-
Hoe om openbare toesprake voor te bereiVind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
-
-
Hoe om openbare toesprake voor te berei
ELKE week reël die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies dat ’n openbare toespraak oor ’n skriftuurlike onderwerp gehou word. Toon jy, indien jy ’n ouer man of ’n bedieningskneg is, dat jy ’n bekwame openbare spreker, ’n onderrigter, is? Dan sal jy dalk gevra word om ’n openbare toespraak te hou. Die Teokratiese Bedieningskool het al tienduisende broers gehelp om vir hierdie diensvoorreg te kwalifiseer. Waar moet jy begin wanneer jy ’n openbare toespraak kry?
Bestudeer die skets
Voordat jy enige navorsing doen, moet jy die skets lees en daaroor peins totdat jy dit verstaan. Kry ’n duidelike beeld van die tema, wat ook die titel van die toespraak is. Wat moet jy jou gehoor leer? Wat is jou doel?
Raak vertroud met die hoofopskrifte. Ontleed daardie hoofpunte. Hoe hou elkeen met die tema verband? Onder elke hoofpunt verskyn ’n aantal ondergeskikte punte. Gedagtes wat die ondergeskikte punte staaf, verskyn onder hierdie punte. Kyk hoe elke deel van die skets op die vorige deel voortbou, die volgende een inlei en help om die doel van die toespraak te bereik. Wanneer jy die tema en die doel van die toespraak verstaan en kan sien hoe die hoofpunte daardie doel bereik, dan is jy gereed om die materiaal te begin ontwikkel.
Aan die begin sal jy dit miskien nuttig vind om aan jou toespraak as vier of vyf kort toesprake te dink, elk met ’n hoofpunt. Berei hulle een vir een voor.
Die skets word voorsien om jou met jou voorbereiding te help. Dit is nie bedoel om die aantekeninge vir jou toespraak te wees nie. Dit is soos ’n raamwerk. Jy moet verder daaraan bou, dit goed afrond en kleur daaraan gee.
Die gebruik van tekste
Jesus Christus en sy dissipels het hulle onderrigting op die Skrif gegrond (Luk. 4:16-21; 24:27; Hand. 17:2, 3). Jy kan dieselfde doen. Die Skrif moet die grondslag van jou toespraak wees. Moenie net die verklarings in die skets verduidelik en toepas nie, maar stel vas hoe daardie verklarings deur die Skrif gestaaf word en onderrig dan uit die Skrif.
Ondersoek elke vers in die skets terwyl jy jou toespraak voorberei. Neem die konteks in ag. Party tekste verstrek dalk net nuttige agtergrondinligting. Jy hoef nie elke teks tydens jou toespraak te lees of te bespreek nie. Kies dié waarby jou gehoor die meeste baat sal vind. As jy goed van die teksverwysings in die gedrukte skets gebruik maak, sal jy waarskynlik nie bykomende teksverwysings hoef te gebruik nie.
Die sukses van jou toespraak hang nie af van die aantal tekste wat jy gebruik nie, maar van die gehalte van die onderrigting. Wanneer jy tekste inlei, moet jy verduidelik waarom jy dit gebruik. Laat tyd toe om die tekste toe te pas. Nadat jy ’n vers gelees het, moet jy jou Bybel oophou terwyl jy die teks bespreek. Jou gehoor sal waarskynlik dieselfde doen. Hoe kan jy die belangstelling van jou gehoor wek en hulle help om groter voordeel uit God se Woord te trek? (Neh. 8:8, 12). Jy kan dit deur verduidelikings, illustrasies en toepassings doen.
Verduideliking. Wanneer jy voorberei om ’n sleutelteks te verduidelik, moet jy jou afvra: ‘Wat beteken dit? Waarom gebruik ek dit in my toespraak? Watter vrae sal diegene in die gehoor hulle moontlik oor hierdie vers afvra?’ Jy sal dalk die konteks, die agtergrond, die omstandighede, die betekenis van die woorde, die doel van die geïnspireerde skrywer moet ontleed. Dit verg navorsing. Jy sal volop waardevolle inligting in die publikasies vind wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matt. 24:45-47). Moenie alles omtrent die vers probeer verduidelik nie, maar verduidelik waarom jy jou gehoor dit laat lees het en hoe dit met die punt onder bespreking verband hou.
Illustrasies. Die doel van illustrasies is om jou gehoor ’n dieper begrip van iets te gee of hulle te help om ’n punt of beginsel wat jy bespreek het, te onthou. Illustrasies help mense om te verstaan wat jy vir hulle gesê het en dit met iets te assosieer wat hulle reeds weet. Dit is wat Jesus gedoen het toe hy sy beroemde Bergpredikasie gelewer het. “Voëls van die hemel”, “lelies van die veld”, ’n “nou poort”, ’n “huis op die rots”, en baie soortgelyke uitdrukkings het sy onderrigting kragtig, duidelik en onvergeetlik gemaak.—Matt., hfst. 5–7.
Toepassing. As jy ’n teks verduidelik en illustreer, sal jy kennis oordra, maar die toepassing van daardie kennis is wat resultate oplewer. Dit is weliswaar die verantwoordelikheid van diegene in jou gehoor om op die Bybel se boodskap te reageer, maar jy kan hulle help om te sien wat hulle moet doen. Wanneer jy seker is dat jou gehoor die vers onder bespreking verstaan en sien hoe dit verband hou met die punt wat gemaak word, moet jy die tyd neem om vir hulle te wys watter uitwerking dit op ons geloof en gedrag behoort te hê. Beklemtoon die voordele wat dit inhou as ons verkeerde idees of gedrag verwerp wat in stryd is met die waarheid wat bespreek word.
Terwyl jy nadink oor hoe om tekste toe te pas, moet jy onthou dat die mense in jou gehoor uit baie agtergronde kom en met uiteenlopende omstandighede te kampe het. Daar is dalk nuwe belangstellendes, jongmense, bejaardes en diegene wat met verskeie persoonlike probleme worstel. Maak jou toespraak prakties en realisties. Moenie raad gee wat dit laat klink of jy net ’n paar individue in gedagte het nie.
Besluite wat die spreker neem
Party besluite in verband met jou toespraak is reeds vir jou geneem. Die hoofpunte is duidelik gemerk, en die tyd wat jy aan die bespreking van elke hoofopskrif moet wy, word duidelik aangegee. Die ander besluite moet jy self neem. Jy kan besluit om meer tyd aan sekere ondergeskikte punte en minder aan ander te bestee. Moenie dink dat jy elke ondergeskikte punt in dieselfde mate moet ontwikkel nie. Dit kan maak dat jy deur die materiaal jaag en jou gehoor oorweldig. Hoe kan jy bepaal watter punte jy vollediger moet ontwikkel en watter jy net kortliks, of terloops, moet meld? Vra jou af: ‘Watter punte sal my help om die toespraak se kerngedagte oor te dra? Watter punte sal vir my gehoor van die grootste nut wees? Sal die bewysvoering verswak word as ’n sekere teksverwysing of ’n verwante punt weggelaat word?’
Vermy spekulasie of persoonlike opinies ten alle koste. Selfs God se Seun, Jesus Christus, het nie ‘uit homself’ gespreek nie (Joh. 14:10). Onthou dat mense na die vergaderinge van Jehovah se Getuies kom om te hoor hoe die Bybel bespreek word. As mense jou as ’n goeie spreker beskou, is dit waarskynlik omdat dit jou gewoonte is om die aandag op God se Woord te vestig, nie op jouself nie. Dit is waarom jou toesprake waardeer word.—Fil. 1:10, 11.
Noudat jy van ’n eenvoudige skets ’n insiggewende verduideliking van die Skrif gemaak het, moet jy jou toespraak oefen. Dit is nuttig om hardop te oefen. Wat belangrik is, is om seker te maak dat jy al die punte goed in gedagte het. Jy moet met oortuiging kan praat, die materiaal kan laat lewe en die waarheid entoesiasties kan aanbied. Voordat jy jou toespraak hou, moet jy jou afvra: ‘Wat wil ek bereik? Staan die hoofpunte uit? Het ek werklik die Skrif die grondslag van my toespraak gemaak? Lei elke hoofpunt op ’n natuurlike wyse na die volgende? Bou die toespraak waardering op vir Jehovah en sy voorsienings? Hou die slot direk met die tema verband, toon dit vir die gehoor wat om te doen en motiveer dit hulle om dit te doen?’ As jy ja op hierdie vrae kan antwoord, dan sal jy ‘goed kan doen met kennis’, tot voordeel van die gemeente en tot lof van Jehovah!—Spr. 15:2.
-
-
Ontwikkel jou onderrigvermoëVind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
-
-
Ontwikkel jou onderrigvermoë
WAT is jou doel as ’n onderrigter? As jy onlangs ’n Koninkryksverkondiger geword het, wil jy ongetwyfeld leer hoe om ’n tuisbybelstudie te hou, aangesien Jesus sy volgelinge die opdrag gegee het om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). As jy reeds ondervinding in hierdie werk het, is jou doel moontlik om op doeltreffender wyse die harte te bereik van diegene wat jy wil help. As jy ’n ouer is, wil jy ongetwyfeld die soort onderrigter wees wat jou kinders kan motiveer om hulle lewe aan God toe te wy (3 Joh. 4). As jy ’n ouer man is of daarna streef om een te word, wil jy moontlik ’n openbare spreker word wat in dié wat na jou luister, ’n dieper waardering vir Jehovah en sy weë kan opbou. Hoe kan jy hierdie doelwitte bereik?
Leer by die Meesteronderrigter, Jesus Christus (Luk. 6:40). Of Jesus nou met ’n skare op ’n berghang gepraat het of net met ’n paar mense terwyl hulle op die pad geloop het, wat hy gesê het en die manier waarop hy dit gesê het, het ’n blywende indruk gemaak. Jesus het die denke van dié wat na hom geluister het, gestimuleer en hulle harte geraak, en hy het dinge prakties toegepas sodat hulle dit kon verstaan. Kan jy dieselfde doen?
Vertrou op Jehovah
Jesus was so ’n goeie onderrigter omdat hy ’n intieme verhouding met sy hemelse Vader gehad het en omdat hy God se gees gehad het. Bid jy opreg tot Jehovah om ’n tuisbybelstudie op bekwame wyse te kan hou? As jy ’n ouer is, bid jy gereeld vir God se leiding om jou kinders te onderrig? Doen jy ’n opregte gebed wanneer jy voorberei om toesprake of vergaderinge te hou? Sulke biddende vertroue op Jehovah sal jou help om ’n bekwamer onderrigter te word.
Vertroue op Jehovah word ook geopenbaar as ons op sy Woord, die Bybel, vertrou. Op die laaste aand van sy lewe as ’n volmaakte man het Jesus in gebed vir sy Vader gesê: “Ek het u woord aan hulle gegee” (Joh. 17:14). Hoewel Jesus baie ondervinding gehad het, het hy nooit uit homself gespreek nie. Hy het altyd gespreek wat sy Vader hom geleer het en sodoende vir ons ’n voorbeeld gelaat om te volg (Joh. 12:49, 50). God se woord, soos dit in die Bybel bewaar is, het die krag om mense te beïnvloed—hulle dade, diepste gedagtes en gevoelens (Heb. 4:12). Namate jy meer kennis van God se Woord inneem en leer om dit goed in jou bediening te gebruik, sal jy die soort onderrigvermoë ontwikkel wat mense tot God aantrek.—2 Tim. 3:16, 17.
Verheerlik Jehovah
Om ’n onderrigter in navolging van Christus te wees, moet jy meer as net ’n interessante toespraak kan hou. Mense het hulle weliswaar verwonder oor Jesus se “innemende woorde” (Luk. 4:22). Maar wat was Jesus se oogmerk? Hy wou Jehovah verheerlik, nie die aandag op homself vestig nie (Joh. 7:16-18). En hy het sy volgelinge aangespoor: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matt. 5:16). Hierdie raad moet ’n uitwerking hê op die manier waarop ons onderrig. Dit moet ons doel wees om enigiets te vermy wat afbreuk sal doen aan hierdie oogmerk. Wanneer ons dus besluit wat ons sal sê of hoe ons dit sal sê, is dit goed as ons ons afvra: ‘Sal dit waardering vir Jehovah vergroot of sal dit die aandag op my vestig?’
Illustrasies en werklike voorbeelde kan byvoorbeeld as doeltreffende onderrigmiddels gebruik word. Maar wanneer ’n mens ’n lang illustrasie gebruik of ’n ondervinding met te veel besonderhede vertel, kan die les verlore gaan. Wanneer ons eweneens iets vertel bloot om mense te vermaak, doen dit afbreuk aan die doel van ons bediening. Die onderrigter vestig in werklikheid die aandag op homself en bereik nie die eintlike doel van teokratiese opleiding nie.
‘Maak ’n onderskeid’
Voordat iemand werklik ’n dissipel kan word, moet hy die onderrigting duidelik verstaan. Hy moet die waarheid hoor en sien hoe dit van ander opvattings verskil. Dit kan gedoen word deur teenstellings te tref.
Jehovah het sy volk herhaaldelik aangespoor om “’n onderskeid te maak” tussen wat rein en wat onrein is (Lev. 10:9-11). Hy het gesê dat diegene wat in sy groot geestelike tempel sal dien, sy volk sal “onderrig in die verskil tussen wat heilig en wat onheilig is” (Eseg. 44:23). Die boek Spreuke is vol teenstellings tussen regverdigheid en goddeloosheid, tussen wysheid en dwaasheid. Selfs dinge wat nie teenoorgesteldes van mekaar is nie, kan van mekaar onderskei word. Die apostel Paulus het getoon watter verskil daar tussen ’n regverdige mens en ’n goeie mens is, soos in Romeine 5:7 opgeteken is. In die boek Hebreërs het hy getoon hoe Christus se hoëpriesterlike diens bo dié van Aäron verhewe is. Trouens, die 17de-eeuse opvoedkundige Jan Amos Komenski het geskryf: “Om ander te leer, beteken bloot om te toon hoe dinge van mekaar verskil wat hulle doel, vorm en oorsprong betref. . . . Gevolglik is die een wat goed kan onderskei, ’n goeie onderwyser.”
Gestel jy leer iemand byvoorbeeld oor God se Koninkryk. As hy nie verstaan wat die Koninkryk is nie, kan jy aan hom verduidelik hoe die Bybel se leer verskil van die idee dat die Koninkryk bloot ’n toestand in ’n mens se hart is. Of jy kan verduidelik hoe die Koninkryk van menseregerings verskil. Maar vir mense wat hierdie basiese waarhede ken, kan jy fyner besonderhede gee. Jy kan aan hulle verduidelik hoe die Messiaanse Koninkryk verskil van Jehovah se eie universele koningskap, wat in Psalm 103:19 beskryf word, of van ‘die koninkryk van die Seun van God se liefde’, wat in Kolossense 1:13 gemeld word, of van die “administrasie”, waarvan Efesiërs 1:10 praat. Die gebruik van teenstellings kan jou gehoor help om ’n duidelike begrip van hierdie belangrike Bybellering te kry.
Jesus het hierdie onderrigmetode herhaaldelik gebruik. Hy het mense se algemene begrip van die Mosaïese Wet teenoor die ware betekenis van die Wet gestel (Matt. 5:21-48). Hy het ’n onderskeid getref tussen ware godvrugtige toegewydheid en die skynheilige dade van die Fariseërs (Matt. 6:1-18). Hy het die verskil getoon tussen die gees van diegene wat “baasspeel” oor ander en die selfopofferende gees wat sy volgelinge sou openbaar (Matt. 20:25-28). By ’n ander geleentheid, soos in Matteus 21:28-32 opgeteken is, het Jesus sy luisteraars genooi om self te bepaal wat die verskil tussen eiegeregtigheid en ware berou is. Dit bring ons by nog ’n waardevolle aspek van goeie onderrigting.
Spoor luisteraars aan om te dink
In Matteus 21:28 lees ons dat Jesus sy vergelyking ingelei het deur te vra: “Wat dink julle?” ’n Bekwame onderrigter dra nie eenvoudig feite oor of gee nie net antwoorde nie. Hy spoor eerder dié wat na hom luister, aan om denkvermoë te ontwikkel (Spr. 3:21; Rom. 12:1). Dit word deels gedoen deur vrae te vra. Volgens Matteus 17:25 het Jesus gevra: “Wat dink jy, Simon? Van wie ontvang die konings van die aarde heffings of hoofbelasting? Van hulle seuns of van die vreemdelinge?” Jesus se gedagteprikkelende vrae het Petrus gehelp om self die regte gevolgtrekking oor die betaling van die tempelbelasting te maak. Toe Jesus ’n man geantwoord het wat gevra het: “Wie is dan my naaste?” het hy eweneens die optrede van ’n priester en ’n Leviet teenoor dié van ’n Samaritaan gestel. Daarna het hy hierdie vraag gestel: “Wie van hierdie drie, lyk dit vir jou, het hom die naaste gemaak van die man wat in die hande van die rowers geval het?” (Luk. 10:29-36). Weer eens het Jesus nie vir die man met wie hy gepraat het, gedink nie, maar hom genooi om sy eie vraag te beantwoord.—Luk. 7:41-43.
Probeer die hart bereik
Onderrigters wat die sin van God se Woord begryp, besef dat ware aanbidding meer behels as om sekere feite te memoriseer en sekere reëls na te kom. Dit word gebou op ’n goeie verhouding met Jehovah en waardering vir sy weë. Die hart is by sulke aanbidding betrokke (Deut. 10:12, 13; Luk. 10:25-27). In die Skrif verwys die woord “hart” dikwels na die innerlike mens in sy geheel, insluitende sy begeertes, geneenthede, gevoelens en beweegredes.
Jesus het geweet dat mense na die uiterlike voorkoms kyk, maar dat God sien wat die hart is (1 Sam. 16:7). Ons moet deur liefde vir God beweeg word om hom te dien, nie omdat ons ander mense wil beïndruk nie (Matt. 6:5-8). Aan die ander kant het die Fariseërs baie dinge vir die uiterlike vertoon gedoen. Hulle het groot klem gelê op die nakoming van die kleinste besonderhede van die Wet en gehoorsaamheid aan reëls wat hulle self gemaak het. Maar hulle het nie in hulle eie lewe die eienskappe geopenbaar wat hulle met die God sou identifiseer wat hulle beweer het hulle aanbid nie (Matt. 9:13; Luk. 11:42). Jesus het mense geleer dat gehoorsaamheid aan God se vereistes wel belangrik is, maar dat die waarde van sulke gehoorsaamheid bepaal word deur wat in die hart is (Matt. 15:7-9; Mark. 7:20-23; Joh. 3:36). Ons onderrigting sal die beste resultate lewer as ons Jesus se voorbeeld volg. Dit is belangrik dat ons mense help om te leer wat God van hulle vereis. Maar dit is ook belangrik vir hulle om Jehovah as persoon te ken en lief te hê sodat hulle gedrag die waarde kan weerspieël wat hulle aan ’n goedgekeurde verhouding met die ware God heg.
Om by sulke onderrigting baat te vind, moet mense natuurlik erken wat in hulle hart is. Jesus het mense aangespoor om hulle beweegredes en hulle gevoelens te ondersoek. Wanneer hy ’n verkeerde beskouing reggestel het, het hy dié wat na hom geluister het, gevra waarom hulle sekere dinge gedink, gesê of gedoen het. Jesus het dit egter nie net daar gelaat nie, maar saam met sy vraag ’n stelling gemaak, ’n illustrasie vertel of iets gedoen wat hulle aangespoor het om sake in die regte lig te beskou (Mark. 2:8; 4:40; 8:17; Luk. 6:41, 46). Ons kan dié wat na ons luister, op dieselfde manier help deur voor te stel dat hulle hulle afvra: ‘Waarom vind ek hierdie weg aanloklik? Waarom reageer ek so op hierdie situasie?’ Gee hulle dan redes waarom hulle sake uit Jehovah se oogpunt moet beskou.
Maak die toepassing
’n Goeie onderrigter weet dat ‘wysheid eerste kom’ (Spr. 4:7). Wysheid is die vermoë om kennis goed toe te pas sodat ’n mens probleme kan oplos, gevare kan vermy, doelwitte kan bereik en ander kan help. Dit is die verantwoordelikheid van ’n onderrigter om studente te leer om dit te doen, maar nie om besluite vir hulle te neem nie. Help die student om te redeneer wanneer julle verskillende Bybelbeginsels bespreek. Jy kan ’n alledaagse situasie noem en die student dan vra hoe die Bybelbeginsel wat julle so pas bestudeer het, hom sal help as hy hom in daardie situasie bevind het.—Heb. 5:14.
Die apostel Petrus se toespraak op Pinkster 33 G.J. was ’n voorbeeld van hoe die praktiese toepassing van inligting mense se lewe geraak het (Hand. 2:14-36). Nadat hy drie skrifgedeeltes bespreek het wat die skare bely het hulle glo, het Petrus dit toegepas op gebeure waarvan hulle almal getuies was. Gevolglik het die skare besef dat hulle iets moes doen omtrent wat hulle gehoor het. Het jou onderrigting ’n soortgelyke uitwerking op mense? Doen jy meer as om net feite op te noem en help jy mense om te verstaan waarom dinge so is? Moedig jy hulle aan om na te dink oor hoe die dinge wat hulle leer, hulle lewe behoort te raak? Hulle sal dalk nie soos die skare op Pinkster uitroep: “Wat moet ons doen?” nie, maar as jy die Skrif goed toegepas het, sal hulle beweeg word om gepaste stappe te neem.—Hand. 2:37.
Wanneer julle as ouers die Bybel saam met julle kinders lees, het julle ’n goeie geleentheid om hulle op te lei om aan die praktiese toepassing van Bybelbeginsels te dink (Ef. 6:4). Julle kan byvoorbeeld ’n paar verse uit die Bybelleesgedeelte vir die week kies, die betekenis daarvan bespreek en dan vrae stel soos: ‘Watter leiding gee dit ons? Hoe kan ons hierdie verse in die bediening gebruik? Wat openbaar dit omtrent Jehovah en die manier waarop hy dinge doen, en hoe bou dit ons waardering vir hom op?’ Moedig jou gesin aan om tydens die bespreking van die Bybelglanspunte by die Teokratiese Bedieningskool oor hierdie punte kommentaar te lewer. Die verse waaroor hulle kommentaar lewer, sal waarskynlik dié wees wat hulle sal onthou.
Stel ’n goeie voorbeeld
Jy onderrig nie net deur wat jy sê nie, maar ook deur wat jy doen. Jou dade voorsien ’n praktiese voorbeeld van hoe om die dinge wat jy sê, toe te pas. Dit is hoe kinders leer. Wanneer hulle hulle ouers naboots, toon hulle dat hulle soos hulle ouers wil wees. Hulle wil weet hoe dit voel om te doen wat hulle ouers doen. Wanneer diegene wat jy onderrig eweneens ‘navolgers van jou word soos jy dit van Christus is’, begin hulle die seëninge geniet wat dit meebring om in Jehovah se weë te wandel (1 Kor. 11:1). God se handelinge met hulle word ’n deel van hulle eie ondervindinge.
Dit is ’n ernstige herinnering aan die belangrikheid daarvan om ’n goeie voorbeeld te stel. Die “soort mense [wat ons] in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” is, sal baie help om diegene wat ons leer, ’n lewende voorbeeld te gee van hoe om Bybelbeginsels toe te pas (2 Pet. 3:11). As jy ’n Bybelstudent aanmoedig om God se Woord gereeld te lees, moet jy dit self pligsgetrou lees. As jy jou kinders wil leer om by Bybelbeginsels te bly, moet jy seker maak hulle sien dat jou dade in ooreenstemming met God se wil is. As jy die gemeente aanspoor om ywerig in die bediening te wees, moet jy sorg dat jy ’n volle aandeel aan daardie werk het. As jou dade met jou woorde strook, is jy in ’n beter posisie om ander aan te moedig.—Rom. 2:21-23.
Met die doel om jou onderrigting te verbeter, kan jy jou afvra: ‘Wanneer ek onderrig, doen ek dit op so ’n manier dat dit ’n verandering teweegbring in die gesindhede, die spraak of die dade van diegene wat dit hoor? Om sake duidelik te maak, tref ek ’n onderskeid tussen verskillende idees of handelswyses? Wat doen ek om my studente, my kinders of my gehoor by ’n vergadering te help sodat hulle onthou wat ek sê? Toon ek duidelik aan dié wat na my luister, hoe om toe te pas wat hulle leer? Kan hulle dit in my voorbeeld sien? Verstaan hulle hoe hulle reaksie op die saak wat bespreek word, hulle verhouding met Jehovah kan raak?’ (Spr. 9:10). Gaan voort om aan hierdie dinge aandag te skenk terwyl jy daarna streef om jou vermoë as ’n onderrigter te ontwikkel. “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.”—1 Tim. 4:16.
-