-
Sal Jehovah ten goede aan jou dink?Die Wagtoring – 2000 | Februarie 1
-
-
Sal Jehovah ten goede aan jou dink?
“DINK aan my, my God.” Nehemia het God ’n hele paar keer met hierdie woorde gesmeek (Nehemia 5:19; 13:14, 31). Dit is heel natuurlik dat mense hulle tot God wend met sulke smekinge wanneer hulle in groot nood verkeer.
Maar wat het mense in gedagte wanneer hulle God vra om aan hulle te dink? Dit is duidelik dat hulle hoop dat God meer sal doen as om bloot hulle name te onthou. Hulle het ongetwyfeld dieselfde hoop as een van die misdadigers wat langs Jesus tereggestel is. Hierdie misdadiger het, anders as die ander een, Jesus gesmeek: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Hy wou nie net hê dat Jesus moes onthou wie hy was nie, maar dat hy ook iets vir hom doen—hom opwek.—Lukas 23:42.
Regdeur die Bybel toon dit dat die woorde ‘dink aan’ vir God positiewe optrede beteken. Nadat die aarde byvoorbeeld 150 dae lank deur die vloedwaters bedek is, ‘het God aan Noag gedink, en God het ’n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het’ (Genesis 8:1). Eeue later het Simson, nadat die Filistyne sy oë uitgesteek en hom geboei het, gebid: “HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer.” Jehovah het aan Simson gedink deur hom bomenslike krag te gee sodat hy hom op God se vyande kon wreek (Rigters 16:28-30). Wat Nehemia betref, Jehovah het sy pogings geseën, en ware aanbidding is in Jerusalem herstel.
“Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê”, het die apostel Paulus geskryf (Romeine 15:4). As ons aan Jehovah dink deur sy wil te doen, soos sy getroue knegte in die verlede gedoen het, kan ons die vertroue hê dat Jehovah aan ons sal dink deur ons te help om te kry wat ons daagliks nodig het, deur ons in ons beproewinge by te staan en deur ons te verlos wanneer hy oordeel aan die goddeloses voltrek.—Matteus 6:33; 2 Petrus 2:9.
-
-
Sal jy ’n besoek verwelkom?Die Wagtoring – 2000 | Februarie 1
-
-
Sal jy ’n besoek verwelkom?
Jy kan selfs in hierdie wêreld vol probleme geluk vind deur juiste Bybelkennis aangaande God, sy Koninkryk en sy wonderlike voorneme vir die mens op te doen. As jy graag meer inligting wil hê of as jy wil hê dat iemand jou tuis moet besoek om ’n gratis Bybelstudie met jou te hou, kan jy gerus skryf aan Wagtoring, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740, Suid-Afrika, of na die gepaste adres op bladsy 30.
-