Verwysings vir die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek
2-8 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 6-7
“Wees vrygewig met die maat waarmee julle uitmeet”
(Lukas 6:37) “Wat meer is, hou op om te oordeel, en julle sal hoegenaamd nie geoordeel word nie; en hou op om te veroordeel, en julle sal hoegenaamd nie veroordeel word nie. Hou aan om vry te laat, en julle sal vrygelaat word.
Studienota oor Lu 6:37 in nwtsty
Hou aan om vry te laat, en julle sal vrygelaat word: Of, “Hou aan vergewe en julle sal vergewe word”. Die Griekse woord wat vertaal word met “om te vergewe” beteken letterlik “om te bevry; om weg te stuur; om vry te laat (byvoorbeeld, uit die tronk)”. In plaas daarvan om te oordeel en te veroordeel, dra dit in hierdie konteks die gedagte oor dat iemand vrygespreek en vergewe word, selfs al lyk dit asof die persoon straf verdien.
(Lukas 6:38) Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet.”
Studienota oor Lu 6:38 in nwtsty
Gee altyddeur: Of, “Hou aan om te gee”. Die vorm van die Griekse werkwoord wat hier gebruik word, kan vertaal word as “om te gee” en wys dat iets aanhoudend gedoen word.
(Lukas 6:38) Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. Hulle sal ’n goeie maat, ingestamp, geskud en oorlopend, in julle skoot stort. Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet.”
Studienota oor Lu 6:38 in nwtsty
julle skoot: Die Griekse woord beteken letterlik “jou bors”, maar in hierdie betekenis verwys dit waarskynlik na die lospassende materiaal van die bokleed wat ’n vou oor die belt gevorm het. ‘Om in die skoot te stort’, verwys dalk na iets wat party verkopers gedoen het wanneer hulle die produk wat gekoop is in die gevoude bokleed gesit het.
Soek na geestelike skatte
(Lukas 7:35) Nietemin, die wysheid word deur al sy kinders geregverdig.”
Studienota oor Lu 7:35 in nwtsty
sy kinders: Of, “die resultate daarvan”. Wysheid word hier as ’n mens beskryf wat kinders het. In die ooreenstemmende verslag in Mt 11:19 word daar gesê dat wysheid “werke” het. Wysheid se kinders, of werke — soos ons in die lewe van Johannes die Doper en Jesus kan sien — bewys dat die aanklagte teen hulle vals was. Jesus sê in werklikheid: ‘Kyk na die regverdige werke en gedrag, en julle sal weet dat die aanklag vals is.’
9-15 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 8-9
“Wat is nodig om ’n volgeling van Jesus te word?”
(Lukas 9:57, 58) En terwyl hulle op die pad gereis het, het iemand vir hom gesê: “Ek sal u volg waarheen u ook al gaan.” 58 En Jesus het vir hom gesê: “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie.”
it-2-E 494
Nes
Toe ’n sekere skrifgeleerde vir Jesus gesê het: “Leermeester, ek sal u volg waar u ook al gaan,” het Jesus geantwoord: “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Mt 8:19, 20; Lu 9:57, 58). Hier het Jesus gewys dat die man sy volgeling kon wees. Maar as hy dit wou doen, moes hy die idee van ’n gemaklike lewe vergeet en ten volle op Jehovah vertrou, en nie soos baie ander mense wees vir wie materiële dinge baie belangrik was nie. Jesus het daardie beginsel genoem toe hy sy dissipels geleer het hoe om te bid: “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag”, en toe hy gesê het: “Jy kan derhalwe daarvan seker wees dat geeneen van julle wat nie van al sy besittings afskeid neem, my dissipel kan wees nie.” — Mt 6:11; Lu 14:33.
(Lukas 9:59, 60) Toe het hy vir ’n ander een gesê: “Word my volgeling.” Die man het gesê: “Laat my toe om eers weg te gaan en my vader te begrawe.” 60 Maar hy het vir hom gesê: “Laat die dooies hulle dooies begrawe, maar gaan jy weg en maak die koninkryk van God alom bekend.”
Studienotas oor Lu 9:59, 60 in nwtsty
my vader te begrawe: Hierdie woorde beteken waarskynlik nie dat die man se pa gesterf het en dat hy gevra het of hy net eers die begrafnis kon gaan reël nie. As dit so was, sou hy definitief nie op daardie oomblik met Jesus gepraat het nie. Destyds, in die Midde-Ooste, het die familie van iemand wat gesterf het hom baie gou begrawe, gewoonlik op dieselfde dag. Die man se pa was nie dood nie, dalk net baie siek of oud. En Jesus sou nie vir die man gesê het om sy siek ouer wat hulp nodig het net so te los nie. Dit wys dat daar ander familielede was wat vir hierdie ouer kon sorg (Mr 7:9-13). Die man het basies gesê: ‘Ek sal u volg, maar nie terwyl my pa nog lewe nie. Wag net tot my pa dood is en ek hom begrawe het.’ Maar volgens Jesus het die man ’n kans laat verbyglip om God se Koninkryk eerste in sy lewe te stel. — Lu 9:60, 62.
Laat die dooies hulle dooies begrawe: Soos ons in die studienota oor Lu 9:59 kan sien, was die man met wie Jesus gepraat het se pa nie dood nie, maar waarskynlik baie siek of oud. Daarom bedoel Jesus blykbaar: ‘Laat dié wat geestelik dood is hulle dooies begrawe’, dit wil sê dat die man sy pa in die sorg van sy ander familie moes los totdat sy pa sterf en begrawe moes word. Deur Jesus te volg sou die man die kans kry om eendag vir ewig te lewe, en nie een van dié wees wat in God se oë geestelik dood is nie. Jesus se antwoord het gewys dat dit belangrik is om God se Koninkryk eerste in ons lewe te stel en almal daarvan te vertel as ons geestelik sterk wil bly.
(Lukas 9:61, 62) En nog ’n ander een het gesê: “Ek sal u volg, Here; maar laat my eers toe om afskeid te neem van dié in my huis.” 62 Jesus het vir hom gesê: “Geen mens wat sy hand aan ’n ploeg geslaan het en na die dinge kyk wat agter is, is geskik vir die koninkryk van God nie.”
Media in nwtsty
Ploegwerk
Lande is dikwels in die herfs geploeg wanneer reën die grond saggemaak het nadat dit in die warm somermaande kliphard geraak het. (Sien sgd deel 19.) Party ploeë het uit ’n eenvoudige stuk hout met ’n skerp ysterpunt bestaan wat aan ’n balk vasgemaak is en deur een of meer diere getrek is. Nadat die grond geploeg is, is die saad gesaai. In die Hebreeuse Geskrifte is daar baie illustrasies oor ploegwerk omdat dit so algemeen was (Rig 14:18; Jes 2:4; Jer 4:3; Mi 4:3). Jesus het dikwels na aktiwiteite in boerdery verwys om belangrike lesse te leer. Hy het byvoorbeeld ploegwerk gebruik om te beklemtoon hoe belangrik dit is om hom heelhartig te volg (Lu 9:62). As ’n persoon wat besig was om te ploeg aan ander dinge begin dink het, sou hy skewe rye ploeg. Net so is ’n dissipel van Christus wie se aandag nie by sy diens is of wat nie sy verantwoordelikhede nakom nie, nie geskik vir God se Koninkryk nie.
Soek na geestelike skatte
(Lukas 8:3) en Johanna, die vrou van Gusa, Herodes se gevolmagtigde, en Susanna en baie ander vroue, wat hulle met hulle besittings bedien het.
Studienota oor Lu 8:3 in nwtsty
hulle . . . bedien het: Of, “hulle ondersteun (vir hulle gesorg) het”. Die Griekse woord di·a·ko·neʹo kan daarna verwys dat jy fisies vir ander sorg deur vir hulle kos te koop, vir hulle te kook en hulle te bedien, ensovoorts. Dit word in dieselfde betekenis gebruik in Lu 10:40 (“na alles laat omsien”), Lu 12:37 (“bedien”), Lu 17:8 (“bedien”) en Han 6:2 (“voedsel . . . uit te deel”), maar dit kan ook na ander persoonlike dienste verwys. Hier beskryf dit hoe die vroue wat in vers 2 en 3 genoem word Jesus en sy dissipels ondersteun het deur hulle te help om hulle godgegewe toewysing uit te voer. Deur dit te doen het hierdie vroue God verheerlik. Hy het dit baie waardeer en het gesorg dat hulle voorbeelde van goedheid en vrygewigheid in die Bybel opgeskryf word sodat almal baie jare later nog daarvan kan lees (Spr 19:17; Heb 6:10). Dieselfde Griekse woord word gebruik oor vroue in Mt 27:55; Mr 15:41.
16-22 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 10-11
“Die gelykenis van die goeie Samaritaan”
(Lukas 10:29-32) Maar omdat die man wou bewys dat hy regverdig is, het hy vir Jesus gesê: “Wie is dan my naaste?” 30 Jesus het geantwoord en gesê: “’n Sekere man het van Jerusalem na Jeʹrigo afgegaan en in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek en ook geslaan het, en hulle het weggegaan en hom halfdood agtergelaat. 31 En per toeval het ’n sekere priester met daardie pad afgegaan, maar toe hy hom sien, het hy aan die oorkant verbygegaan. 32 Net so het ook ’n Leviet, toe hy by die plek kom en hom sien, aan die oorkant verbygegaan.
Media in nwtsty
Die pad van Jerusalem na Jerigo
Die pad (1) in hierdie kort video wys hoe mense waarskynlik in die ou tyd van Jerusalem na Jerigo geloop het. Hierdie kronkelpad was meer as 20 km lank en het ’n steil afdraand van 1 km gehad. Mense is so dikwels in hierdie woeste en afgesonderde gebied aangeval dat dit nodig was om ’n groep soldate daar te plaas om reisigers te beskerm. Die Romeinse Jerigo (2) was geleë in die gebied waar die pad uit die wildernis van Judea gekom het. ’n Ouer stad van Jerigo (3) was byna 2 km van die Romeinse stad af geleë.
(Lukas 10:33-35) Maar ’n sekere Samaritaan wat op die pad gereis het, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, is hy ontroer deur innige jammerte. 34 En hy het na hom toe gegaan en sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Toe het hy hom op sy eie dier getel en hom na ’n herberg gebring en vir hom gesorg. 35 En die volgende dag het hy twee denaʹrii uitgehaal, dit vir die herbergier gegee en gesê: ‘Sorg vir hom, en wat jy ook al meer as dit uitgee, sal ek jou vergoed wanneer ek hierheen terugkom.’
Studienotas oor Lu 10:33, 34 in nwtsty
’n sekere Samaritaan: Die Jode het oor die algemeen niks van die Samaritane gedink nie en wou niks met hulle te doen hê nie (Joh 4:9). Party Jode het selfs die woord “Samaritaan” gebruik om iemand sleg te sê en om te wys dat hulle nie van die persoon hou nie (Joh 8:48). Volgens die Misjna het een rabbi gesê: “Hy wat die brood van die Samaritane eet, is soos iemand wat varkvleis eet” (Sjebith 8:10). Baie Jode sou nie die getuienis van ’n Samaritaan glo of hulle diens aanvaar nie. Jesus het geweet van die Jode se onbeskofte houding teenoor die Samaritane, en daarom het hy hierdie illustrasie, wat beter bekend is as die gelykenis van die goeie, of goedhartige, Samaritaan, vertel om te wys hoe verkeerd hierdie houding was.
sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi: Die dokter Lukas het elke detail van Jesus se illustrasie neergeskryf. Sy beskrywing van hoe die wond versorg is, stem ooreen met hoe wonde in daardie tyd behandel is. Olie en wyn is dinge wat mense in hulle huis gehad het en was gewoonlik gebruik om seerplekke te behandel. Olie is partykeer gebruik om wonde te versag (vergelyk Jes 1:6), en wyn het geneeskundige waarde wat ’n wond kan ontsmet en kieme kan doodmaak. Lukas beskryf ook hoe wonde verbind is om te keer dat dit erger raak.
’n herberg: Die Griekse woord beteken letterlik “’n plek waar almal welkom is en ontvang word”. Mense wat gereis het en hulle diere kon blyplek in hierdie plekke kry. Die herbergier het die basiese dinge voorsien en vir ekstra betaling sou hy ook na iemand kyk wat in sy sorg gelaat is.
Soek na geestelike skatte
(Lukas 10:18) Daarop het hy vir hulle gesê: “Ek het begin sien dat Satan reeds soos weerlig uit die hemel geval het.
Studienota oor Lu 10:18 in nwtsty
Ek het begin sien dat Satan reeds soos weerlig uit die hemel geval het: Hier praat Jesus profeties en sien hy hoe Satan uit die hemel gegooi is asof dit al klaar gebeur het. Op 12:7-9 beskryf die geveg in die hemel en koppel Satan se val met die geboorte van die Messiaanse Koninkryk. Jesus het hier beklemtoon dat Satan en sy demone daardie toekomstige geveg beslis gaan verloor, want God het kort tevore 70 dissipels, wat onvolmaakte mense was, die mag gegee om demone uit te dryf. — Lu 10:17.
(Lukas 11:5-9) Verder het hy vir hulle gesê: “Wie van julle sal ’n vriend hê en sal middernag na hom toe gaan en vir hom sê: ‘Vriend, leen my drie brode, 6 want ’n vriend van my wat op reis is, het so pas by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie’? 7 En dié antwoord van binne en sê: ‘Hou op om my lastig te val. Die deur is al toegesluit, en my jong kinders is saam met my in die bed; ek kan nie opstaan en vir jou iets gee nie.’ 8 Ek sê vir julle: Al sal hy nie opstaan en vir hom iets gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy beslis weens sy onbeskroomde volharding opstaan en hom gee wat hy nodig het. 9 Gevolglik sê ek vir julle: Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word.
Studienotas oor Lu 11:5-9 in nwtsty
Vriend, leen my drie brode: In die Midde-Ooste is mense baie gasvry. Hulle beskou gasvryheid as ’n plig waarin hulle wil uitblink, soos ons in hierdie illustrasie kan sien. Die kuiergas het onverwags middernag daar aangekom, want in daardie dae was dit nie altyd maklik om van een plek na ’n ander te reis nie. Die man van die huis het nogtans gevoel dat dit sy plig is om vir sy gas iets te gee om te eet. En al was dit al so laat het hy gevoel dat hy sy buurman moes wakker maak om kos te leen.
Hou op om my lastig te val: Die buurman in hierdie illustrasie was nie baie lus om hom te help nie. Dit is nie omdat hy onvriendelik was nie, maar omdat hy alreeds in die bed was. In daardie dae het mense, veral arm mense, se huise net uit een groot vertrek bestaan. As die man van die huis moes opstaan, sou hy waarskynlik die hele gesin, insluitende sy slapende kinders, gepla het.
onbeskroomde volharding: Die Griekse woord wat hier gebruik word, kan letterlik vertaal word as “gebrek aan nederigheid” of “geen skaamte nie”. Maar in hierdie konteks beteken dit om iets te doen sonder om op te hou. Die man in Jesus se illustrasie voel nie skaam of gee nie om om aan te hou vra vir dit wat hy nodig het nie. Jesus sê vir sy dissipels dat hulle ook so aanhoudend moet bid. — Lu 11:9, 10.
23-29 JULIE
SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 12-13
“Julle is meer werd as baie mossies”
(Lukas 12:6) Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie.
Studienota oor Lu 12:6 in nwtsty
mossies: Die Griekse woord strou·thiʹon is ’n verkleiningsvorm vir enige klein voëltjie, maar die woord is dikwels gebruik vir mossies, die goedkoopste van al die voëls wat as kos verkoop is.
(Lukas 12:7) Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies.
Studienota oor Lu 12:7 in nwtsty
selfs die hare op julle kop is almal getel: Daar is blykbaar gemiddeld meer as 100 000 hare op ’n mens se kop. Die feit dat Jehovah sulke klein details oor ons weet, wys dat hy regtig in elke volgeling van Christus belangstel.
Soek na geestelike skatte
(Lukas 13:24) “Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan, want baie, sê ek vir julle, sal probeer ingaan, maar sal nie in staat wees nie,
Studienota oor Lu 13:24 in nwtsty
Span julle kragtig in: Of, “hou aan veg”. Jesus se raad wys hoe belangrik dit is om alles te doen wat jy kan om deur die nou deur in te gaan. Verskeie naslaanwerke het voorgestel dat dit in hierdie konteks vertaal word as: “Gebruik al jou krag; Doen alles in jou vermoë.” Die Griekse werkwoord a·go·niʹzo·mai kom van die Griekse selfstandige naamwoord a·gonʹ wat dikwels gebruik is wanneer daar gepraat is van atletiekwedstryde. In Heb 12:1 word hierdie selfstandige naamwoord figuurlik gebruik vir ’n Christen se “wedloop” om die ewige lewe te kry. Dit word oor die algemeen ook gebruik vir ’n “worstelstryd” (Flp 1:30; Kol 2:1) of ’n “stryd” (1Ti 6:12; 2Ti 4:7). Die Griekse werkwoord in Lu 13:24 word ook in ander vorme gebruik vir “aan ’n wedstryd deelneem” (1Ko 9:25), ‘jouself inspan’ (Kol 1:29; 4:12; 1Ti 4:10) en “stry” (1Ti 6:12). Omdat hierdie uitdrukking baie gebruik was vir atletiekwedstryde voel party dat Jesus hier bedoel het dat ’n mens jou soos ’n atleet kragtig moet inspan, om basies al jou energie te gebruik, om die prys te wen.
(Lukas 13:33) Nietemin moet ek vandag en môre en oormôre verder gaan, want dit is nie toelaatbaar dat ’n profeet buite Jerusalem doodgemaak word nie.
Studienota oor Lu 13:33 in nwtsty
dit is nie toelaatbaar: Of, “dit is ondenkbaar”. Al wys geen Bybelprofesieë dit uitdruklik nie, kan ons uit Da 9:24-26 aflei dat die Messias in Jerusalem sou sterf. En as die Jode ’n profeet, en veral die Messias, moes doodmaak, sou ’n mens verwag dat hulle dit in hierdie stad sou doen. Die Sanhedrin met sy 71 lede, die Hoë Raad, het in Jerusalem bymekaargekom, en daarom het diegene wat daarvan beskuldig is dat hulle valse profete is daar voor die hof verskyn. Jesus het moontlik ook gedink aan die feit dat Jerusalem die plek is waar mense gereelde offerandes aan God gemaak het en waar die Pasgalam geslag is. Jesus se woorde het toe waar geword. Hy is voor die Sanhedrin in Jerusalem gebring en veroordeel. En hy het in Jerusalem, net buite die stadsmure, as die “pasga” gesterf. — 1Ko 5:7.
30 JULIE – 5 AUGUSTUS
SKATTE UIT GOD SE WOORD | LUKAS 14-16
“Die gelykenis van die verlore seun”
(Lukas 15:11-16) Toe het hy gesê: “’n Sekere man het twee seuns gehad. 12 En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Toe het hy sy middele vir lewensonderhoud tussen hulle verdeel. 13 Later, nie baie dae daarna nie, het die jongste seun alles bymekaargemaak en na die buiteland gereis, na ’n ver land, en daar sy eiendom verkwis deur ’n losbandige lewe te lei. 14 Toe hy alles deurgebring het, het daar ’n swaar hongersnood in daardie hele land voorgekom, en hy het gebrek begin ly. 15 Hy het hom selfs aan een van die burgers van daardie land gaan verbind, en hy het hom na sy veld gestuur om varke op te pas. 16 En hy het begeer om versadig te word met die karobpeule wat die varke geëet het, en niemand het hom enigiets gegee nie.
Studienotas oor Lu 15:11-16 in nwtsty
’n Sekere man het twee seuns gehad: Party aspekte van die illustrasie oor die verlore seun is uniek. Dit is een van Jesus se langste illustrasies. ’n Belangrike kenmerk van hierdie illustrasie is sy beskrywing van die verhoudings tussen die familielede. In ander illustrasies het Jesus dikwels verwys na lewelose dinge, soos verskillende soorte saad of grond, of na die werksverhouding tussen ’n heer en sy slawe (Mt 13:18-30; 25:14-30; Lu 19:12-27). Maar in hierdie illustrasie beklemtoon Jesus die intieme verhouding tussen ’n pa en sy seuns. Baie wat hierdie storie hoor, het dalk nie so ’n liefdevolle pa gehad nie. Hierdie illustrasie wys ons hemelse Vader se groot genade en liefde vir sy aardse kinders — vir dié wat getrou aan hom bly en dié wat na hom terugkeer nadat hulle afgedwaal het.
die jongste van hulle: Volgens die Mosaïese Wet het die oudste kind ’n dubbele porsie gekry (De 21:17). As die ouer seun in hierdie illustrasie die eersgeborene was, sou dit beteken dat die jonger seun se erfporsie die helfte van sy broer s’n was.
verkwis: Die Griekse woord wat hier gebruik word, beteken letterlik “verstrooi (in verskillende rigtings)” (Lu 1:51; Han 5:37). In Mt 25:24, 26 word dit vertaal as “uitgewan”. Hier word dit gebruik in die sin van vermorsing, om geld uit te gee sonder om te dink.
’n losbandige lewe: Of, “’n uitspattige (roekelose; wilde) lewe”. ’n Griekse woord met min of meer dieselfde betekenis word in Ef 5:18; Tit 1:6; 1Pe 4:4 gebruik. Omdat die Griekse woord ook die idee gee van iemand wat altyd sy geld mors, gebruik party Bybelvertalings die uitdrukking “met ’n uitspattige leefstyl”.
om varke op te pas: Volgens die Wet was hierdie diere onrein, en daarom was dit ’n vernederende, veragtelike werk vir ’n Jood. — Le 11:7, 8.
karobpeule: Die karob se vrug of peule het ’n blink, leeragtige dop wat pers-bruin is, en net soos die naam letterlik in Grieks (ke·raʹti·on, “horinkie”) sê, het dit ’n ronde horingvorm. Karobpeule word vandag nog baie gebruik om perde, beeste en varke te voer. Die feit dat die jong man bereid was om die varke se kos te eet, wys watter laagtepunt sy lewe bereik het. — Sien die studienota oor Lu 15:15.
(Lukas 15:17-24) “Toe hy tot besinning kom, het hy gesê: ‘Hoeveel huurlinge van my vader het brood in oorvloed, terwyl ek hier van die honger vergaan! 18 Ek sal opstaan en na my vader toe reis en vir hom sê: “Vader, ek het teen die hemel en teen u gesondig. 19 Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.”’ 20 En hy het opgestaan en na sy vader toe gegaan. Terwyl hy nog ’n hele ent weg was, het sy vader hom gesien en is hy ontroer deur innige jammerte, en hy het gehardloop en hom om die hals geval en hom teer gesoen. 21 Daarop het die seun vir hom gesê: ‘Vader, ek het teen die hemel en teen u gesondig. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.’ 22 Maar die vader het vir sy slawe gesê: ‘Maak gou! Bring ’n kleed, die beste, en trek dit vir hom aan, en sit ’n ring aan sy hand en sandale aan sy voete. 23 En bring die vetgemaakte jong bul, slag dit en laat ons eet en vrolik wees, 24 want hierdie seun van my was dood en het weer lewend geword; hy was verlore en is gevind.’ En hulle het vrolik begin word.
Studienotas oor Lu 15:17-24 in nwtsty
teen u: Of, “voor u oë”. Die Griekse voorsetsel e·noʹpi·on, wat letterlik “voor; voor die oë van” beteken, word min of meer dieselfde gebruik in 1Sa 20:1 in die Septuagint. In daardie vers vra Dawid vir Jonatan: “Watter sonde het ek voor jou vader begaan?”
huurlinge: Toe die jonger seun terug huis toe gegaan het, was hy van plan om vir sy pa te vra of hy hom weer sou aanvaar, nie as ’n seun nie, maar as ’n huurling. ’n Huurling was nie deel van die eiendom soos die slawe nie, maar was iemand wat van buite af gehuur is om dikwels net vir een dag op ’n slag te werk. — Mt 20:1, 2, 8.
hom teer gesoen: Of, “hom liefdevol gesoen”. Die Griekse woord wat vertaal word met “teer gesoen”, is blykbaar ’n intensiewe vorm van die werkwoord phi·leʹo, wat soms as “om . . . te soen” (Mt 26:48; Mr 14:44; Lu 22:47) vertaal word, maar wat meer dikwels “het geneentheid vir” (Joh 5:20; 11:3; 16:27) beteken. Deur sy berouvolle seun op so ’n liefdevolle manier te groet, wys die pa in die illustrasie dat hy bereid is om hom terug te verwelkom.
u seun genoem te word: Party manuskripte voeg by: “Maak my een van u huurlinge”, maar baie van die vroeë, gesaghebbende manuskripte ondersteun die gedagte dat hierdie woorde uit vers 21 gelaat moet word. Party geleerdes voel dat hierdie woorde net ingesit is sodat die vers ooreen kan stem met Lu 15:19. Dit is hoekom hierdie sin nie in Lu 15:21 in die 2013-uitgawe van die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling is nie.
kleed . . . ring . . . sandale: Hierdie kleed was nie net ’n eenvoudige kledingstuk nie, maar die beste een. Dit is moontlik ’n kleed vol borduurwerk wat gewoonlik aan ’n belangrike kuiergas gegee is. Toe die pa ’n ring aan sy seun se vinger gesit het, het hy gewys dat hy baie lief vir hom is en hom sy waardigheid en status teruggee. Slawe het gewoonlik nie ringe of sandale gedra nie. Dit het gewys dat sy pa niks teen hom hou nie en hom weer ten volle as sy seun aanvaar.
(Lukas 15:25-32) “En sy oudste seun was op die land; en toe hy kom en die huis nader, het hy ’n musiekkonsert en gedans gehoor. 26 Toe het hy een van die knegte na hom toe geroep en gevra wat hierdie dinge beteken. 27 Hy het vir hom gesê: ‘U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte jong bul geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het.’ 28 Maar hy het toornig geword en wou nie ingaan nie. Toe het sy vader uitgekom en hom begin soebat. 29 Hy het geantwoord en vir sy vader gesê: ‘Kyk, ek dien u al soveel jare soos ’n slaaf en ek het nog nooit u gebod oortree nie, en tog het u nog nooit vir my ’n boklam gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. 30 Maar die oomblik toe hierdie seun van u wat u middele vir lewensonderhoud saam met hoere opgeëet het, hier aankom, het u die vetgemaakte jong bul vir hom geslag.’ 31 Toe het hy vir hom gesê: ‘Kind, jy was altyd by my, en alles wat myne is, is joune; 32 maar ons moes eenvoudig vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het lewend geword, en hy was verlore en is gevind.’”
Soek na geestelike skatte
(Lukas 14:26) “As iemand na my toe kom en nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, en selfs sy eie siel, haat nie, kan hy nie my dissipel wees nie.
Studienota oor Lu 14:26 in nwtsty
haat: In die Bybel kan die woord “haat” verskillende dinge beteken. Dit kan dalk beteken dat ’n mens so kwaad is vir iemand anders dat jy hom aspris iets slegs aandoen. Of dit kan beteken dat jy niks van iets of iemand hou nie, en daarom heeltemal van daardie ding of persoon af wegbly. Dit kan ook beteken om iets of iemand minder lief te hê. Byvoorbeeld, wanneer die Bybel sê dat Jakob Lea “gehaat” en Ragel liefgehad het, beteken dit dat hy Lea minder liefgehad het as Ragel (Ge 29:31; De 21:15). Hierdie woord word ook in ou Joodse literatuur so gebruik. Daarom het Jesus nie bedoel dat sy volgelinge hulle familie of hulleself moes haat nie, omdat dit nie ooreenstem met die res van die Bybel nie. (Vergelyk Mr 12:29-31; Ef 5:28, 29, 33.) In hierdie konteks kan die woord “haat” vertaal word as minder liefhê.