-
Die uitdaging wat versorging biedOntwaak! – 1997 | Februarie 8
-
-
Die uitdaging wat versorging bied
“EK HET met tye gewens dat ek uit die situasie kon wegvlug. Maar hy het my meer as ooit tevore nodig gehad. Soms het ek baie eensaam gevoel.”—Jeanny, wat haar 29-jarige man 18 maande lank verpleeg het voordat hy weens ’n breingewas gesterf het.a
“Daar is tye dat ek geïrriteerd raak met my ma, en dan voel ek baie ontevrede met myself. Dit voel of ek misluk wanneer die situasie my onderkry.”—Rose, 59, wat na haar swak 90-jarige moeder omgesien het wat bedlêend geword het.
Die nuus dat iemand terminaal of chronies siek is, kan vir familie en vriende verpletterend wees. “Ten tye van die diagnose voel dit vir elke gesin asof hulle heeltemal alleen is. Hulle ken dalk niemand anders wat al hierdie probleem gehad het nie”, sê Jeanne Munn Bracken in Children With Cancer. Hulle is ook dikwels “lam en ongelowig”, soos Elsa was toe sy uitgevind het dat haar 36-jarige vriendin Betty kanker het. Sue, wie se vader siek was, het “’n siek, leë gevoel” op haar maag gekry toe sy uiteindelik besef dat haar vader besig is om aan kanker te sterf.
Gesinslede en vriende bevind hulle dalk skielik in die rol van versorgers—waarin hulle na die fisiese en emosionele behoeftes van die sieke moet omsien. Hulle moet dalk voedsame maaltye voorberei, toesien dat medisyne geneem word, vervoer na die dokter reël, die pasiënt se besoekers ontvang, briewe namens die pasiënt skryf en nog veel meer. Sulke bedrywighede word dikwels in ’n reeds besige rooster ingepas.
Maar namate die pasiënt se toestand versleg, word versorging selfs veeleisender. Wat sluit dit moontlik in? “Alles!” sê Elsa van haar bedlêende vriendin Betty. “Ek moet haar was en voer, haar help wanneer sy naar word, haar urinesakkies leegmaak.” Kathy moes, ondanks die feit dat sy voltyds gewerk het, haar sieklike moeder versorg. Sue, wat vroeër gemeld is, vertel hoe sy “elke halfuur [haar vader se] temperatuur gemeet en neergeskryf het, hom afgespons het wanneer die temperatuur gestyg het en elke paar uur vir hom ander klere aangetrek en sy bed skoon oorgetrek het”.
Die gehalte van die sorg wat die pasiënt ontvang, sal grootliks afhang van die welsyn van diegene wat die sorg voorsien. Tog word die gevoelens en behoeftes van diegene wat na die siekes omsien dikwels oor die hoof gesien. As versorging bloot ’n seer rug en stram skouers tot gevolg gehad het, sou dit erg genoeg gewees het. Maar soos die meeste versorgers sal bevestig, word sorg teen ’n enorme emosionele prys voorsien.
“Dit was vir my ’n groot verleentheid”
“Studies beskryf dikwels die ontsteltenis wat deur die [pasiënt se] afdwalery, sy gedrag wat verleentheid veroorsaak en mondelinge uitbarstings teweeggebring word”, sê The Journals of Gerontology. Gillian beskryf byvoorbeeld wat gebeur het toe ’n vriendin by ’n Christelike vergadering gevra het om haar bejaarde moeder te ontmoet. “My ma was uitdrukkingloos en het nie gereageer nie”, vertel Gillian hartseer. “Dit was vir my ’n groot verleentheid, en my oë het vol trane geskiet.”
“Dit is een van die moeilikste dinge om die hoof te bied”, sê Joan, wie se man aan demensie ly. “Dit maak hom ’n bietjie ongevoelig wat etiket betref”, verduidelik sy. “Wanneer ons saam met ander uiteet, gaan hy soms na ander tafels in die eetsaal toe, proe aan die konfyt en sit die gebruikte lepel terug in die konfytpotjie. Wanneer ons by bure kuier, sal hy dalk op die tuinpaadjie spoeg. Dit is baie moeilik om van die gedagte ontslae te raak dat ander moontlik oor hierdie gewoontes praat en dink dat hy uiters ongemanierd is. Dit laat my innerlik ineenkrimp.”
‘Ek was bang as ons agterlosig is . . . ’
Om ’n geliefde wat ernstig siek is te versorg, kan ’n baie skrikwekkende ondervinding wees. Die versorger is moontlik bang vir wat sal gebeur namate die siekte vererger—dalk selfs bang dat sy geliefde sal doodgaan. Hy is dalk ook bang dat hy nie die krag of vermoë sal hê om in die pasiënt se behoeftes te voorsien nie.
Elsa beskryf die rede vir haar vrees soos volg: “Ek was bang dat ek Betty dalk fisies sou seermaak en sodoende tot haar lyding sou bydra of dat ek iets sou doen wat dalk haar lewe sou verkort.”
Soms word die pasiënt se vrese die versorger se vrese. “My pa was baie bang dat hy sou verstik en hy het soms paniekerig geword”, vertel Sue. “Ek was bang dat hy sou verstik as ons agterlosig is en dat sy grootste vrees so bewaarheid sou word.”
“Jy treur dalk omdat hulle nie meer soos voorheen is nie”
“Droefheid is ’n normale ervaring vir mense wat ’n geliefde versorg wat ’n chroniese siekte het”, sê Caring for the Person With Dementia. “Namate die pasiënt se siekte vererger, ervaar jy dalk die verlies van ’n metgesel en ’n verhouding wat vir jou belangrik was. Jy treur dalk omdat hulle nie meer soos voorheen is nie.”
Jennifer beskryf hoe haar familie deur haar moeder se verswakkende gesondheid geraak is: “Ons het seergemaak gevoel. Ons het haar vrolike gesprekke gemis. Ons was baie hartseer.” Gillian verduidelik: “Ek wou nie hê my ma moes sterf nie, en ek wou nie hê sy moes ly nie. Ek het gehuil en gehuil.”
‘Ek het verwerp en kwaad gevoel’
’n Versorger wonder dalk: ‘Waarom moes dit met my gebeur? Waarom help ander nie? Kan hulle nie sien ek sukkel nie? Kan die pasiënt nie beter samewerking gee nie?’ Soms kan die versorger baie kwaad word oor wat vir hom na toenemende en onregverdige eise lyk wat die pasiënt en ander gesinslede aan hom stel. Rose, wat in die inleiding gemeld word, sê: “Ek is meer dikwels kwaad vir myself—in my gedagtes. Maar my ma sê dit wys op my gesig.”
Die een wat die sorg voorsien, moet dalk die pasiënt se eie frustrasies en woede verduur. In die boek Living With Cancer verduidelik dr. Ernest Rosenbaum dat sommige pasiënte “met tye dalk woede en depressie ondervind en dat die naaste beskikbare persoon dit moet ontgeld . . . Hierdie woede word gewoonlik geopenbaar as ergerlikheid oor nietighede waaroor die pasiënt onder normale omstandighede glad nie eers besorg sou gewees het nie.” Dit is te verstane dat dit verdere spanning kan plaas op die reeds gespanne senuwees van geliefdes wat hulle bes doen om na die pasiënt om te sien.
Maria het byvoorbeeld prysenswaardige werk gedoen toe sy haar sterwende vriendin verpleeg het. Soms het dit egter gelyk of haar vriendin liggeraak was en oorhaastig die verkeerde gevolgtrekking gemaak het. “Sy was baie bitsig en ongeskik en het haar geliefdes in die verleentheid gestel”, verduidelik Maria. Hoe het dit Maria geraak? “’n Mens voel op daardie oomblik dat jy die pasiënt ‘verstaan’. Maar toe ek later daaroor nagedink het, het ek verwerp, kwaad, onseker gevoel—en ek was nie lus om die nodige liefde te betoon nie.”
’n Studie wat in The Journals of Gerontology gepubliseer is, het tot hierdie slotsom gekom: “Woede het die potensiaal om baie hoog op te bou in situasies waar iemand versorg moet word, [en] soms lei dit tot werklike of voorgenome geweld.” Die navorsers het gevind dat byna 1 uit elke 5 versorgers bang is dat hy dalk gewelddadig kan raak. En meer as 1 uit 20 het in werklikheid gewelddadig geraak teenoor sy pasiënt.
‘Ek voel skuldig’
Baie versorgers word deur skuldgevoelens geteister. Soms volg die skuldgevoelens kort op die hakke van woede—dit wil sê, hulle voel skuldig omdat hulle met tye kwaad raak. Sulke emosies kan hulle so uitmergel dat hulle die punt bereik waar hulle voel hulle kan nie meer voortgaan nie.
In sommige gevalle kan die gesin nie anders as om die pasiënt in ’n inrigting of ’n hospitaal te laat versorg nie. Dit kan ’n traumatiese besluit wees wat ’n verwoestende uitwerking op die versorger se emosies kan hê. “Toe ons my ma uiteindelik in ’n tehuis moes sit, het dit vir my gevoel asof ek haar verraai, asof ek haar verwerp”, sê Jeanne.
Of die pasiënt in die hospitaal is of nie, sy geliefdes voel dalk skuldig omdat hulle meen hulle doen nie genoeg vir hom nie. Elsa sê: “Ek het dikwels sleg gevoel omdat my tyd so beperk was. Soms wou my vriendin my net nie laat gaan nie.” Die versorger kan ook besorg wees oor ander gesinsverantwoordelikhede wat verwaarloos word, veral as hy baie tyd by die hospitaal deurbring of langer ure moet werk om die rekeninge wat ophoop te help betaal. “Ek moet werk om die uitgawes te help dek”, kla een moeder, “en tog voel ek skuldig omdat ek nie tuis by my kinders kan wees nie.”
Dit is duidelik dat versorgers ondersteuning bitter nodig het, veral ná die dood van die een wat versorg is. “My allerbelangrikste verantwoordelikheid [ná ’n pasiënt se dood] . . . is om skuldgevoelens by die versorger, wat dikwels nie daaroor praat nie, te verlig”, sê dr. Fredrick Sherman, van Huntington, New York.
As hierdie gevoelens nie uitgedruk word nie, kan dit vir die versorger sowel as die pasiënt nadelig wees. Wat kan diegene wat sorg voorsien dan doen om hierdie gevoelens te verwerk? En wat kan ander—familielede en vriende—doen om hulle te help?
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Venster op bladsy 5]
Moet hulle nie as vanselfsprekend aanneem nie!
“ONS weet dat 80% van die tuisversorging van bejaardes deur vroue gedoen word”, sê Myrna I. Lewis, assistentprofessor by die Departement van Gemeenskapsgeneeskunde aan die Mount Sinai- Mediese Fakulteit, New York.
Een studie oor vroulike versorgers, wat in The Journals of Gerontologyb gepubliseer is, het getoon dat 61 persent van die vroue gesê het dat hulle geen hulp van familie of vriende ontvang nie. En meer as die helfte (57,6 persent) het gesê dat hulle nie genoeg emosionele ondersteuning van hulle man ontvang nie. In Children With Cancer meld Jeanne Munn Bracken dat “die vader dikwels agter sy werk skuil”, terwyl die moeder dalk grotendeels die las van die versorging moet dra.
Dr. Lewis sê egter dat ’n noemenswaardige deel van versorging deur mans gedoen word. Mans wie se vrou aan Alzheimer se siekte ly, is byvoorbeeld ’n taamlike groot groep. En hulle is beslis nie immuun teen die spanning wat voortspruit uit die versorging van ’n siek geliefde nie. “Hierdie mans is waarskynlik die kwesbaarste van almal”, sê Lewis voorts, “omdat hulle gewoonlik ouer as hulle vrou is en self nie goeie gesondheid geniet nie. . . . Die meeste van hulle is nie in die praktiese aspekte van versorging opgelei nie.”
Gesinne moet teen die neiging waak om een gesinslid te belas omdat hy blykbaar die uitdaging goed die hoof bied. “Dit is dikwels ’n spesifieke familielid wat ’n versorger word, dikwels ’n paar keer ná mekaar”, sê die boek Care for the Carer. “’n Groot deel van hulle is vroue wat al self ouer word. . . . Vroue word ook oor die algemeen as die ‘natuurlike’ versorgers beskou . . . , maar familie en vriende moet dit nooit as vanselfsprekend aanneem nie.”
[Voetnoot]
b Gerontologie word gedefinieer as “’n gebied van die wetenskap wat oor veroudering en die probleme van die bejaarde handel”.
[Prent op bladsy 6]
Versorgers het ondersteuning nodig om skuldgevoelens en woede te verwerk
-
-
Hoe om gevoelens te verwerkOntwaak! – 1997 | Februarie 8
-
-
Hoe om gevoelens te verwerk
VERSORG jy tans ’n geliefde wat ernstig siek is? Indien wel, ervaar jy dalk verwarrende en skrikwekkende emosies. Wat kan jy doen? Beskou die gevoelens waarmee sommige versorgers worstel en die praktiese wenke wat hulle gehelp het om dit te verwerk.
Verleentheid. Af en toe kan ’n siek persoon se gedrag jou voor ander in verleentheid bring. Maar as jy die aard van jou geliefde se siekte aan vriende en bure verduidelik, kan dit hulle help om te verstaan en hulle dalk ook beweeg om “meegevoel” en geduld te betoon (1 Petrus 3:8). Praat indien moontlik met ander gesinne wat in ’n soortgelyke situasie as jy is. Jy sal dalk minder verleë voel wanneer julle ondervindinge uitruil. Sue verduidelik wat haar gehelp het: “Ek het so jammer vir my pa gevoel—dit het enige gevoelens van verleentheid oorskadu. En sy sin vir humor het ook gehelp.” Ja, ’n sin vir humor—aan die kant van die pasiënt en diegene wat hom versorg—is ’n wonderlike instrument om ’n bietjie verligting te bied vir gespanne senuwees.—Vergelyk Prediker 3:4.
Vrees. Onkunde oor die siekte kan uiters skrikwekkend wees. Kry, indien moontlik, professionele raad oor wat om te verwag namate die siekte vererger. Leer hoe om onder sulke omstandighede sorg te voorsien. Vir Elsa was een van die beste maniere om haar vrees te oorkom deur met ander versorgers en die hospitium-verpleegsters te praat oor wat om te verwag namate die pasiënt se toestand agteruitgaan. Jeanny se raad is: “Pak jou vrese aan en beheers dit. Vrees vir wat kan gebeur, is dikwels erger as die werklikheid.” Dr. Ernest Rosenbaum stel voor dat jy oor jou vrese “moet praat soos hulle opduik”, ongeag waardeur hulle veroorsaak word.—Vergelyk Spreuke 15:22.
Droefheid. Dit is nie maklik om met droefheid saam te leef nie, veral in ’n situasie waar iemand versorg moet word. Jy treur dalk oor die verlies van kameraadskap, veral as jou siek geliefde nie meer kan praat, nie meer goed kan verstaan of jou nie meer herken nie. Ander verstaan sulke gevoelens dalk nie maklik nie. Om oor jou droefheid te praat met ’n simpatieke vriend wat met geduld en medelye sal luister, kan noodsaaklike verligting bring.—Spreuke 17:17.
Woede en frustrasie. Hierdie reaksies is normaal wanneer jy iemand moet versorg wat ernstig siek is en wie se gedrag met tye moeilik is. (Vergelyk Efesiërs 4:26.) Jy moet besef dat dit dikwels die siekte is, nie die pasiënt nie, wat verantwoordelik is vir ontstellende gedrag. Lucy onthou: “Wanneer ek werklik kwaad geword het, het ek begin huil. Dan het ek my aan die pasiënt se toestand en siekte probeer herinner. Ek het geweet dat die pasiënt my hulp nodig het. Dit het my gehelp om voort te gaan.” Sulke insig kan ‘jou lankmoedig maak’.—Spreuke 14:29; 19:11.
Skuldgevoelens. Skuldgevoelens is algemeen onder versorgers. Wees egter verseker dat jy ’n onontbeerlike maar baie moeilike taak verrig. Aanvaar die feit dat jy nie altyd volmaak in woord of daad sal reageer nie. Die Bybel herinner ons: “Ons almal struikel baie kere. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2; Romeine 3:23). Moenie toelaat dat skuldgevoelens jou nou verhinder om positief op te tree nie. Wanneer jy ontsteld is oor iets wat jy gesê of gedoen het, sal jy heel waarskynlik vind dat dit jou en jou pasiënt beter sal laat voel as jy sê: “Ek is jammer.” ’n Man wat ’n siek familielid versorg het, het voorgestel: “Doen jou bes onder die omstandighede.”
Depressie. Depressie is algemeen in gesinne wat met ernstige siekte te kampe het—en dit is te begrype. (Vergelyk 1 Tessalonisense 5:14.) ’n Versorger wat aan depressie ly, verduidelik wat haar gehelp het: “Baie het ons bedank omdat ons vir hulle sorg. Net ’n paar bemoedigende woorde kan jou versterk sodat jy kan aangaan wanneer jy baie moeg of depressief is.” Die Bybel sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op” (Spreuke 12:25). Ander kom dalk nie altyd agter dat jy bemoediging nodig het nie. Daarom sal jy dalk met tye eers die “bekommernis” in jou hart openlik moet uitspreek voordat jy “’n vriendelike woord” van bemoediging van ander ontvang. As depressiewe gevoelens voortduur of vererger, sal dit egter verstandig wees om dalk ’n dokter te raadpleeg.
Hulpeloosheid. Jy voel dalk hulpeloos wanneer jy met ’n aftakelende siekte te kampe het. Aanvaar die werklikheid van jou situasie. Erken jou beperkinge—jy kan nie die pasiënt se gesondheid beheer nie, maar jy kan hom met medelye versorg. Moenie volmaaktheid van jouself, jou pasiënt of jou ondersteuners verwag nie. ’n Gebalanseerde benadering verlig nie net gevoelens van hulpeloosheid nie, maar maak ook die werklas ligter. Baie wat ’n geliefde versorg het, het hierdie verstandige raad gegee: Leer om een dag op ’n slag aan te pak.—Matteus 6:34.
[Lokteks op bladsy 8]
“Pak jou vrese aan en beheers dit. Vrees vir wat kan gebeur, is dikwels erger as die werklikheid”
[Venster op bladsy 7]
Bemoedigende woorde van versorgers
“MOENIE dat negatiewe gedagtes oor jouself jou ontstel nie. Dit is normaal onder sulke omstandighede. Jy moet beslis nie jou gevoelens opkrop nie. Neem iemand in jou vertroue oor hoe jy voel en kry, indien moontlik, ’n bietjie rus—gaan ’n rukkie weg—sodat jy verfris kan voel.”—Lucy, wie se werk by ’n kliniek geverg het dat sy al ’n hele aantal versorgers sowel as pasiënte moes bystaan.
“As daar familielede of vriende is wat beskikbaar en gewillig is, moet jy hulle laat help. Dit is noodsaaklik dat jy die las met ander deel.”—Sue, wat haar vader verpleeg het voor hy aan Hodgkin se siekte gesterf het.
“Leer om ’n sin vir humor te ontwikkel.”—Maria, wat ’n dierbare vriendin wat aan kanker gesterf het, help versorg het.
“Bly geestelik sterk. Kom nader aan Jehovah, en bid onophoudelik (1 Tessalonisense 5:17; Jakobus 4:8). Hy voorsien hulp en vertroosting deur sy gees, sy Woord, sy aardse knegte en sy beloftes. Probeer so georganiseerd as moontlik wees. Dit help byvoorbeeld om ’n rooster vir medisyne en ’n lys van helpers op te trek.”—Hjalmar, wat sy sterwende swaer versorg het.
“Leer alles wat jy kan oor jou pasiënt se siekte. Dit sal jou weer help om te weet wat om van die pasiënt en jouself te verwag en hoe om jou pasiënt te versorg.”—Joan, wie se man Alzheimer se siekte het.
“Onthou dat ander voor jou die mas opgekom het en dat Jehovah jou kan help om opgewasse te wees teen enigiets wat gebeur.”—Jeanny, wat haar man voor sy dood versorg het.
[Prent op bladsy 8]
Vind soveel moontlik oor die siekte uit om jou vrese te stil
[Prent op bladsy 9]
Dit kan groot verligting bring om met ’n simpatieke persoon te praat
-
-
Sorg vir die versorger—Hoe ander kan helpOntwaak! – 1997 | Februarie 8
-
-
Sorg vir die versorger—Hoe ander kan help
“EK EN Lawrie is al 55 jaar getroud—’n lang tyd—en watter gelukkige jare! As ek hom enigsins by die huis kon hou, sou ek. Maar my gesondheid het begin agteruitgaan. Op die ou end moes ek reël dat hy in ’n verpleeginrigting opgeneem word. Die emosionele pyn wat dit meebring om hieroor te praat, is amper te veel vir my. Ek het hom lief en het diep respek vir hom, en ek besoek hom so dikwels as wat ek kan. Fisies kan ek nie meer doen nie.”—Anna, ’n 78-jarige vrou wat haar man, wat Alzheimer se siekte het, meer as 10 jaar lank versorg het en wat ook hulle dogter, wat Down-sindroom het, al die afgelope 40 jaar versorg.a
Anna se geval is glad nie ongewoon nie. ’n Opname in die Britse Eilande het aan die lig gebring dat “in sommige ouderdomsgroepe (die veertiger- en vyftigerjare) tot een uit elke twee vroue ’n versorger is”. Soos vroeër bespreek is, kan die emosionele verwarring en probleme waarvoor versorgers te staan kom met tye dalk ondraaglik lyk.
“Ek dink ten minste 50% van versorgers raak depressief in die eerste jaar waarin hulle iemand versorg”, sê dr. Fredrick Sherman van die Amerikaanse Geriatrie-vereniging. Vir bejaarde mense soos Anna kan die feit dat hulle eie krag kwyn en hulle gesondheid agteruitgaan die situasie aansienlik moeiliker maak om te hanteer.
Om versorgers te help om teen hulle verantwoordelikhede opgewasse te wees, moet ons van hulle behoeftes bewus wees. Wat is daardie behoeftes, en hoe kan ons daarop reageer?
Versorgers moet praat
“Ek moes my hart uitstort”, het een vrou gesê wat haar sterwende vriendin versorg het. Soos die vorige artikel getoon het, is dit dikwels makliker om probleme onder die oë te sien en daarvan werk te maak wanneer jy met ’n simpatieke vriend daaroor kan praat. Baie versorgers wat deur hulle omstandighede vasgekeer voel, vind dat dit help om hulle eie gevoelens te verstaan en druk te verlig as hulle oor hulle situasie praat.
“Ek het dit waardeer as vriende besef het dat ons albei morele ondersteuning nodig het”, sê Jeanny van die tyd toe sy haar man versorg het. Sy verduidelik dat diegene wat ander versorg aanmoediging en, soms, ’n bietjie vertroosting nodig het. Hjalmar, wat gehelp het om sy siek swaer te verpleeg, stem saam: “Ek het iemand nodig gehad om na my vrese en probleme te luister en wat sou verstaan hoe ek voel.” Van ’n goeie vriend, sê Hjalmar voorts: “Dit was baie lekker om vir hom te gaan kuier, al was dit net ’n halfuur. Hy het na my geluister. Hy het werklik omgegee. Ek het daarna verfris gevoel.”
Versorgers kan ontsaglike bemoediging daaruit put as iemand met simpatie luister. “[Wees gou] om te hoor, stadig om te praat”, is die wyse raad wat die Bybel gee (Jakobus 1:19). ’n Verslag in The Journals of Gerontology het aan die lig gebring dat “die blote wete dat ondersteuning beskikbaar is dikwels genoeg is om werklik verligting te bied”.
Maar wat het versorgers nog nodig buiten ’n horende oor en morele ondersteuning?
Voorsien praktiese hulp
“Die pasiënt en die gesin vind baat by enige manier waarop liefde en bemoediging getoon kan word”, sê dr. Ernest Rosenbaum. Om mee te begin, kan sulke “liefde en bemoediging” getoon word gedurende ’n persoonlike besoek, gedurende ’n telefoonoproep of in ’n kort briefie (dalk saam met blomme of ’n ander geskenkie).
“Ons vriende se kort besoekies was vertroostend”, sê Sue van die ondersteuning wat haar gesin ontvang het toe haar vader besig was om aan Hodgkin se siekte te sterf. “Een van my vriendinne”, sê sy voorts, “het die telefoon beantwoord en met ons almal se was- en strykwerk gehelp.”
Die ondersteuning aan versorgers kan, en moet, spesifieke, tasbare hulp insluit. Elsa onthou: “Ek het dit nuttig gevind wanneer vriende praktiese hulp aangebied het. Hulle het meer gedoen as om net te sê: ‘As daar iets is wat ek kan doen, moet jy my net laat weet.’ Hulle het eerder gesê: ‘Ek gaan dorp toe. Wat kan ek vir jou saambring?’ ‘Kan ek na jou tuin omsien?’ ‘Ek sal by die pasiënt kan sit en vir haar lees.’ Nog iets wat prakties was, was om te reël dat besoekers boodskappe in ’n boekie skryf wanneer my siek vriendin moeg was of geslaap het. Dit het ons almal groot genot verskaf.”
Die spesifieke hulp wat aangebied kan word, kan verskeie takies insluit. Rose verduidelik: “Ek het dit waardeer wanneer ek hulp gekry het, soos om die beddens op te maak, vir die pasiënt briewe te skryf, die pasiënt se besoekers te ontvang, medisyne te kry, hare te was en te set en skottelgoed te was.” Familie en vriende kan die versorger ook help deur beurte te maak om maaltye te voorsien.
Waar dit gepas is, sal dit ook dalk prakties wees om met basiese verpleging te help. Byvoorbeeld, die versorger het dalk hulp nodig om die pasiënt te voer of te was.
Besorgde familielede en vriende bied dalk in die vroeë stadium van die siekte praktiese hulp aan, maar gestel dat dit ’n langdurige siekte is. Vasgevang in ons eie besige rooster kan ons maklik die voortslepende—en moontlik toenemende—druk waarvoor versorgers te staan kom oor die hoof sien. Hoe jammer sal dit tog wees as die broodnodige ondersteuning begin afneem!
As dit gebeur, sal dit dalk goed wees as die versorger die familie byeenroep om die versorging van die pasiënt te bespreek. Dit is dikwels moontlik om die hulp in te roep van vriende en familie wat getoon het dat hulle bereid is om te help. Dit is wat Sue en haar gesin gedoen het. “Wanneer ons iets nodig gehad het”, vertel sy, “het ons diegene onthou wat aangebied het om te help en hulle geskakel. Ons het die vrymoedigheid gehad om hulle te vra om te help.”
Gee hulle ’n blaaskansie
“Dit is absoluut noodsaaklik”, sê die boek The 36-Hour Day, “beide vir jou [die versorger] en vir [jou pasiënt]—dat jy gereeld ‘wegbreek’ van vier-en-twintig-uur-versorging van die chroniese siek persoon. . . . Om tyd af te neem, weg van die versorging van die [pasiënt], is een van die heel belangrikste dinge wat jy kan doen om jou in staat te stel om die versorging voort te sit.” Stem versorgers saam?
“Ja, beslis”, antwoord Maria, wat ’n goeie vriendin wat aan kanker gesterf het, help versorg het. “Ek moes van tyd tot tyd ‘afgelos’ word en iemand anders die versorging vir ’n rukkie laat oorneem.” Joan, wat haar man versorg wat aan Alzheimer se siekte ly, stem saam. “Een van ons grootste behoeftes”, sê sy, “is om nou en dan tyd af te kry.”
Maar hoe kan hulle kans kry om weg te breek van die druk van hulle verantwoordelikhede? Jennifer, wat haar bejaarde ouers help versorg het, vertel wat vir haar verligting gebring het: “’n Vriendin van die gesin het my ma soms vir ’n dag kom haal om ons ’n blaaskansie te gee.”
Jy kan die versorger dalk ’n blaaskansie gee deur aan te bied om die pasiënt ’n rukkie uit te neem, indien dit prakties is. Joan sê: “Dit is vir my verfrissend wanneer iemand my man uitneem sodat ek nou en dan alleen kan wees.” Aan die ander kant kan jy dalk tyd saam met die pasiënt by sy huis deurbring. Hoe dit ook al sy, jy moet dit vir die een wat die sorg voorsien moontlik maak om die nodige ontspanning te kry.
Hou egter in gedagte dat dit nie altyd vir versorgers maklik is om ’n blaaskansie te neem nie. Dit laat hulle dalk skuldig voel om van hulle geliefde af weg te wees. “Dit is nie maklik om van die situasie af weg te breek en te ontspan of te rus nie”, erken Hjalmar. “Ek het gevoel dat ek die hele tyd daar wou wees.” Hy het egter groter gemoedsrus ervaar as hy ’n blaaskansie geneem het wanneer sy swaer die minste aandag vereis het. Ander het gereël dat hulle geliefde ’n paar uur lank in ’n dagsorgsentrum vir volwassenes versorg word.
Die einde van alle siekte
Om ’n geliefde wat ernstig siek is te versorg, is voorwaar ’n enorme verantwoordelikheid. Dit is nietemin baie vervullend en bevredigend om ’n geliefde te versorg. Navorsers sowel as versorgers meld dat die verhouding tussen familie en vriende versterk word. Versorgers leer sonder uitsondering nuwe eienskappe en vermoëns aan. Baie ervaar ook geestelike voordele.
Die heel belangrikste is die feit dat die Bybel toon dat Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, die simpatiekste versorgers is. Bybelprofesieë verseker ons dat die einde van alle siekte, lyding en die dood op hande is. Binnekort sal die mens se liefdevolle Skepper die aarde se regverdige bewoners met ewige lewe in ’n volmaak gesonde nuwe wêreld beloon—’n wêreld waarin “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”.—Jesaja 33:24; Openbaring 21:4.
[Voetnoot]
a Van die name in hierdie artikel is verander.
[Lokteks op bladsy 11]
Die sieke se welsyn hang direk van jou welsyn af
[Lokteks op bladsy 12]
Die ondersteuning van goeie vriende sal baie beteken om jou deur die moeilikste tye te laat volhard
[Venster op bladsy 12]
Versorging kan bevrediging bring
‘BEVREDIGING?’ wonder party dalk. ‘Hoe is dit moontlik?’ Let asseblief op na wat die volgende versorgers aan Ontwaak! vertel het:
“Om van jou eie strewes en begeertes af te sien, beteken nie dat jy minder gelukkig is nie. ‘Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang’ (Handelinge 20:35). Dit kan baie vervullend wees om iemand wat jy liefhet te versorg.”—Joan.
“Ek was dankbaar dat ek my suster en swaer in ’n tyd van ware nood kon bystaan—sonder dat hulle my kon vergoed. Dit het ons nader aan mekaar gebring. Ek hoop dat ek die ondervinding wat ek opgedoen het eendag in ’n soortgelyke situasie sal kan gebruik om iemand anders te help.”—Hjalmar.
“Soos ek meer as een keer vir my siek vriendin Betty gesê het, ek het baie meer ontvang as wat ek gegee het. Ek het empatie en geduld geleer. Ek het geleer dat dit moontlik is om onder die moeilikste omstandighede ’n positiewe gesindheid te behou.”—Elsa.
“Ek het ’n sterker mens geword. Ek het in groter mate geleer wat dit beteken om daagliks op Jehovah God te steun en om hom in my behoeftes te laat voorsien.”—Jeanny.
[Venster op bladsy 13]
Wanneer jy ’n versorger besoek
• Luister met empatie
• Prys hom opreg
• Bied spesifieke hulp aan
[Prente op bladsy 10]
Ondersteun versorgers deur vir hulle inkopies te doen en vir hulle te kook of deur hulle te help om die pasiënt te versorg
-