? Ter toeligting: Dink aan ’n pragtige muurmosaïek wat bestaan uit ’n duisend stukkies klip wat dig teen mekaar geset is. Wanneer ’n mens terugstaan om na die hele mosaïek te kyk, sien jy dat al die stukkies klip wat sorgvuldig gerangskik is, ’n patroon of prent vorm. As ons sou terugstaan en na die baie gevalle kyk waar die woord “hart” in die Bybel gebruik word, kan ons eweneens onderskei dat al hierdie verwysings ’n patroon of prent vorm. Watter prent?
4. (a) Wat stel die “hart” voor? (b) Wat beteken Jesus se woorde wat in Matteus 22:37 opgeteken is?
4 Bybelskrywers gebruik die “hart” om die hele innerlike mens te beskryf. Dit sluit aspekte in soos ons begeertes, gedagtes, geestesgesteldheid, gesindhede, vermoëns, beweegredes en doelwitte. (Lees Deuteronomium 15:7; Spreuke 16:9; Handelinge 2:26.) Soos een naslaanwerk sê, is dit “die innerlike mens in sy geheel”. In party gevalle het die “hart” ’n beperkter betekenis. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matt. 22:37). In hierdie geval verwys die “hart” na die emosies, begeertes en gevoelens van die innerlike mens. Deur die hart, siel en verstand afsonderlik te noem, het Jesus beklemtoon dat ons ons liefde vir God moet toon in ons gevoelens asook deur die manier waarop ons ons lewe lei en ons verstandelike vermoëns gebruik (Joh. 17:3; Ef. 6:6). Maar wanneer die “hart” alleen genoem word, stel dit die hele innerlike mens voor.
WAAROM ONS ONS HART MOET BEWAAK
5. Waarom wil ons ons uiterste bes doen om Jehovah met ’n volkome hart te dien?
5 Aangaande die hart het koning Dawid Salomo herinner: “My seun . . . , ken die God van jou vader en dien hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel; want Jehovah deursoek alle harte, en hy onderskei elke neiging van die gedagtes” (1 Kron. 28:9). Ja, Jehovah is die Ondersoeker van alle harte, ook ons s’n (Spr. 17:3; 21:2). En wat hy in ons hart vind, het ’n groot uitwerking op ons verhouding met hom en op ons toekoms. Ons het dus goeie rede om Dawid se geïnspireerde raad te volg deur ons uiterste bes te doen om Jehovah met ’n volkome hart te dien.
6. Wat moet ons besef omtrent ons vasbeslotenheid om Jehovah te dien?
6 Ons ywerige bedrywighede as Jehovah se knegte toon dat ons inderdaad ’n innige begeerte het om God met ’n volkome hart te dien. Terselfdertyd besef ons dat die druk van Satan se goddelose wêreld en die sondige neigings van ons eie vlees kragtige invloede is wat ons vasbeslotenheid om God heelhartig te dien, kan ondermyn (Jer. 17:9; Ef. 2:2). Om seker te maak dat ons vasbeslotenheid om God te dien, nie afneem nie—dat ons nie ons waaksaamheid verslap nie—moet ons dus gereeld diep in ons hart kyk. Hoe kan ons dit doen?
7. Wat openbaar die toestand van ons hart?
7 Ons innerlike persoonlikheid is natuurlik onsigbaar—net soos die kern, of hart, van ’n boom nie sigbaar is nie. Maar net soos vrugte die toestand van ’n boom openbaar, soos Jesus in die Bergpredikasie gesê het, openbaar ons bedrywighede die ware toestand van ons hart (Matt. 7:17-20). Kom ons kyk na een van hierdie uiterlike dade.
EEN MANIER OM ONS HART TE ONDERSOEK
8. Hoe hou Jesus se woorde in Matteus 6:33 verband met wat in ons hart is?
8 Vroeër in dieselfde preek het Jesus vir sy toehoorders gesê watter spesifieke optrede aan hulle kant bewys sou lewer van hulle innerlike begeerte om Jehovah heelhartig te dien. Hy het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33). Ja, deur wat ons eerste in ons lewe stel, openbaar ons wat ons diep in ons hart begeer, dink en beplan. Om ons prioriteite in die lewe te ondersoek, is dus ’n manier om vas te stel of ons God met ’n volkome hart dien.
9. Watter uitnodiging het Jesus aan ’n paar mans gerig, en wat het hulle reaksies geopenbaar?
9 Kort nadat Jesus sy volgelinge aangespoor het om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’, het iets gebeur wat toelig hoe iemand se hartstoestand inderdaad geopenbaar word deur wat hy eerste stel in die lewe. Die Evangelieskrywer Lukas lei die voorval in deur te sê dat Jesus “sy aangesig vasbeslote daarop gerig [het] om na Jerusalem te gaan” hoewel hy goed geweet het wat uiteindelik daar op hom wag. Terwyl Jesus en sy apostels “op die pad gereis het”, het hy ’n paar mans teëgekom aan wie hy die uitnodiging gerig het: “Word my volgeling.” Hierdie mans was gewillig om Jesus se uitnodiging te aanvaar—maar op sekere voorwaardes. Een man het geantwoord: “Laat my toe om eers weg te gaan en my vader te begrawe.” ’n Ander het gesê: “Ek sal u volg, Here; maar laat my eers toe om afskeid te neem van dié in my huis” (Luk. 9:51, 57-61). Hoe het Jesus se vasbeslote, heelhartige besluit tog verskil van hierdie mans se flou, voorwaardelike reaksies! Deur hulle eie belange eerste te stel, bo Koninkryksbelange, het hulle geopenbaar dat hulle hart nie volkome teenoor God is nie.
10. (a) Hoe het Christus se volgelinge op Jesus se uitnodiging gereageer? (b) Watter kort illustrasie het Jesus vertel?
10 In teenstelling met hierdie voornemende dissipels het ons Jesus se uitnodiging om sy volgelinge te wees, wyslik aanvaar, en nou dien ons Jehovah elke dag. Só openbaar ons hoe ons in ons hart oor Jehovah voel. Maar al is ons bedrywig in die gemeente, moet ons nog altyd bewus wees van ’n moontlike gevaar vir ons hartstoestand. Wat is dit? In dieselfde gesprek met hierdie voornemende dissipels het Jesus op dié gevaar gewys en gesê: “Geen mens wat sy hand aan ’n ploeg geslaan het en na die dinge kyk wat agter is, is geskik vir die koninkryk van God nie” (Luk. 9:62). Watter les kan ons uit hierdie illustrasie leer?
‘HOU ONS VAS AAN WAT GOED IS’?
11. Wat het in Jesus se illustrasie met die arbeider se werk gebeur, en waarom?
11 Om die les in Jesus se kort illustrasie duidelik uit te lig, kan ons ’n bietjie kleur en ’n paar besonderhede by hierdie illustrasie voeg. ’n Arbeider is besig om te ploeg. Maar terwyl hy ploeg, kan hy nie ophou dink aan sy huis waar daar familie, vriende, kos, musiek, gelag en skaduwee is nie. Hy verlang daarna. Nadat hy ’n aansienlike stuk grond geploeg het, word die arbeider se begeerte na hierdie aangename dinge in die lewe so oorweldigend dat hy omdraai om “na die dinge [te] kyk wat agter is”. Hoewel daar nog baie werk is om te doen voordat die saad klaar gesaai is, word die arbeider se aandag afgelei en ly sy werk daaronder. Die arbeider se heer is natuurlik teleurgestel deur die werker se gebrek aan volharding.
12. Watter parallel is daar tussen die arbeider in Jesus se illustrasie en party hedendaagse Christene?
12 Beskou nou ’n parallelle situasie in ons dag. Die arbeider kan enige Christen voorstel wat skynbaar goed doen, maar eintlik in geestelike gevaar verkeer. Kom ons stel ons byvoorbeeld ’n broer voor wat besig bly in die bediening. Maar al woon hy vergaderinge by en doen hy velddiens, kan hy nie ophou dink aan sekere aspekte van die wêreld se lewenswyse wat vir hom aanloklik is nie. Diep in sy hart verlang hy daarna. Nadat hy sy bediening etlike jare lank uitgevoer het, word sy begeerte na party dinge van hierdie wêreld uiteindelik so oorweldigend dat hy omdraai en “na die dinge kyk wat agter is”. Hoewel daar nog baie werk is om te doen in die bediening, behou hy nie “’n stewige greep op die woord van die lewe” nie, en sy deelname aan teokratiese bedrywighede ly daaronder (Fil. 2:16). Jehovah, “die Heer van die oes”, is bedroef oor enige sodanige gebrek aan volharding.—Luk. 10:2.
13. Wat is daarby betrokke om Jehovah met ’n volkome hart te dien?
13 Die les is duidelik. Dit is prysenswaardig as ons gereeld deelneem aan heilsame en bevredigende bedrywighede soos om gemeentelike vergaderinge by te woon en velddiens te doen. Maar daar is meer by betrokke om Jehovah met ’n volkome hart te dien (2 Kron. 25:1, 2, 27). As ’n Christen voortgaan om ‘die dinge wat agter is’—dit wil sê sekere aspekte van die wêreld se lewenswyse—diep in sy hart lief te hê, loop hy die gevaar om sy goeie posisie voor God te verloor (Luk. 17:32). Slegs as ons werklik ‘verafsku wat goddeloos is en vashou aan wat goed is’, sal ons ‘geskik wees vir die koninkryk van God’ (Rom. 12:9; Luk. 9:62). Ons almal moet dus seker maak dat niks in Satan se wêreld, ongeag hoe voordelig of aangenaam dit lyk, ons daarvan weerhou om heelhartig na Koninkryksbelange om te sien nie.—2 Kor. 11:14; lees Filippense 3:13, 14.
BLY WAAKSAAM!
14, 15. (a) Hoe probeer Satan ons hartstoestand beïnvloed? (b) Lig toe waarom Satan se metode so gevaarlik is.
14 Liefde vir Jehovah het ons beweeg om ons aan hom toe te wy. Sedertdien bewys baie van ons al jare lank dat ons vasbeslote is om ’n volkome hart teenoor Jehovah te behou. Maar Satan het nie opgehou om ons te probeer beïnvloed nie. Ons hart is nog steeds sy teiken (Ef. 6:12). Hy besef natuurlik heel moontlik dat ons Jehovah nie sommer skielik sal verlaat nie. Daarom gebruik hy “hierdie stelsel van dinge” op slinkse wyse in ’n poging om ons hartgrondige ywer vir God geleidelik te ondermyn. (Lees Markus 4:18, 19.) Waarom is hierdie metode van Satan so doeltreffend?
15 Ter toeligting: Stel jou voor dat jy ’n boek in die lig van ’n 100-watt-gloeilamp lees, maar dat die gloeilamp dan uitbrand. Jy merk onmiddellik op wat gebeur het, aangesien dit nou donker is, en jy vervang die stukkende gloeilamp met ’n nuwe. Die vertrek is weer eens verlig. Die volgende aand lees jy weer met behulp van dieselfde lig. Maar sonder jou medewete het iemand die nuwe 100-watt-gloeilamp met ’n 95-watt-gloeilamp vervang. Sal jy die verskil opmerk? Heel moontlik nie. En sê nou iemand vervang dit die volgende dag met ’n 90-watt-gloeilamp? Jy sal dit waarskynlik nog steeds nie opmerk nie. Waarom nie? Die lig verflou so geleidelik dat jy dit nie agterkom nie. Net so kan die invloede van Satan se wêreld ons ywer ook geleidelik laat afneem. As dit gebeur, is dit asof Satan daarin geslaag het om ons hartgrondige 100-watt-ywer vir Jehovah se diens te laat verflou. As ’n Christen nie waaksaam is nie, sal hy dalk nie eens die geleidelike verandering opmerk nie.—Matt. 24:42; 1 Pet. 5:8.
GEBED IS NOODSAAKLIK
16. Hoe kan ons ons teen Satan se planne beskerm?
16 Hoe kan ons ons teen hierdie planne van Satan beskerm en ’n volkome hart teenoor Jehovah behou? (2 Kor. 2:11). Gebed is noodsaaklik. Paulus het medegelowiges aangespoor om ‘vas te staan teen die sette van die Duiwel’. Toe het hy hulle gemaan om “met elke vorm van gebed en smeking [aan te hou] om by elke geleentheid . . . te bid”.—Ef. 6:11, 18; 1 Pet. 4:7.
17. Watter les leer ons uit Jesus se gebede?
17 As ons wil vasstaan teen Satan, is dit verstandig om die biddende gesindheid van Jesus na te volg, wat sy innige begeerte om ’n volkome hart teenoor Jehovah te behou, weerspieël het. Let byvoorbeeld op wat Lukas geskryf het oor die manier waarop Jesus die aand voor sy dood gebid het: “Hy het in sielsangs geraak en voortgegaan om nog ernstiger te bid” (Luk. 22:44). Jesus het al voorheen ernstig gebid, maar by hierdie geleentheid, toe die grootste toets van sy aardse lewe hom in die gesig gestaar het, het hy “nog ernstiger” gebid—en sy gebed is verhoor. Jesus se voorbeeld toon dat gebede verskillende grade van intensiteit het. Hoe hewiger ons beproewinge is en hoe listiger Satan se planne is, hoe “ernstiger” moet ons dus bid vir Jehovah se beskerming.
18. (a) Wat moet ons ons in verband met gebed afvra, en waarom? (b) Watter faktore het ’n uitwerking op ons hart, en hoe? (Sien venster op bladsy 16.)
18 Watter uitwerking sal sulke gebede op ons hê? Paulus het gesê: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte . . . bewaak” (Fil. 4:6, 7). Ja, ons moet vurig en dikwels bid as ons ’n volkome hart teenoor Jehovah wil behou (Luk. 6:12). Vra jou dus af: ‘Hoe ernstig en dikwels bid ek?’ (Matt. 7:7; Rom. 12:12). Jou antwoord openbaar baie omtrent hoe sterk jou hartgrondige begeerte is om God te dien.
19. Wat sal jy doen om ’n volkome hart teenoor Jehovah te behou?
19 Soos ons bespreek het, kan die prioriteite wat ons in die lewe stel, vir ons baie omtrent die toestand van ons hart sê. Ons wil seker maak dat nie die dinge wat ons agtergelaat het of Satan se slinkse planne ons vasbeslotenheid ondermyn om Jehovah met ’n volkome hart te dien nie. (Lees Lukas 21:19, 34-36.) Soos Dawid, hou ons dus aan om Jehovah te smeek: “Verenig my hart.”—Ps. 86:11.
[Venster op bladsy 16]
DRIE FAKTORE WAT ONS HART BEÏNVLOED
Net soos ons stappe kan doen om ons letterlike hart gesond te hou, kan ons stappe doen wat ons sal help om ’n gesonde figuurlike hart te behou. Kyk na hierdie drie belangrike faktore:
1 Voeding: Ons letterlike hart moet genoeg gesonde voedingstowwe kry. Net so moet ons seker maak dat ons genoeg heilsame geestelike voedsel inneem deur middel van gereelde persoonlike studie, bepeinsing en vergaderingbywoning.—Ps. 1:1, 2; Spr. 15:28; Heb. 10:24, 25.
2 Oefening: Om gesond te wees, moet ons letterlike hart soms vinnig pomp. Net so hou ywerige deelname aan die bediening—dalk deur ons in te span om meer te doen—ons figuurlike hart in ’n goeie toestand.—Luk. 13:24; Fil. 3:12.
3 Milieu: Die goddelose milieu waarin ons moet werk en lewe, kan groot druk op ons letterlike en ons figuurlike hart plaas. Maar ons kan hierdie druk verminder deur so dikwels moontlik te assosieer met medegelowiges, wat werklik vir ons omgee en wie se hart volkome teenoor God is.—Ps. 119:63; Spr. 13:20.