Hoe om met minder klaar te kom
DIT vereis noukeurige beplanning om met minder klaar te kom. Jesus het die belangrikheid hiervan beklemtoon. Hy het gevra: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” (Lukas 14:28, 29). As jy hierdie beginsel toepas, kan jy “die koste [daarvan] bereken” om binne jou vermoë te lewe deur ’n begroting op te stel. Hoe werk dit? Probeer die volgende:
Wanneer jy jou salaris huis toe bring, moet jy spesifieke bedrae in die verskillende kategorieë plaas om na huidige en toekomstige uitgawes om te sien. (Sien die venster op bladsy 8.) Wanneer jou uitgawes georganiseer is, kan jy sien waarop jy jou geld uitgee en hoeveel jy aan onnodige dinge bestee. Dit sal jou dan help om te bepaal waar jy kan bespaar.
Pas die volgende wenke toe om ’n begroting op te stel wat vir jou sal werk.
Koop verstandig
Toe Raúl sy werk verloor het, het sy vrou, Bertha, op ’n ander manier inkopies begin doen. “Ek het gesoek na afslagkoepons en spesiale aanbiedings by kruidenierswinkels waar ons twee items vir die prys van een kon kry”, sê sy. Hier is ’n paar ander idees:
● Kyk watter produkte afgemerk is, en werk jou spyskaart daarvolgens uit.
● Koop eerder basiese bestanddele as voorafverpakte kos, en kook self.
● Koop meer van ’n produk wanneer dit afgemerk of in seisoen is.
● Koop in groot maat, maar moenie te veel koop van produkte wat uiteindelik sal bederf nie.
● Besnoei die koste van klere deur tweedehandse klere van goeie gehalte te koop.
● Ry na gebiede waar pryse laer is, as dit koste-effektief is.
● Moenie so dikwels inkopies gaan doen nie.a
Skryf dit neer
“Ons moes ’n begroting hê”, sê Fred, “en daarom het ek ’n rekord gehou van hoeveel ons onmiddellik moes uitbetaal en hoeveel ons vir die res van die maand nodig gehad het.” Adele, sy vrou, voeg by: “Ek het presies geweet hoeveel ek kon bestee wanneer ek mark toe gegaan het. Soms, wanneer ek iets vir die kinders of vir die huis moes koop, het ek na die begroting gekyk en gedink: ‘Ek kan dit nie bekostig nie; ons sal maar net tot volgende maand moet wag.’ Om ’n begroting op skrif te hê, was die sleutel!”
Dink voordat jy koop
Kom in die gewoonte om jou af te vra: ‘Het ek dit werklik nodig? Is die ou item werklik gedaan, of wil ek net iets nuuts hê?’ Kan jy, as jy iets selde sal gebruik, dit miskien net huur? Of sal dit net so goed werk om ’n goeie tweedehandse een te koop, as jy dink dat jy dit dikwels sal gebruik?
Hoewel dit dalk lyk asof van die bogenoemde wenke nie ’n verskil sal maak nie, kan dit saam heelwat bespaar! Die punt is: As jy in die gewoonte kom om te bespaar wanneer dit by klein dingetjies kom, sal jy dit ook doen wanneer dit by groot uitgawes kom.
Wees vindingryk
Om op onnodige uitgawes te besnoei, moet jy vindingryk wees. Adele vertel byvoorbeeld: “Ons het twee motors gehad, maar het gou van een ontslae geraak en ’n saamryklub gevorm. Om petrol te bespaar, het ons met elke rit soveel takies as moontlik probeer verrig. Ons het net aan die noodsaaklikhede geld bestee.” Hier volg ’n paar ander maniere waarop jy vindingryk kan wees:
● Lê ’n tuin aan en kweek jou eie groente.
● Volg die vervaardiger se instruksies vir instandhouding, wat jou elektriese toestelle moontlik langer sal laat hou.
● Trek jou goeie klere uit sodra jy by die huis kom—’n gewoonte wat hulle langer nuut sal laat lyk.
Moet jou nie afsonder nie!
Baie wat hulle werk verloor, raak teruggetrokke en sonder hulle af. Maar nie Fred nie! Hy het empatieke ondersteuning ontvang van sy familie, insluitende sy volwasse kinders. “Ons het geleer om baie dinge met mekaar te deel, en dit het ons nader aan mekaar gebring”, sê hy. “Ons almal het gevoel: ‘Ons moet saamstaan.’”
Fred is ook versterk deur sy assosiasie met mede-Christene wanneer hy gereeld saam met hulle by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies vergader het. “Ná afloop van ons Christelike vergaderinge het ek altyd bemoedig gevoel”, sê hy. “Almal was so liefdevol en bedagsaam. Danksy hulle hulp en ondersteuning het ons besef dat ons nie alleen is nie.”—Johannes 13:35.
Voordele van geloof
Werkloosheid het miljoene verbitterde slagoffers tot gevolg gehad wat voel dat hulle deur hulle werkgewers in die steek gelaat is. Raúl, wat vroeër gemeld is, was diep teleurgestel toe hy twee keer onverwags sy werk verloor het—een keer in sy vaderland Peru en toe in die stad New York. Nadat hy die tweede keer afgedank is, het Raúl tot die slotsom gekom: “In vandag se wêreld kan jy van hoegenaamd niks seker wees nie.” Hy het maande lank tevergeefs werk gesoek. Wat het hom gehelp om die situasie die hoof te bied? Raúl het gesê: “Ek het ’n hegte vriendskap met God opgebou en besef dat ek eenvoudig op hom moet vertrou om ware sekuriteit te hê.”
Raúl is een van Jehovah se Getuies, en sy studie van die Bybel het hom gehelp om ’n sterk geloof op te bou in ’n liefdevolle hemelse Vader, wat belowe: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie” (Hebreërs 13:5). Sy omstandighede was nie maklik nie. “Ons het altyd gebid vir ons basiese benodigdhede, en ons het geleer om tevrede te wees met wat God voorsien”, sê hy. Raúl se vrou, Bertha, voeg by: “Soms was ek baie gespanne, en ek het gewonder of Raúl ’n werk sou kry. Maar ons het gesien dat Jehovah ons gebede beantwoord deur elke dag vir ons te sorg. Hoewel ons nie soveel gehad het soos voorheen nie, was ons lewe in sekere sin baie eenvoudiger.”
Omdat Fred een van Jehovah se Getuies is, het sy studie van die Bybel ’n groot invloed gehad op die manier waarop hy sy situasie hanteer het. “Soms soek ons sekuriteit in ’n werk, ’n posisie of ’n bankbalans”, sê hy. “Maar ek het geleer dat die enigste sekuriteit wat ons kan hê, alleenlik van Jehovah God af kom, en dit is ons vriendskap met hom wat die enigste ware sekuriteit bied.”b
[Voetnote]
a Volgens een studie is byna 60 persent van alle items wat gekoop word, onbeplan.
b Vir meer inligting oor hoe om met geld te werk, sien ons medetydskrif, Die Wagtoring, van 1 Augustus 2009, bladsye 10-12.
[Lokteks op bladsy 9]
“Ons het altyd gebid vir ons basiese benodigdhede, en ons het geleer om tevrede te wees met wat God voorsien”
[Venster/Tabel op bladsy 8]
Hoe om ’n begroting op te stel
(1) Skryf jou noodsaaklike maandelikse uitgawes neer. Hou ’n volle maand rekord van alles wat jy op kos, behuising (huurgeld of huislening), dienste, motoruitgawes, ensovoorts bestee. Deel rekeninge wat jaarliks betaal word, deur 12 om die maandelikse bedrag te kry.
(2) Verdeel uitgawes in kategorieë: Dit sluit kos, behuising, motor- en reiskostes, ensovoorts in.
(3) Werk uit hoeveel van jou spaargeld elke maand aan elke kategorie afgestaan moet word. In die geval van rekeninge wat jaarliks betaal word, moet jy “bereken” hoeveel elke maand opsygesit moet word.
(4) Skryf die totale netto inkomste van almal in jou huishouding neer. Trek aftrekkings soos belasting af. Vergelyk dit met die uitgawes.
(5) Sit maandeliks die bedrag opsy wat vir elke kategorie nodig is: As jy kontant gebruik, is ’n eenvoudige manier om ’n koevert vir elke kategorie te hê. Sit dan maandeliks die kontant wat nodig is om elke uitgawe te dek, in die ooreenkomstige koevert.
Waarskuwing: As jy ’n kredietkaart het, moet jy dit op verantwoordelike wyse gebruik! Baie begrotings is al in die wiele gery deur die versoeking: ‘Koop nou, betaal later.’
[Tabel]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Netto maandelikse inkomste
NETTO MAANDELIKSE SALARIS R․․․․․ ANDER R․․․․․
NETTO SALARISSE VAN
ANDER IN DIE HUIS R․․․․․ TOTALE NETTO INKOMSTE
R․․․․․
Begrote Werklike
maandelikse uitgawes maandelikse uitgawes
R․․․․․ Huurgeld of huislening R․․․․․
R․․․․․ Versekering/Belasting R․․․․․
R․․․․․ Dienste R․․․․․
R․․․․․ Motoruitgawes R․․․․․
R․․․․․ Vermaak/Reis R․․․․․
R․․․․․ Telefoon R․․․․․
R․․․․․ Kos R․․․․․
R․․․․․ Ander R․․․․․
BEGROTE TOTAAL WERKLIKE TOTAAL
R․․․․․ R․․․․․
Vergelyk inkomste en uitgawes
NETTO MAANDELIKSE INKOMSTE R․․․․․
MINUS− SALDO
MAANDELIKSE UITGAWES R․․․․․ R․․․․․