Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ie bl. 8-12
  • Die idee vat pos in Oosterse godsdienste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die idee vat pos in Oosterse godsdienste
  • Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hindoeïsme se reïnkarnasieleerstelling
  • Die kringloop van wedergeboorte in Boeddhisme
  • Vooroueraanbidding in Japan se Sjinto
  • Onsterflikheid in Taoïsme, vooroueraanbidding in Confucianisme
  • Ander Oosterse godsdienste
  • Boeddhisme—’n Soeke na verligting sonder God
    Die mensdom se soeke na God
  • Lewe ná die dood—Wat glo mense?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Hindoeïsme—’n Soeke na bevryding
    Die mensdom se soeke na God
  • Taoïsme en Confucianisme—’n Soeke na die hemelse weg
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
ie bl. 8-12

Die idee vat pos in Oosterse godsdienste

“Ek het altyd gedink dat die onsterflikheid van die siel ’n universele waarheid is wat almal aanvaar. Ek was dus werklik verbaas toe ek uitvind dat party geleerdes van die Ooste sowel as van die Weste hewig gekant was teen die beskouing. Nou wonder ek hoe die idee van onsterflikheid in Hindoebewustheid posgevat het.”—’N UNIVERSITEITSTUDENT WAT AS ’N HINDOE GROOTGEMAAK IS.

1. Waarom is kennis aangaande die ontwikkeling en verspreiding van die leerstelling van menslike onsterflikheid in verskillende godsdienste vir ons van belang?

HOE het die idee dat die mens ’n siel het wat onsterflik is in Hindoeïsme en ander Oosterse godsdienste posgevat? Die vraag is selfs van belang vir diegene in die Weste wat moontlik nie met hierdie godsdienste vertroud is nie, aangesien die oortuiging almal se beskouing van die toekoms raak. Omdat die leerstelling van menslike onsterflikheid ’n gemeenskaplike kenmerk in die meeste hedendaagse godsdienste is, kan dit inderdaad beter begrip en kommunikasie bevorder as ons weet hoe die idee ontwikkel het.

2. Waarom het Indië so ’n groot invloed op godsdiens in Asië gehad?

2 Ninian Smart, ’n professor in die godsdienswetenskap aan die Universiteit van Lancaster in Brittanje, sê: “Indië was die belangrikste sentrum van godsdiensinvloed in Asië. Dit is nie net omdat Indië self die oorsprong van ’n aantal gelowe—Hindoeïsme, Boeddhisme, Djainisme, Sikhisme, ens.—is nie, maar omdat een van hulle, Boeddhisme, ’n verreikende uitwerking op die kultuur van feitlik die hele Oos-Asië gehad het.” Baie kulture wat só beïnvloed is, “beskou Indië nog steeds as hulle geestelike vaderland”, sê die Hindoegeleerde Nikhilananda. Hoe het hierdie leerstelling van onsterflikheid Indië en ander dele van Asië dus binnegedring?

Hindoeïsme se reïnkarnasieleerstelling

3. Wie het volgens ’n geskiedskrywer die idee van sielsverhuising moontlik na Indië geneem?

3 In die sesde eeu v.G.J., terwyl Pitagoras en sy aanhangers in Griekeland die teorie van sielsverhuising bevorder het, het Hindoewysgere wat langs die oewers van die Indus- en Gangesrivier in Indië gewoon het dieselfde gedagte ontwikkel. Die gelyktydige verskyning van hierdie opvatting “in die Griekse wêreld en in Indië kan nouliks toevallig wees”, sê die geskiedskrywer Arnold Toynbee. “Een moontlike gemeenskaplike bron [van invloed]”, sê Toynbee, “is die Eurasiese nomadegemeenskap wat, in die 8ste en 7de eeu v.C., Indië, suidwestelike Asië, die vlakteland al langs die noordkus van die Swart See, en die Balkan- en Anatoliese skiereiland binnegestroom het.” Die migrerende Eurasiese stamme het blykbaar die idee van sielsverhuising saam met hulle na Indië geneem.

4. Waarom het die konsep van sielsverhuising by die Hindoewysgere ingang gevind?

4 Hindoeïsme het baie vroeër in Indië begin, toe die Ariërs omstreeks 1500 v.G.J. daar aangekom het. Van die begin af het Hindoeïsme die oortuiging gehad dat die siel van die liggaam verskil en dat die siel ná die dood voortleef. Hindoes het dus vooroueraanbidding beoefen en kos neergesit vir die siele van hulle afgestorwenes om te eet. Eeue later toe die idee van sielsverhuising Indië bereik, het dit ongetwyfeld ingang gevind by die Hindoewysgere wat geworstel het met die universele probleem van boosheid en lyding onder mense. Die Hindoewysgere het dít gekombineer met wat genoem word die wet van Karma, die wet van oorsaak en gevolg, en so het hulle die teorie van reïnkarnasie ontwikkel waarvolgens ’n mens vir jou goeie en slegte dade in een lewe beloon of gestraf word in die volgende lewe.

5. Wat is volgens Hindoes die einddoel van die siel?

5 Maar daar was ook ’n ander konsep wat Hindoeïsme se leerstelling oor die siel beïnvloed het. “Dit is blykbaar waar dat, juis die tyd toe die teorie van sielsverhuising en karma gevorm is, of selfs vroeër”, sê die Encyclopædia of Religion and Ethics, “’n ander begrip . . . geleidelik vorm aangeneem het in ’n klein intellektuele kring in N. Indië—die filosofiese konsep van die Brahman-Ātman [die allerhoogste en ewige Brahmaan, die hoogste werklikheid].” Hierdie idee is gekombineer met die teorie van reïnkarnasie om die einddoel van Hindoes te definieer—bevryding van die kringloop van sielsverhuising ten einde een te word met die hoogste werklikheid. Dit, glo Hindoes, word verkry deur na sosiaal aanvaarbare gedrag en spesiale Hindoekennis te streef.

6, 7. Wat is die hedendaagse Hindoeïsme se beskouing oor die hiernamaals?

6 Hindoewysgere het dus die idee van sielsverhuising deel laat vorm van die leerstelling van reïnkarnasie deur dit te kombineer met die wet van Karma en die konsep van Brahmaan. Octavio Paz, ’n Nobelpryswenner, digter en ’n voormalige Mexikaanse ambassadeur in Indië het geskryf: “Namate Hindoeïsme versprei het, het ook ’n idee versprei . . . wat die kern vorm van Brahmanisme, Boeddhisme en ander Oosterse godsdienste: metempsigose, die sielsverhuising deur opeenvolgende lewens.”

7 Die leerstelling van reïnkarnasie is die grondslag van hedendaagse Hindoeïsme. Die Hindoefilosoof Nikhilananda sê: “Elke goeie Hindoe is daarvan oortuig dat die verkryging van onsterflikheid nie die voorreg van ’n paar uitverkorenes is nie, maar die geboortereg van almal.”

Die kringloop van wedergeboorte in Boeddhisme

8-10. (a) Hoe definieer Boeddhisme lewensbestaan? (b) Hoe verduidelik ’n Boeddhistiese geleerde wedergeboorte?

8 Boeddhisme het omstreeks 500 v.G.J. sy ontstaan in Indië gehad. Volgens Boeddhistiese tradisie is Boeddhisme gestig deur ’n Indiese prins met die naam Siddhārtha Gautama, wat as Boeddha bekend geword het nadat hy verligting ontvang het. Aangesien dit uit Hindoeïsme ontstaan het, is die leerstellings daarvan in sekere opsigte soortgelyk aan dié van Hindoeïsme. Volgens Boeddhisme is die lewensbestaan ’n voortdurende kringloop van wedergeboortes en sterftes, en soos in Hindoeïsme word elke individu se status in sy huidige lewe bepaal deur die dade van sy vorige lewe.

9 Maar Boeddhisme verduidelik lewensbestaan nie uit die oogpunt van ’n persoonlike siel wat ná die dood voortleef nie. “[Boeddha] het in die menslike psige net ’n kortstondige reeks onderbroke psigologiese toestande gesien wat slegs deur begeerte saamgebind word”, het Arnold Toynbee gesê. Tog het Boeddha geglo dat iets—’n toestand of krag—van een lewe na die ander oorgedra word. Dr. Walpola Rahoela, ’n Boeddhistiese geleerde, verduidelik:

10 “’n Wese is niks anders nie as ’n kombinasie van fisiese en verstandelike kragte of energieë. Wanneer die fisiese liggaam heeltemal ophou funksioneer, noem ons dit die dood. Hou al hierdie kragte en energieë geheel en al op met werk wanneer die liggaam ophou funksioneer? Boeddhisme sê: ‘Nee.’ Wilskrag, begeerte, ’n vurige verlange om te bestaan, om voort te gaan, om al hoe meer te word, is ’n ontsaglike krag wat mense se hele lewe, se hele lewensbestaan aandryf, wat selfs die hele wêreld aandryf. Dít is die grootste krag, die grootste energie ter wêreld. Volgens Boeddhisme hou hierdie krag nie op met werk wanneer die liggaam ophou funksioneer nie, wat die dood is; maar dit word voortdurend in ’n ander vorm geopenbaar en lei tot herbestaan, wat wedergeboorte genoem word.”

11. Wat is die Boeddhistiese beskouing van die hiernamaals?

11 Die Boeddhistiese beskouing van die hiernamaals is as volg: Lewensbestaan is ewigdurend tensy die individu die einddoel, Nirwana, bereik, wat hom van die kringloop van wedergeboortes bevry. Nirwana is nie ’n toestand van ewige geluk of van eenwording met die hoogste werklikheid nie. Dit is eenvoudig ’n toestand van niebestaan—die “onsterflike plek” aan die ander kant van individuele lewensbestaan. Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary definieer “Nirwana” as “’n plek of toestand waar bekommernis, pyn of eksterne werklikheid vergete is”. Pleks van onsterflikheid na te streef, word Boeddhiste aangespoor om bo dit uit te styg deur Nirwana te bereik.

12-14. Hoe dra verskillende vorme van Boeddhisme die idee van onsterflikheid oor?

12 Terwyl Boeddhisme na verskeie dele van Asië versprei het, het die leerstellings daarvan verander om by plaaslike oortuigings aan te pas. Mahajana-Boeddhisme, die vorm wat oorheersend in China en Japan voorkom, staan byvoorbeeld geloof voor in hemelse bodhisattvas, oftewel toekomstige Boeddhas. Bodhisattvas stel hulle Nirwana vir tallose lewens uit sodat hulle ander kan dien en help om dit te verkry. Sodoende kan iemand besluit om in die kringloop van wedergeboorte voort te gaan selfs ná hy Nirwana bereik het.

13 Nog ’n verandering wat veral ’n invloed in China en Japan uitgeoefen het, is die leerstelling van die Suiwer Land na die Weste, wat deur Boeddha Amitabha, of Amida, ontwikkel is. Diegene wat die naam van Boeddha in geloof aanroep, word in die Suiwer Land, oftewel paradys, weer gebore waar toestande gunstiger is om die finale verligting te verkry. Wat het uit hierdie leerstelling voortgespruit? Professor Smart, wat vroeër genoem is, verduidelik: “Dit is geen wonder nie dat die prag van die paradys, wat aanskoulik beskryf word in sommige Mahajana-tekste, nirwana in die algemene verbeelding as die hoogste doel vervang het.”

14 Tibettaanse Boeddhisme sluit ander plaaslike opvattings in. Die Tibettaanse boek oor die dooies beskryf byvoorbeeld die lot van ’n individu in die oorgangsfase voordat hy weer gebore word. Die dooies word glo aan die skerp lig van die hoogste werklikheid blootgestel, en diegene wat nie die lig kan verdra nie, verkry nie bevryding nie, maar word weer gebore. Boeddhisme in sy verskillende vorme dra gewis die idee van onsterflikheid oor.

Vooroueraanbidding in Japan se Sjinto

15-17. (a) Hoe het die aanbidding van voorouergeeste in Sjinto ontwikkel? (b) Waarom kan daar gesê word dat geloof in die onsterflikheid van die siel ’n grondleerstelling van Sjinto is?

15 Godsdiens het in Japan bestaan voor die ontstaan van Boeddhisme in die sesde eeu G.J. Dit was ’n godsdiens sonder ’n naam, en dit het bestaan uit oortuigings wat verband gehou het met sedelikheid en gebruike van die mense. Maar met die bekendstelling van Boeddhisme het die behoefte ontstaan om die Japannese godsdiens van die vreemde godsdiens te onderskei. En so het die benaming “Sjinto” ontstaan, wat “die weg van die gode” beteken.

16 Watter beskouing het die oorspronklike Sjinto oor die hiernamaals gehad? Toe die verbouing van rys in vleilande begin is, het “landbou in vleilande goed georganiseerde en bestendige gemeenskappe vereis”, verduidelik die Kodansha Encyclopedia of Japan, “en is landbouritusse—wat later so ’n belangrike rol in Sjinto gespeel het—ontwikkel”. Vrees vir siele wat verhuis het, het daartoe gelei dat hierdie eertydse mense ritusse uitgedink het om hulle te paai. Dit het ontwikkel in die aanbidding van voorouergeeste.

17 Volgens Sjinto-oortuiging het ’n siel wat “verhuis” het nog steeds sy persoonlikheid, maar dit is besoedel vanweë die dood. Wanneer die bedroefdes gedenkritusse beoefen, word die siel gereinig totdat alle kwaadwilligheid verwyder is en dit ’n vreedsame en liefdadige karakter aanneem. Mettertyd bereik die voorouergees die posisie van ’n voorouergodheid, of bewaker. Aangesien dit saam met Boeddhisme bestaan het, het Sjinto sekere Boeddhistiese leerstellings oorgeneem, onder andere die leerstelling van die paradys. Ons vind dus dat die geloof in onsterflikheid ’n grondleerstelling van Sjinto is.

Onsterflikheid in Taoïsme, vooroueraanbidding in Confucianisme

18. Wat is die Taoïste se beskouing oor onsterflikheid?

18 Taoïsme is gestig deur Lao-tse, wat na bewering in die sesde eeu v.G.J. in China gewoon het. Volgens Taoïsme is die doel in die lewe om die mens se bedrywighede in ooreenstemming te bring met Tao—die weg van die natuur. Taoïste se beskouing oor onsterflikheid kan so opgesom word: Tao is die vernaamste beginsel van die heelal. Tao het geen begin en geen einde nie. Deur in ooreenstemming met Tao te lewe, neem ’n individu daaraan deel en bereik hy ewigheid.

19-21. Tot watter pogings het Taoïste se spekulasies gelei?

19 In hulle poging om een met die natuur te wees, het Taoïste mettertyd veral in die tydloosheid en die herstellingsvermoë van die natuur begin belangstel. Hulle het gespekuleer dat die mens wat in ooreenstemming met Tao, oftewel die weg van die natuur, lewe miskien op die een of ander manier die geheime van die natuur kan ontrafel en immuun kan word teen fisiese skade, siekte en selfs die dood.

20 Taoïste het begin eksperimenteer met bepeinsing, asemhalingsoefeninge en dieet, wat glo liggaamlike agteruitgang en die dood kon vertraag. Weldra het legendes begin versprei oor onsterflikes wat op wolke kon vlieg en na willekeur kon verskyn en verdwyn en wat tallose jare al op heilige berge of afgeleë eilande woon en van dou of towervrugte lewe. Die Chinese geskiedenis sê dat die keiser Tsj’in Sjih Hoeang Ti in 219 v.G.J. ’n vloot skepe met 3 000 seuns en meisies gestuur het om die legendariese eiland P’eng-lai, die woonplek van die onsterflikes, te vind ten einde die kruie vir onsterflikheid terug te bring. Dit is onnodig om te sê dat hulle nie met die elikser teruggekeer het nie.

21 Die soeke na ewige lewe het daartoe gelei dat Taoïste onsterflikheidspille deur middel van alchemie probeer meng het. Volgens Taoïste ontstaan lewe wanneer die teenoorgestelde jin en jang (vroulike en manlike) kragte saamsmelt. Daarom het die alchemiste die proses van die natuur probeer namaak deur lood (donker, of jin) en kwik (helder, of jang) saam te smelt, en hulle het gedink dat die produk ’n onsterflikheidspil sou wees.

22. Wat was die gevolg van die Boeddhiste se invloed op die Chinese godsdienslewe?

22 Teen die sewende eeu G.J. het Boeddhisme ’n invloed op Chinese godsdienslewe begin uitoefen. Die gevolg was ’n samesmelting wat beginsels van Boeddhisme, spiritisme en vooroueraanbidding ingesluit het. “Boeddhisme sowel as Taoïsme”, sê professor Smart, “het vorm en wese verleen aan beskouings oor ’n lewe hiernamaals wat redelik vaag in eertydse Chinese vooroueraanbidding was.”

23. Wat was Confucius se beskouing oor vooroueraanbidding?

23 Confucius, China se ander vername wysgeer van die sesde eeu v.G.J., wie se filosofie die grondslag vir Confucianisme geword het, het nie breedvoerig oor die hiernamaals kommentaar gelewer nie. Hy het eerder die belangrikheid van sedelike goedheid en sosiaal aanvaarbare gedrag beklemtoon. Maar hy was vooroueraanbidding gunstig gesind en het groot klem gelê op die onderhouding van die ritusse en seremonies wat met die siele van afgestorwe voorouers verband hou.

Ander Oosterse godsdienste

24. Wat leer Djainisme aangaande die siel?

24 Djainisme is in die sesde eeu v.G.J. in Indië gestig. Die stigter daarvan, Mahāvīra, het geleer dat alle lewende dinge ewige siele het en dat redding van die siel uit die gevangenskap van Karma net moontlik is deur uiterste selfverloëning en selfdissipline en ’n streng toepassing van geweldloosheid teenoor alle skepsele. Djainas glo dit tot vandag toe.

25, 26. Watter Hindoe-oortuigings word ook in Sikhisme gevind?

25 Indië is ook die geboorteplek van Sikhisme, ’n godsdiens wat deur 19 miljoen mense beoefen word. Hierdie godsdiens het sy ontstaan gehad in die 16de eeu toe ghoeroe Nānak besluit het om die beste van Hindoeïsme en Islam saam te smelt en ’n verenigde godsdiens te vorm. Sikhisme het die Hindoe-oortuigings van die onsterflikheid van die siel, reïnkarnasie en Karma aangeneem.

26 Die opvatting dat lewe voortbestaan nadat die liggaam gesterf het, maak ongetwyfeld ’n wesenlike deel van die meeste Oosterse godsdienste uit. Maar wat van die Christendom, Judaïsme en Islam?

[Kaart op bladsy 10]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SENTRAAL-ASIË

KASJMIR

TIBET

CHINA

KOREA

JAPAN

Banaras

INDIË

Buddh Gaya

MYANMA

THAILAND

KAMBODJA

SRI LANKA

JAVA

3DE EEU V.G.J.

1STE EEU V.G.J.

1STE EEU G.J.

4DE EEU G.J.

6DE EEU G.J.

7DE EEU G.J.

Boeddhisme het die hele Oos-Asië beïnvloed

[Prent op bladsy 9]

Reïnkarnasie is die grondslag van Hindoeïsme

[Prent op bladsy 11]

’n Taoïs probeer om ewigheid te verkry deur in ooreenstemming met die natuur te lewe

[Prent op bladsy 12]

Confucius was vooroueraanbidding gunstig gesind

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel