-
Wanneer het God se Koninkryk begin heers? (Deel 1)Die Wagtoring — 2014 | Oktober 1
-
-
’N GESPREK MET ’N BUURMAN
Wanneer het God se Koninkryk begin heers?—Deel 1
Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurman. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Chris besoek aflê by die huis van ’n man met die naam Jaco.
“BLY SOEK” NA BEGRIP
Chris: Jaco, ek geniet ons gereelde Bybelbesprekings baie.a Toe ons laas gesels het, het jy ’n vraag oor God se Koninkryk gevra. Jy wou weet waarom Jehovah se Getuies glo dat die Koninkryk in 1914 begin heers het.
Jaco: Ja, ek het gesien dat een van julle publikasies sê dat God se Koninkryk in 1914 begin heers het. Ek het daaroor gewonder omdat jy sê dat al julle opvattings op die Bybel gegrond is.
Chris: Dis waar.
Jaco: Wel, ek het die hele Bybel al deurgelees. Maar ek kan nie onthou dat ek ooit ’n vers gesien het wat die jaar 1914 noem nie. Ek het dus in ’n Bybel op die Internet “1914” in die soekvenster ingetik. Maar toe sê dit: “Geen resultate.”
Chris: Jaco, ek wil jou om twee redes prys. Eerstens omdat jy die hele Bybel al deurgelees het. Jy is seker baie lief vir God se Woord.
Jaco: Ja, ek is. Daar is geen ander boek soos die Bybel nie.
Chris: Ek stem saam. Tweedens wil ek jou prys omdat jy die antwoord op jou vraag in die Bybel probeer vind het. Jy het presies gedoen wat die Bybel ons aanspoor om te doen, naamlik om te “bly soek” na begrip.b Dis goed dat jy soveel moeite doen.
Jaco: Dankie. Ek wil aanhou leer. Om die waarheid te sê, ek het meer navorsing gedoen en inligting oor 1914 gevind in hierdie boek wat ons studeer. Dit praat van ’n droom wat ’n koning gehad het van ’n groot boom wat afgekap is en toe weer begin groei het, of so iets.
Chris: O ja. Dit is die profesie wat in Daniël hoofstuk 4 opgeteken is. Dit het te doen met ’n droom wat koning Nebukadnesar van Babilon gehad het.
Jaco: Ja, dis waarvan ek praat. Ek het die profesie oor en oor gelees. Maar om eerlik te wees, ek kan nog steeds nie sien wat dit met God se Koninkryk of 1914 te doen het nie.
Chris: Interessant genoeg, selfs die profeet Daniël het nie die volle betekenis verstaan van wat hy geïnspireer is om neer te skryf nie!
Jaco: Regtig?
Chris: Ja. Hier in Daniël 12:8 sê hy: “En wat my betref, ek het gehoor, maar ek kon nie verstaan nie.”
Jaco: Dis dus nie net ek wat nie verstaan nie. Dit laat my ’n bietjie beter voel.
Chris: Eintlik het Daniël nie verstaan nie omdat dit nog nie God se tyd was vir mense om die betekenis van die profesieë in die boek Daniël heeltemal te verstaan nie. Maar in ons tyd kan ons dit verstaan.
Jaco: Waarom sê jy so?
Chris: Wel, kyk na die volgende vers. Daniël 12:9 sê: “Die woorde word geheim gehou en verseël tot die tyd van die einde toe.” Hierdie profesieë sou dus eers baie later, gedurende “die tyd van die einde”, verstaan word. En soos ons binnekort in ons Bybelstudie sal bespreek, dui al die bewyse daarop dat ons nou in hierdie tydperk lewe.c
Jaco: Sal jy asseblief Daniël se profesie vir my verduidelik?
Chris: Ek sal probeer.
NEBUKADNESAR SE DROOM
Chris: Laat ek eers kortliks opsom wat koning Nebukadnesar in sy droom gesien het. Dan kan ons gesels oor wat dit beteken.
Jaco: Dis goed so.
Chris: In die droom het Nebukadnesar ’n ontsaglike boom gesien wat tot aan die hemel gereik het. Toe het hy gehoor hoe God se boodskapper beveel dat die boom afgekap moet word. Maar God het gesê dat die wortelstomp in die grond moet bly. Ná ’n tydperk van “sewe tye” sou die boom weer groei.d Hierdie profesie was aanvanklik van toepassing op koning Nebukadnesar self. Al was hy ’n vername koning—soos die boom wat tot aan die hemel gereik het—kon hy “sewe tye” lank nie regeer nie. Onthou jy wat gebeur het?
Jaco: Nee, ek kan nie onthou nie.
Chris: Dis in die haak. Die Bybel toon dat Nebukadnesar kranksinnig geword het, en hy was blykbaar sewe jaar lank in hierdie toestand. Gedurende dié tyd kon hy nie as koning heers nie. Maar aan die einde van die sewe tye het Nebukadnesar herstel en weer begin heers.e
Jaco: Dis interessant. Maar hoe hou dit alles verband met God se Koninkryk en 1914?
Chris: In ’n neutedop, hierdie profesie het twee vervullings. Die eerste vervulling was toe koning Nebukadnesar se heerskappy onderbreek is. Die tweede vervulling het te doen met ’n onderbreking in God se heerskappy. Dit is dus hierdie tweede vervulling wat verband hou met God se Koninkryk.
Jaco: Hoe weet jy dat die profesie ’n tweede vervulling het wat met God se Koninkryk verband hou?
Chris: Om maar een ding te noem, ons vind ’n aanduiding in die profesie self. Volgens Daniël 4:17 is die profesie gegee “sodat die lewendes kan weet dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy dit gee aan wie hy wil”. Het jy gesien dat dit van “die koninkryk van die mensdom” praat?
Jaco: Ja, dit sê dat “die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is”.
Chris: Dis reg. En wie is “die Allerhoogste”?
Jaco: God.
Chris: Reg. En dít toon vir ons dat hierdie profesie nie net oor Nebukadnesar handel nie. Dit handel ook oor “die koninkryk van die mensdom”—dit wil sê God se heerskappy oor die mensdom. En dit maak sin wanneer ons die konteks van die profesie ondersoek.
Jaco: Wat bedoel jy?
DIE BOEK SE HOOFTEMA
Chris: In die Bybelboek Daniël kom ’n hooftema keer op keer na vore. Dit verwys herhaaldelik na die oprigting van God se Koninkryk onder die heerskappy van sy Seun, Jesus. Kom ons blaai ’n paar hoofstukke terug. Sal jy asseblief Daniël 2:44 lees?
Jaco: Ja. Dit sê: “En in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”
Chris: Dankie. Klink dit vir jou of hierdie vers na God se Koninkryk kan verwys?
Jaco: Hmm. Ek is nie seker nie.
Chris: Wel, let op dat dit sê dat hierdie Koninkryk “tot onbepaalde tye [sal] bly staan”. Dit is die geval met God se Koninkryk, maar kan ons dit van enige menseregering sê?
Jaco: Nee, seker nie.
Chris: Daar is nog ’n profesie in die boek Daniël wat van God se Koninkryk praat. Dit is die profesie in Daniël 7:13, 14. Hierdie profesie sê van ’n toekomstige heerser: “En aan hom is heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien. Sy heerskappy is ’n heerskappy van onbepaalde duur wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” Klink enigiets in hierdie profesie bekend?
Jaco: Dit praat van ’n koninkryk.
Chris: Dis reg. En nie sommer enige koninkryk nie. Let op dat dit sê dat hierdie Koninkryk gesag oor “volke, volksgroepe en tale” sal hê. Met ander woorde, hierdie Koninkryk sal wêreldwyd heers.
Jaco: Ek het dit nie opgelet nie, maar jy is reg. Dit sê so.
Chris: Let ook op wat die profesie verder sê: “Sy heerskappy is ’n heerskappy van onbepaalde duur wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” Dit klink baie soos die profesie wat ons nou net in Daniël 2:44 gelees het, nie waar nie?
Jaco: Ja, dis waar.
Chris: Kom ons hersien kortliks wat ons tot dusver bespreek het. Die profesie in Daniël hoofstuk 4 is gegee sodat mense kan weet dat “die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is”. Dit op sigself toon dat die profesie ’n groter vervulling het as net die een waarby Nebukadnesar betrokke was. En oral in die boek Daniël vind ons profesieë oor die oprigting van God se Koninkryk onder die heerskappy van sy Seun. Sou jy dus sê dat dit redelik is om tot die slotsom te kom dat hierdie profesie in Daniël hoofstuk 4 ook iets met God se Koninkryk te doen het?
Jaco: Ja, dit is seker. Maar ek sien nog steeds nie hoe dit verband hou met 1914 nie.
“SEWE TYE”
Chris: Kom ons gaan terug na koning Nebukadnesar. Hy is afgebeeld deur die boom in die eerste vervulling van die profesie. Sy heerskappy is onderbreek toe die boom afgekap is en sewe tye daaroor heengegaan het—dit wil sê toe hy vir ’n tydperk kranksinnig was. Hierdie tydperk van sewe tye het geëindig toe Nebukadnesar herstel het en weer begin heers het. In die tweede vervulling van die profesie sou God se heerskappy vir ’n tydperk onderbreek word—maar nie omdat God enigsins onbevoeg is nie.
Jaco: Wat bedoel jy?
Chris: In Bybeltye is daar gesê dat Israel se konings wat in Jerusalem geheers het, op “Jehovah se troon” sit.f Hulle het God verteenwoordig toe hulle oor sy volk regeer het. Die heerskappy van hierdie konings was dus in werklikheid ’n manier waarop God sy heerskappy uitgeoefen het. Maar die meeste van hierdie konings het met verloop van tyd ongehoorsaam geword aan God, en die meeste van hulle onderdane het hulle voorbeeld gevolg. Weens die Israeliete se ongehoorsaamheid het God toegelaat dat die Babiloniërs hulle in die jaar 607 VHJ verower. Van toe af is Jehovah nie meer deur konings in Jerusalem verteenwoordig nie. God se heerskappy is dus in hierdie sin onderbreek. Volg jy nog die verduideliking?
Jaco: Ek dink so.
Chris: Die sewe tye, of die tydperk waartydens God nie oor die mensdom sou heers nie, het dus in 607 VHJ begin. Aan die einde van die sewe tye sou God ’n nuwe heerser aanstel om Hom te verteenwoordig—hierdie keer iemand in die hemel. Dit is wanneer die ander profesieë waarvan ons in Daniël lees, vervul sou word. Die groot vraag is dus: Wanneer het die sewe tye geëindig? As ons hierdie vraag kan beantwoord, sal ons weet wanneer God se Koninkryk begin heers het.
Jaco: Ek sien. Laat ek raai—die sewe tye het in 1914 geëindig?
Chris: Presies!
Jaco: Maar hoe weet ons dit?
Chris: Wel, gedurende Jesus se aardse bediening het hy aangedui dat die sewe tye toe nog voortgeduur het.g Dit moet dus ’n baie lang tydperk wees. Die sewe tye het begin honderde jare voordat Jesus aarde toe gekom het, en dit het nog voortgeduur nadat hy teruggekeer het hemel toe. Onthou ook dat die betekenis van die profesieë in Daniël nie voor “die tyd van die einde” duidelik sou wees nie.h Interessant genoeg, gedurende die laat 1800’s is opregte studente van die Bybel beweeg om hierdie en ander profesieë sorgvuldig te bestudeer. Hulle het begin onderskei dat die sewe tye in 1914 sou eindig. En belangrike wêreldgebeure wat sedertdien plaasgevind het, bevestig dat 1914 beslis die jaar is dat God se Koninkryk in die hemel begin heers het. In hierdie jaar het die laaste dae, of die tyd van die einde, vir hierdie wêreld begin. Ek besef dat dit baie is om in te neem . . .
Jaco: Ja, dit is. Ek sal beslis weer deur die inligting moet lees om dit goed te verstaan.
Chris: Dis ’n goeie idee. Dit het my ook ’n rukkie geneem om te sien hoe alles inmekaarpas. Maar ek hoop dat ons bespreking jou ten minste gehelp het om te sien dat Jehovah se Getuies hulle opvattings oor die Koninkryk wel op die Bybel grond.
Jaco: Beslis. Dit het my nog altyd beïndruk dat julle julle opvattings op die Bybel grond.
Chris: En ek kan sien dat jy dit ook wil doen. Soos ek gesê het, is dit baie om op een slag in te neem. Jy het waarskynlik nog vrae. Ons het byvoorbeeld vasgestel dat die sewe tye met God se Koninkryk verband hou en dat dit in 607 VHJ begin het. Maar hoe kan ons met sekerheid sê dat hierdie sewe tye in 1914 geëindig het?i
Jaco: Ja, ek wonder daaroor.
Chris: Die Bybel help ons om te bepaal presies hoe lank die sewe tye sou wees. Kan ons daaroor gesels wanneer ek weer kom?
Jaco: Dit klink goed.
Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Wil jy meer weet van enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.
a Deur middel van hulle gratis tuisbybelstudieprogram bespreek Jehovah se Getuies die Bybel onderwerp vir onderwerp met hulle bure.
c Sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
g Jesus het in sy profesie oor die laaste dae gesê: “Jerusalem [wat God se heerskappy voorgestel het] sal deur die nasies vertrap word, tot die vasgestelde tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Die onderbreking in God se heerskappy het dus in Jesus se tyd nog voortgeduur, en dit sou tot die laaste dae die geval wees.
Die volgende artikel in hierdie reeks sal Bybelverse bespreek wat lig werp op die lengte van die sewe tye.
-
-
Wanneer het God se Koninkryk begin heers?—Deel 2Die Wagtoring — 2014 | November 1
-
-
’N GESPREK MET ’N BUURMAN
Wanneer het God se Koninkryk begin heers?—Deel 2
Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurman. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Chris weer ’n man met die naam Jaco besoek.
NEBUKADNESAR SE DROOM—’N KORT OORSIG
Chris: Dit is goed om jou weer te sien, Jaco. Ek geniet altyd ons weeklikse Bybelstudiesessies.a Hoe gaan dit met jou?
Jaco: Dit gaan goed, dankie.
Chris: Ek is bly. Ons het laas gepraat oor hoekom Jehovah se Getuies sê dat God se Koninkryk in 1914 begin heers het.b Soos ons bespreek het, vind ons ’n belangrike bewys in ’n profesie in hoofstuk 4 van die Bybelboek Daniël. Kan jy onthou wat dit daar sê?
Jaco: Dit was koning Nebukadnesar se droom van ’n groot boom.
Chris: Dis reg. In sy droom het Nebukadnesar ’n ontsaglike boom gesien wat tot aan die hemel gereik het. Hy het gehoor dat ’n boodskapper van God beveel dat die boom afgekap moet word, maar dat die stomp en wortels in die grond gelos moet word. Ná ’n tydperk van “sewe tye” sou die boom weer groei.c Ons het ook bespreek waarom die profesie twee vervullings het. Onthou jy wat die eerste vervulling was?
Jaco: Dit is iets wat met Nebukadnesar self gebeur het, nie waar nie? Hy het vir sewe jaar kranksinnig geword.
Chris: Presies. Nebukadnesar was tydelik kranksinnig en daarom is sy heerskappy onderbreek. Maar in die grotere vervulling van die profesie sou God se heerskappy in sekere sin vir ’n tydperk van sewe tye onderbreek word. Soos ons gesien het, het die sewe tye begin toe Jerusalem in 607 VHJ vernietig is. Van toe af was daar nie meer konings op die aarde wat Jehovah God verteenwoordig het as heersers van sy volk nie. Maar aan die einde van die sewe tye sou God ’n nuwe Heerser oor sy volk aanstel—iemand in die hemel. Met ander woorde, die einde van die sewe tye sou die begin van die heerskappy van God se hemelse Koninkryk aandui. Ons het reeds bespreek wanneer die sewe tye begin het. As ons dus kan vasstel hoe lank hierdie tye geduur het, sal ons weet wanneer God se Koninkryk begin heers het. Maak dit vir jou sin?
Jaco: Ja, en hierdie oorsig het nogal gehelp om my geheue te verfris.
Chris: Goed. Kom ons bespreek dan nou die lengte van die sewe tye. Ek het weer ’n bietjie navorsing gedoen oor die onderwerp om my aan die hoofgedagtes te herinner. Ek sal dit so goed moontlik probeer verduidelik.
Jaco: Oukei.
DIE SEWE TYE EINDIG—DIE LAASTE DAE BEGIN
Chris: In die profesie se eerste vervulling in verband met Nebukadnesar was die sewe tye klaarblyklik sewe letterlike jaar. Maar in die grotere vervulling in verband met God se Koninkryk moet die sewe tye baie langer as sewe letterlike jaar wees.
Jaco: Waarom sê jy so?
Chris: Wel, soos ons gesien het, het die sewe tye begin toe Jerusalem in 607 VHJ vernietig is. As ons van daardie jaar af begin tel, eindig die sewe letterlike jaar in 600 VHJ. Maar niks betekenisvols het in daardie jaar met betrekking tot God se heerskappy gebeur nie. En soos ons vroeër bespreek het, het Jesus, toe hy eeue later hier op die aarde was, aangedui dat die sewe tye nog nie geëindig het nie.
Jaco: O, ja. Ek onthou nou.
Chris: Die sewe tye kan dus nie letterlike jare wees nie, maar moet ’n langer tydperk wees.
Jaco: Hoe lank?
Chris: Die Bybelboek Openbaring, wat ten nouste verband hou met die boek Daniël, help ons om vas te stel presies hoe lank die sewe tye is. Dit toon dat ’n tydperk van drie en ’n half tye gelyk is aan 1 260 dae.d Sewe tye—drie en ’n half tye maal twee—sal dus gelyk wees aan 2 520 dae. Volg jy nog?
Jaco: Ja. Maar ek verstaan nie hoe dít toon dat God se Koninkryk in 1914 begin heers het nie.
Chris: Oukei, kom ons kyk hoe dit daarmee verband hou. In Bybelprofesieë stel ’n dag soms ’n jaar voor.e As ons die reël van ’n dag vir ’n jaar toepas, is die sewe tye gelyk aan 2 520 jaar. As ons van 607 VHJ af tel, neem 2 520 jaar ons tot by die jaar 1914.f Dit is hoe ons by 1914 uitkom as die jaar wanneer die sewe tye geëindig het en Jesus as Koning van God se Koninkryk begin heers het. En interessant genoeg, sedert 1914 het betekenisvolle wêreldgebeure plaasgevind—gebeure wat die Bybel vir die laaste dae voorspel het.
Jaco: Watter soort gebeure?
Chris: Kyk na wat Jesus gesê het, soos opgeteken hier in Matteus 24:7. Aangaande die tyd wanneer hy in die hemel sou begin heers, het Jesus gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees.” Let op dat Jesus voorspel het dat daar gedurende daardie tydperk voedseltekorte en aardbewings sou wees. Ons wêreld het in die afgelope eeu beslis baie hiervan gesien, nie waar nie?
Jaco: Dit is so.
Chris: In hierdie vers het Jesus ook voorspel dat daar gedurende sy teenwoordigheid as Koning van God se Koninkryk oorloë sou wees. En die Bybelboek Openbaring het voorspel dat daar gedurende die tyd van die einde nie net plaaslike oorloë sou wees nie, maar oorloë wat die hele aarde sou raak.g Kan jy onthou wanneer die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het?
Jaco: Dit was in 1914, dieselfde jaar dat jy sê Jesus begin heers het! Ek het nog nooit daardie verband gesien nie.
Chris: As ons al hierdie stukkies bymekaarsit—die profesie oor die sewe tye sowel as ander Bybelprofesieë oor die tyd van die einde—maak dit regtig sin. Jehovah se Getuies is oortuig dat Jesus in 1914 as Koning van God se Koninkryk begin heers het en dat die laaste dae in daardie selfde jaar begin het.h
Jaco: Dit gaan my ’n rukkie neem om dit alles mooi te verstaan.
Chris: Dis heel natuurlik. Soos ek voorheen gesê het, het dit my ook ’n hele ruk geneem om dit ten volle te verstaan. Maar ek hoop dat ons bespreking jou ten minste gehelp het om te sien dat, al word die jaar 1914 nie spesifiek in die Bybel gemeld nie, Jehovah se Getuies wel hulle oortuigings in verband met daardie jaar op die Bybel baseer.
Jaco: Ja, dis iets wat my nog altyd omtrent julle beïndruk het—dit maak nie saak wat julle sê nie, julle bevestig dit met ’n teks. Dis nooit net julle opinie nie. Ek wonder maar net hoekom dit alles so ingewikkeld is. Hoekom het God nie net vir ons in die Bybel gesê dat Jesus in 1914 in die hemel sou begin heers nie?
Chris: Dis ’n uitstekende vraag, Jaco. Om die waarheid te sê, daar is baie dinge in die Bybel wat nie presies uitgespel word nie. Die vraag ontstaan dan: Waarom het God die Bybel op so ’n manier laat skryf dat dit inspanning verg om dit te verstaan? Miskien kan ons volgende keer hieroor praat.
Jaco: Ek sal daarvan hou.
Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Wil jy meer weet van enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.
a Deur middel van hulle gratis Bybelstudieprogram bespreek Jehovah se Getuies die Bybel onderwerp vir onderwerp met hulle bure.
b Sien die artikel “’n Gesprek met ’n buurman—Wanneer het God se Koninkryk begin heers?—Deel 1” in hierdie tydskrif se nommer van 1 Oktober 2014.
c Sien Daniël 4:23-25.
d Sien Openbaring 12:6, 14; voetnoot in NW.
e Sien Numeri 14:34; Esegiël 4:6.
f Sien die tabel “Nebukadnesar se droom van ’n boom”.
g Sien Openbaring 6:4.
h Sien hoofstuk 9 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
-